Kersnag 2009

Desember 25, 2009 in Sonder kategorie

Dis na 1 uur in die nag voor Kersdag, en ek verkneukel myself in die lekkerte van al die nuwe blogs wat ek ontdek het. En nee, ek is nie desperate en dateless nie (wel dateless) – ek is bloot glad nie vaak nie. Het laatmiddag ‘n uiltjie (of dalk selfs ‘n groterige valk) geknip voor ek en die kids na Ludi en Jackie is vir Oukersaand en ‘n HEERLIKE lamsnek- en groente-potjie.

Later het ons Kersliedjies gesing en geskenke oopgemaak – altyd lekker om te gee en te kry en natuurlik om kinders se afwagting en vreugde te sien – en toe het ek ter wille van die twee baie vaak kinders huis toe gekom. Hulle slaap al snoesig, en sedertdien het ek ‘n trifle gemaak, ‘n bondel wasgoed opgevou en nog een getuimeldroog en behoorlik rondgeswerf op die blogs.

En weer onthou hoekom ek so lief is vir Afrikaans, al blog ek dikwels in Engels (waarvoor ek ewe lief geword het al is dit nie my moedertaal nie).

So, vir al die Afrikaanse bloggers en lesers, ek hoop julle het ‘n BAIE geseende Kersfees, en mag julle die Here se teenwoordigheid more ervaar. My hart gaan veral vanaand/vannag/vanoggend (waar is ons nou eintlik?) uit na almal wat vandag ‘n eerste Kersfees vier na ‘n geliefde se dood.

Ek dink ook aan almal wat ek ken wat hierdie Kersfees verbete stry teen ernstige siekte, toevallig almal teen kanker: Frieda Bernard (wat darem weer tuis is na haar beroerte), Elsie (my kind se geliefde Wiskunde-onderwyseres), vriendin Sophia se ma en ook Dutch(wo)man se ma.

Ek het gewag dat ‘n weemoed my tref oor my pa wat op 31 Oktober dood is, maar ek dink die feit dat ek langs sy sterfbed was en SO duidelik kon sien hoe hy sy hande telkens uitsteek na iets of iemand na wie toe hy bitter graag wou gaan, keer dat ek oor hom huil vanaand. Want hy, wat altyd so goeie Christenmens was en so baie vir ander gedoen het, is beslis vanaand op ‘n wonderlike plek. Saam met my ma, wat ek sal onthou vir baie goed, maar vanaand spesifiek vir haar liefde vir mense wat swaarkry. En saam met God, sonder wie daar nooit ‘n Jesuskind gebore sou wees wie se geboorte ons kon vier nie.

Ludi en Jackie (albei oud-onderwysers wat kinders se harte verstaan) het die persente-tradisie baie mooi verduidelik vir my kinders: Omdat God ons so liefhet en seen (en so baie geseen het deur Sy Seun vir ons sondes te laat sterf) seen ons almal wat ons liefhet met geskenke. En, net soos daar uit ‘n geskenk iets nuuts in iemand se wereld kom, net so het daar deur Jesus nuwe lewe en vreugde in die wereld gekom.

Geseende Kersfees vir julle almal!

5 antwoorde op Kersnag 2009

  1. hutton het gesê op Desember 25, 2009

    😉

  2. karin10 het gesê op Desember 25, 2009

    Dankie vir die besoek en mooi boodskap! Lekker dag vir jou.

  3. Dankie vir die mooi boodskap Tannemys. 🙂

  4. Geseënde Kersfees!!

  5. FOXY1975 het gesê op Desember 28, 2009

    Ai, hier kry ek nou sommer weer ‘n lastige traan in die oog met jou verwysing na geliefdes. Ek het my dierbare skoonma 4 jaar gelede 4 dae voor my verjaarsdag verloor en hierdie jaar het die Here dit goedgedink om my skoonpa 3 dae voor my seuntjie se verjaarsdag te kom haal… was een van die stilste Kersfeeste nog… en al was hy ‘n regte ou korrelkop mis ek hom nog steeds..sy ou plekkie en die res van die familie wat hierdie jaar nie kom kuier het nie se plekkies was leeg aan tafel met ons Kersete… maar genadiglik heel tyd wonde en is daar mooi herinneringe.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.