Ant Poppie se sterfbed (Die snaakse waarheid, net effens vermom om die betrokkenes te beskerm)

November 27, 2009 in Sonder kategorie

As vryskut skryf mens oor enige iets van pynappelfeeste tot babaskoue. Toe ek ‘n paar jaar gelede in die platteland gebly het (Christiana in die Noordweste) het ek so paar goed geskryf vir Landbouweekblad. Hierdie was een van hulle. Terloops, die storie is waar. Ek het net die detail van die naasbestaandes so bietjie verander.)

Ant Poppie was op sterwe. Pa het in sy baard gebrom toe oom Stefaans bel met die nuus dat ons moet kom.  Dadelik, want die Doodsengel sit as’t ware reeds op blink gepolishde  voorstoep op Blinkwaters.  “Plaas die blêrrie ding by die yskas gaan wag.  Hy het ‘n groter kans om haar daar te vang.”

Een kyk van Ma het Pa tjoepstil laat bly.  Was dit nie Ant Poppie se gulle kospakkies wat ons liggaam en siel bymekaar gehou het terwyl Pa geleer het om die beste advokaat in die stad te word nie?  En Pa kan maar praat soos hy wil:  vir Ant Poppie is ons almal lief.  Al is dit net vir die koningskos wat vakansies en langnaweke aan ons stadsmuise voorgesit word.  Murgsagte skaapskenkels met sagte baba-worteltjies, stroperige lemoenpoeding met karamelvla, sjokoladekoek soos ryk fluweel…  Ja nee, Ant Poppie het haar staan voor ‘n stoof geken.  En Betta, haar Griekwa-regterhand, het met die jare amper beter as Ant Poppie geword.  Tog jammer ons kan deesdae so min gaan, want Pa werk harder as ooit tevore.  Ant Poppie-hulle se geweeklaag hieroor val op dowe ore.  “Hoe moet ons maak om julle weer hier te kry?” het sy anderdag in trane oor die foon gevra.

Ma is hulle enigste erfgenaam, want Ant Poppie en Oom Stefaans was kinderloos.  My ma, as enigste susterskind, was soos eie vlees en bloed vir die twee oues.  As daar ‘n geleentheid was stad toe, is daar geslag, gebak en gebrou vir dae sodat die arme Nelletjies in die stad “net weer ordentlik kan eet.”

Want vir Ant Poppie is kos meer as net spyse vir die vergangklike liggaam.  Dis troos, sielskos, sielerus, naasteliefde…  Hoe kan iemand jou vyand wees as jy hom bederf met sagte lamsboud of brosgebraaide aartappeltjies uit jou eie tuin?  Van die nuwe dorpsdoktertjie gepraat het oor haar gewig, gaan sien sy die ou dokter op die buurdorp.  Haar lyf is haar saak. En tingerige oom Stefaans was altyd dol oor sy ronde, sagtelyf vrou. Hy is siek van bekommernis oor sy sterwende vrou, beswaard oor die lang alleen-jare wat wag as Poppie sou sterf. 

Die voorhuis is donker, die gordyne diggetrek teen die warm middagson. Ma en Oom Stefaans rus, Pa werk aan ‘n hofsaak. Ek lê in die gang by die glasvoordeur en blaai deur ou Landbouweekblaaie met Oom Kaspaas en Nefie en Adoons-hulle op die agterblad.  Alles net vir my gehou in vrugtekratte op die solder.  Elke vakansie lees ek dit en lag weer van vooraf.  Vir ‘n 12-jarige is die kuiers een lang, loom lekkerte.  My maag is altyd vol, ek het leesgoed, speelplek en word as enigste “kleinkind” behoorlik bederf.  Maar Pa kriewel.  Sy jong praktyk in die stad kan nie regtig nou vir dae sonder hom klaarkom nie, maar gedagtig aan Ma se kort humeur as dit by haar geliefde Ant Poppie kom, is dit maar uithou en bekhou terwyl ons wag dat die Doodsengel sy move maak.

Ant Poppie is ‘n skadu van die vrolike mens  wat ons gewoond is.  Haar ronde lyfie sit-lê teen opgepofde kussings in die groot eikehoutbed.  Teen die spierwit kussings, lyk die groot vrou bleek en broos.  Sy wat maklik ‘n onthaal vir honderd kan organiseer in ‘n dag of drie, lyk der dagen sat.  Ons maak beurte om by haar te gaan sit vir kort rukkies. Dan praat sy in ‘n sagte stem in plaas van haar gewone bulderende bas. En tussendeur wag ons. Die sideboard kreun onder koek en tert (Betta se werk) vir al die besoekers wat kom en gaan.  In die yskas is daar gerookte varkboud en skaapboud wat in skywe gesny word vir toebroodjies as iemand honger is.  En klein frikkedelletjies, plaasbotter, agurkies, plomp rooi tamaties en krakerige kropslaai.  Want in Poppie en Stefaans Smuts se huis sal jy nie vrek van die honger nie, sê Ant Poppie altyd.

Van my plek op die gangmat sien ek vir Betta kamer toe loop toe die klokkie lui.  Ant Poppie, sy wat al ‘n riempiestoel stukkend gesit het met haar stewige lyfie, is te swak om te roep – vandaar die fyn silwer klokkie.  Ek blaai na nog ‘n avontuur van Adoons en vriende toe ek Betta kombuis toe sien terugkom.  Minute later, net voor Pa opstaan van sy stoel af om badkamer toe te gaan, verdwyn sy in Ant Poppie se kamer in met ‘n skinkbord.  Seker tee, dink ek verveeld, want sedert haar siekbed kry Ant Poppie skaars iets oor haar lippe.  Sy, wat so lief is vir kos, wys swakkies enige kos-offers van die hand.  Maar saans, terwyl ons op die stoep sit, het ek al vir Betta sien terugkom met ‘n skinkbord, maar wat daar op is, sal ek nie kan sê nie.  Teen die tyd wat ons ingaan, is die kombuis silwerskoon en Betta huis toe.

Op pad terug na sy kamer besluit Pa toe om by Ant Poppie in te loer.  Hy voel tog sleg oor ons die oumense so lanklaas gesien het, het ek hom gisteraand vir Ma hoor sê.  As sy praktyk net nie so besig was nie…

 Ek drentel agter Pa aan.  En daar, kiertsregop teen die kussings, kry Pa toe vir Ant Poppie. Op ‘n staanskinkbord wat wydsbeen oor haar rysige bene staan, is ‘n spread, soos die Engelse sal sê.  Van die skons wat Betta vir ontbyt gebak het, met goudgeel plaasbotter, plaasheuning en dik room in klein potjies.  Snye koue vleis met piekeluitjies en blatjang, dik snye plaasbrood.  En les bes, ‘n sny sjokoladekoek met ‘n blop room so groot soos ‘n gholfbal.  En agter die fees sit Ant Poppie, uitgevang en bleekgeskrik, met ‘n heuningstreep oor haar ken en skonkrummels op haar bo-lip.  Die wind skoon uit haar seile,  maar ook nie vir lank nie.

“Weet jy hoe honger word mens op jou sterfbed?  En hoe anders kon ek julle hier kry vir ‘n kuier?” seg sy, die dubbelkennetjie uitdagend uitgestoot, ‘n vurkvol sjokoladekoek halfpad mond toe. “Gee my kamerjas dat ek gaan koffie maak.”

1 antwoord op Ant Poppie se sterfbed (Die snaakse waarheid, net effens vermom om die betrokkenes te beskerm)

  1. Punte vir ant Poppie! boer maak ‘n plan en ant Poppie maak toe twee! Skitterend tannemys!

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.