Kersfees-herinneringe

November 26, 2009 in Sonder kategorie

Ek dink al die afgelope twee dae hard oor Kersfees-herinneringe. ‘n Paar bloggers het hulle s’n neergeskryf, maar ek kan glad nie enige Kersfees onthou nie. Nie dat dit nie in ons gevier is nie – my pa was een van die mooiste Christene wat ek in my lewe geken het. Dis net dat daar nie fanfare of rituele soos melk-en-koekies-vir-Krismisvader was nie. Daar was beslis nooit ‘n Krismisvader nie. Daar was ‘n Kersboom wat jaar na jaar met dieselfde balletjies versier is, en wattebolletjies was die sneeu op die boom. Die boom het ek later jare versier. Ek onthou net een kindertydse Kerspersent. ‘n Dra-wiegie vir ‘n pop. Van die soort waar mens die pop inskuif en die deel oor haar bene toezip. Ek weet daar moes heerlike kos gewees het, want my ma het altyd lekker gekook. Ek weet ook dit was waarskynlik ‘n gekookte ete, want sy het ‘n hekel gehad aan braaivleis-etes. Gese dis vir haar te veel werk… Blaas my siel! My pa het gebraai, en sy moes ‘n slaai of drie maak, maar dit was te veel werk. Net Suzie sal weet hoekom sy so geredeneer het.

Ek het wel besondere herinneringe om Desember-vakansies. Een deel was gewoonlik op Hartenbos. Daar onthou ek die koel, donker grasdak-rondawels. En my pa se bloubont swembroek wat net Desembers die lig gesien het. Ek was verstom – het nie eers geweet my pa kan swem nie. My ma kon nie swem nie, en het nooit in haar hele lewe ‘n swembroek gedra nie. En sy het gegril vir sand. So, ek kan my voorstel dat sy nie van ‘n seevakansie gehou het nie. Ek onthou die rondawel moes gedurig uitgevee word.

Die tweede deel van ‘n Desembervakansie was gewoonlik dan op my pa-hulle se familieplaas Uitvlug naby Joubertina. Twee broers het daar geboer. Oom Okkie en oom Paul. Ons het altyd by oom Paul-hulle gebly. Ek onthou die plaas (gemengde boerdery) se Desembers vir koring-oes, en vir sappige, soet rooiwangperskes. En vir ‘n solder vol Landbouweekblaaie met Adoons en oom Kaspaas-strokiesprente. Ek het altyd op die solder gaan le, plat op my maag en reg in die deur (vir lig) en al die Landbouweekblaaie se Adoons en oom Kaspaas-strokies gelees. Op die solder is daar ook droeperskes gedroog, as ek reg onthou. Of nee, dis op sinkplate in die tuin gedroog, maar ek dink dis op die solder geberg. Ek onthou eiers uithaal saam met my niggie Marthatjie (wat letterlik omtrent 25 jaar ouer as ek is). En rondplas in die vlak water van die Kouga-rivier. Ek onthou ‘n splinternuwe geel bikini wat my ma vir my gemaak het. Enige 7-jarige se trots. Ek het op die laagwaterbruggie oor die Kouga gaan sit om te kyk hoe die groter kinders swem (ek was ‘n laatlam) en toe ek opstaan is my hele nuwe geel bikinibroekie vol gesmelte teer. ‘n Hartverskeurende ramp!

Uitvlug was ook die plek waar ek en my pa die eerste keer in my geheue iets alleen gaan doen het. Hy het ‘n knapsak gepak met geelperskes en ‘n bottel water, en ons het die “berg” agter die huis uitgestap. (Seker hoogstens ‘n hogerige koppie…) Tot by die baken doer bo, waar ons gaan sit en rus het en uitgekyk het oor die plaashuise daar onder. Hy het vir ons geelperskes geskil, en ons het die water uit die bottel gedrink. En heuningtee gepluk. Saans het die kragopwekker bepaal hoe laat mens mag le en lees, en jy’t nie met ‘n boer teegestribbel as hy besluit die ding het nou lank genoeg geloop nie.

Ander Kersvakansies is ek en my ma met die trein van Windhoek af PE toe om vir my ouma te gaan kuier. Ek onthou eintlik net een van hierdie Desembers baie goed. Die een toe ek die klein battery-aangedrewe orreltjie gekry het. Die note was geel en pienk en pers en groen en grys, en die note in die meegaande boekie dieselfde kleure. So, mens kon ‘n heel gangbare tunetjie speel. Wat ek opsluit gedoen het, heelpad Windhoek toe in ons koepee. My arme ma! En die ander passasiers…

7 antwoorde op Kersfees-herinneringe

  1. Napier het gesê op November 26, 2009

    wonderful memories, thank you for sharing..
    special times

  2. ek het ook so ‘n orreltjie gehad!!!!!!!!!!

    Het net gou kom dankie se vir my “post”, Cin het dit vir my gestuur, lekker dag vir jou!

  3. Dit klink heerlik. Ek onthou ook vir Oom Kaspaas en vir Adonis! Ek was GEK daaroor!

  4. Die aapstreke is weer verlede jaar heruitgegee in ‘n boekie. Kyk uit daarvoor by goeie boekwinkels.

  5. Oe, ek het gevrek oor daai orreltjie! Ek het hom nogal goed opgepas ook, en my dogtertjie het nog met hom gespeel. Ek het graag kerk-kerk gespeel met hom!

  6. Lieflike post!

  7. Thanks DsP! (Dit klink soos Ds. P – dominee P…)

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.