My antwoord aan Dan Roodt op sy rassistiese post oor Prof. Jonathan Jansen

November 25, 2009 in Sonder kategorie

Dan Roodt skryf as volg op sy jongste post. (Ek kon dit nie weerstaan om hom te antwoord nie. Ek doen dit omdat ek glo dis juis uitsprake soos hierdie wat nog groter klowe in SA veroorsaak as wat mense besef.)

Jansen sien nie SA patologie raak

 

Jansen praat in ‘n Beeld-rubriek van “…vier seuns wat verskriklike dade gepleeg het”. Is enigiemand beseer? Die “slagoffers” het dit alles met glimlagte deurstaan en het vrywillig aan die ritueel deelgeneem.

Indien die Reitz-vier “verskriklike dade” gepleeg het, wonder ek wat pleeg die moordenaars, verkragters en rowers wat elke dag ‘n skrikbewind in ons land voer.

 

Terwyl Jansen hom kwel oor die “afwyking” van die Reitz-studente, gaan die groter en intenser patologie van Suid-Afrika, die sadistiese moordlus wat botvier in plaasmoorde en huisaanvalle by hom verby.

Maar nou ja, wat meer kan ons van die man verwag? Is hy nie maar net nog ‘n “kwotaspeler” in die akademie, nog ‘n RA-aanstelling met ‘n mindere intellek en ‘n groot swart kar nie?

 

Ag nee wat, Dan, tot op ‘n punt in hierdie post kon ek dalk nog met jou saamstem (die deel oor studentepret, moontlik, en die skrikbewind van misdadigers, beslis), maar om Jansen darem ‘n kwotaspeler met ‘n mindere intellek te noem is verregaande, selfs vir jou.

Het jy die man al ontmoet? Want indien jy het, sou jy besef het hy is allesbehalwe agtergeblewe as dit kom by IK. En verder het hy sy kop VER uitgesteek vir hierdie vier seuns (wat, net terloops, al jong manne is en eintlik vir hulleself kan en behoort te praat).

Jansen en jy het dalk veel meer in gemeen as wat jy sou wou besef, Dan, want, net soos jy, loop hy glad nie oor van liefde vir die ANC-regering nie. En, nes jy, is hy ‘n reguitprater. Hy skroom nie om foute uit sy eie verlede te erken nie, en probeer sy bes om ‘n insig in die groter massa van Kovsie-studente te kry deur sy oop deur-beleid. Hy het by minstens een geleentheid waar ek by was (ek was by drie in twee maande waar hy oor dieselfde tema van versoening gepraat het) gese dat dinge soos die Reitz-video voor die deur van ‘n groter probleem in SA gele moet word: ‘n gebrek aan respek. En dat ALLE mense in SA vir mekaar moet respek kry, want eers dan sal ons land kan vooruitgaan. My gesonde verstand se dat hy net so bekommerd is soos ek en jy oor misdaad en plaasmoorde en wat jy noem die “groter en intenser patologie van SA”.

Jansen sou homself veel minder probleme en kritiek op die hals gehaal het as hy eenvoudig geswyg het oor die Reitz 4. Dan, moontlik, sou jy hom kon beskuldig van kwotaspeler wees. Maar hy het nie, en hy het ‘n duidelike poging tot versoening aangewend.  Terloops, het jy vir hom in die openbaar lof toegeswaai vir die versoenende stap? Want ek kan nie onthou dat ek dit gesien het nie.

My raad sou wees dat ons as Afrikaanssprekendes (wat Jansen insluit) eerder vriende onder mekaar sal maak as om mense (soos Jansen) te vervreem met ondeurdagte rassisme. Want dit is wat jou post op neerkom, Dan. Rassisme.

9 antwoorde op My antwoord aan Dan Roodt op sy rassistiese post oor Prof. Jonathan Jansen

  1. Vertel hom, Mys!
    Dit krap my gat ook verskriklik as ek sien hoe mense soos prof. Jansen onnodig afgetakel word. Hy is ‘n man wat nie doekies omdraai nie en sê wat hy wil. Laat my baie dink aan ons bok afrigter ook!

  2. Ek laaik ook vir Helium al meer en meer! En regtig, as ons kla oor rassekaarte wat uitgepluk word deur ouens soos Mr Eskom, dan moet ons die rassiste in eie boesem ook aanspreek. Maar ek raai Dan gaan my nou ook groepeer onder die minder intellektueles…

  3. Daar is party debatte wat ek vermy so ver ek kan. Niemand kan ooit ‘n argument wen oor rassisme nie. Niemand kan met oortuiging iets soos apartheid of ‘n ander -heid of -isme se saak regverdig nie. Indien enige party dan in ‘n argument die ras/party/godsdiens/apartheid ens. kaart speel, is daar nie meer werklik debatvoering nie, net argumentering – of liewer, skel en stry. En daarvan sien en hoor mens genoeg vanuit die geledere van die mense wat veronderstel is om ons leiers en rolmodelle te wees.

    Wat die Reitz-4 gedoen het, was minstens onwys, as mens dan kan toegee dat hulle nie bose intensies gehad het nie. As hulle ver genoeg gedink het, sou hulle moes kon sien dat hulle “projek” potensieel plofbaar was. Dit is nie onbillik om die etiket van “gebrek aan respek” om hulle nekke te hang nie. Dit is jammer om te sê, maar mens sien maar min van ‘n kultuur van respek onder ons Suid-Afrikaners van alle oriëntasies en affiliasies. Selfs geestelike leiers is dikwels onverdraagsaam, beterweterig, arrogant, geneig tot persoonlike aanvalle (lees julle Beeld se briewekolom?)

    Net so is Dan Roodt se verwysings na Prof Jansen ook onwys. Ek glo Prof Jansen sal met hom saamstem dat die “patologie van SA” (dis nou die moorde, haatspraak ens.) onaanvaarbaar is en hy vind dit waarskynlik net so walglik soos enige ander regdenkende mens. Watter beskaafde mens keur met volle oortuiging (dis nou buite die politieke spektrum, waar geen individu werklik sy eie mening het nie) mense soos Mc Bride se bomplantery (of dan nou ‘n SAW soldaat se moord op ‘n onskuldige vrou of kind) goed? Dis juis die afkeur aan sulke vergrype wat uiteindelik tot die besef onder blankes (Afrikaners?) gelei het dat apartheid geen bestaansreg gehad het nie omdat dit moreel onverdedigbaar was?

    Dit is dus my mening dat persoonlike aanvalle soos dié op prof. Jansen onwys en ongevraag is, en ek wil dit graag duidelik aan mense soos Dan Roodt stel dat hulle geen mandaat het om sulke goed namens my as Afrikaner te sê nie. Ek is ‘n Afrikaner omdat ek in ‘n bepaalde milieu gebore is en grootgeword het, nie omdat ek een of ander ideologie aanhang nie.

    Laastens hoop ek dat daar geen sweem van bad language of hate speech in my post was nie

    O ja, ek is nie ‘n intellektueel nie.

  4. benmica het gesê op November 26, 2009

    Ek het die grootste respek vir Prof Jansen. Daar is duidelik ‘n verskil tussen mense wat wil rekonsilieer en die wat rassehaat aanwakker.
    Gelukkig ins ons mense wat kan oordeel en die mense maar net ignoreer.
    Miskien moet ou Dan en sy kollegas in kammaland gaan bly dan kan hulle maak net wat hulle wil.
    Oor 20 jaar sal ons sien wat oorbly van Kammaland.

  5. benmica het gesê op November 26, 2009

    Jy moet nie so praat nie. My oupa (altwee was bittereinders in die 1899 tot 1903 boere oorlog)se suster het net daarna met ‘n Ingelsman getrou. My broer het dieselfde gedoen. My kinders is Ingelse, ek het so gesukkel om die taal te praat dat ek hulle almal (tot groot skok en kritiek van die familie) in ‘n Ingelse skool gesit het. Nou help hulle my reg as ek die Ingelse taal verkeerd besig.

  6. Good 4 U!!! dalk trek jy met jou skrywe sy (Dan) rasse-tanne uit en kan jy, as tannemys, hom beloon met ‘n goeie stel intellektuele tanne sodat hy meer sinvolle gesprekke kan voer. of los hom sonner tanne dan sal hy sy mond toe hou!

  7. Ag, Lodewikus, ek dink jy is intellektueel, hoor! (En dis my blog, so ek mag dink wat ek wil…)Ek stem heelhartig saam: ek wil nie he die res van die wereld moet dink alle Afrikaners is soos Dan Roodt nie.

  8. Die kommentaar oor die die tanne laat my dink aan my skoonsuster se seun wat op die plaas in Ladismith ‘n skaap se kakebeen in sy skoen gesit het toe een van sy broers geld by die Tandemuis gekry het

  9. ‘n Ware entrepeneur, die skaaptanneman.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.