Adam September en die Nazi-skat…

September 30, 2009 in Sonder kategorie

is die naam van die toneelstuk waarvoor Chris Vorster onlangs die ATKVeertjie gekry het vir beste nuugeskrewe dramateks van 2009. Ek het dit vanaand gaan kyk, en kan goed verstaan hoekom dit bekroon is en boonop benoem is as aanspraakmaker op die gesogte Anglo Gold Ashanti/Aardklop-Smeltkroesprys.

Dis ‘n slim teks. Soos in vernuftig. Adam September en sy seun Jody is op soek na ‘n skat iewers in Suidwes-Afrika.

Eintlik sou Adam (Ivan September) al van die skat vergeet het as dit nie vir Heinz (Marius Weyers), die homoseksuele suurkool en fortuinsoeker was nie. Adam sit, in sy eie woorde, en wag vir die dood, en verbeel hom allerhande kwale.

Jody (Christo Davids) het sy eie “besigheid” in die Kaap: hy’s ‘n “burglar”. Maar toe sy pa bel en se daar’s moeilikheid met die Duitser, sit hy dadelik af huis toe.

Enter Wolf Basson (Ben Kruger), die seun wat sy ouers nooit wou gehad het nie. Eintlik, die seun wat geen regdenkende ouers ooit sou wou gehad het nie! Wolf is ‘n recce, van die soort wat sy mes en sy R4-geweer vroumensname gee, drink soos ‘n vis en skiet voor hy waarsku. Die arme Wolf se bravade, dronkenskap en gierigheid kry hom telkens in doodsgevaar, maar doodkry is min…

Waar vier sulke uiteenlopende karakters bymekaar is, gaan die poppe noodwendig dans… al is die poppe ook Nazi-geraamtes.

Die akteurs was almal uitstekend. Christo Davids, beter bekend as Charmaine se verwarde tienerseun in 7e Laan, het  baie beindruk met sy uitstekende vertolking van ‘n komiese karakter. Bravo, Christo!  

Marius Weyers (Hans) was oudergewoonte puik. Maar my favourite karakter was of Adam, of Wolf: ek kan nie besluit nie. Seker maar omdat beide Ben Kruger en Ivan Abrahams hulle karakters met soveel oorgawe gespeel het.

Laat ek nou maar bieg: ek is nie een vir SERIOUS teater, ‘n diep polities-korrekte gewroeg nie. Seker daarom dat ek vandag albei Chris Vorster se toneeltukke so geniet het.

Adam September is die beste komedie wat ek in ‘n laaaang, lang tyd op die verhoog gesien het. As dit ooit in ‘n teater naby jou wys, bespreek dadelik. En vat vir Ma, Pa, Hester en die hond, want almal sal hulle gate uit geniet.

Chris, ek hou duim vas dat jy en jou span die Ashanti-prys kry vir Adam.

(Nota: ek beskou myself geensins as ‘n resensent nie, maar vnie oor ertel bloot vir wie ookal belangstel wat ek van iets gedink het. Lees ook Spat, die feeskoerant, daagliks in Beeld.)

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.