Aardklop 2009 …

September 30, 2009 in Sonder kategorie

is ‘n heerlikheid van formaat! Daar is ‘n ongelooflike klomp talent hier bymekaar, en ek het al drie heerlike shows gesien.

Bo-aan my lys van gunstelinge is Vrydag is Skeidag, met Chris Vorster, Diaan Lawrenson en Hennie Jacobs, almal bekende gesigte in 7e Laan. Die teks is meesterlik en skerp, en uit Chris Vorster se pen (hy het ook die regie gedoen).

Dis ‘n slim komedie die. Daar is ‘n paar moontlike scenarios vir die ongelukkige paartjie wat op skei staan. Watter een sal dit wees? Wie lag laaste, en waar pas die kelner in?

Hennie Jacobs het die gehoor laat kraai met sy fisieke komedie: dis net lang, dun bene waar jy kyk. Diaan Lawrenson is veel meer as Paula – ‘n rol soos hierdie pas haar soos ‘n handskoen. En Chris? Wel, wat kan ek se! Talent kan nie gekoop word nie, en Chris is nie net ‘n goeie akteur wat veral uitblink op die verhoog nie, maar ook ‘n baie goeie skrywer. Die teks is goed geskryf, vermaaklik en tipies van huwelike waarin dit nie te hot gaan nie. Ek dink die gehoor het so hard gelag omdat ons so baie van onsself daarin herken.

Vanaand gaan kyk ek Adam September en die Nazi skat, ook ‘n komedie en ook uit Chris Vorster se pen. Hierdie teks het hom omtrent ‘n maand gelede die ATKVeertjie besorg as dramateks van die jaar. Dus kan ek nie wag nie!

Gister se Ses Snare, met Mathys Roets, Leon Ecroignard, Mel Botes, Blackie Swart, Wouter van de Venter en Thean Kotze, was ‘n belewenis van manne wat weet wat om met ‘n kitaar te maak. Ek moet veral vir Blackie Swart uitsonder, en natuurlik vir Mel Botes. Leon Ecroignard is myns insiens ook een van die veelsydigste kunstenaars in ons land, en hy het ook die tjello en elektriese kitaar behoorlik laat sing. Die ouens speel nie net saam nie, maar kry ook elkeen ‘n eie kans in die kollig. En dan word daar oor en weer geskerts vir ‘n vale. Die kameraderie tussen hulle is ook ooglopend, en dit was goed om te sien Mathys Roets is aan die gang ten spyte van sy ongeluk.

Ek het ook Hotel Hel, met Wynand van Vollenstee (van Kalahari Kallie-faam) en Samson Khumalo (van Coconuts-faam) gesien, en lekker gelag. Albei akteurs pas uitstekend in hul rolle, maar Khumalo was my persoonlike gunsteling. En die teks, deur Henrietta Gryffenberg, is ‘n lekker tong-in-die-kies kykie na die nuwe SA, emigrasie en ons beheptheid met 2010. 

Toe ons uitloop by Hotel Hel is daar twee sulke prits en pruim-vroue wat met dungetrekte lippe met mekaar gesels. “Die akteurs was beter as die teks wat hulle gehad het om mee te werk.” Vir sulke anties (en oompies) wil ek tog net herinner: dis ‘n kunstefees. Die produksies word gekeur voor hulle hier beland. Dus kan die teks onmoontlik nie so sleg wees as wat julle julle verbeel het nie. En as jy Tsjechov verwag, moenie ‘n klug gaan kyk nie.

Nou ja, moet darem tussen-in werk ook! Tot later!

1 antwoord op Aardklop 2009 …

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.