Jurie Els moet hof toe oor Klay. Beteken dit daar is hoop vir die regstelsel

Augustus 29, 2009 in Sonder kategorie

Hoera en wonderlik!

Die bevinding van die vervolgingsgesag in Pretoria om Jurie Els in ‘n hooggeregshof te laat verskyn op drie aanklagte (twee van onsedelike aanranding en een van uitlokking) is vir my goeie nuus. Dit gee my weer hoop dat SA se regstelsel die stormwaters van die afgelope jaar of tien gaan verlaat, en dat ons regstelsel werklik geregtigheid as fokus het, en bereid is om sake deeglik te ondersoek.

Ek het van die begin af simpatie met Klay gehad en gewonder oor Els se beweringe dat hy valslik beskuldig word. Hoekom? Veral 3 redes.

1. My dogtertjie is as kleuter gemolesteer, en ek weet watse moed dit van haar geverg het om my daarvan te vertel en daarna deur die sielkundige proses te gaan. Sy was maar 6 jaar oud toe ons uitgevind het, en gelukkig kon ons vir haar die beste sielkundige terapie bekostig (danksy ‘n goeie mediese fonds). Vandag is sy ‘n vrolike, goed aangepaste 10-jarige, maar dit kon baie anders gewees het as sy nie gepraat het nie en ons nie die finansies gehad het vir goeie terapie nie.

2. Robbie Klay kon NIKS daarby baat om hierdie bewerings openbaar te maak nie. Inteendeel. Sy loopbaan kon groot skade gely het, want die Afrikaanse musiekmark is ook net so groot, en baie van Els se aanhangers was ook waarskynlik Klay se aanhangers.

3. Die derde rede het Els eintlik self verskaf: hy het kwalik gese hy gaan ‘n sabbatsjaar oorsee neem, of hy is weg. Letterlik binne dae. En etlike weke later maak Robbie sy bewerings openbaar. Wat is daardie seding nou weer van ‘n rokie en ‘n vuurtjie?

Let wel: ek se nie Els is skuldig nie – time and the court will tell – maar ek is bly die saak het nie sommer net onder ‘n mat in verdwyn nie.

Hopelik laat die feit dat die saak in ‘n openbare hof ondersoek word, huidige en voornemende kindermolesteerders twee keer dink voordat hulle hul perverse wil op ‘n onskuldige kind afdwing.

3 antwoorde op Jurie Els moet hof toe oor Klay. Beteken dit daar is hoop vir die regstelsel

  1. blighty het gesê op Augustus 29, 2009

    AS hy skuldig bevind sou word,gaan my hart nie net uit na Robbie nie,maar ook Jurie se vrou en kind.Can you imagine om die vrou of kind van ‘n pedofiel te wees,en dit dan aan die groot klok opgehang word…

  2. Ek stem saam met jou. Daar is GEEN wenners in hierdie tipe situasie nie. Vir ons as gesin was dit ‘n ENORME affere. Die spanning het uiteindelik ons huwelik gekos.

  3. Dankie Madmom! Ja, dit was tough, maar die Here se genade het ons daardeur gekry. Ek glo die ervaring het haar meer empatie vir mense gegee, want sy sleep al wat ‘n af-vlerk voeltjie is huis toe. So, hopelik kan sy eendag mense help wat ook deur die lewe geklap is. En dit het sekerlik my oe oopgemaak vir baie dinge in die lewe, onder meer hoe bevoorreg ek is (ek weet eerlikwaar nie waar begin ‘n ouer uit Danville/Soweto/Putsondergat) soek na die regte terapeut, en hoe hanteer hulle die polisie en al die ander dinge nie. Dit was vir my BAIE moeilik, en ek is well connected, nie arm nie en werk darem vir myself, wat beteken ek kon tyd maak om my kind terapie toe te neem. Haar terapie het drie jaar geneem, terloops.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.