Jy blaai in die argief vir 2008 Oktober.

My pa

Oktober 3, 2008 in Sonder kategorie

My bejaarde pa (82) kom van more af by my bly. En op ‘n vreemde manier sien ek baie uit, al weet ek dit gaan harde werk en aanpassings verg. Want eintlik het dit gevoel of ek albei my ouers in die motorongeluk in Julie verloor het.

Toe ons die middag na my ma se roudiens met sonsak uit Windhoek vlieg, het ek gedink ek gaan my pa waarskynlik nooit weer lewendig sien nie. Op daardie stadium was hy nog so swak van sy beserings dat hy nie eers my ma se roudiens kon bywoon nie. Hy kon ook nie regop sit in ‘n rolstoel toe my broers hom daardie middag weer dokter toe moes neem nie.

En kyk nou – hier kry ek genadetyd met hom. Wat wys ek moet meer geloof he, want God is immers in beheer – gelukkig nie ons mense nie.

Sedert Dinsdag, toe ons besluit het, is my huis van bo tot onder omgekeer en blinkgeskrop. Vandag het ons selfs Oupa Johan se kamer uitgeverf, en more kan ek die nuwe kwilt wat ek vir hom gekoop het, oor sy bed gooi.

En Sondag kook ek en Martha Moroke regte, egte Sondagkos. Soetpatats, groenboontjies met baie aartappel en uie, witrys en hoenderpastei. Weliswaar nie presies so briljant soos wat ma Suzie dit altyd gemaak het nie, maar ons gaan probeer! En warmpoeding en vla, vir Pa se soet tand.

My Pa kom huis toe!