Hoe ‘n soort Afrikaner is jy??

September 26, 2008 in Sonder kategorie

Lees ONDER wat skryf ‘n leser vandag in Beeld.

Erfenisdag en ’n nuwe erfenissentrum met ’n splinternuwe erfenismuseum. Die museum stal in woorde, foto’s en klank die geskiedkundige reis uit van die Afrikaner van 1899 (die begin van die Anglo-Boereoorlog) tot en met die nuwe millennium.

Met groot opgewondenheid besoek ek en ’n paar vriende die nuwe terrein. Groot was my teleurstelling dat ons vir die duur van ons teenwoordigheid daar bykans die enigste besoekers was.

Ons het gaan piekniek hou op die nabygeleë piekniekterrein en die motors het by ons verbygestroom – nee, nie na die nuwe Afrikaanse museum nie, maar na die oudhedemark reg onder die erfenissentrum.

Ek wil glo en hoop die gebrek aan belangstelling is te wyte aan ’n gebrek aan inligting. Ons mense weet nie van die nuwe museum nie. Mens sou dink dat daar ten minste een of ander volksgeleentheid vir Erfenisdag op die terrein gereël sou gewees het. Waar het die lede van die ATKV en die Van der Stel-stigting byvoorbeeld Erfenisdag gevier?

  • Barbara Hönck, Pretoria
  • Wat my bring by die vraag: hoe ‘n soort Afrikaner is jy?

    Want EK is NIE die soort wat Erfenisdag vier met ‘n “volksgeleentheid” nie. In fact, ek wil eintlik van ‘n volksgeleentheid niks weet nie, want vir my is dit laer trek. Ek is voor in die geveg as dit kom by goed soos om nie ons geskiedenis te vergeet nie. My argument is eenvoudig: dit het gebeur, moenie maak of dit nie het nie. Daarom lees ek byvoorbeeld (soms) oor goed soos die Boereoorlog. En ek het Ons Vir Jou in die staatsteater gaan kyk. (Net soos ek Grotman en Knypie op die Kant gaan kyk het, en volgende week Samoerai wil gaan kyk by Aardklop.)

    Maar ‘n “volksgeleentheid” vier of skuldig voel omdat ek eerder die vlooimark as die museum besoek op ‘n luilekker rusdag? Newwer!  (Terloops, Me Honck sal bly wees om te hoor ek het heeldag voor my rekenaar gesit, besig om artikels te skryf vir ander Afrikaanssprekendes. Sodat hulle darem iets het om te kritiseer…)

    Ek dink die liewe me Honck moet eerder besef elkeen in SA wil maar eintlik net sy eie gang gaan: of jy nou ‘n Zoeloe of ‘n Afrikaner is.

    En terloops: ek is ‘n ATKV-lid. Het selfs so vier jaar terug vir hulle ‘n media-skakeling veldtog gedoen. En laas toe ek gekyk het, was hulle alles behalwe ‘n “volkspele en Voortrekkers”-tipe organisasie. Dis moderne Afrikaanssprekende mense wat die TAAL en die NAASBESTAAN van alle rasse in Suid-Afrika wil bevorder.

    En omdat ek nog pelle het by die ATKV, weet ek die meeste van hulle is wel besig met baie harde werk by plekke waar Afrikaanssprekendes wel ‘n tipe van ‘n volksgeleentheid gaan vier: die Cultivaria-fees in die Paarl, en Aardklop in Potchefstroom. Soveel lekkerder en loslittiger as ‘n museum, dink jy nie Me Honck??

    (Terloops, ek is dol oor museums. My kinders was tot dusver te klein, maar ek het my (gewese) stiefkinders jare gelede al na almal in Pretoria toe geneem. Het die Voortrekker Monument se honderde trappe tot bo uitgeklim – iets wat ons almal se kniekies behoorlik laat bewe het.)

    Is dit nie tyd dat ons Afrikaanssprekendes ons kritiese, konserwatiewe mantels afhaal en ‘n slag ophou om te probeer voorskryf vir mekaar nie.

    2 antwoorde op Hoe ‘n soort Afrikaner is jy??

    1. glyofbly het gesê op Oktober 2, 2008

      Ja nee,

      Hierdie is ‘n moeilike een. Ek dink die probleem is daarin dat die regses vir lank ons geskienis ge-koopteer (vir gebrek aan beter woord) het.

      Dit het die gevolg gehad dat die Afrikaner geskienis, selfs vir die Afrikaner, meestal ‘n rassistiese inval gehad het.

      ja, apartheid was daar, maar ons geskiedenis is soveel ryker as dit.

      Elke Afrikaner moet trots wees op dit wat hy/sy is op hy/sy eie manier.

    2. net myself het gesê op Maart 20, 2009

      ek sien hierdie blog is baie oud, en word seker nie meer geskryf nie, maar ek stem saam met jou vandag!

    Laat 'n Antwoord

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.