My seun ontdek ‘n nuwe senuwee – in MY lyf

September 19, 2008 in Sonder kategorie

My kinders is maar gedurig waar ek ookal is. So doen ons al die afgelope 2 maande die fisioterapie-ding na die motorongeluk.

My 6-jarige Luc is nog meer kere saam met my as Zoe, wat tot haar bittere spyt skoolpligtig is. Luc is ‘n lewendige rakker, maar weet hoe om homself te gedra (meestal…)

As ek fisio kry vir my nek en skouer, speel hy onder die bed rond of maak praatjies met die terapeute. Soms kry ek akupunktuur (wat ek nogal kan aanbeveel) in besonder pynlike spierknoppe. (In ‘n neutedop: daar waar die speld ingaan, stel die liggaam sy natuurlike pyndoders vry.)

Een van die baie seer nagevolge van die ongeluk is ‘n ontsteekte senuwee in my regterskouer (waarvan ek die pyn en swelling soms tot in my vingers kry). Die enigste keer wat ‘n akupunktuur-naald my nog seergemaak het, was in die besondere deel van my skouer.

Vanoggend hou Luc my ystervark-voorkoms (‘n rug vol spelde) aandagtig dop. Na ‘n ruk trek Marjanne (sy met die fantastiese, helende hande) die naalde uit.

“Is dit nie seer nie?” vra Luc.

“Nee, glad nie. Was nog nooit,” antwoord ek. “O ja, behalwe daardie een keer toe dit my senuwee geraak het.”

Ja, seg hy. Hy onthou. Dit was mos die keer met my “moer”-senuwee… (Waarskynlik ‘n naam wat ek die senuwee in die hitte van die pyn genoem het…)

Van nou af bly hy by die huis as ek fisio kry.

1 antwoord op My seun ontdek ‘n nuwe senuwee – in MY lyf

  1. LOL! Ja nee. Kinders tel maar al ons sê goed op- die goeies en die slegtes lyk dit my!

    Hoop die skouer word gou beter!

    L

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.