Bewaar ons van die …

September 9, 2008 in Sonder kategorie

Ek is vanaand blou van beneuktgeit – die skool gee vir die graad 4’s ‘n marionet om te maak. Die papiere kom laat by my uit (my kind was siek drie weke gelede toe dit blykbaar uitgegee is). Juffrou onthou verlede Vrydag om dit vir die kind te gee. Kind noem dit Vrydag terloops. Herinner my Maandag daaraan.

Maar ek is op verskeie deadlines vir verskeie redakteurs wie se geduld ek nie langer wil beproef nie. Tussendeur is dit nog fisio vir Kind se hand en my nek en skouer (post-ongeluk). En ‘n toets vandag vir die Graad 4’s.

Gaan kry vanmiddag die benodigdhede: twee skuifnaalde (iemand al daarvan gehoor?) by die hardeware winkel. Bedel vier keelstokkies by die dokter toe ek die Ander Kind dokter toe vat vir kroep. Nog steeds op verskeie deadlines. Darem een artikel ingegee vandag. (Moet eintlik more nog drie ingee, maar ek dink na my marionette-taak is daai plan nou na die maan.)

Kom 6 uur by die huis. Vra die eks-man (wat die kids kom groet) om die gaatjies in die keelstokkies te maak. Nie oor ek nie kan nie, maar oor hy min genoeg doen vir die kinders. 

Probeer toe die %#[email protected]! ding aanmekaarsit volgens die juffrou se papiere. Praat in vreeslike tale. Raas met die kinders. Wil die honde verwurg. Want: moes drie skuifnaalde he, en boonop van ‘n heel ander variety as wat die hardeware man vir my gegee het.

Maak toe ‘n plan (‘n vrou het mos gewoonlik een). Sit goed na lang gesukkel en vreeslike woorde op ‘n manier aanmekaar. Wens ek het ‘n man in die huis gehad vir wie ek dit kon los. Dink smartvraatlik aan al die getroude vrouens wat aand na aand met hulle mans baklei en nie daaraan dink dat hy handig te pas sal kom in (onder meer) ‘n marionette-taak nie.

Trek weg en teken (volgens die diagram) ‘n gawe diertjie. Begin wol knip om genoemde gawe diertjie se lyf mee toe te plak. Onthou Kind moet taak doen saam met marionet. Een of ander storie. Kom op (nou eers!) deurmekaar lessenaar, onder hout, karton, draadjies ensovoorts, af op nog ‘n papier wat aankondig genoemde %$#@! marionet moet ‘n kultuurgroep voorstel, en moet boonop saam met ‘n storietjie gedoen word wat genoemde %$#@! marionet se kultuur uitbeeld.

Ander Kind word sommer kamer toe gestuur, want hy irriteer my. (En dit, liewe vriende, het omtrent nog net 4 keer in sy 6 lewensjare gebeur, want ek en hy is ganse van die selfde dam.)

Nou ja, vele vreemde (maar baie bevredigende woorde) en met gom op my vingers later kan ek met trots aankondig dat genoemde marionet onder my vaardige vingers geblom het tot ‘n Herero-vrou. (Gelukkig het ek in Namibie grootgeword, en gelukkig het ek eenkeer op ‘n nostalgiese trip vir die Kind een gekoop. Okay, okay, dis kitsch, maar sy was vier…)

En jip, terwyl ek hier tik, onthou ek dat ons nog nie by die %$#@! storie van die Herero-prinses (of wat ookal) uitgekom het nie. En onthou: dit moet die kultuur uitbeeld… Het Kind intussen ook bed toe gestuur.

Wat my so erg grief, is dat ek NIE een van die ma’s is wat hulle kinders se take doen nie. Het regtig nog nooit nie. My argument is eenvoudig: ek het klaar al daai standerds deurgekom, en niemand het my gehelp nie. Maar hoe op aarde die Onderwysdepartement dink ‘n 9-jarige moet dit al die handwerk op sy of haar eie doen, gaan my verstand te bowe. En ek het nie ‘n dom of onoorspronklike kind nie.

Nou wonder ek hoeveel ek gaan kry…

Het darem die afgelope twee (stresvolle) dae hardop gelag: lees gisteraand in die Huisgenoot (ja toe, moenie maak of jy dit nooit lees nie) hoe ‘n leser (ek lei af hy is nogal ‘n dominee) vertel van sy kinders se ougat-segoed.

En toe die kind by die huis kom van die kleuterskool af en vertel dat hy die Onse Vader kan bid, het Mamma en Pappa natuurlik dadelik geseg “laat ons hoor”.

En, skryf die pa, dit het heel goed gegaan. Tot die kind ‘n letter omgeruil het, en ewe ernstig op sy kniekies langs die dubbelbed gebid het: “en bewaar ons van die dose…”

Is presies hoe ek voel…

2 antwoorde op Bewaar ons van die …

  1. LOL! Ek kan simpatiseer…ek voel ook so as die kinders onthou 3 dae na die tyd die taak moet in. En ek voel soos jy, hoekom hulle die kinders partykeer sulke moeilike goed gee wat net gedoen kan word met behulp van ma en of pa, gaan my verby.

    BTW ek hou gewoonlik van jou artikels wat ek in tydskrifte raaklees, en ons deel n familienaam (van – alhoewel die was my ouma se geboorte van (nooiensvan)

    L

  2. Dankie L.

    Gaaf om nog ‘n Salzwedel te ontmoet. My nooiensvan was Herselman. Moes dit altyd spel vir almal. Droom toe van trou met ‘n man met ‘n eenvoudige van. Soos Nel, of Botha, of Smit. Trou toe met ‘n Salzwedel…
    Mense kan dit nie eers uitspreek nie, newwermaaind spel.
    Dankie dat jy my artikels lees. Altyd gaaf om te weet iemand doen. 🙂

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.