Om te rou en te onthou

Augustus 10, 2008 in Sonder kategorie

Die rouproses is ‘n vreemde ding.

By tye voel ek my ou self, ander kere wil ek regtig net die kombers oor my kop trek. Het selfs al ‘n cliche oomblik beleef waar ek wakker geword het en net geglo het die dag gaan nie begin as ek nie my oe oopmaak nie. Op sulke dae antwoord ek nie die foon nie, en wil ek glad niks met mense te doen he nie.

Vrydae sal nooit weer vir my dieselfde wees nie. Ons ongeluk het op ‘n Vrydagmiddag omtrent 14h40 Suid-Afrikaanse tyd gebeur. (13h40 in Namibie.)

Die verloop van daardie life-changing paar minute speel homself oor en oor in my kop af. Die gevoel toe die Landcruiser se wiele die los grond vang, die wete dat ons die pad gaan verlaat, en dan die swart stilte. Die gewig van iemand op my bors, die wete dat ek wil skreeu maar nie genoeg asem kry nie… toe die oomblik waar ons tot stilstand kom en ek sien my dogtertjie Zoe le in die pad. Soos ‘n lappop. ‘n Klein poppie, gesig ondertoe. “Die kar het oor haar gerol!”, flits dit deur my kop.

My sesjarige Luc skreeu onophoudelik. Daar is stof in die kar, en ek hoor myself skreeu “My kind!”. Ek kry die deur oop, sit Luc op die grond buite die Cruiser neer en hardloop na Zoe toe. Saam met my broer, wat bestuur het. Ek sien die bloed aan haar mond, en verligting spoel oor my toe sy begin huil. Ten minste leef sy!

My broer dra haar terug na die Cruiser, en sit haar by die agterwiel neer. Haar hand staan ‘n rooi knop geswel, en sy en Luc is histeries. “Is ons dood? Is hierdie die hemel?” wil hulle weet. “Ek wil nie nou al doodgaan nie!” gil Luc. “Ek wil huis toe gaan! Ek wil nie hier wees nie.”

Ek val instinktief op my kniee, bid hardop. Probeer die kinders kalmeer sodat ek by my ma en pa kan uitkom.

My ma vra verward “Wat het nou gebeur?” Sy le skuins oor die sitplek. Daar is ‘n diep sny bokant haar wenkbrou. “Ons het gerol, Moeder” antwoord my broer. Net hy het haar soms Moeder genoem. Sy vra weer, verdwaas. Ek antwoord outomaties, se dat sy moet rustig wees – daar is net ‘n diep sny oor haar oogbank, maar dit bloei nie te erg nie…

My pa sit steeds in die voorste sitplek, sy kop en nek teen ‘n vreemde hoek. Hy beweeg nie. “My pa is dood!” flits dit deur my kop.

Ek en my broer hardloop om die motor. Hy het intussen my ander broer, na wie se plaas ons op pad was, gebel. Wonderbaarlik was daar selfoonsein. (Ons sou later hoor daar is net op twee plekke op daardie grondpad van omtrent 70 km sein.)

Ons sukkel om die deur by Pa oop te kry. Ek hou gelukkig kop en maak die agterste deur, langs Ma, oop. Dit was op so manier gebuig dat die voorste deur nie kon oop nie.

Met die deur oop kan ons my pa uittel en op ‘n kombers neerle wat my ma vir hom saamgebring – altyd sorgsaam oor haar 82-jarige man.

 

Ek voel my seer nek en skouer en arm, maar funksioneer op autopilot. My broek se linkerknie is stukkend en vol bloed – daar is ‘n 1cm lange snytjie op my knieskyf.

Pa is onbeweeglik, sy klein oumenslyf loodswaar, sonder samewerking. Maar hy leef!! Ons sukkel hom tot agter die Cruiser, le hom in die skaduwee op sy rug neer. Daar is ‘n diep sny oor sy linkeroog. Daar is baie bloed.

Ma bloei nie juis nie. Veel, veel later onthou ek dat die bloed in haar oogbank se wond begin stol het. Ek hurk by die agterwiel om my kinders te probeer kalmeer dat hulle nie vir Ouma en Oupa ontstel nie. Ek is ‘n armlengte van my ma af waar sy op die agtersitplek le.

 

“Ek kan nie my arms voel nie,” se my ma in ‘n klein stemmetjie. Verdwaas.  

 

Oomblikke later – tyd het gaan stilstaan – hoor ek my ma verstik. Ek skreeu vir Gerhard dat ons haar moet omdraai, want sy verstik. Eers later sou ons besef dit was inderdaad haar doodsroggel. Die rede dat haar kopwond nie so baie soos my pa s’n gebloei het nie, al was dit op omtrent dieselfde plek, was omdat daar waarskynlik net ‘n flou hartklop was. Die bloed het nie daar uitgekom nie. Of omdat sy inwendig gebloei het – ‘n rib het deur haar long gesteek, sou die outopsie-verslag later toon.

 

Ons probeer haar draai, maar sukkel. Haar oe is toe, maar daaronder is haar oe, starend, die pupille groot. Ek wil haar nek stut, en toe ek my hand onder haar nek insit, voel ek die stukke verbrokkelde been… My ma het haar nek gebreek, flits dit deur my kop.

 

My broer blaas in haar oe – geen reaksie. Ons voel vir ‘n pols. Niks.

 

Toe gee sy ‘n enorme sug, en ek sien die baie bloed tussen haar tande. Die laaste lug het haar longe verlaat.

 

In daardie oomblik het my hele lewe verander… vir altyd.

 

My ma was dood. Sy was waarskynlik al dood die oomblik toe ek gedog het sy verstik.

 

Daar was niks meer om te doen nie.

 

Ons kon net wag.

 

My ma was dood, en my verwarde pa het oor en oor gevra wat gebeur het. “Ons het gerol, Pa,” – ‘n minuut later vra hy weer. En antwoord ek weer. Ek het langs hom op die kombers gaan sit, ‘n kind onder elke arm. Hulle het nog steeds gehuil.

 

Ek kon nie, want dan sou my pa weet.

 

Zoe het begin kla dat sy nie haar been kan beweeg nie. Haar hand het soos ‘n tennisbal geswel. Luc wou huis toe gaan.

 

My pa wou weet wat het gebeur.

 

My broer het dwalend op en af gestap.

 

In die motor het my ma gele – dood.

 

Die oomblik wat ek my lewe lank gevrees het, het aangebreek: my ma was dood.

 

En ons kon niks anders doen as om te sit en wag vir hulp nie…

Gister het ek outomaties, soos op honderde Saterdae van my lewe, huis toe gebel. Ma-hulle toe. Toe ek by die tweede syfer kom, het ek onthou daar woon niemand meer nie.
 

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.