In Memoriam: Vir my ma

Julie 16, 2008 in Sonder kategorie

 

Net om almal te laat weet dat my paar dae in Namibie baie sleg afgeloop het.

Ons was Vrydag 11 Julie 60km buite Windhoek in ‘n motorongeluk. Ek en my jongste broer Gerhard Herselman en my kinders en my bejaarde ouers Johan (82) en Susan (74) Herselman.

My ma het binne vyf minute na die ongeluk gesterf, en my bejaarde pa is redelik ernstig beseer. Bid asseblief vir my pa – hy het drie jaar gelede ‘n redelike groot beroerte gehad, en danksy die Here se genade en my ma se absoluut toegewyde versorging omtrent 99% herstel. My ma se dood is vir hom ‘n baie groot emosionele knou, en al is hy Sondag reeds uit die hospitaal ontslaan, lyk hy baie sleg.

My 9-jarige Zoe is deur die Landcruiser se voorruit, maar die motor het gelukkig nie oor haar gerol nie – sy het net haar hand gebreek en haar heup is gekneus.

My 6-jarige Luc het net skrapies opgedoen, en my broer ook. Ek het ‘n nek- en skouerbesering. Ek loof en prys die Here dat daar net een sterfgeval was. Ons vier kinders sou vir die eerste keer in 13 jaar almal saam met my ouers fees gehou het (my een broer sou Saterdag getrou het), en in plaas daarvan moes ons gister ‘n roudiens vir my ma hou.

Hierdie inskrywing dra ek op aan SUSAN ELIZABETH HERSELMAN, ‘n merkwaardige vrou aan wie ek nooit genoeg erkenning gegee het nie, en vir wie ek nooit genoeg dankie gese het nie.

Mamma, dankie vir Ma se onbaatsugtige liefde en baie opofferings om vir ons almal altyd die beste te kon gee. Dankie veral ook vir die wonderlike manier waarop Ma die afgelope paar jaar vir Pappa versorg het. Ons het eers besef watter harde werk dit is noudat jy dood is – jammer dat ons nooit genoeg dankie gesê het nie.

Dankie vir Ma se voorbeeld deur die jare. By jou het ons baie dinge geleer, en ons onthou jou almal vir verskillende goed. Vir jou lekker kos, vir jou hulp aan mense wat jou nodig het, vir jou lekker lag en sin vir humor, vir jou besoeke aan die “oumense” toe jy self al verby 70 was… Ons gaan jou tuisgemaakte konfyt mis, en die weeklikse telefoonoproepe waarvolgens mens jou horlosie kon stel…

Mamma, ons gaan jou oneindig meer mis as wat enige woorde kan sê. Jou plek in ons harte en ons lewens gaan leeg wees. Jy was ons gesin se hartklop, en Pa se lewensaar. Hy kry swaar sonder jou, maar ons hoop jy rus in vrede, Ouma Suzie.

Ons hoop die Here bederf jou!

Ps. Julle sal ook verstaan as ek vir eers ‘n bietjie van die lug af verdwyn.

1 antwoord op In Memoriam: Vir my ma

  1. amydem2 het gesê op Julie 16, 2008

    ag nou’t jy my erg bewoë… en weet jy wat… sy’t tog maar geweet hoe dankbaar jy was.

    Ek dink die skielikheid van so ‘n GROOT GROET moet ‘n geweldige skok wees~ Baie sterkte.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.