Jy blaai in die argief vir 2008 Junie.

My onderhoud met Zuma

Junie 17, 2008 in Sonder kategorie

(Met erkenning aan Rooi Rose, wat die oorspronklike weergawe in April/Mei gepubliseer het)

Die ware Jacob?

As die Here hom spaar, vertel ANC-president Jacob Zuma, word hy later vanjaar 66. Wat beteken dat hy al 50 jaar lank by ANC-politiek betrokke is. En hy sal aanhou om die wil van sy mense deur sy organisasie te dien. “Want kollektiewe wysheid en gesamentlike leierskap het ons goed gedien deur baie eeue heen.”

Dis agtuur een Saterdagoggend in Februarie in die ANC-president se huis. Buite staan polisiemanne wag, en binne is die grimeer-kunstenaar besig om ‘n vriendelike, baie geduldige moontlike-president-van-Suid-Afrika, se neus te poeier.

Hy lag maklik en uit sy maag, en voer die fotograaf se versoeke sonder klagtes uit, hierdie man wat vertel dat sy gunstelingdrankie rooibostee met suurlemoen en heuning is. En vir wie madumbi’s, goedgaar vleis en amasi (suurmelk) koningskos is.

Maar wie is Jacob Zuma werklik, en hoe werk sy politieke kop?

Vertel bietjie meer van u agtergrond
Sterk familie- en kultuurwaardes is baie belangrik in ons Zoeloe-gemeenskap. Ek het, volgens tradisionele Zoeloe-instellings, vroue getrou wat ook glo dat hierdie instellings onderhou moet word. Ek is baie lief vir my kinders, maar hulle is mense uit eie reg.

En u kindertyd?
Ek is gebore en grootgemaak by Nkandla, waar ek vandag steeds woon. My pa was ‘n sersant in die polisie, maar is dood toe ek nog baie jonk was. My ma was ‘n huishulp in Durban.
Ek het by Nkandla grootgeword by die ander ma’s – of tantes, soos hulle in die Westerse kultuur genoem sal word – en moes die uitgebreide familie se beeste oppas. Maar al het ek met trots die werk gedoen wat die familie aan my toevertrou het, het ek altyd gewens dat ek eerder kon skoolgaan.
Ek het toe maar die kinders wat wel skoolgegaan het, gevra om my te help. My suster – eintlik ‘n niggie – het my saans geleer, en met haar hulp en deur tydskrifte het ek geleer lees en skryf. Na ruk het die familie besluit om ‘n aandskool te begin waar ander kinders soos ek, wat bedags moes werk, by die ander kinders kon leer.

Wat is u duidelikste kindertyd-herinnering?
Om vir my ma te kon gaan kuier by die huis waar sy gewerk het in Durban. Dit was lekker om haar te sien, maar ek is nooit toegelaat om lank te bly nie.

U is besonder gewild by die werkersklas. Vertel van u eie werksgeskiedenis.
Toe ek nog baie jonk was, informele werk, soos tuinwerk, en helper in teekamers. Ek was ook ‘n afleweringsbode, en later fabriekswerker. Na my tronkstraf op Robbeneiland het ek as algemene werker by die busdepot in Clairwood werk gekry. My vriend het my aan die baas gaan voorstel, en gesukkel om die regte Engelse woord te kry tydens hulle gesprek. Ek het hom reggehelp in Engels. Toe die baas hoor ek praat beter Engels as my vriend, het hy my dadelik aangestel.

Hoe het u by politiek betrokke geraak?
In 1957 het ek as 16-jarige by die ANC aangesluit. My ouer broer het by die huis oor die ANC en vakbonde gepraat. Voor 1960 was dit nie gevaarlik om ‘n ANC-lid te wees nie. Ek het so sterk gevoel oor die onderdrukking wat ek al in my lewe gesien het, dat ek ‘n soldaat in die bevrydingstryd wou word, en by Umkonto we Sizwe aangesluit het. Dit het uiteindelik tot my arres en 10 jaar tronkstraf op Robbeneiland gely.
Na Robbeneiland was ek steeds by die ANC-betrokke, en moes ek uiteindelik landuit vlug. Ek was onder meer in Swaziland en Mosambiek. In 1974 is ek verkies tot die ANC se Nasionale Uitvoerende Komitee. Ek was ook later onder andere hoof van die ondergrondse strukture binne die ANC, en hoof van die ANC se intelligensie-afdeling.
Toe die eerste geheime onderhandelinge tussen die ANC en destydse Nasionale Party begin het, is ek deur die ANC gekies as lid van die onderhandelingspan.

Vertel van Robbeneiland…
Niemand het my ooit daar besoek nie. Ek het ‘n boodskap gestuur vir my ma Nokubhekisisa dat sy liewers nie die lang reis Kaapstad toe moes onderneem nie. Sy het as huishulp maar baie min verdien, en ek wou nie hê sy moes dit op my mors nie.

U is ontslaan as adjunk-president van Suid-Afrika weens u bande met Schabir Shaik en u beweerde betrokkenheid by die wapenskandaal. Hoe het u daarin geslaag om weer ‘n groot politieke terugkeer te maak?
Toe ek aangekla is, het ek besluit om uit vier van die hoofstrukture van die ANC te tree om die regsproses toe te laat om sy gang te gaan sonder om druk op die organisasie te sit. Toe het die ANC se algemene nasionale vergadering daarna besluit besluit ek moet aanbly in daardie vier posisies, en ook as adjunkpresident van die ANC ingevolge die beginsel dat ‘n persoon onskuldig is totdat hy skuldig bevind is.
Ek het my lewe aan die ANC gewy omdat ek glo dit is die beste pad na ‘n demokratiese Suid-Afrika. Lede van die organisasie het my nog altyd gedra – deur tye van hoop, en deur slegte tye.

Hoe voel u oor u afdanking en die beskuldigings oor u bande met Shaik?
Ek het vriendskappe met mense uit alle vlakke van die samelewing, en daarvoor gaan ek nie om verskoning vra nie. Sover dit my afdanking aangaan, het ek die president se besluit respekteer, al het ek nie met sy redes saamgestem nie. Dit was sy reg om my af te dank.

U dans ‘n vreemde dans met die media sedert die Shaik-beskuldigings en die verkragtingsverhoor waarin u vrygespreek is. U het onder meer multimiljoenrand-eise teen sekere koerante en tydskrifte ingestel, net om dit dan later weer terug te trek. Hoekom?
Geen van die eise teen die media is heeltemal teruggetrek nie. Maar ek het wel besluit om die naamskendingskomponent daarvan terug te trek toe ek na die Polokwane-verkiesing besef het my openbare beeld is inderwaarheid nie deur die beriggewing geskaad nie. Maar die dele van die eise wat betrekking het op die aantasting van my waardigheid staan steeds.

Glo u in persvryheid?
Ja, beslis. Ek het dit al herhaaldelik beklemtoon. Ek glo ook in vryheid van spraak. Maar ek ondersteun nie die reg van ‘n wanaangepaste joernalis of redakteur om die regte van enige individu te benadeel nie. As ek voel my regte is benadeel, sal ek binne die raamwerk van die wet daaroor optree.
Daar is baie briljante joernaliste wat ‘n uitstekende werk doen deur akkurate beriggewing oor sake van openbare belang. Ek is seker daarvan hulle wil ook nie bevlek word deur individue wat die blaaie van ‘n vrye pers misbruik om iemand vir persoonlike gewin af te slag nie.

Sedert u aangekla en onskuldig bevind is aan verkragting ‘n paar jaar gelede, voel vroueregte-groepe glad nie positief oor u nie. Het u vir hulle ‘n boodskap?
Alle sterk gesinne het sterk moeders agter hulle. Ons moet ons ma’s, susters, vroue en dogters eer en waardeer.

U het al in ‘n reeks TV-onderhoude (The Zuma Media Trial) gesê dat u reeds sedert die 1990’s weet daar is ‘n geheime agenda met u as teiken. Wie sou van u wou ontslae raak, en hoekom?
Ek het my vermoedens. Maar die tyd is nog nie reg om daaroor te praat nie.

Regdeur die Shaik-verhoor het u volgehou u is onskuldig, en al het Bulelani Ngucka beweer hy beskik oor genoeg bewyse om u van korrupsie aan te kla, het dit nooit gebeur nie. Hoekom nie?
Ngucka het nooit gesê dat hy genoeg bewyse het om my te laat verhoor nie. Hy het wel gesê daar is prima facie-bewyse teen my, maar dat dit nie genoeg was om ‘n hofsaak mee te wen nie.
Nes jy wonder ek ook hoekom daar dan nooit iets gebeur nie – al wat dit doen, is om my agterdog oor ‘n geheime agenda te versterk.

Stem u saam met die ontbinding van die Skerpioene?
Die Skerpioene het al uitstekende werk gedoen, én ernstige foute begaan. Die kwessie is tans onder bespreking in die ANC omdat die Skerpioene tans beide uitvoerende én regsplegende magte het, iets wat eintlik geskei moet wees in ‘n gesonde, deursigtige demokrasie. Ek dink die besluit om hierdie situasie te hersien, is korrek.

Polities gesproke, beskou u uself as ‘n elitis of ‘n populis?
Nie een van die twee nie. Ek is ‘n mense-mens. Ek hou daarvan om na almal te luister – na die probleme én die prestasies.
Ek is trots daarop om ‘n Zoeloe én ‘n Suid-Afrikaner te wees, en voel geen enkele kultuurgroep is belangriker as die volgende nie.

Ons het onlangs die Eskom-kragkrisis beleef. Twee jaar gelede was daar petroltekorte. Inflasie is hemelhoog, misdaad is op van die hoogste vlakke ooit in alle gemeenskappe, en die gaping tussen ryk en arm word al hoe groter. Ons gewone mense is bang. Hoekom moet ons nog in Suid-Afrika glo en hier bly?
Dis waar dat ons al hierdie probleme het, maar geen land is sonder sy probleme nie. Suid-Afrika is geen uitsondering nie. As hierdie jou tuiste is, en jy is ‘n Afrikaan, moet jy deel wees van die oplossing. Ploeg jou energie en werk in ‘n stelsel in wat ‘n nalatenskap vir jou kinders kan verseker.

Hoe voel u oor die Zimbabwe-kwessie? Glo u ook stille diplomasie is die antwoord as mense in ‘n buurland al van die honger begin sterf?
Ek is baie ontsteld oor die menslike lyding in Zimbabwe. Die mense wat in posisies is om iets aan die situasie te verander, behoort verantwoordelikheid te neem vir hulle aksies. Of nie-aksies.

Drie lesers se vrae aan Mnr. Zuma:

Ons het gesien tot watter rampe onbevoegdheid in hierdie land kan lei. Wanneer sal regstellende aksie plek maak vir ‘n beleid waarvolgens die bes-gekwalifiseerde, mees ervare persoon die werk kry, ongeag ras of geslag? (Gerhard Herselman, struktuur-tekenaar van Pretoria):
Ek is nie seker dat ek die vraag reg verstaan nie. Waar is die onbevoegdheid? As daar ‘n spesifieke probleem iewers is, moet dit aan die kaak gestel en uitgesorteer word volgens die meriete van die situasie, en binne die strukture wat daargestel is om sulke situasies op te los.

Wat dink u van die voorgestelde eed van getrouheid in skole. Hoe kan ek my kind oortuig om ‘n lojaliteitseed af te lê aan ‘n land waar kinders daagliks teikens is, en soms selfs op hul ma’s se skote of rûe geskiet word? (Schalk Schoombie, joernalis van Alberton):
Kinders én volwassenes moet in die eerste plek lojaal wees aan Suid-Afrika as ‘n land. Hulle behoort deel te neem en deel te wees van die oplossing vir die probleme wat ons daagliks in die gesig staar. Elke mens is ‘n aanwins vir Suid-Afrika. Ons moet veg vir hulle, hulle beskerm, liefhê en eer.
Maar hulle – eintlik onsself – moet opstaan en deel wees van die toekomstige generasie wat proaktief help om oplossings te vind.
Ek dink ons moet praat oor die beginsel om lojaliteit aan ons land aan te moedig. Dit sal mense help om respek vir hulself te kry, en die regte dinge vir die land te doen.

Hoekom is Afrikaners hoegenaamd nog nodig in Suid-Afrika? (Christine van Deventer, bemarkingshoof, ATKV, Randburg):
Afrikaners is die enigste wit stam in Afrika. Hulle hoort hier net soveel soos ek. Dis nie ‘n kwessie of Afrikaners nodig is nie. Suid-Afrika is ook die Afrikaner se tuiste. Einde van die storie.

Ons koskultuur moet verander

Junie 16, 2008 in Sonder kategorie

Of liewer, dalk vestig ons weer binnekort ‘n koskultuur.

Weet nie van julle nie, maar die kringe waarin ek beweeg leef omtrent in restaurante en koffiewinkels of van wegneemkos en Woolies-kos. Nie dat ons dit noodwendig kan bekostig nie, maar dis net soveel geriefliker.

Johann Symington het onlangs in sy rubriek in Rooi Rose kommentaar gelewer op die mooi kombuise propvol gadgets wat ons moderne huise het. En waarvoor gebruik ons dit? Om Woolies-kos of wegneemkos warm te maak. Dink daarteenoor aan ons oumas se kombuise – outyds, met AGA’s, maar met tafels wat kreun onder heerlike tuisgemaakte kos. (Toegegee, hulle het dalk nie al ons moderne gadgets gehad nie, maar wel ‘n legioen bediendes.)

My eie kosvaardighede het die laaste jaar of twee bietjie verroes, veral ook sedert ek so baie by Mike’s Kitchen kan eet en nie hoef te komkommer oor kos op die tafel vir my en die spruite nie. Voel dus gister so effe onkant gevang toe my broer en skoonsus op kort kennisgewing oorry om te kom middagete eet.

Al wat ek toe in die huis het om mense mee te voer, is die bestanddele vir bobotie. Wat ek toe maar maak. Met ‘n handvol rosyne en ‘n fyngekapte appel as geheime bestanddele. En het ons gesmul. Saam met die bobotie het ek Basmati-rys en sousboontjies en soetsuurbeet (uit botteltjies) bedien, en vars tamatie en skyfies piesang. Met souserige warm sjokoladepoeding en (boks)vla. Ja, ja, ek weet… regte vla is goedkoper, maar boksvla is soveel lekkerder.

Gewoonlik eet ons net een groot maaltyd op ‘n naweek (eintlik ook op weeksdae), maar toe word ons gistermiddag laat genooi vir ‘n onverwagse lekkerte: ‘n braai. (Regtig die een iets wat ek mis vandat ek geskei is.)

Oor die heerlike gebraaide tjops, regte plaaswors en geroosterde groente en tuisgebakte broodjies met botter en druiwekonfyt, gesels ons toe oor kos. Sy ma, vertel Ludi die braaier toe, het altyd die tjops afgetel. Soveel vir pa, soveel vir die kinders en vir haar… en altyd een vir ‘n onverwagse gas.

Ekself onthou die oordaad van plaasetes in Namibie, waar ek grootgeword het. Daar was altyd meer as genoeg kos vir verskeie onverwagse gaste. Maar niks is ooit gemors nie. Ek onthou ook die baie vleis – sommer drie keer op ‘n dag.

Van my ander gunsteling kosherinneringe is geweef om soetpatats, groenboontjies gekook met aartappel en tamatie, my ma se hoenderpastei, blatjanghoender, pap en skaapribbetjie, ertjiesop, tuisgebakte bruin brood, pampoensop, pannekoek, skaapboud, heerlike gebraaide tjoppies (my pa het dit altyd perfek gebraai)… 

Dus, pluk uit daardie resepteboeke, en laat ons begin kook! Anders gaan ons kinders eendag moet liries raak oor McDonalds en KFC en pizza en Woolies-kos. En dit kan ons nie toelaat nie!

Rusland is ‘n stil land…

Junie 14, 2008 in Sonder kategorie

Het gisteraand ‘n heerlike aand saam met my twee gehad. Vroegaand by Mike’s Kitchen gaan eet, en daarna kom bad en sommer net rondgesit voor die verwarmer. (My ma sou gese het my sitkamer is so koud dat mens ‘n lyk hier kan los vir ‘n week…)

Zoe (9) en Luc (6) het sit en verjaarsdagkaartjies maak vir hulle maatjie Mia wat vandag 5 word, en ek het gebrei aan my drie-jaarlikse serp. (Naaldwerkvaardighede het my totaal verbygegaan, en ek kan nie juis brei nie, maar elke twee of drie jaar sien ek mooi wol wat eenvoudig vra om gebrei te word. Dan brei ek ‘n serp…)

Zoe sit en werk met ‘n goudkleurige pastel, toe sy skielik vra waar goud vandaan kom. En hoekom mense goud uit die aarde bly haal en dit nie net daar los nie. Ek gee toe ‘n klein lesinkie oor Johannesburg se goudmyne, ensovoorts, en wonder toe hardop (ek was amper so vrot met aardrykskunde soos met naaldwerk) of daar nie ook goud is in Rusland nie.

“Jaa,” se my sesjarige engelseun. “Rusland is in elk geval ‘n baie stil land.”

Hoekom, wil ons weet. (Eintlik is ons onuitgesproke vraag wat dit nou eintlik met die prys van uhmm… goud te doen het.)

“Luister na die naam, julle. RUS – land. Dis ‘n land wat baie rus, so dit moet stil wees,” laat hy RUStig hoor. (Hy is so ‘n ou sieletjie vandat hy sy eerste skreeu gegee het.)

Nou ja RUStige dag vir jou. Ons gaan kinderpartytjie hou by die Louws (altyd ‘n heerlike dag) en daarna gaan ons rugby kyk en braai.

Earthquake in Zimbabwe…

Junie 13, 2008 in Sonder kategorie

Got this via e-mail from Kevin Woods, ex-Zimbabwean spy. Nearly fell off my chair from shock… that is, before I finished reading his mail. (Then I wanted to send him a virus…)

For those interested in Kevin’s life, he survived a triple bypass-operation in January this year, and has since married Michelle, a nice lady he met shortly after his release from prison in Zim.

An earthquake with the strength of 8.1 on the Richter scale hit Zimbabwe early this morning.
Two million Zimbabweans have died and over a million are injured. The country is totally ruined and the government doesn’t know where to start
and is asking for help to rebuild. The rest of the world is in shock.

Canada is sending troopers to help the army control the riots.

Saudi Arabia is sending oil.

Latin American countries are sending supplies.
The European community (except France ) is sending food and money.

The South African government, not to be outdone, is sending two million Zimbabweans to replace the dead ones.

Viva South Africa!!!!

 

Ek luister regtig nie radio nie… en kyk ook nie TV nie

Junie 11, 2008 in Sonder kategorie

Ansophie is redelik opgewerk (kommentaar by vorige post) omdat ek nie radio luister of TV kyk nie.

Wel, dis die reine waarheid.

My gebrek aan belangstelling in TV is maklik om te verklaar. Ek het in Suidwes grootgeword, en daar was nie TV nie. (Ons het ure lank radio geluister – alles van Springbokradio se Patrollie 33 Charlie tot Afrikaanse Treffers tot die Manheim Sage… Ek is selfs eenkeer hospitaal toe vir steke – ek was omtrent 8 – met my klein radiotjie teen die oor, want ek wou nie die aandvervolgverhaal mis nie…)

Toe ons in 1981 Worcester toe trek, het ek ‘n hele jaar lank verbete TV gekyk. Omtrent tot die vlag waai middernag… En toe’s ek uitgekyk. Vir ewig. Van toe af het ek (tot my ma se irritasie) meestal voor die TV gele en lees. Ook my eks was versot op TV, terwyl ek eerder ‘n boek sou lees.

Toe ek laasjaar geskei is, het die eks die DSTV gevat, want hy kyk tot die vlag waai. (Enige vlag…) Ek het net Egoli en nuus gekyk, en moet bieg, ek mis nie een van die twee vreeslik baie nie. (Dalk Egoli meer as die nuus, veral deesdae.) O ja, en soms Law & Order en Grey’s Anatomy. En Maandagaande se komedies was ook lekker.

Maar nou ja, hy’s toe weg met die groot TV en die DSTV, en hoewel ek agtergebly het met 2 TV-stelle, het ek nooit ooit die aerial laat koppel vir SABC en E-TV nie. Sedert ek wel so 8 maande terug daarby uitgekom het, het ek en die kids nog net omtrent 5 keer ‘n TV-program gekyk.

Dis regtig moontlik om ‘n sinvolle lewe te lei sonder TV. Ek lees of sit en werk (maar lees is lekkerder!), en die kleintjies speel en teken en bou puzzle en lees en speel en lees nog ‘n bietjie. Ons het omtrent twee ure by ons dag gesit wat andersins net passief voor ‘n TV deurgebring sou word. Niemand jaag ook meer iewers heen nie, want daar is geen soapie om te volg nie, en geen nuusbulletin stiptelik op ‘n sekere tyd nie.

Mens kan steeds die nuus volg sonder CNN en SABC. Daarvoor is daar mos koerante en internet.

As ek in die kar is, luister ek wel soms radio. (Soggens RAW, en in die middae Alex Jay). Radio 5 het my omtrent 15 jaar laas interesseer (ek dink toe Alex nog daar was) en RSG laas toe dit die Afrikaanse radio was.

As ek by die huis is, hou ek van die geluide van my huis. My honde se voetstappies op die houtvloere, die African Grey se gebabbel, die kokketiel wat die hele tyd met homself praat, die budgies wat met mekaar klets… En natuurlik hou ek die meeste van my kinders se geselsies en lag en speelgeluide.

As ek wel behoefte het aan klank, luister ek ‘n CD (ook as ek in die motor ry, en dis nie RAW of Alex Jay wat uitsaai nie). En as ek iets wil kyk, gaan huur ek ‘n DVD of gaan fliek. Die kinders het ook digby die 20 DVD’s wat hulle kan kyk op koue of nat dae. Maar eintlik kan enige iemand met klein kinders dit oorweeg om hulle kinders bietjie van TV te speen. My kinders se verbeelding het nog meer geblom vandat die TV nie hulle babysitter is nie, en hulle kan hulleself ure lank besig hou (ook op vakansie, al is daar nie TV by die plekke waarvan ons drie hou nie).

Kommentaar??

Vlugtelingkampe in woonbuurte, en ander wroegings

Junie 10, 2008 in Sonder kategorie

Ek doen mediawerk vir die Frances Vorwerg-skool vir gestremdes in die suide van Johannesburg, en ry gister soontoe vir ‘n vergadering.

Reg langs die skool, in die middel van die woonbuurt Haddon, is ‘n vlugtelingkamp opgerig. Inderhaas, letterlik oornag, verlede week. Daar is VN-tente, ‘n kragopwekker, lopende water, opslaantoilette en selfs spreiligte. En die hele kamp is omhein, en word deur veiligheidswagte opgepas. 

Nou, die wat my ken, sal weet dat ek graag die underdog help, en omtrent in trane wil uitbars oor armoede en bedelaars en werksoekers wat hoopvol langs die pad sit elke oggend. En ek veroordeel beslis die xenofobiese aanvalle.

Maar ‘n vlugtelingkamp reg langs ‘n skool?  (Dieselfde ding het net ‘n paar km van my af in Germiston gebeur.)

En waar kom die fondse vandaan om skielik blyplek op te rig vir 2 000 mense (net die syfer by hierdie kamp) en hulle te voorsien van alles waarvoor honderde duisende Suid-Afrikaners al verniet wag sedert 1994 se verkiesingsbeloftes?

En hoekom gee dieselfde regering wat kommando’s in landelike gebiede ontbind het, skielik betaalde veiligheidswagte? Let wel, die vlugtelinge word opgepas, maar genoemde skole sal vir hulle eie veiligheidswagte moet betaal as hulle die skool tydens die komende skoolvakansie opgepas wil he.

Verstaan my mooi – ek beweer nie die vlugtelinge sal noodwendig die skool besteel of die gemeenskap skade aandoen nie, maar ek glo wel kort in hulle spore stap ‘n misdadige element wat juis die skuld op die vlugtelinge sou wou laat val. Wat bloot die geleentheid aangryp om midde in die chaos sommer so bietjie herverspreiding van rykdom te doen, en dan pad te gee.

Ek het in die destydse Suidwes grootgeword toe die Angolese grensoorlog aan die gang was, en al was ek maar omtrent 6 jaar oud toe die Angolese uit hul land begin vlug het en opgetrek het na onder meer Windhoek, kan ek dit baie duidelik onthou. Maar ek kan glad nie onthou dat daar ooit ‘n vlugtelingkamp reg in die middel van woonbuurte opgerig is nie – ek dink hulle is waarskynlik in die militere kamp op die rand van die stad gehuisves. Hulle kinders is wel versprei tussen skole in Windhoek – so het ons skool ook ‘n paar (letterlik) hardebaard manne gekry, want onthou, die arme kinders kon glad nie Afrikaans praat nie en kwalik Engels, en moes noodgedwonge ook in Afrikaanse skole geplaas word. (Windhoek is nou nog baie Afrikaans, en het daardie tyd omtrent net twee Engelse skole gehad.) Wat in praktyk beteken het dat 15-jariges in die laerskool geplaas is saam met ons kleineres. (Ek jok nie, party het regtig al snorre en baard gehad, wat natuurlik vinnig moes waai in die streng omgewing van ‘n Afrikaanse laerskool in 1975.)

Ek kan maar net my kop in ongeloof skuld – hoe vinnig het Suid-Afrika net nie geval van die belowendste demokrasie in Afrika (dalk die heelal??) na ‘n land met duisende vlugtelingtente, onveilige strate, die hoogste geweldsmisdaadsyfers, loadshedding en eindelose stakings nie. (Alberton, waar ek bly, en die hele Ekurhuleni Metro aan die Oos-Rand is al so drie weke – skat ek – sonder vullisverwyderaars, en die plek raak nou morsig.)

Om nie eers te praat van die ongelooflike prysstygings nie. Ek huil in my hart as ek kospryse sien – as ons wat nog goeie salarisse verdien al so noustrop trek, hoe swaar kry werklik behoeftige mense net nie?

Vir die van julle in die buiteland, of wat soos ek doodgewoon nie kookolie gebruik nie, die prys per 750ml het die afgelope jaar met R8 gestyg! Vind ek die ander dag per ongeluk uit. Mieliemeel is drie keer duurder as twee jaar gelede, en kaas trek by die R70 (dan is dit ‘n bargain!) per kg. Byna twee keer so duur soos sommige vleissnitte!!

Ek lees vanoggend die laaste hoofstuk van die boek Klaagliedere. Gaan lees dit bietjie – dis woord vir woord omtrent wat in ons land aan die gebeur is. (Heelparty plekke in die Ou Testament, ook in Jeremia, het ek die afgelope tyd dinge gelees wat net sowel geskryf kon gewees het vir Suid-Afrika in 2008.) Na die Klaagliedere is ek toe nuuskierig, en lees aan om te sien of Esegiel ‘n antwoord oplewer – en daar kry ek toe weer die boodskap wat ek oral kry die afgelope weke: ons mensdom moet terugdraai na die Here toe, want eers dan sal Hy ons land herstel.

‘n Hutspot-post: kanker, rugby, Coenie de Villiers, Helena Hettema en insulien

Junie 8, 2008 in Sonder kategorie

Ek het ‘n interessante week of twee agter die rug.

Eers die woeste griepvirus oorleef. As jy nog nie hierdie winter se griep ervaar het nie, is jy in vir ‘n nasty surprise. Ek oorweeg vir die eerste keer in jare ‘n inenting – my dokter meen ek kan steeds die inenting kry, al het ek nou al twee maal hierdie jaar so siek geword van griep dat ek in die bed beland het. (Bed-bly is ‘n rare luukse vir ‘n vryskutjoernalis, en ‘n nog meer rare luukse vir ‘n ma. Vra enige iemand met kinders onder 10, veral as sy boonop ‘n enkelouer is.)

Blykbaar is daar nog 18 nuwe virusse op pad. Dus, staal jouself, hol na die naaste apteek, kry die inenting en stock op op die vitamien C en die Scotts Emulsion. Kry ook sommer vir jou ‘n voorskrif vir Tamiflu, ‘n anti-virale middel. En begin dit drink DIE OOMBLIK as jy die krap in die keel/brand in die neus/lyfpyn voel. Ek het eers die volgende dag by die dokter uitgekom, en toe was die virus alreeds te bedrywig.

Terloops, die apteker vertel my sy swart kliente kom vra altyd medisyne vir die “wind in die neus” – nogal ‘n goeie beskrywing vir daardie branderige gevoel in die neus wat ‘n griep kom aankondig.

Was Vrydagaand by die launch van COENIE DE VILLIERS se jongste CD Weerlig oor die See. Ek skryf ‘n volledige artikel daaroor vir Rooi Rose se Augustus-uitgawe, maar moet solank aanbeveel dat jy die geldjies spaar vir wanneer hierdie kragtoer saam met ander kunstenaars die rakke tref – binne die volgende 2 of 3 weke sal dit hopelik van Koekenaap tot Kaapstad beskikbaar wees.

As jy, soos ek, ‘n Coenie-fan is, weet jy dat die man se ander bedrywighede as onder meer bemarkingskenner en TV-aanbieder hom veels te besig hou na ons sin. En as jy boonop al, soos ek, omtrent 24 jaar ‘n love affair het met sy wondermooi lirieke en musiek, sal jy verstaan hoe ‘n heerlikheid dit was om genooi te word om die opname van een van die snitte op die CD by te woon. (Ek het Coenie 3 jaar gelede ontmoet toe hy nog vir Eliance gewerk het, en ek die ATKV se mediaskakeling vir hul 75e feesjaar hanteer het.)

Daar bevind ek my toe die Saterdagoggend van Paasnaweek in ‘n studio saam met Coenie, Sonja Herholdt en Gloria Bosman vir die opname van Ek verlang na jou, Sonja se treffer van omtrent 31 jaar gelede. En hulle sing dat die hoendervleis op jou arms uitstaan: Sonja se stem word laag-op-laag opgeneem vir die koorgedeelte, en Gloria se Xhosa-weergawe (en haar improvisasie en STUNNING stem) saam met Coenie se stem, sorg vir ‘n onvergeetlike weergawe van die ou bekende treffer.

Ander sterre op die album is onder meer Hugh Masekela, die Amerikaner Dave Koz, Kurt Darren, Nianell en Christa Steyn.

Coenie het Vrydagaand opgetree saam met die koor van die Hoërskool Randburg (wat ook op die album gehoor kan word in Katedraal), en hoe ongelooflik het sy stem net nie geblend met die 90 jong stemme nie.

Gisteroggend ‘n CANCER SURVIVOR DAY in Pretoria bygewoon saam met vier vriendinne wat almal al die groot K oorleef het. (Ek het genadiglik nog nooit kanker gehad of iemand na aan my daaraan afgestaan nie.)

Dit was gister International Cancer Survivor Day (askies, maar kankeroorlewende klink bietjie uhmm… stjoepit??). Oud Mej. SA, Wilma van der Bijl, was die inspirerende gasspreker, en het gepraat oor haar pad met borskanker en ‘n dubbele mastektomie, en die kunstenaar HELENA HETTEMA het ‘n ongelooflike uitvoering gegee. 

Nou moet ek bieg: ek het die vrou nog nooit sien optree nie, en waarskynlik nog nooit hoor sing nie. (Ek is een van daardie rare mense in wie se huis nooit ‘n radio speel nie, en wat glad nooit RSG luister nie. En glo dit of nie, ek kyk ook nie TV nie.) Maar Helena Hettema het my verstom. Sy het baie Franse chansons van Piaf, Brel, Asnavour en andere gesing, en ook so paar Afrikaanse goed. Maar dis nie net haar stem en vertolking nie, maar ook die kabaret wat daarmee saamgaan wat vir my lekker was. Het toe besef ek het jare laas ‘n kabaret gesien. Wat ‘n skande… Dus, as jy ‘n plakkaat in jou dorp sien vir ‘n Helena Hettema-vertoning, gaan ondersteun haar. Dis waarde vir geld, en kunstige vermaak uit die boonste rakke.

Oor kanker-survivors: ek weet nie wie van julle het al ‘n pad met ‘n kankerlyer gestap nie, maar gryp die kans as jy hom kry. ‘n Mens leer SO baie by mense wat so na aan die dood beweeg. Jy leer van guts, en aanhou probeer, en geloof, en van opstaan en weer probeer. Ek salueer my vriendinne Hentie, Cornelia, Lynette, Davine, Alet en Karin. Karin is van Windhoek, en het eenmaal ‘n maand Johannesburg toe gevlieg vir chemo – ek het aangebied om by haar te gaan sit tydens chemo, en dit was daar wat my ogies oopgegaan het. 

Ondersteun ook asseblief waar jy kan organisasies wat kankerlyers help. Daar kan so baie gedoen word teen die siekte, mits mens geld vir die behandeling EN die regte ondersteuningstelsel het. Meer oor Cornelia en Lynette en hulle organisasie Christian Cancer Care in ‘n volgende post.

Gistermiddag RUGBY gekyk by pelle, en skoon lekker gekry oor “Peter se bokke” (Rapport se voorbladopskrif vanoggend) die Walliesers so lekker op hul neuse laat kyk het. Want, let’s face it, ons Suid-Afrikaners (en jammer om te se, maar veral ons Afrikaners) is regte bastards – as ‘n span goed speel, is die coach wonderlik. En as ‘n span sleg speel, is die coach ‘n idioot. Voeg daarby ‘n swart afrigter en ‘n paar meer swart spelers op die veld as gewoonlik, dan reken ons die coach is ‘n groter aap as Robert Mugabe. Maar die man ‘n regverdige kans gee? Not on your life – nie ons Suid-Afrikaners nie! Dus, PETER DE VILLIERS en span, welgedaan. Dit lyk of Peter se spankeuse in die kol was.

Ek is nie ‘n ongelooflike groot rugbykenner nie, maar Luke Watson het opvallend goed gespeel, en ek het ook kennis geneem van Butch James se skopskoen. En ook gesien dat die game bietjie anders gespeel is. (Baie minder gesien van daai verskynsel wat my altyd verstom het: kry die bal, en hardloop dan direk terug in die bondel waarvandaan die bal nou net uitgegee is… En wham! – in al die opponente vas. Hallloooo??? Wat van na die ander kant toe uitgee waar niemand verdedig nie??!!)

Doe zo voort, manne – ek (en baie ander wat dit net nie oor hulle dooie liggame sal erken nie) is trots op julle!

Die INSULIENTELLING (ja, ek is nog besig met die Rooi Rose-makeover) het DRAMATIES gedaal. Danksy Antagolin, die insulien-antagonis, het my insulientelling sedert einde Oktober van 20 na 9 gedaal. Vir die eerste keer in jare is ek binne die normale vlakke, wat tussen 2 en 11 behoort te wees. Ek mik om die telling tussen 5 en 7 te kry, en kan klaar ‘n enorme verskil aan my lyf sien (Omtrent twee kleregroottes kleiner.) Ek het nooit formeel gedieet hierdie afgelope 7 maande nie, maar wel gelet op wat ek eet en drink. Mike’s Kitchen Alberton het my en my kinders mos genooi om vir die duur van die makeover-proses daar te eet so gereeld as wat ons wil, want eienaar Garth Miller wil bewys dis nie uiteet wat jou vet maak nie, maar wat jy eet. 

Wel, deur meer my Antagolin te drink en met my verstand te eet eerder as agter my smaakknoppies aan, kon ek baie sentimeters en ‘n hele klompie kilogram afskud. Meer in ‘n volgende post oor gesonder uiteet. 

Nou moet ek eers werk, want redakteurs en deadlines wag vir niemand nie!

O ja, baie simpatie aan die familie van Braam Kruger wat gistermiddag oorlede is- sy suster Liz aka Ans is ‘n mede-blogger. Toe ek vanoggend van sy dood lees, het ek net weer besef hoe kort en onvoorspelbaar is die lewe.