The Last Lecture en ander goete wat mens lees…

Junie 21, 2008 in Sonder kategorie

Het gister The Last Lecture deur Randy Pausch in die pos gekry, danksy die gawe mense by Jonathan Ball Publishers.

Vir die wat nog nie van hierdie boek weet nie: dis die laaste lesing van ‘n prof by die Carnegie Mellon Universiteit. Hy was alreeds gediagnoseer met kanker toe die universiteit hom gevra het om deel te wees van hulle reeks lesings bekend as Journeys (voorheen genoem Last Lecture).

Randy het aanvaar, min wetende dat die lesing ‘n paar maande later inderdaad vir hom ‘n last lecture sou wees – sy pankreaskanker was ongeneeslik, en hy het volgens dokters net ‘n paar maande gehad om te lewe. (Dit was in Sept 2006, en glo dit of nie, die man leef nog steeds! – lees ‘n update van sy daaglikse geveg teen die groot K by www.randypausch.com)

Met sy laaste lesing wou Pausch ‘n nalatenskap gee vir sy kinders wat met die diagnose maar 5, 2 en 1 jaar oud was. Hy wou seker maak hulle kan eendag sien en hoor wat hulle pa dalk nog alles vir hulle sou wou leer oor die lewe.

Vir my is dit ‘n heerlike boek – maar ek kan nie presies verduidelik hoekom nie. Dis inspirerend sonder om soppy te wees, en dit laat mens wonder oor wat presies die mense om jou van jou gaan onthou. Dis waarskynlik juis die menslikheid van die boek wat maak dat ek dit nie kan neersit nie. En Pausch is ‘n inspirasie: hy het uiteindelik ‘n hele paar last lectures gegee, selfs voor die Amerikaanse Kongres.

Nog ‘n onneersitbare boek was Lang Skaduwees in Afrika deur Connie Luyt. Die roman strek oor drie generasies, en begin in ‘n konsentrasiekamp in die Anglo Boereoorlog. ‘n Deel daarvan speel ook af in Kenia in die tyd van die Mau Mau. Ek is versot op sekere dele van die Suid-Afrikaanse geskiedenis (se maar tot by die 1930’s) en as ek in vorige lewens geglo het, verbeel ek my myne moes in Kenia geleef gewees het.

Seker die kombinasie van geskiedenis en koloniale Kenia wat die boek so ‘n leeslekkerte gemaak het.

Minder lekker leesstof was The Saturday Star se voorblad vanoggend. Die beskuldigings teen die vermoorde klein Sheldean Human van Pretoria se ma Elize wil maar nie verdwyn nie. Lees hier http://www.thestar.co.za/?fSectionId=&fArticleId=vn20080621100054177C539922

Daar’s gerugte dat sy Sheldean wou verkoop aan familie, en dat sy geld geleen het by loan sharks wat verdwyn het op dieselfde dag as wat Sheldean verdwyn het. Mense van die kommune vertel dat sy Sheldean op die dag van haar verdwyning weggejaag het omdat die kind R10 uit haar ma se beursie gesteel het vir kos…

Of dit waar is, sal ‘n polisie-ondersoek hopelik kan bewys. Maar ek het al meer as een keer die gerugte gehoor, ook uit betroubare bronne. En mens moes blind wees om al die ringe te mis wat die treurende moedertjie se vingers versier het terwyl sy sigaret in die mond laasjaar vir Hanlie Retief in Rapport vertel hoe haar kind flou geval het by die skool van die honger… My argument is eenvoudig: as jy geld het vir sigarette, het jy geld vir ‘n brood. En as jy geld het vir ‘n klomp cheap juweliersware, het jy seker geld vir twee brode…

Ek hoop dus die beweringe gaan deeglik ondersoek word.

Jammer, maar as die beweringe waar is, verloor die vrou die laaste druppeltjie simpatie wat ek vir haar gehad het (en daar was nie veel om mee te begin nie). Ek het geen simpatie vir ‘n slegte ma nie. Ek het al te doen gehad met ‘n paar in my lewe, en vir my is dit ondenkbaar dat ‘n vrou se eerste instink nie is om haar kinders te beskerm nie. Dis immers ‘n oerdrang, in ingebore instink. Iets wat outomaties inskop die oomblik wat daardie weerlose dingetjie vir jou gewys word. 

Ek onthou my kinders se geboorte asof dit gister was. En ek sal soos ‘n tierwyfie baklei om hulle teen slegte goed te beskerm. Hulle is ook die groot rede hoekom ek nooit ‘n 8-5 werk wil he nie, maar die relatiewe onsekerheid van ‘n vryskutloopbaan kies. Dan kan ek daar wees vir balletklasse en swemlesse en om hulle self by die skool te gaan haal.

En ja, ek weet arm mense het dit dikwels baie moeilik. Maar ek ken heelwat brandarm mense (soos my dierbare huishulp Martha Moroke) wie se kinders nog nooit gebrek gely het nie. Toe Martha 7 jaar gelede vir die eerste keer by my opgedaag het, was sy brandmaer – seker ‘n nr 10 rok gedra. Ek was bekommerd oor Vigs, en toe ek diskreet probeer uitvis hoekom sy so maer is, het sy my op haar reguit, sagte manier vertel dat mens so lyk as jy elke dag jou kos vir jou kinders moet gee.

Vandag is sy helaas nie meer ‘n size 10 nie (ek dink sy is nader aan ‘n 24 of 26!) maar die afgelope 7 jaar het ek net daagliks opnuut respek gekry vir hoe goed sy sorg vir haar kinders. Ek help waar ek kan met skoolgeld en klere en noodsaaklikhede, maar dis Martha wat hulle inbors en ruggraat geleer het. Albei haar seuns het goeie werke, en help kyk na die jongeres waar hulle kan. Sy kon ook daarin slaag om haar gesin bymekaar te hou selfs al het sy ses jaar terug saam met my stad toe getrek. ‘n Voorbeeld: gister gee sy vir my R100 en vra ek moet ‘n internet-oorplasing na haar suster se rekening maak, want sy hoor die parrafien is min met hierdie koue weer. Sy drink of rook nie, en stel ALTYD haar kinders se belange eerste.

Martha is maar een van talle enkelma’s wat ek ken wat hulle kinders mooi grootmaak. Maar ongelukkig het ek ook al te doen gehad met ‘n goeie klomp wat eerder maar nooit kinders moes gehad het nie… Kinders is in die pad, of bloot instrumente om mense mee te manipuleer.

Hier is tans so geval in Alberton – ‘n vrou wat haar 3-jarige se hare afgeskeer het en koerante toe is met die sad storie dat die kind lewerkanker het en dat sy R70 000 kort vir ‘n operasie. Natuurlik help die hele gemeenskap toe (wie sal nie?). Die kankervrywilligersorganisasie waarby ek betrokke is, Christian Cancer Care, raak toe ook op my aandrang betrokke. So skenk ons toe R5 000.

Net om ‘n week later die koerant oop te slaan en te sien alles was ‘n scam – die kind makeer niks, geen chemo het nog ooit plaasgevind nie, die drie hospitale waar die kind sg behandel word weet nie een van haar nie, ensovoorts. Die ma het uiteindelik erken die doktersbrief is deur haar skoonsuster geskryf. Ons en ander mense het bedrogklagte gele, en die ma staan nou ook ‘n goeie kans om haar drie kinders te verloor. Ongelukkig vir haar is daar ‘n wet wat kinders beskerm teen mense wat hulle wil gebruik vir geldelike gewin.

Ek glo Sheldean is in die hemel, heerlik aan die speel om Jesus se voete. Tussen honderde ander maatjies en diere van alle soorte. Honger en angs sal sy nooit weer ken nie. Wie weet, dalk is die mense reg wat meen sy is beter af dood (vandag se Star-opskrif). 

10 antwoorde op The Last Lecture en ander goete wat mens lees…

  1. vanduyker het gesê op Junie 21, 2008

    Om te sê sy is beter af dood los nog steeds niks op nie en al die histeria om haar ma nou uit te kryt as ‘n monster is net om meer koerante te verkoop

    Dit is juis die koerantopskrifte wat mense dryf om enigiets te doen om beroemd te word want daarin lê die belofte van verlossing uit die hongersnood waarin hulle verkeer.

    Dalk is sy en mevrou Peterson albei skuldig, maar hulle lyftaal vertel ‘n ander storie. Hulle dink hulle is hero’s en kan nie genoeg kry van die gekliek van kammeras om hulle nie, want dit is juis hulle paspoort van respek en koskaartjie vir oorleweing in die tronk waar hulle gaan beland

  2. vanduyker het gesê op Junie 21, 2008

    Joernalis? Interesant, ek moes ‘n koerant uitle met alles wat in ‘n koerant is toe ek politiek probeer swot het, maar is ongelukkig 14 keer in ‘n jaar gearesteer oor die waarhede wat ek kwyt geraak het. Dit het my net laat besef hoe apaties die afrikaanse mense oor politiek geraak het en hoe maklik hulle boedel oorgee sonder om op te staan vir wat reg is en mekaar te help teen dit wat verkeerd is

  3. vanduyker het gesê op Junie 21, 2008

    Het geandwoord op my blog, vir wie skryf jy?

  4. vanduyker het gesê op Junie 21, 2008

    Nee ek bedoel 1998, eintlik was ek al daar van Oktober 97, maar het eers in 98 ingeskryf. Nicola Laubsher was SRC voorsitter en Marlize van Wyk haar sekretaresse, Corlia Burger was die Neelsie bestuurder. Dit was die tyd toe die ANC en DP saam ‘n kantoor in die Neelsie gehad het, maar dit “Abandon” het. Ek het toe die kantoor oorgeneem namens my party die SDP maar is toe gearesteer vir betreding op kampus. Dit terwyl al die ander partye toegelaat is om ‘n kantoor te he en verteenwoordigers op die studenteraad.

    Ek was nie lus vir speletjies nie, het tot ‘n bankrekening in Bird Straat by Standard gehad en het twee bedrae ingevorder om die party te finansier. Beide bedrae het egter in Standard Bank se spesiale kommunikasie rekening beland en ek kon nooit weer die geld uit hulle kry om die party te adverteer nie.

    Shit happens ne!

    Tragies is dit die jaar toe neef Boshof in die straat doodgeskiet is deur paghad toe hy ‘n pizza gekoop het en ‘n jaar later nog een in Klerks Dorp.

    Die bliksems en vier uur in die oggende graffiti op my kamer muur by hetbegijnhof 65 kom spuit, nogal One Settler one bullet” wat beandwoord is met “one bullet one bomb”…. slaap in die tronkselle gevolg met ‘n polisiestasie wat beroof is en Planet Hollywood wat ontplof het.

    Daarna twee jaar onskuldig in en uit gestigte met regering samelopers wat my familie begin bedreig het, dwelmsmouse wat my ex vrou met gewere aanhou en uiteindelik weer werk gekry in die privaatsektor waar ek darem twee jaar uit die hitte kon bly.

  5. vanduyker het gesê op Junie 21, 2008

    Sosiaal Demokratiese Party, maar sedert my partyfondse geanekseer is deur die bank het ek nog nie weer ernstig daaraan kon werk nie, anders as om ‘n paar mense aan my kant te probeer kry met die idee om later weer te surface nie

  6. vanduyker het gesê op Junie 21, 2008

    Veertien arrestasies sonder skuldigbevindings en 8 opnames in gestigte sonder die geleentheid tot regsverteenwoordiging is nie my idee van sports vir ‘n politieke doelwit nie, maar is ongelukkig die ANC se weergawe van KGB styl dirty tricks. Dalk moet ek jou nie probeer betrek nie, sonder baie geld agter jou is politiek in SA nie iets wat ‘n kans op oorleweing het nie en ook nie veilig om jou familie by te betrek nie.

    Hou jy van kuns?

  7. vanduyker het gesê op Junie 21, 2008

    Ek is ‘n chemiese ingenieur wat by bemarking betrokke geraak het en toe later politiek, maar het op 47 afgetree.

    Nou doen ek wat ek wil, het so pas ‘n draaiboek vir ‘n vollengte afrikaanse film voltooi, “Die Koggelanemoon” het ‘n digbundel wat in druk is, skilder en maak beelde vir my huis en vriende en beplan om na die fliek te diepsee duik en onderwater om ‘n dokumenter vir die lekker te maak.

    Met die inflasie egter so hoog sal ek dalk van my werk later moet verkoop of na 60 ‘n alternatiewe inkomste moet he, maar vir eers geniet ek dit om by die huis te bly en te doen wat vir my lekker is.

  8. vanduyker het gesê op Junie 21, 2008

    Jou pers en wit glas klink soos die Cheg weergawe van Waterford. Dit was op ‘n stadium baie gewild.

    As jy regtig van glas kuns hou, moet jy as jou skip inkom Costa Boda in Swede besoek en Uroboros in Amerika. Hulle goed is hemels en net in ‘n ander klas.

    Ek gaan nou slaap, lekker om met jou te gesels.

  9. vanduyker het gesê op Junie 22, 2008

    Jy wou weet van “Die koggelanemoon”. Dit is geispireer deur ‘n ware verhaal met bietjie fiksie, drama en ‘n droom daarby. Die storielyn is nie te ingewikkeld nie, sodat meeste mense dit sal verstaan.

    El laat ‘n paar mense wat ek nie ken nie dit op die oomblik proeflees vir ooglopende foute of om plekke uit te wys waar hulle die plot verloor. Dan moet ek nog ‘n goeie produksie bestuurder opspoor en met sy insette so bietjie timmer aan die draaiboek se lyf.

    As jy niks te doen het nie of kinders het wat sakgeld soek?…betaal ek R 50 vir lees en kommentaar lewer. Dit is so twee tot drie ure se werk.

  10. vanduyker het gesê op Junie 22, 2008

    E pos my by [email protected] dan stuur ek vir jou my draaiboek en naam. As jy my gedigte wil lees kyk op woes onder my skuilnaam Johannes de Swart, adverteer ook my bundel daar “Grafte op die berg, 150 bladsy, hierdie jaar voltooi en tans in druk.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.