‘n Leefstylverandering is moontlik

Junie 20, 2008 in Sonder kategorie

Het vandag gaan eet saam met Dr. Conrad Smith van die Medical Nutritional Institute (MNI) wat die ANTAGOLIN ontwikkel het waarmee ek my insulientelling kon halveer oor die afgelope paar maande.
Toe ek hier begin blog het (so November se kant), was my insulientelling 20. Einde April het dit op 9 gestaan, en ek glo ek is  nou seker al naby 7. (Tussen 2 en 11 is normaal, maar ek mik vir die heel laagste gesonde telling.)

Fenomenaal, sal almal wat aan insulienweerstandigheid lei, jou vertel. (En vir die wat hulle insulienweerstandigheid en die dokter se waarskuwings daaroor ignoreer, onthou: diabetes IS jou voorland. Dalk nie nou dadelik nie, maar beslis oor so paar jaar van nou af.)

Antagolin word ook beskou as ‘n wondermiddel vir die beheer van tipe 2-diabetes, en help ook met gewigsverlies as insulienweerstandigheid jou groot probleem is.

Conrad is ‘n dinamiese ou wat nie net allerhande aanvullings ontwikkel het nie, maar boonop baie navors en skryf oor die emosionele kant van gesonde eetpatrone. (Ek is nie al een wat beindruk is deur MNI se benadering tot gesondheid nie – kyk uit vir hulle klinieke landswyd, onder meer by groot Pick & Pay winkels, soos hipermarkte. Pasiente by hierdie klinieke word nie net gesonde eetgewoontes geleer nie, maar ook geleer om reg te dink oor kos.)

Antagolin het my baie gehelp, maar ek moes ook my LEEFSTYL verander en leer om anders te dink oor gesondheid en kos. Die wat gereeld hier lees, weet al dat ek gratis by Mike’s Kitchen in Alberton kan eet, omdat hulle wil bewys dis nie uiteet wat jou vet maak nie, maar jou koskeuses.

Hier is wenke wat my gehelp het om sonder om een keer drasties te dieet, twee bloesgroottes en een broekgrootte te krimp. Let wel, ek het NOOIT enige iets heeltemal uitgeskakel nie, want dan is dit al waaraan ek kan dink. Maar matigheid is die sleutel…

  • Moenie net stysel (soos pap of muesli) vir ontbyt eet nie, want dan wil jy teen 10 uur enige iets eet wat nie aan die vloer vasgekap is nie. Sluit ‘n stewige porsie proteien ook in – ‘n eier, ham, ‘n stukkie wors, bietjie maalvleis, ‘n stukkie hoender, kaas. Dit hou jou bloedsuikervlakke stabiel en die honger weg sodat jy maklik tot by middagete kan vergeet van kos. ‘n Lekker ontbyt om werk toe in te pak, is ‘n saadbrood-toebroodjie met kaas, tamatie, ‘n sny koue vleis, blaarslaai en pesto as smeermiddel. Of ‘n eiermayonaisse-toebroodjie. Of hoender- of tunamayonaisse, almal met blaarslaai, tamatie en gherkin. Of avokadopeer met tamatie en blaarslaai.
  • As ek by Mike’s eet, bestel ek altyd my kos sonder stysel, en eet liewers slaai of groente saam met ‘n proteien. (Die gemiddelde SA’ner eet ver te min proteien – ons gryp na stysel, want dis vinnig om voor te berei, en ‘n comfort food.) 
  • Stadig met die pizza en pasta – pasta behoort ‘n bederf te wees, nie stapelvoedsel nie, veral as jy insulienweerstandig is. As jy wil pizza eet, deel met iemand, of volstaan by so drie skywe en neem die res huis toe en vries dit in aparte bakkies vir ander dag.
  • Dit geld ook vir omtrent alle restaurantporsies – moenie verplig voel om alles daar te eet nie. Vra ‘n brakbak, en vat die ander helfte huis toe vir ‘n volgende ete.
  • Bestel ‘n voorgereg vir ‘n hoofgereg – dis steeds reuse porsies.
  • Ek is gelukkig baie lig op alkohol (soos in amper ‘n geheelonthouer, bloot omdat ek nie juis van die smaak hou nie). (Enige voornemende man: ek is ‘n cheap date, haha.) My drinkding vir ‘n uiteet is dus amper altyd cola tonic met Sprite Zero, of ystee.
  • Drink maar daardie 2 liter water ‘n dag! Soms is mens dors en nie regtig honger nie.
  • Ek se dit weer: stadig met die koffie (en tee, behalwe kruietee). Kaffeien verhoog jou insulienvlakke, sorg vir onstabiele bloedsuikervlakke en laat jou dus gou moeg en/of honger voel.
  • Eet soms koek of poeding of sjokolade, maar nie elke dag nie. En eet KLEIN porsies – ek vrek veral in die winter oor ‘n warmpoeding, maar deel ‘n Mike’s porsie met my twee kleintjies.
  • As jy die slag lus het vir ‘n hamburger, haal een helfte van die brood af, en eet dit sonder die chips. Dit raak vinnig ‘n gewoonte om so te eet, kan ek jou belowe.
  • Eet aartappel in die skil met ‘n bietjie botter of mayonaisse, of rys as jy die dag voel jy kan regtig nie sonder stysel nie. Maar los die chips!!

En my beste wenk? Los altyd ‘n bietjie kos op jou bord. Virrie feetjies. Angel’s food, noem party mense dit. Die emosionele boodskap wat jy vir jou lyf stuur, is dat kos nie meer jou baas is nie.

Lees meer oor Antagolin by www.mnilifestyle.co.za

2 antwoorde op ‘n Leefstylverandering is moontlik

  1. amnell het gesê op Junie 20, 2008

    Hi! Al ken ek jou nie, is ek sommer trots op jou! Ek is seker saam met alles gaan baie wilskrag. Dis interessant van die uiteet, mens neem sommer aan restaurantkos is ongesond. Lekker naweek.

  2. Dankie julle 2! Lekker naweek. Hier in Alberton is ons verras deur ‘n nagtelike reenbui, so ek voel nie juis lus om vandag te werk nie. Wil in die bed le en lees. Maar nou ja, deadlines, deadlines, deadlines…

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.