Wroegings oor ons land, en die antwoord.

Mei 30, 2008 in Sonder kategorie

Hoor pas op die oggendnuus dat petrol met ‘n verwagte 45c ‘n liter gaan styg, en nog ‘n 1% rentekoersverhoging is blykbaar ons voorland. Dus, die beltjies sal nou so ingetrek moet word dat ons ogies pop. Maar wat van die armes? Wat reeds so ontsettend swaar kry?

En kyk, ek is nie van nature ‘n pessimistiese mens nie, maar selfs ek begin nou met skeptiese ogies na die nuwe Suid-Afrika staar. Waar gaan dinge ophou?

Die xenofobiese aanvalle is erg – walglik, onmenslik, gewetenloos. So ook die plaasmoorde. En die kindermolestering en verkragtings en gewapende rowe en hijackings en al die ander geweld waaronder ons land die afgelope paar jaar gebuk gaan. Net jammer alle geweld kry nie ewe veel publisiteit of simpatie nie. Want of dit nou xenofobie is, of die wrede marteling van ‘n bejaarde plaasboer, of die dubbele verkragting van ‘n onskuldige vrou wat een middag 10 voor 5 in Germiston op pad terug van haar werk gehijack word, dit is geweld. En geweld is verkeerd, sonde, en verdien om met minagting en ‘n gepaste straf behandel te word.

Dis iemand wat ek ken wat verlede Maandag op pad terug van haar werk gehijack en verkrag is. En nee, die boewe het nie haar kar gesteel of haar selfoon of selfs eers haar handsak nie. Moet dus nie vir my vertel dit was omdat hulle arm was of nie kos gehad het om vir hulle kinders te gee nie. Dit was net wrede barbaarsheid. Punt.

Nou moet ‘n vrou wat bekend is vir haar sagtheid en mensliewendheid, haar lewe herbou. Maar eers moet sy ‘n maand lank antiretrovirale middels gebruik wat haar siek maak. En dan moet sy met die spanning saamleef om te kyk of dit gewerk het, en of die twee bliksems haar nie boonop HIV-positief gemaak het nie. Haar weduwee-ma ly aan ‘n ernstige hartprobleem, en moet saam met haar die trauma hanteer en sterk wees vir haar dogter. Maar haar verkragters het waarskynlik lankal vergeet hoe sy lyk – vir hulle was sy net nog iemand op hulle lysie van wreedhede.

Hoe bly mens nog glo? Nie net in ‘n demokrasie wat al meer soos pie in the sky begin lyk nie, maar ook in mense? En wat moet ons doen om ons land te red?

Ons moet BID, glo Bennie Mostert, stigter van Jericho Prayer International, die grootste 24/7 gebedsnetwerk in Suid-Afrika en sekerlik een van ons land se mees uitgesproke Christene. Ek het met hom ‘n onderhoud gedoen vir Rooi Rose se Augustus rooi stoel, en wil dus nie nou te veel verklap nie. Maar Bennie is ‘n uitgesproke Christen, en glo ons moet bid vir hartsverandering by almal in Suid-Afrika, want eers dan sal al ons korrupsie en misdaad en geweld en armoede ophou. Sal mense vir mekaar ‘n plekkie in die son gun. En ons moet ook besef, se Bennie, dat die antwoord nie noodwendig daarin le om die land te verlaat nie. Ons sal net gelukkig wees as ons doen wat die Here van ons verwag.

‘n Paar dae later kry ek weer die boodskap dat ons moet bid. Hierdie keer in ‘n preek van pastoor Andries Enslin van die Alberton Lewensentrum. Hierdie dinamiese gemeente val iewers tussen die drie susterskerke en die Pinksterkerke. Dit is dus nie happy clappy nie, maar ook nie so streng en formeel soos die kerke van ons kindertyd nie. Maar Andries is ‘n reguit-prater, en het onder meer gepraat oor die kwessie van emigrasie. Moenie net op pak en trek nie, beaam Andries onwetend Bennie se woorde tydens ons onderhoud. En begin BID vir Suid-Afrika! (Terloops, as jy ‘n early bird is, of iemand ken wat is, kyk gerus Saterdagoggende om 05h00 na die program Altaar op SABC 2 – Andries se preke word daarin uitgesaai. Die gemeente borg tans die uitsendings uit hul eie sakke teen ‘n reuse koste, maar glo dis tyd dat ‘n volledige Afrikaanse preek moet uitgaan na Suid-Afrika. En as genoeg mense kyk, kan hulle met SABC 2 onderhandel vir ‘n beter tydgleuf. Dus, spread the word asb!)

My Windhoek-broer hou ook met ingehoue asem ons nuus dop – sy hele familie bly immers in Suid-Afrika. En, seg hy, dit verbaas hom nie dat daar tans sulke golwe geweld deur ons land spoel nie. Want met ouens soos Angus Buchan en Bennie Mostert en ander predikers (soos Andries) wat gehore van duisende trek en Suid-Afrika wat op die vooraand staan van ‘n geestelike herlewing, gaan die duiwel beslis nie net suutjies terugstaan en sy grondgebied stilletjies afstaan nie.

Vanoggend se e-pos dagstukkie van Vers-‘n-dag kom uit ‘n reeds-gepubliseerde boek van Solly Osrovech, maar dit lyk of dit spesiaal geskryf is vir die afgelope week of twee. En dit sluit aan by wat ek die afgelope twee weke uit verskeie rigtings hoor. Ek paste dit hieronder in.

Geloof op die proef gestel

“Maar sal die Seun van die mens by sy koms nog geloof op die aarde vind?” (Luk 18:8.)

Lees Lukas 18:1-8

Veel is al gesê en geskryf oor die wêreld waarin ons leef. Wan­neer geweld losbars en tekens van permissiwiteit en anargie oral te sien is, hoor ons al hoe meer die noodkreet dat ons in die laaste dae leef; dat die koms van Christus die Here op hande is; dat daar niks is wat die mens kan doen om te voorkom dat die samele­wing ineenstort en die wêreld homself vernietig nie.

Of hierdie bewerings nou waar of onwaar is, of daar enige sub­stansie in hierdie voorspellings is of nie, en ten spyte van die chaos wat wel in ons tydsgewrig heers, mag ons nie die standaarde verwerp wat Christus vir ons gestel het nie. Die feit dat die wêreld in ’n haglike toestand is, gee nie aan Christene die reg of die verskoning om die stryd teen die magte van die duisternis te staak en maar net agteroor te sit nie. Ons mag nie rus vind in en passief raak weens die gedagte dat die Prins van vrede alles na normaal sal laat terugkeer nie.

Christelike oorgawe is ’n lewenslange toewyding. Ons moet dus ons dissipelskap in goeie én in slegte tye uitleef. Ten spyte van die pogings van die Bose om die kerk van Christus te vernietig, en die uiterste druk wat op die Christelike geloof geplaas word, is dit ons plig om die Naam van Jesus, die lewende Christus, te verheerlik. Dít doen ons deur in sy krag en genade gehoorsaam aan Hom te leef. Wanneer Hy dan wel kom, sal ons uit sy heilige mond hoor: “Mooi so!”

Op daardie dag sal ons ingaan in sy heerlikheid omdat ons geloof die toets deurstaan het.

Gebed : Here my God, wees my genadig! Gee dat wanneer my geloof getoets word, ek nie tekort sal skiet nie.

Geloof wat net bely maar nie ook geleef word nie, help niks. Lampe praat nie; hulle laat hulle lig skyn. (CHARLES HADDON SPURGEON)

Uit: Wandel digby Christus, Solly Ozrovech se nuutste Bybeldagboek. Om te bestel skakel 0860 231 231 of besoek www.luxverbi-bm.com

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.