Oor al daardie irriterende FWD’s in jou inbox

Mei 26, 2008 in Sonder kategorie

HET HIERDIE ENE AL VOORHEEN GESIEN, MAAR KRY DIT VANDAG WEER BY MY BROER. GENIET!

Liewe Almal

Dankie aan almal wat epos aan my gestuur het die afgelope jaar…..

Ek moet die een wat my daai ding oor die rottebollie op die gom van koeverte
gestuur het, bedank aangesien ek nou ‘n nat lappie gebruik om elke koevert
nat te maak.

Ek vryf nou ook die bokant van elke blik deeglik blink voor ek dit oopmaak
om dieselfde rede.

Ek het nie meer enige spaargeld oor nie want ek het dit vir ‘n siek meisie
(Pennie Ferreira) gegee; wat nou al vir die 1 345 keer op sterwe in die
hospitaal lê.

Ek het nie meer geld nie, maar dit gaan alles verander as ek daai R20 000
kry wat Bill Gates/Microsoft my gaan stuur omdat aan hulle epos veldtog
deelgeneem het…..

of as daardie Nigeriese bankbestuurder wat skatryk geërf het daai R7
miljoen met my gaan deel sodra hy die geld kan kry om die fondse vry te
stel.

Verder is ek nie meer bekommerd oor my sieleheil nie want ek het 200 472
engeltjies wat my oppas en moeder Maria gaan al my wense waar maak.

Ek gebruik nie meer kankerwekkende reukweerders nie al ruik ek soos ‘n
vlakvark in ‘n moddergat op ‘n warm dag.

Danksy julle,

Het ek geleer dat my gebede slegs verhoor word as ek ‘n epos aan sewe van
my vriende stuur en binne vyf minute ‘n wens, wens.

As gevolg van julle besorgdheid drink ek nie meer Coca-Cola nie omdat dit
toiletvlekke kan verwyder en ontplof as jy dit met mentos meng.

Ek gaan ook nie meer vulstasie toe sonder om iemand saam te neem om seker
te maak dat ‘n reeksmoordenaar nie agter in my agtersitplek in kruip
terwyl ek nie kyk nie.

Ek gaan ook nie meer winkelsentrums toe nie want ek is bang iemand bedwelm
my met ‘n spesiale parfuum en beroof my.

Ek antwoord ook nie meer my telefoon nie want ek is bang iemand gaan my
vra om ‘n nommer te bel wat my sal deurskakel na Jamaika , Uganda ,
Singapoer of Uzbekistan .

Danksy julle gebruik ek ook niemand se toilet behalwe my eie nie want daar
kan ‘n groot uitheemse spinnekop daar skuil wat my vleis kan laat verrot
en my ‘n pynlike dood laat sterf as dit my byt.

As julle nie die epos aan ten minste 144 000 mense binne die volgende 70
minute aanstuur nie, sal ‘n groot duif met diarree op jou kop beland teen
5 uur vanmiddag en die vlooie van 12 brandsiekbrakke sal jou besmet en
veroorsaak dat jy ‘n harige boggel op jou rug kry.

Ek weet dit sal gebeur want dit het inderwaarheid met ‘n vriend van my
buurman se vorige skoonma se tweede man se niggie se haarkapper gebeur!

En terloops…’n Suid-Amerikaanse wetenskaplike het tydens ‘n uitvoerige
studie bevind dat mense met ‘n lae IK en wat baie ongereeld seks het, lees
altyd hulle epos met hulle hande op die muis.

Moenie moeite doen om dit nou af te haal nie, dis te laat!!!

1 antwoord op Oor al daardie irriterende FWD’s in jou inbox

  1. Hehe… 🙂 Media 24 blok alle video’s wat na sy adresse gestuur word. Soms wens ek hulle wil die ellelange simpel emails wat mens kry ook blok. Hoe dankbaar is ek nou vir `n delete knoppie!

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.