Hoekom mans nodig is

April 23, 2008 in Sonder kategorie

Vandag het ‘n persoon met die skuilnaam “Denker van Pretoria” in Beeld so effe tekere gegaan oor die Mighty Men saamtrek, en Angus Buchan se sg. “uitgediende, ortodokse teologie”. Denker het dit onder meer teen die feit dat net mans genooi is, oor die “patriargale” en “mitiese” figuur wat ons Christene aanbid, ens.

Ek het daarop gereageer, maar ongelukkig is die verwysing na hierdie artikel wat ek verlede jaar vir Rooi Rose geskryf het, verwyder. Ek plaas dit graag hier omdat ek glo dat die pad na herstel in ons wereld baie meer in mans se hande rus as wat hulle besef. En daarom is ek so bly dat 60 000 mans na hierdie naweek kon terugkeer na hul gesinne en gemeenskappe om weer hul plekke in te neem.

Kyk spesifiek na die korrelasie tussen afwesige pa’s en verskillende soorte misdaad. NET diefstal word toegeskryf aan ‘n ma se invloed (of gebrek daaraan) – alle geweldsmisdade en verslawings kan teruggelei word na die invloed (of nie) van ‘n pa.

Feminisme wil ons graag oortuig dat mans oorbodig is. Maar die teenoorgestelde is eintlik waar as ons ‘n gesonde samelewing wil hê. ILSE SALZWEDEL verduidelik hoekom.

Hoekom ons kinders pa’s nodig het

Ons lewe in ‘n era waarin ma’s toenemend die grootste rol in hulle kinders se lewens speel. Daar duisende vroue wat – uit eie keuse, of weens egskeiding of verlating – hulle kinders alleen grootmaak.

Ook binne gesinne het pa’s se rol die afgelope vier dekades merkbaar verander. Baie mans reduseer hul rolle in gesinne tot die van broodwinner. As daar kos is, ‘n gerieflike huis en motor en dalk selfs ‘n paar luukses, voel meeste pa’s hulle het hulle vaderlike plig gedoen.

Hoe lyk vandag se pa teenoor die pa van drie of vier dekades gelede? Moderne pa’s werk hard en dikwels laat, want boonop is hy ‘n bedreigde spesie in die werkplek. Daar is sakereise, gholfafsprake, ete-afsprake – alles deel van networking met kollegas en opposisie om een tree voor te bly in sy loopbaan.

gewerk is, het almal gehelp. Ons het selfs saam kar gewas – as kleinste was ek die amptelike wielwasser!

Vandag ry ons in by ‘n karwasplek, tuindienste doen die tuin en TV pas die kinders op. Dit wat wel vir en saam met die kinders gedoen word, word meestal deur ma’s behartig.

En voordat pa’s wat hier lees my wil kruisig as ‘n feminis: onthou, dis die sielkundiges en ander kenners wat sê pa’s is onbetrokke by hulle kinders, ‘n mening wat boonop onderstreep word deur verskeie internasionale studies.

Maar hoekom is dit hoegenaamd nodig dat pa’s nog ‘n rol speel in hulle kinders se lewens? Het vroulike emansipasie nie juis gebeur om mans ook in hierdie proses oorbodig te maak nie? Wat maak ‘n pa se bydrae tot sy kinders se lewe uniek en onmisbaar?

Hoe sien die moderne man homself?

Om die moderne pa te verstaan, moet mens eers die moderne man verstaan. Want ‘n goeie pa sien sy eie manlikheid in die regte perspektief.

“The way a man’s life unfolds nowadays tends to drive his heart into the remote regions of the soul,” skryf John Eldredge in sy topverkoper boek Wild at Heart.

Van die vroegste tye af, sê Eldredge en kenners soos Stephen Biddulph, was mans immers vegters, uitvinders en ontdekkers. Deesdae bestaan hulle daaglikse wêreld uit ure agter ‘n rekenaar, in vergaderings of op die telefoon.

Eldredge sê dat dit hom nie in die minste verbaas dat daar soveel “karikature van manlikheid” in die wêreld om ons is nie. Dat soveel mans “lives of quiet desperation” lei nie. Om uit Braveheart aan te haal: “all men die; few men ever really live.”

Eldredge meen dat as moderne mans in hul harte kyk, daar nie ‘n spoor van ridderlikheid of vreesloosheid is nie, maar eerder woede, wellus en vrees. Een rede is dat die samelewing nie kan besluit wat manlikheid regtig behels nie. Volgens hom is dit in die laaste 30 jaar meer sensitief, veilig, hanteerbaar en selfs vroulik gemaak.

Manwees gaan deesdae oor goeie maniere, huislenings, die motor wat jy ry en die werk wat jy doen. Daar is nie meer helde, heldhaftige reddingspogings of oorloë wat geveg moet word nie. En dit, meen Eldredge, laat ‘n man se heldhaftigheid “ondergronds” gaan waar dit broei as ‘n diep, redelose en gefrustreerde woede.

Ander kenners is net so bekommerd oor die voortbestaan van manlikheid. ‘n Internasionale motiveringspreker en –skrywer, Rowland Croucher, beskryf mans as die tweede deurmekaarste groep in die Westerse kultuur. (Die deurmekaarste groep is tieners!)

“Meeste mans het nie ’n lewe nie. Hulle het maar net geleer om voor te gee,” is die eerste sin in Stephen Biddulph se boek Manhood. Hy verklaar onomwonde in sy boeke (Manhood en Raising Boys) dat daar sekere goed is wat net mans en pa’s kan doen, al erken hy dat dit waarskynlik nie polities-korrek klink nie.

Skrywers soos Biddulph voel ons samelewings het ‘n baie stereotipiese beeld van manlikheid. Manlikheid, waarsku hulle, is meer as werk, TV kyk, drink, vloek en padwoede.

Volgens Biddulph onderstreep die feminisme en die vordering wat vroue deesdae loopbaangewys maak die gebrek aan manlikheid onder ons mans en seuns. Hy meen ook dat die Westerse opvoedkundige stelsel nie werklik die behoeftes van veral seuns in ons samelewing aanspreek nie.

Boonop leef ons in ‘n era waarin seks heeltemal oorbeklemtoon word – Biddulph noem dit ‘n over-genitalising van manlikheid. Feitlik alles wat aan ‘n man verkoop moet word, meen hy, word aan sy seksualiteit gekoppel. (Dink maar aan die sespak-modelle wat alles van motors tot klere en velsorgmiddels adverteer. Om nie eers van die macho Hollywood-helde te praat nie.)

Daar is oral druk op mans om te presteer – ook in die bed.

Hy meen mans se ongelukkigheid oor hul eie seksualiteit is een van die grootste oorsake van egskeidings en ander sosiale probleme, soos selfmoorde en verslawings.

Hoe raak dit ons kinders?

Biddulph en Eldredge meen beide dat hierdie krisis ongelukkig nie beperk is tot mans nie, maar uiteindelik uitkring na hulle gesinne.

“Die alleenheid van mans is iets wat vroue nie verstaan nie,”’ skryf Biddulph. Maar erger nog: kinders word diep geraak, omdat pa’s nie hulle vaderlike plig doen nie.

“Ons seuns word vals mans wat net ’n rol speel. In vandag se wêreld word klein seuntjies net groter klein seuntjies…Die hedendaagse samelewing is besig om te disintegreer omdat mans nie meer die seuns inlei in manwees nie, en dis iets wat vroue nie kan doen nie, hoe hard hulle ookal probeer.”

Biddulph waarsku dat hierdie vaderlose generasie een van twee rigtings inslaan – hulle vorm groepe en selfs bendes, of word alleenlopende nerds wat tegnologie, soos ’n rekenaar of die TV, eerder as mense bevriend.

Wanneer so man trou, word die bose siklus voortgesit. Hy word nie ‘n mentor-pa vir sy kinders nie, en is ook nie sy vrou se ware vriend nie. Dan neem seks die plek van ware intimiteit. Wat ons eintlik nodig het om ons mans en seuns te leer, meen Biddulph, is liefde.

Al hierdie kenners is dit eens dat ware manlikheid net kan ontwikkel as ‘n seuntjie die ontwikkelingspad op verskillende tye saam met verskillende volwassenes stap. Eers saam met sy ma, dan saam met sy pa en nog later saam met ‘n mentor.

Maar pa’s, waarsku hulle, kan nie langer buite berekening gelaat word as ons ons kinders liefhet nie. Biddulph meen dat aktiewe betrokkenheid by sy kinders een van die sewe stappe vir ‘n man is om volgens sy skeppingsdoel te leef.

Oordryf hulle nie?

Eldredge, Biddulph en ‘n groot koor moderne kenners, waarby James Dobson en Stephen Covey ook ingesluit kan word, waarsku dat die prys wat ons samelewing weens onbetrokke pa’s betaal, baie hoog is.

Statistiek toon dat misdaad en geweld daagliks toeneem, en oral om ons sien ons die simptome van ‘n gebrek aan morele waardes: korrupsie, kindermolestering, padwoede, egskeiding, kindermishandeling, alkoholisme, verslawings, en leë kerke.

Twee onafhanklike studies verlede jaar deur die National Fatherhood Initiative in die VSA het interessante bevindinge opgelewer.

In een is die tipiese gesinstrukture van tieners wat dwelms gebruik, ondersoek. Daar is bevind dat, hoe nader tieners aan hul pa’s voel, hoe skraler is die kans dat hulle dwelms sal gebruik, ongeag die tipe gesinstruktuur (oorspronklike gesin, stiefgesin of enkelouer-gesin) waarin hulle hulle bevind.

Dieselfde studie het egter getoon dat die beste verhoudings tussen pa’s en kinders steeds voorkom in oorspronklike (intact) gesinne. Sodra egskeiding plaasvind, is daar ‘n afname in die hegtheid tussen pa en kind.

Die studie se gevolgtrekking was dat tieners binne gesinne waar albei ouers ‘n rol speel, maar veral waar die pa-kind verhoudings gesond is, die kleinste risiko loop om dwelmgebruikers te word.

Daar is ook bevind dat kinders met twee betrokke ouers minder geneig is om toe te gee aan druk deur vriende, want hulle het nie ‘n groot behoefte daaraan om aanvaarding buite hul gesinne te soek nie.

Of, soos dit in die gevolgtrekking gestel word: “On measures of smoking, drinking, and the use of inhalants, father closeness has independent, positive, and powerful effects on adolescents. On the other hand, there is no direct correlation between mother closeness and any of the measures of adolescent drug use. In other words, efforts to reduce adolescent drug use must emphasize the strengthening of father-adolescent relationships, regardless of the type of family structure in which the adolescent lives. The strengthening of father-adolescent relationships is especially important for the millions of adolescents living in father-absent homes, where limited contact with nonresident fathers is inadequate.” (www.fatherhood.org/research)

Die tweede studie het die verband ondersoek tussen afwykende en/of kriminele optrede deur tieners en hul verhoudings met hul pa’s ondersoek. Daar was vyf soorte gedrag onder die soeklig: diefstal, geweld, gebruik van wapens, wangedrag en wegloop van die huis af.

Hier was die bevindinge nog interessanter. Dit het getoon dat pa’s meer beheer oor kinders het as dit kom by die voorkoming van geweldadige optrede, terwyl ma’s weer meer invloed het om diefstal te voorkom. Hierdie studie het aanbeveel dat beide ouers hul bande met hul kinders versterk, maar weer eens beklemtoon dat pa’s baie meer aktief aan hul verhoudinge met hul kinders moet werk.

Dr. Micki Pistorius, die kriminoloog en profielsamesteller wat gehelp het om 35 reeksmoorde en honderde ander moorde en verkragtings in SA op te los, het in haar navorsing tot die gevolgtrekking gekom dat pa’s gewetes by hul kinders kweek.

Pistorius het haar tesis oor internasionale reeksmoordenaars gedoen, en het een gemene deler gevind by alle reeksmoordenaars: hulle het almal emosioneel afwesige pa’s gehad en nooit gewetes ontwikkel nie.

Word so ‘n beter pa

· Pa’s behoort ‘n belangrike dissiplinêre rol te speel. Dis eerstens die pa se plig – ‘n ma behoort bloot ‘n ondersteunende rol te speel. As jy dit nie doen nie, waarsku Pistorius, gaan jou seun in die latere lewe altyd ‘n probleem met gesag hê.

· Wees liefdevol en beskermend teenoor jou vrou en kinders. Dis hoe jou seun ook eendag teenoor sy gesin gaan optree.

· Lei deur jou voorbeeld: waardes, waarsku sielkundiges, kriminoloë en sosioloë, word nageboots en nie aangeleer nie. Leer jou kind empatie, respek, mededeelsaamheid en veral liefde. Maar leer hom ook werksetiek, netheid, eerlikheid, gesonde roetines en integriteit deur self so te lewe.

· Leer jou kinders om verantwoordelikheid vir hul eie dade te aanvaar.

· Jou kinders moet nie net innerlike krag by jou sien nie, maar ook teerheid en simpatie.

· Jou dogter gaan waarskynlik met ‘n man soos haar pa trou. Wat jy vir jou dogter in ‘n huwelik begeer, moet jy in ‘n huwelik aan haar ma doen.

· Speel saam met jou kinders. Vir kleintjies is fisieke kontak (stoei, rol en duik) heerlik en baie belangrik vir hulle fisieke en emosionele ontwikkeling. Speel bordspeletjies, swem, gooi of skop bal of gaan speel mini-gholf of kegelbal.

· Skakel die TV af. Gaan inry toe, gaan hou piekniek of gaan stap om die blok. Dis wat jou kinders later gaan onthou: nie die sportprogram wat julle saam op TV gekyk het nie.

· Woon jou kinders se sport en skoolgeleenthede by. Niks is so sleg vir ‘n kindergemoed as ‘n pa wat altyd te besig om te sien hoe presteer sy kind nie.

· Wees so geduldig met jou kinders (en vrou) soos jy met jou kollegas, vriende of base sal wees.

· Doen ekstra moeite om ‘n goeie verhouding met jou seun op te bou. Biddulph se navorsing toon dat minder as 10% van moderne mans op goeie voet is met hulle pa’s. Spandeer een maal ‘n week alleentyd saam met elkeen van jou kinders, al is dit ook net vir ‘n halfuur.

Leading Dads
Rian Cloete, oud-nuusleser op SABC 2, is mede-stigter van ‘n organisasie, Leading Dads, wat hulle daarvoor beywer om mans te bemagtig om weer betrokke pa’s te word. “Navorsing het bewys dat die die belangrikste voorspeller van kriminele gedrag nie ras, inkomste of godsdienstige affiliasie is nie, maar die afwesigheid van ‘n pa. Die gemene deler tussen mans in tronke in die VSA is dat hulle grootgeword het sonder pa’s.”

“Ander studies het getoon dat kinders wat sonder die invloed van ‘n pa grootword, meer geneig is tot armoede, buite-egtelike kinders, huwelike op ‘n jong ouderdom en dwelm- en drankmisbruik.”

“Ek glo soos die bekende James Dobson: our very survival as a nation will depend on the presence or absence of masculine leadership in the home.”

“Ek wil deur hierdie projek pa’s se harte na hul kinders draai, en kinders se harte na hul pa’s. Almal kan nie gemeenskapsleiers en wêreldleiers wees nie, maar ons almal kan die leier in ons gesin wees, as ons net weet hoe. Met Leading Dads wil ek mans help bemagtig.”

Rian, wat deesdae in Windhoek woon, praat landswyd en in Namibië oor Leading Dads. Mense wat meer wil uitvind of wil betrokke raak, kan hom e-pos by [email protected], of skakel hom by 00264 81 238 7533.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.