Jy blaai in die argief vir 2008 April.

Hoekom mans nodig is

April 23, 2008 in Sonder kategorie

Vandag het ‘n persoon met die skuilnaam “Denker van Pretoria” in Beeld so effe tekere gegaan oor die Mighty Men saamtrek, en Angus Buchan se sg. “uitgediende, ortodokse teologie”. Denker het dit onder meer teen die feit dat net mans genooi is, oor die “patriargale” en “mitiese” figuur wat ons Christene aanbid, ens.

Ek het daarop gereageer, maar ongelukkig is die verwysing na hierdie artikel wat ek verlede jaar vir Rooi Rose geskryf het, verwyder. Ek plaas dit graag hier omdat ek glo dat die pad na herstel in ons wereld baie meer in mans se hande rus as wat hulle besef. En daarom is ek so bly dat 60 000 mans na hierdie naweek kon terugkeer na hul gesinne en gemeenskappe om weer hul plekke in te neem.

Kyk spesifiek na die korrelasie tussen afwesige pa’s en verskillende soorte misdaad. NET diefstal word toegeskryf aan ‘n ma se invloed (of gebrek daaraan) – alle geweldsmisdade en verslawings kan teruggelei word na die invloed (of nie) van ‘n pa.

Feminisme wil ons graag oortuig dat mans oorbodig is. Maar die teenoorgestelde is eintlik waar as ons ‘n gesonde samelewing wil hê. ILSE SALZWEDEL verduidelik hoekom.

Hoekom ons kinders pa’s nodig het

Ons lewe in ‘n era waarin ma’s toenemend die grootste rol in hulle kinders se lewens speel. Daar duisende vroue wat – uit eie keuse, of weens egskeiding of verlating – hulle kinders alleen grootmaak.

Ook binne gesinne het pa’s se rol die afgelope vier dekades merkbaar verander. Baie mans reduseer hul rolle in gesinne tot die van broodwinner. As daar kos is, ‘n gerieflike huis en motor en dalk selfs ‘n paar luukses, voel meeste pa’s hulle het hulle vaderlike plig gedoen.

Hoe lyk vandag se pa teenoor die pa van drie of vier dekades gelede? Moderne pa’s werk hard en dikwels laat, want boonop is hy ‘n bedreigde spesie in die werkplek. Daar is sakereise, gholfafsprake, ete-afsprake – alles deel van networking met kollegas en opposisie om een tree voor te bly in sy loopbaan.

gewerk is, het almal gehelp. Ons het selfs saam kar gewas – as kleinste was ek die amptelike wielwasser!

Vandag ry ons in by ‘n karwasplek, tuindienste doen die tuin en TV pas die kinders op. Dit wat wel vir en saam met die kinders gedoen word, word meestal deur ma’s behartig.

En voordat pa’s wat hier lees my wil kruisig as ‘n feminis: onthou, dis die sielkundiges en ander kenners wat sê pa’s is onbetrokke by hulle kinders, ‘n mening wat boonop onderstreep word deur verskeie internasionale studies.

Maar hoekom is dit hoegenaamd nodig dat pa’s nog ‘n rol speel in hulle kinders se lewens? Het vroulike emansipasie nie juis gebeur om mans ook in hierdie proses oorbodig te maak nie? Wat maak ‘n pa se bydrae tot sy kinders se lewe uniek en onmisbaar?

Hoe sien die moderne man homself?

Om die moderne pa te verstaan, moet mens eers die moderne man verstaan. Want ‘n goeie pa sien sy eie manlikheid in die regte perspektief.

“The way a man’s life unfolds nowadays tends to drive his heart into the remote regions of the soul,” skryf John Eldredge in sy topverkoper boek Wild at Heart.

Van die vroegste tye af, sê Eldredge en kenners soos Stephen Biddulph, was mans immers vegters, uitvinders en ontdekkers. Deesdae bestaan hulle daaglikse wêreld uit ure agter ‘n rekenaar, in vergaderings of op die telefoon.

Eldredge sê dat dit hom nie in die minste verbaas dat daar soveel “karikature van manlikheid” in die wêreld om ons is nie. Dat soveel mans “lives of quiet desperation” lei nie. Om uit Braveheart aan te haal: “all men die; few men ever really live.”

Eldredge meen dat as moderne mans in hul harte kyk, daar nie ‘n spoor van ridderlikheid of vreesloosheid is nie, maar eerder woede, wellus en vrees. Een rede is dat die samelewing nie kan besluit wat manlikheid regtig behels nie. Volgens hom is dit in die laaste 30 jaar meer sensitief, veilig, hanteerbaar en selfs vroulik gemaak.

Manwees gaan deesdae oor goeie maniere, huislenings, die motor wat jy ry en die werk wat jy doen. Daar is nie meer helde, heldhaftige reddingspogings of oorloë wat geveg moet word nie. En dit, meen Eldredge, laat ‘n man se heldhaftigheid “ondergronds” gaan waar dit broei as ‘n diep, redelose en gefrustreerde woede.

Ander kenners is net so bekommerd oor die voortbestaan van manlikheid. ‘n Internasionale motiveringspreker en –skrywer, Rowland Croucher, beskryf mans as die tweede deurmekaarste groep in die Westerse kultuur. (Die deurmekaarste groep is tieners!)

“Meeste mans het nie ’n lewe nie. Hulle het maar net geleer om voor te gee,” is die eerste sin in Stephen Biddulph se boek Manhood. Hy verklaar onomwonde in sy boeke (Manhood en Raising Boys) dat daar sekere goed is wat net mans en pa’s kan doen, al erken hy dat dit waarskynlik nie polities-korrek klink nie.

Skrywers soos Biddulph voel ons samelewings het ‘n baie stereotipiese beeld van manlikheid. Manlikheid, waarsku hulle, is meer as werk, TV kyk, drink, vloek en padwoede.

Volgens Biddulph onderstreep die feminisme en die vordering wat vroue deesdae loopbaangewys maak die gebrek aan manlikheid onder ons mans en seuns. Hy meen ook dat die Westerse opvoedkundige stelsel nie werklik die behoeftes van veral seuns in ons samelewing aanspreek nie.

Boonop leef ons in ‘n era waarin seks heeltemal oorbeklemtoon word – Biddulph noem dit ‘n over-genitalising van manlikheid. Feitlik alles wat aan ‘n man verkoop moet word, meen hy, word aan sy seksualiteit gekoppel. (Dink maar aan die sespak-modelle wat alles van motors tot klere en velsorgmiddels adverteer. Om nie eers van die macho Hollywood-helde te praat nie.)

Daar is oral druk op mans om te presteer – ook in die bed.

Hy meen mans se ongelukkigheid oor hul eie seksualiteit is een van die grootste oorsake van egskeidings en ander sosiale probleme, soos selfmoorde en verslawings.

Hoe raak dit ons kinders?

Biddulph en Eldredge meen beide dat hierdie krisis ongelukkig nie beperk is tot mans nie, maar uiteindelik uitkring na hulle gesinne.

“Die alleenheid van mans is iets wat vroue nie verstaan nie,”’ skryf Biddulph. Maar erger nog: kinders word diep geraak, omdat pa’s nie hulle vaderlike plig doen nie.

“Ons seuns word vals mans wat net ’n rol speel. In vandag se wêreld word klein seuntjies net groter klein seuntjies…Die hedendaagse samelewing is besig om te disintegreer omdat mans nie meer die seuns inlei in manwees nie, en dis iets wat vroue nie kan doen nie, hoe hard hulle ookal probeer.”

Biddulph waarsku dat hierdie vaderlose generasie een van twee rigtings inslaan – hulle vorm groepe en selfs bendes, of word alleenlopende nerds wat tegnologie, soos ’n rekenaar of die TV, eerder as mense bevriend.

Wanneer so man trou, word die bose siklus voortgesit. Hy word nie ‘n mentor-pa vir sy kinders nie, en is ook nie sy vrou se ware vriend nie. Dan neem seks die plek van ware intimiteit. Wat ons eintlik nodig het om ons mans en seuns te leer, meen Biddulph, is liefde.

Al hierdie kenners is dit eens dat ware manlikheid net kan ontwikkel as ‘n seuntjie die ontwikkelingspad op verskillende tye saam met verskillende volwassenes stap. Eers saam met sy ma, dan saam met sy pa en nog later saam met ‘n mentor.

Maar pa’s, waarsku hulle, kan nie langer buite berekening gelaat word as ons ons kinders liefhet nie. Biddulph meen dat aktiewe betrokkenheid by sy kinders een van die sewe stappe vir ‘n man is om volgens sy skeppingsdoel te leef.

Oordryf hulle nie?

Eldredge, Biddulph en ‘n groot koor moderne kenners, waarby James Dobson en Stephen Covey ook ingesluit kan word, waarsku dat die prys wat ons samelewing weens onbetrokke pa’s betaal, baie hoog is.

Statistiek toon dat misdaad en geweld daagliks toeneem, en oral om ons sien ons die simptome van ‘n gebrek aan morele waardes: korrupsie, kindermolestering, padwoede, egskeiding, kindermishandeling, alkoholisme, verslawings, en leë kerke.

Twee onafhanklike studies verlede jaar deur die National Fatherhood Initiative in die VSA het interessante bevindinge opgelewer.

In een is die tipiese gesinstrukture van tieners wat dwelms gebruik, ondersoek. Daar is bevind dat, hoe nader tieners aan hul pa’s voel, hoe skraler is die kans dat hulle dwelms sal gebruik, ongeag die tipe gesinstruktuur (oorspronklike gesin, stiefgesin of enkelouer-gesin) waarin hulle hulle bevind.

Dieselfde studie het egter getoon dat die beste verhoudings tussen pa’s en kinders steeds voorkom in oorspronklike (intact) gesinne. Sodra egskeiding plaasvind, is daar ‘n afname in die hegtheid tussen pa en kind.

Die studie se gevolgtrekking was dat tieners binne gesinne waar albei ouers ‘n rol speel, maar veral waar die pa-kind verhoudings gesond is, die kleinste risiko loop om dwelmgebruikers te word.

Daar is ook bevind dat kinders met twee betrokke ouers minder geneig is om toe te gee aan druk deur vriende, want hulle het nie ‘n groot behoefte daaraan om aanvaarding buite hul gesinne te soek nie.

Of, soos dit in die gevolgtrekking gestel word: “On measures of smoking, drinking, and the use of inhalants, father closeness has independent, positive, and powerful effects on adolescents. On the other hand, there is no direct correlation between mother closeness and any of the measures of adolescent drug use. In other words, efforts to reduce adolescent drug use must emphasize the strengthening of father-adolescent relationships, regardless of the type of family structure in which the adolescent lives. The strengthening of father-adolescent relationships is especially important for the millions of adolescents living in father-absent homes, where limited contact with nonresident fathers is inadequate.” (www.fatherhood.org/research)

Die tweede studie het die verband ondersoek tussen afwykende en/of kriminele optrede deur tieners en hul verhoudings met hul pa’s ondersoek. Daar was vyf soorte gedrag onder die soeklig: diefstal, geweld, gebruik van wapens, wangedrag en wegloop van die huis af.

Hier was die bevindinge nog interessanter. Dit het getoon dat pa’s meer beheer oor kinders het as dit kom by die voorkoming van geweldadige optrede, terwyl ma’s weer meer invloed het om diefstal te voorkom. Hierdie studie het aanbeveel dat beide ouers hul bande met hul kinders versterk, maar weer eens beklemtoon dat pa’s baie meer aktief aan hul verhoudinge met hul kinders moet werk.

Dr. Micki Pistorius, die kriminoloog en profielsamesteller wat gehelp het om 35 reeksmoorde en honderde ander moorde en verkragtings in SA op te los, het in haar navorsing tot die gevolgtrekking gekom dat pa’s gewetes by hul kinders kweek.

Pistorius het haar tesis oor internasionale reeksmoordenaars gedoen, en het een gemene deler gevind by alle reeksmoordenaars: hulle het almal emosioneel afwesige pa’s gehad en nooit gewetes ontwikkel nie.

Word so ‘n beter pa

· Pa’s behoort ‘n belangrike dissiplinêre rol te speel. Dis eerstens die pa se plig – ‘n ma behoort bloot ‘n ondersteunende rol te speel. As jy dit nie doen nie, waarsku Pistorius, gaan jou seun in die latere lewe altyd ‘n probleem met gesag hê.

· Wees liefdevol en beskermend teenoor jou vrou en kinders. Dis hoe jou seun ook eendag teenoor sy gesin gaan optree.

· Lei deur jou voorbeeld: waardes, waarsku sielkundiges, kriminoloë en sosioloë, word nageboots en nie aangeleer nie. Leer jou kind empatie, respek, mededeelsaamheid en veral liefde. Maar leer hom ook werksetiek, netheid, eerlikheid, gesonde roetines en integriteit deur self so te lewe.

· Leer jou kinders om verantwoordelikheid vir hul eie dade te aanvaar.

· Jou kinders moet nie net innerlike krag by jou sien nie, maar ook teerheid en simpatie.

· Jou dogter gaan waarskynlik met ‘n man soos haar pa trou. Wat jy vir jou dogter in ‘n huwelik begeer, moet jy in ‘n huwelik aan haar ma doen.

· Speel saam met jou kinders. Vir kleintjies is fisieke kontak (stoei, rol en duik) heerlik en baie belangrik vir hulle fisieke en emosionele ontwikkeling. Speel bordspeletjies, swem, gooi of skop bal of gaan speel mini-gholf of kegelbal.

· Skakel die TV af. Gaan inry toe, gaan hou piekniek of gaan stap om die blok. Dis wat jou kinders later gaan onthou: nie die sportprogram wat julle saam op TV gekyk het nie.

· Woon jou kinders se sport en skoolgeleenthede by. Niks is so sleg vir ‘n kindergemoed as ‘n pa wat altyd te besig om te sien hoe presteer sy kind nie.

· Wees so geduldig met jou kinders (en vrou) soos jy met jou kollegas, vriende of base sal wees.

· Doen ekstra moeite om ‘n goeie verhouding met jou seun op te bou. Biddulph se navorsing toon dat minder as 10% van moderne mans op goeie voet is met hulle pa’s. Spandeer een maal ‘n week alleentyd saam met elkeen van jou kinders, al is dit ook net vir ‘n halfuur.

Leading Dads
Rian Cloete, oud-nuusleser op SABC 2, is mede-stigter van ‘n organisasie, Leading Dads, wat hulle daarvoor beywer om mans te bemagtig om weer betrokke pa’s te word. “Navorsing het bewys dat die die belangrikste voorspeller van kriminele gedrag nie ras, inkomste of godsdienstige affiliasie is nie, maar die afwesigheid van ‘n pa. Die gemene deler tussen mans in tronke in die VSA is dat hulle grootgeword het sonder pa’s.”

“Ander studies het getoon dat kinders wat sonder die invloed van ‘n pa grootword, meer geneig is tot armoede, buite-egtelike kinders, huwelike op ‘n jong ouderdom en dwelm- en drankmisbruik.”

“Ek glo soos die bekende James Dobson: our very survival as a nation will depend on the presence or absence of masculine leadership in the home.”

“Ek wil deur hierdie projek pa’s se harte na hul kinders draai, en kinders se harte na hul pa’s. Almal kan nie gemeenskapsleiers en wêreldleiers wees nie, maar ons almal kan die leier in ons gesin wees, as ons net weet hoe. Met Leading Dads wil ek mans help bemagtig.”

Rian, wat deesdae in Windhoek woon, praat landswyd en in Namibië oor Leading Dads. Mense wat meer wil uitvind of wil betrokke raak, kan hom e-pos by [email protected], of skakel hom by 00264 81 238 7533.

Die 2 Z’e (Zim en Zuma), Mighty Men en swart Afrikaners

April 21, 2008 in Sonder kategorie

 

Ek’s terug, en nee, moenie vra hoekom ek so lank van die lug af was nie. Die kort antwoord is ‘n uiters stresvolle ses weke, op alle fronte, persoonlik en ook wat werk betref. Maar ek is terug met mening.

Eerste op my hart is die chaos in Zim, en ons goeie President-in-Exile se “geen krisis”-benadering en handjieshouery met die Mugaap. En natuurlik die res van die wereld se stilswye oor die openlike skelmspul rondom die verkiesing.

Maar kan die internasionale gemeenskap, en selfs internasionale leiers, werklik iets doen? Dalk nie, skryf Heidi Holland, die skrywer van Dinner with Mugabe. Sy meen Mugaap is so verbete oor die punt wat hy aan Brittanje wil bewys dat hy selfs sy geboorteland en al sy mense daarvoor sal offer. Holland se verduideliking maak vir my baie sin – lees meer by http://www.news24.com/Rapport/Nuus/0,,752-795_2308952,00.html.

( Lees ook elders in gister se Rapport ‘n breedvoerige ontleding van die handjieshouery en ‘n ontleding van Mugabe se lyftaal, en die ander kere wat hy internasionale leiers se hande vasgegryp het en gesorg het vir ‘n paar openbare verleenthede. Maar ek is jammer, I don’t buy it dat Thabo hier onkant gevang is. Hy loop darem al lank hand-om-die-blaas met sy ou pel Bob.)

Maar dit beteken nie die res van ons hoef ook handjies gevou (of is dit handjies-houend?) rond te sit nie. Kliek gerus op http://www.avaaz.org/en/democracy_for_zimbabwe/97.php?CLICK_TF_TRACK

en teken die aanlynpetisie vir die onmiddelike bekendmaking van die verkiesingsresultate.

En ‘n groot hoera vir SATAWU (die South African Transport Workers Union) wie se 300 000 lede saam met die ITF (Internasionale Vervoerwerkersvereniging) se 4 miljoen lede wereldwyd besluit het dat geen van hulle lede sal toelaat dat die Chinese skip vol wapens vir Zim in enige Afrikaland afgelaai word nie. Dit wys jou wat kan gebeur as gewone mense hul voet neersit.

Nog iets wat my hart verbly is die ongeveer 60 000 mans wat hierdie naweek na Angus Buchan se plaas Shalom opgeruk het om te gaan hoor wat God vir die mans van SA te se het.

En ek se dit met respek, maar God het toe inderdaad vir ‘n onvergeetlike “show” gesorg deur iemand wat ‘n hartaanval gehad het tydens die oggend se verrigtinge, en reeds klinies dood was vir ‘n paar minute, en selfs dood verklaar is op die toneel deur ‘n dokter, weer te laat leef na ‘n massagebed deur 60 000 mans! (Ek het dit by meer as een man gehoor wat die Mighty Men Conference bygewoon het.) En volgens my broer Gerhard was dit ‘n knop-in-die-keel ervaring om 60 000 mans te hoor en sien as hulle die Here saam prys.

As jy in Gauteng bly en nie daar was nie, kliek gerus op www.computicket.co.za vir die Loftus for Jesus-byeenkoms op 19 Julie waar Buchan weer met Christene sal praat. Die kaartjies is ‘n skrale R20. Laat ons Christene opstaan om ‘n slag getel te word, want dit is die enigste redding vir ons land!
Terloops, gaan lees Jesaja 58 tot 60, en kyk of dit nie ‘n presiese beskrywing is van hoe ons in Suid-Afrika ons rug op die Here en Sy Opdrag aan ons gedraai het nie.

Die enigste hoop vir Suid-Afrika is as ons mense terugdraai na God, en as ons mans (van alle rasse) weer mans word, ons as ouers ons kinders met respek vir hulself en mekaar (en ons!) grootmaak en as ons as vroue in die eerste plek weer ma’s word vir ons gesinne. Die gejaag na geld en gemak het ons in elk geval nie ver gebring nie, want ons tjop in elk geval af met die prysstygings wat ons stadig-maar-seker dwing om terug te keer na die basics!

Lees ook in die nuwe Rooi Rose (tans op die rakke) my onderhoud met Jacob Zuma. Is hy Die Ware Jacob vir ‘n job as die volgende president van SA? Niemand sal seker met sekerheid kan se voor ons hom nie in aksie gesien het nie, maar daar is ‘n ding of twee wat ek wel ten gunste van hom moet se: hy is ‘n vriendelike mense-mens wat ons filmspan 8 uur op ‘n Saterdagoggend in sy Johannesburgse huis te woord gestaan het, en hy is toeganklik. Hy het binne ure van my eerste kontak met sy skakelpersoon ingestem tot die onderhoud (hoewel die logistiek van sy besige program die shootdatum en onderhoud effens bemoeilik het), en hy het nie een van my vrae ontduik nie. En as ek lees hoe hy met mense op grondvlak kontak maak, kan ek nie help om te sien dis in skrille kontras met die heer Mbeki nie. Zuma is nie vlekkeloos nie, en die howe sal hopelik nou ophou dreig met sy vervolging en uitsluitsel gee of daar wel gronde vir vervolging is rondom sy rol in die sg. wapenskandaal, maar die man is regtig aangenaam.

En ek dink ek som die meerderheid Suid-Afrikaners se gevoel op as ek se dat enige iemand waarskynlik ‘n verbetering gaan wees op ons President-in-Exile wat Suid-Afrika se naam net al hoe meer vergat in die internasionale arena. Liewe meneer Thabo, tree tog nou af, asseblief.

Dit was Vrydagaand ATKVeertjies, waartydens die ATKV ons mediamense vereer het vir ons werk in 2007. Ek was ‘n finalis in die kategorie: In Diepte/Navorsingsjoernalistiek, en al het ek nie gewen nie (Lydia van der Merwe van SARIE het), was dit ‘n heerlike aand. Baie geluk aan al die kategoriewenners (daar was verskeie toekennings – ek dink 28 altesaam – vir radio, TV, koerante en tydskrifte), en baie dankie aan die ATKV dat julle ons werk raaksien.

Hier onder volg my een genomineerde artikel wat verlede jaar in De Kat verskyn het. Vir my was dit een van die aangrypendste stories van my loopbaan, en iets wat ek hoop sal help om rassisme in Suid-Afrika hok te slaan. As ons maar net kan onthou ons is almal mense!

Ek hoop dat een of ander instansie binnekort vir my sal befondsing gee om hierdie stukkie Suid-Afrikaanse (en Afrikaanse geskiedenis) te kan dokumenteer voordat al die oumense wat nog die stories kan vertel, oorlede is. Dus, as julle ryk ooms het, laat my weet!

Omtrent 15 minute anderkant Cullinan lê ‘n stowwerige gehuggie met die naam Onverwacht. ‘n Feitlik vergete groep mense veg hier om Afrikaans en hulle Afrikaanse kultuur te laat oorleef. Deur Ilse Salzwedel.

“Ons is swart Afrikaners”

Ek moet my oë knip om aan die halfdonker in die donker voorhuis van huis no. 084 gewoond te raak. Dis twaalfuur in die middag, en buite skyn die winterson oop en helder.

Ek kon netsowel in die donker voorhuis op my voorouers se familieplaas Uitvlugt gestaan het. Op die vloer is Novilon, en die plafon is ‘n outydse staalplafon met patroontjies.

Teen die mure hang vergeelde ingekleurde foto’s in agthoekige ornamentele rame – van die gesigte wat strak na ons afkyk, is meer as ‘n eeu oud. In die hoek van die vertrek staan ‘n vertoonkas vol ornamente. Daar is nie ‘n stoffie sigbaar nie.

In die middel van die vertrek staan ‘n eenvoudige houttafel met vier regop stoele. By die tafel sit twee ou mans met bekers tee en ‘n bordjie toebroodjies.

“Jan Monari”, stel die oudste homself bekend.

Sy handdruk is verbasend sterk vir ‘n man 87. Sy ou oë lyk nes my 82-jarige pa s’n – ‘n mengsel van verwondering, onsekerheid en wysheid.

Sy kuiergas is die 69-jarige James Mutele, wat spesiaal van Hammanskraal af gekom het vir vandag. Hy het in Onverwacht mens geword, maar bly nou “ver in die westerkim.”

‘n Lang, statige bejaarde vrou in ‘n helder oranje Afrika-uitrusting kom groet. James stel haar voor as “oom Jan se liefling, sy hartjie.”

“Esther Monari,” groet sy. Al 59 jaar oom Jan se ander helfte. En agt kinders, 22 kleinkinders en ses agter-kleinkinders later bly hulle steeds net hier in hierdie huisie wat oom Jan kort na hulle troue gebou het.

Ons moet aanstaltes maak. Oom Jan skuifel-skuifel op twee kieries tot by die fotograaf se motor. Straataf, by ons toergids, Patricia Maschobani, se huis wag nog swart Afrikaners om hulle stories te vertel.

Ons besoek het eintlik al vroeër begin: in Onverwacht se begraafplaas. Die grafstene – party handgemaak van leiklip, ander van marmer, kompleet met grafeersels – vertel hul eie verhale. Van die Hooghollandse inskripsies dateer uit 1913.

Maar daar kan ouer grafte ook wees, vertel Patricia en beduie na die oorgroeide agterste hoek van die begraafplaas.

Ek stap verby Lavia Licana Hlabathi se graf. Sy is gebore op die “17e Feberwari”. “Overleef”, staan daar langs haar sterfdatum.

Op ‘n ander grafsteen word “Oupa Louw Bambalala” deur sy nasate onthou.

Hier lê Lena Jacoba Napaai (1907 – 1999) wat volgens Patricia die mense van die dorp se name en vanne kon onthou “op haar vingertoppe”.

Ouma Lena, die dorp se kommisaris van ede, het dit so half haar besigheid gemaak om die dorp se geskiedenis en stambome te onthou. En goed was sy goed, beduie Patricia.

“As mens haar vra, kon sy tot onthou watter dag van die week jy gebore is.”

Nou’s al daardie onthou saam met haar graf toe.

Dit was juis Ouma Lena wat doerie jare met die destydse Federale Party gaan onderhandel het vir geld om die mobiele Afrikaanse skool vir die kinders van Onverwacht te bou. Dis ook sy wat haar grondjie nagelaat het vir die bou van ‘n kliniek vir die mense van die dorp.

Patricia droom daarvan om ‘n behoorlike gedenksteen met ‘n stamboom hier op te sit vir al die gestorwenes van Onverwacht. Sodat mens kan weet wie hoort by wie, hier tussen die honderde grafte.

“Weet julle, in 2002 was daar net 23 in hierdie begraafplaas begrawe. Kyk hoe lyk dit nou.”

Waar kom al die dooies vandaan?

Dis die onwettige plakkers wat instroom, beduie Patricia driftig.

“Ons het mos nie meer onse eie rus hier in Onverwacht nie,” sê sy terwyl sy die begraafplaas se hek met draad toewoel.

Eintlik is sy ‘n Botha, vertel Patricia in die motor. Dis mos haar “wit” van. Want destyds, toe die “swart kol” van Onverwacht skoongemaak is en die mense weggestuur is , moles die wat agtergebly het wit vanne aanneem om as Keurlinge te kon deurgaan.

Dié dat daar Botha’s en Venters ook hier op Onverwacht is. Maar haar mense, vertel Patricia, het skelmpies nog Maschobani gebly en hulle dokumente behou.

Haar oupagrootjie Mashobane (oorlede 25-12-1925, volgens sy grafsteen) was immers ‘n gesiene man op sy tyd. “Hy’t in die myn by Cullinan gewerk.” Ook dié dat hy destyds kon bekostig om so groot stuk grond in Onverwacht te koop.

By Patricia se huis wag ‘n groepie mense ons in. Onder hulle is die blinde Ouma Theresa Mooloo. Ouma Moeloes. Op 93 merk fyn plooitjies die ouderdom se spoor op haar vel, wat die kleur is van koffie met baie melk. Sy dra ‘n laphoed bo-oor haar kopdoek – die lang grys hare wat in haar nek onder die kopdoek uitloer, is stokreguit en fyn van tekstuur.

En dis hier, onder ‘n gazebo op plastiekstoeltjies in die voortuin van die Machobani’s, wat die verhaal van Onverwacht stukkie vir stukkie vir ons oopgevou word. Hulle spel hulle van anders as die oorspronklike Mashobanes, want hulle is van ‘n ander vertakking van die familie, beduie Patricia.

Ons hoor van die grootouma wat “die Woord loop steel het”.

“Sien, die oumas moes mos tee skink by die bidure. Dan het hulle skelm staan en luister en die Woord gesteel en vir die ander kom vertel wat mos nog nie kon lees nie,” vertel Patricia.

“Toe sien hulle mos nou dit gaan goed met die boere oor hulle God, en toe gaan bou hulle ‘n L-muur in die veld waar hulle ook met die Man van Bo kan gaan praat.”

Maar in 1947 is daar uiteindelik kerk gebou vir die mense van Elison, Steinberg en Onverwacht. Maar toe ontdek iemand die kerkklok, waarvoor daar so hard gewerk en gespaar is, is van egte brons. Of koper, Patricia is nie seker nie. En toe die mense eendag opstaan, is die kerkklok skoonveld.

Weer Patricia. “Maar nou ken jy mos vir ‘n bobbejaan. Die diewe het die klok in die veld gaan wegsteek, seker om te wag vir vervoer, en daar ontdek oupa bobbejaan toe mos die klok. En hy hang te lekker aan hom, en hoe meer hy lui, hoe lekkerder hang hy.”

En met die stilte het die kerkklok se veraf gebeier die ore van die mense bereik, en dit was juis Oupa Louw Bambalala wat die klok se lui herken het en hom gaan soek het.

“Toe hy dit kry, het hy die klonkies wat saamgestap het huis toe gestuur om ‘n ossewa te laat haal. En so het Oupa Louw onse klok gaan red.”

James Mutele begin die amptelike vertelling oor Onverwacht. Hy het ‘n pak dokumente byderhand om sy storie te staaf.

Die voormense van die Onverwachters was die werksmense, die agterryers en huisbediendes , wat in die Malan-, Hamman- en Prinsloo-trekke van 1857 na hierdie deel van die Bosveld anderkant Cullinan getrek het.

Wat hier, tussen die Boere vir wie hulle gewerk het, kon grond koop. Wat selfs, as grondeienaars, hulle grondregte in die Anglo-Boereoorlog gaan verdedig het, aan die kant van die Boere en onder aanvoering van kommandant Lafras Uys van Bronkhorstrspruit.

En so het almal maar saamgeboer en mekaar verdra, vertel Ouma Theresa. Die Prinsloos spesifiek, vertel sy, was “dierbare boere.”

“Ons het nooit moeilikheid gehad met die boere van wat ek ken onthou nie.” Sy sê “ken”, nie kan nie.

Ek word gou daarop gewys dat daar hier van landbouers gepraat word. “Nie daai skelnaam van Boere nie. Want hulle was mos boere. Dis wat hulle gedoen het.”

En, sê Ouma Theresa beslis, “ek eer hulle nog vir wat hulle gedoen het. Hulle het my niks gedoen nie.”

Ja, bevestig James, van 1905 af al is daar hier lekker saamgeboer. En, laat ons nou maar eerlik wees, ook lekker ondertrou, sê hy. “Want eintlik was ons mos deel van die Boerefamilies, eensmaal.” (Vir teksredakteur: Nie spelfout nie!)

So het Oupa Jan se suster met ‘n wit man getrou, en Ouma Theresa met ‘n Indiër. Die Italiaanse krygsgevangenes wat by die nabygeleë Zonderwater gehou is, was ook later gereelde gaste in Onverwacht.

Na die oorlog het nog ‘n boer, Gert Erasmus, die “NG-mense jammer gekry oor hulle so ver moes kerk toe en skool toe loop”, en toe het hy “onverwags” hierdie stuk grond gegee om aan hulle te verkoop. Vandaar die naam Onverwacht.

En koop het hulle hom gekoop. Niemand hier het grond gekry nie, vertel James, en bewys dit met dokumente uit die argiewe.

“Portion 11, in extent of 4 morgen” het byvoorbeeld vir £80 sterling verkoop. R160 dus vir 34 261 hektaar. Maar beslis ‘n stewige bedrag geld om bymekaar te maak byna 100 jaar terug.

Patricia gaan haal hulle grondjie se papiere.

Dis in 1929 uitgereik na die oorspronklike eienaar se afsterwe, en alles is in Hoog-Hollands met welige sierskrif.

“Zij het kennelik aan allen wie het mogen aangaan…” begin die dokument waarin daar verwys word na ene “Cornelius Masuga (naturel) – overleden” en “syn erfgenaam Willem Huckie (a native)”. Die 3 morg ter sprake het £60 sterling gekos.

Die breekspul het gekom in 1965 toe die regering besluit het om die land skoon te maak van alle swart kolle en die mense tuislande toe te stuur. Al het hulle nooit tevore ‘n voet daar gesit nie. KwaNdebele toe, QwaQwa toe, Bantoestans toe, vertel James.

“Ek onthou nog hoe die lorries teen die heuwel afgekom het om ons na nêrens te neem,” vertel James. “Die enigste geluid wat ek onthou is net die stacato van die 303-gewere wat so doef, doef gemaak het as hulle skote in die lug geskiet het.”

Vee en huise moes agterbly – net wat agterop ‘n lorrie kon pas, kon saam.

Maar, beaam Oupa Jan en Ouma Theresa dadelik, dit was nie die boere om hulle se skuld nie. Daai boere baklei dat hulle kon bly.

“Ons kon daai boere se gesigte sien. Dis dié met die maskers wie se gesigte ons nie kon sien nie, wat die knoppie gedruk het om ons te verwyder, want ons was die swart gevaar,” sê Oupa Jan.

Daar het net 38 gesinne uit 65 agtergebly. Die ander 27 families is verwyder.

Die wat goed genoeg Afrikaans kon praat, mog gebly het. “Maar party van ons was net nie Kleurling genoeg nie,” vertel James, ‘n man met ‘n baie donker gelaat.

Oupa Jan, ewe donker, se Afrikaans was goed “genôg”. Hy kon bly en voortgaan met sy werk as landbouer en damskropper. Maar hy voel dit wat hier gebeur het, was “onreg”. Soos in verkeerd.

Dit het hom as “grondeigenaar” gegrief, en hy weet nou nog nie “waffer plek” daar van gepraat word as hulle praat van grond wat uitgehou is nie.

Daarom dat hy al voor 1993, “voor Mandela, julle president” se vrylating begin skryf het om te help dat Onverwacht se mense hulle grond kan terugkry.

“Moeilikheid hier is dat ons nie saamstaan nie,” sug Oupa Jan en leuen swaarder op sy kierie, bene oormekaar gekruis by die knieë.

Nou moet ons eers “ry slaan” vir middagete. Boerekos, met klapperpoeding en vla vir nagereg. Dan gaan ry ons straataf met die donkiekar om te sien hoe lyk die oorspronklike huisies van Onverwacht.

Daar was net twee basiese huisplanne, en al die oorspronklike huise is daarvolgens gebou met roustene, self gemaak deur die mense hier, van die grond hier.

Plek-plek steek die kaal rooi stene onder die pleister uit. Dis bouvallig ja, maar Patricia wil hê mense moet onthou “dis nie murasies wat hier staan nie, al lyk dit soos murasies. Ons is wie hier staan.”

Aan die einde van die straat lê die plakkerskamp, ‘n groot kopseer vir Onverwacht se eie mense. Die enigste oplossing, meen Patricia, is as Grondsake die mense verwyder en vir hulle nader aan Cullinan grond gee.

Ironies genoeg, vertel die Onverwachters, is dit juis nou boere wat hul afgedankte werkers hier kom aflaai. Hier waar eens ten alle koste ‘n swart kol voorkom moes word. Ander mense kom van die Refilwe-township, naby Cullinan, en daar is ook baie onwettige Mosambiekers. Maar kla help nie.

Skielik is daar ‘n oorverdowende knal. Die donkiekar se band het gebars, gelukkig feitlik reg voor Patricia se huis. Nou’s dit tyd vir tee en koeksisters en ‘n laaste gesels.

Die misdaad bekommer Ouma Theresa. “Nou se dae kan ‘n ou vrou nie eers meer alleen in haar huis veilig wees nie.” Sy onthou ‘n tyd toe dit anders was, toe “oumeneer van Staden” nog die dorp se polisieman was. “Hy’t self vir ons gesê dit was nooit nodig om Onverwacht se kinders in die tronk te sit nie.”

“Ons het lekker geleef uit die boer se huis. As ons gevra het, en hy kon, het hy gehelp. Ons het nie steel geken nie. Vandag se kinders steel, want hulle het nie.”

Dit bekommer haar ook dat die “hoerderigheid” deesdae so erg is.

Maar alles op Onverwacht was darem nie net hartseer nie. Daar is ook konserte en sportdae gehou om geld in te samel om die oorspronklike skool te bou. (‘n Historiese monument, wat ‘n paar jaar gelede sonder die nodige toestemming afgebreek is om plek te maak vir ‘n gemeenskapsentrum. Patricia se hart huil daaroor, want sy wou ‘n museum gemaak het in daai skool.)

Daar’s baie koeke vir troues gebak en gemmerbier – en ietsie sterkers – gebrou. Oupa Jan het self tot laasjaar nog wyn gemaak en was as jong man “lekker dooddronk” van Elison se perskemampoer. Maar hy drink nou al dekades nie meer nie.

“Ons het gedans voor die orgen (Nie spelfout!) en trekklavier en konsertina, lekker boeremusiek gemaak,” lag hy.

Oor drie goed stem die Onverwachters saam: die sowat 500 plakkergesinne moet waai en die grondeise in die dorp moet voortgaan sodat die grond aan hulle regmatige 65 eienaars of oorlewende familie teruggee kan word en daar weer geboer kan word soos van ouds.

“Hierdie is bloedgrond. Ons oupas en pa’s het daarvoor geveg in die oorlog.”

En niemand, nie eers die nuwe regering en sy meelopers, gaan hulle Afrikaans van hulle af wegvat nie. Al beteken dit dat Patricia se kinders en ander wat in Afrikaans wil skoolgaan, soggens vieruur al moet reg wees vir die bus wat hulle na die Afrikaanse skool in Eersterust, Pretoria, neem.

“Ons het hard gewerk om Afrikaans te kry, al is dit teen ons wil vir ons gegee. Maar nou word dit onder ons uitgevat. Ons het nie eers meer sê oor ons eie skool nie. Ons is soos inkommers hier in Onverwacht.”

Oupa Jan het die laaste woord: “Ek is ‘n Afrikaner. Moet ek nou ‘n ander taal gaan leen op my oudag? Dis onmoontlik. Ek sal nie.”

Waar is dit?

Onverwacht resorteer, saam met Rayton, Cullinan, en die Roodeplaat- en Wahlmansthal-gebiede, onder die Nokeng tsa Taemane munisipale raad.

ACDP-raadslid in dié raad, Hennie Prinsloo, is ‘n nasaat van die Hammans, Prinsloos én Malans van die oorspronklike trek, en boer sedert 1983 op die Malan-erfplaas naby Onverwacht.

“My een voorsaat, Jacob Cornelis Malan, was hegte vriende met ‘n kaptein Paledi. Paledi het selfs Malan se lewe gered deur hom te waarsku van ‘n komplot deur ander boere waarin hy in ‘n lokval vermoor sou word. Paledi is opgevolg deur ‘n Piet Uys Mathebe, ‘n kaptein wat vernoem is na kommandant Pieter Lafras Uys, my groot-groot-ouma Prinsloo se derde man.”

Hy beywer hom saam met Patricia-hulle vir die behoud van die gemeenskappe van Elison, Steynberg en Onverwacht, en help ook met die grondeise.

“Ek help omdat ek in ’n posisie is waar ek kan. Dis ’n opdraande stryd as jy wit en Afrikaans is, nog meer as jy swart en Afrikaans is,” verduidelik Hennie sy betrokkenheid.

Hy glo Onverwacht het wel ‘n toekoms. “Ons kry totale ondersteuning van die huidige Nokeng tsa Taemane se uitvoerende burgemeester, Anna Digoro van die ANC. Saam met haar en die die Departement van Grondsake se projekbestuurder, Deon Theron, hoop ons om Onverwacht weer as geskiedkundige juweel van die streek te laat skitter.”

Volgens Hennie beskik die dorpie wel oor basiese infrastruktuur, soos water, elektrisiteit en hoëmas-beligting. “Daar is ook ‘n kliniekdiens twee maal per week. Die laerskool het tans 260 leerders, maar die naaste hoër skool is in Cullinan, ongeveer 15 km hiervandaan. Die NG-kerkie van die 1900’s maak steeds ‘n belangrike deel van die gemeenskapslewe uit.”

Die afgelope paar jaar het ongeveer 200 plakkersgesinne hul intrek in Onverwacht geneem, wat dinge aansienlik bemoeilik vir die sowat 38 oorspronklike gesinne. Meeste inwoners van die dorp is werkloos. Volgens Patricia is die dorp se hoofinkomste tans ouderdomspensioene, maar Hennie glo Onverwachters wat tans noodgedwonge elders werk, sal graag terugkeer as die dorp weer ekonomies aktief is en werksgeleenthede geskep word.

“Ons wil dit doen deur toerisme, en ook deur kommersiële landbou op die omtrent 2000 hektaar wat tans onder grondeise is. Die landbou sal ‘n samewerkingsooreenkoms wees tussen die grondeis-begunstigdes van die area en ‘n privaat boerderybestuurs-maatskappy.”

Gaan kyk self!

Onverwacht se kultuurtoere vind elke Sondag plaas. Dit begin tradisioneel met ‘n kerkdiens in die ou kerkie, waarna daar tee gedrink, donkiekar gery en middagete geëet word. BESPREKINGS NOODSAAKLIK! Skakel vir Patricia Machobani by 076 756 9518.