Internet dating

Februarie 27, 2008 in Sonder kategorie

Het gisteraand (uiteindelik!) die fliek Must Love Dogs op DVD gekyk. Nogal lekker gelag. Herinner my toe aan my skrale een maand op die internet-dating-circuit net na my egskeiding.

Wonder toe of dinge al verander het, en gaan blaai vandag deur ‘n paar van hulle. (Suiwer navorsing natuurlik!)

Helaas, same old, same old. Dit laat nog steeds bietjie my hare rys. Want hoeveel kan mens bylieg of weglaat op sulke internetprofiele? En hoe ver kan jy wegstaan van die kamera? Of hoe moet mens raai wie op die groepfoto is die wie oor wie se profiel jy nuuskierig is?

In die eeu waarin ons leef, wil ons alles mos blitsig doen. En veilig. En wys my ‘n plek waar enkellopendes mense kan ontmoet. Dis nou as jy nie ‘n clubber is nie en nie heelaand teen ‘n kroegtoonbank wil leun nie. Kerke? ‘n Dans in die stadsaal? Die blommesaal by die plaaslike skou? Die hondevertoning by die plaaslike skou?

Ek weet nie, maar ek het eintlik al opgegee. Nie dat ek “desperate & dateless” is nie. Dalk “dateless”, maar genadiglik nog nie desperaat nie. Daarvoor hou my twee kinders en my werk en my tuin en my 7 honde en 3 katte en my pratende papegaai en my kokketiel en my boeke en my vriende en my kerk my te besig. (En eintlik klink ek gevaarlik baie na ‘n oujongnooi… Behalwe, ek brei g’n steek nie, kan nie naaldwerk doen nie en kyk nie TV nie.)

Maar soms, net soms, wil mens een van twee wees. Wat my terugbring by my oorspronklike vraag: waar ontmoet mens mense? En hoe eerlik is die mense op internet-dating sites? En hoe belangrik is voorkoms regtig vir mense? En al seg ons dit is nie so nie, hoeveel van ons kyk verby die uiterlike en stel hoegenaamd belang om die innerlike te ontmoet.

‘n Kollega by Rooi Rose het wel haar droomman op ‘n dating webwerf ontmoet, en is ook al meer as ‘n jaar gelukkig getroud. En ek ken nog twee ander mense wat hul lewensmaats op dieselfde manier ontmoet het en selfs langer saam is.  Dus, alles kan nie rampspoedig wees nie.

Wie van julle weet hoe mense dit doen? “Ander helftes” soek, bedoel ek. Ek praat nou van mense wat nie met die stad se aspirant-psigopaat/gefrustreerde nimfomaan/hoopvolle reeksmoordenaar te doen wil kry nie. As mens egskeidingstatistieke kan glo, is daar waarskynlik meer geskeides as getroudes in ons ou mooi Suid-Afrika, maar WAAR is hulle?? Ek ontmoet seker 9 enkellopende vroue vir elke een single man, en dis wat my vriendinne (jonk en ouer) ook maar vertel. Enkellopende mans vertel weer ander horror stories (horeur, soos een vername tante altyd geseg het): van vrouens wat net iemand soek om die rekeninge te betaal, of die ander pa se kinders groot te maak.

Ek het ‘n lysie in my kop wat ek nie dink te veel gevra is nie, maar soek wil ek nou nie die knaap gaan soek nie. (Die lysie is eenvoudig: mal oor die Here, mal oor my, mal oor my kinders, moet ambisie he. En must love dogs and cats and books and music. En moet niks he teen ‘n papegaai wat soms vloek nie.)

Eintlik hoop ek dat die Here hom persoonlik sal handpick en by my huis aflewer – sonder grappies. Ek ken regtig iemand wat so ontmoet het: sy het haarself uitgesluit uit die huis, en die locksmith (wat is die Afrikaans nou weer?) wat haar versekering toe stuur, is toe DIE EEN. En hulle is dolgelukkig.

Wie het wonderlike stories oor hierdie onderwerp? Ek is nuuskierig!

3 antwoorde op Internet dating

  1. marcy se man is ‘n internet date…nogal al die pad duitsland toe! lekker storie daardie!

  2. hutton het gesê op Februarie 27, 2008

    😉

  3. ongelukkig word dit ook misbruik deur mans wat hul vrouens verneuk en andersom
    🙂

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.