Gaan koop bietjie ons boek!!

Februarie 7, 2008 in Sonder kategorie

Ek het skoon vergeet om die grootste groot nuus van die afgelope twee weke te deel.

Niks kom daarby om niksvermoedend poskantoor toe te ry om ‘n pakkie te gaan afhaal, en dan skielik met ‘n spiksplinternuwe boek in jou hande te staan waarin jou naampie ook verskyn nie.

Ek praat natuurlik van Ware Liefde, saamgestel deur Corlia Fourie. (Ook in Engels, as Romances to Remember). Dis die storie van onvergeetlike ware Suid-Afrikaanse liefdesverhoudings, hetsy hulle opspraakwekkend, ongewoon, hartseer, vrolik of wat ookal is of was.

Ek het twee hoofstukke geskryf: oor die legendariese Drum-uitgewer Jim Bailey en sy vrou Barbara, en ook oor Amy Kleinhans-Curd, ex-mejuffrou SA, en haar Nieu-Seelandse man Leighton Curd.

Daar is heerlike stories in wat mens sommer weer in die liefde laat glo: soos die verhaal van Albie Sachs en Vanessa September, en Jan en Marjorie Wallace (by wie se huis ek as tiener gekuier het sonder om te besef hulle is eintlik legendaries – toe het ek net gedink hulle is weird!)  Daar is bittersoet-liefde, amper onmoontlike liefde, soos die van Ingrid Jonker en Jack Cope, en Madiba en sy Winnie, wat ongelooflik lief was vir mekaar maar hulle huwelik geoffer het vir die politiek waarin hulle geglo het. Daar is inspirerende liefdes, soos die van Desmond en Leah Tutu, en literere liefdes, soos die van N.P. van Wyk Louw en Truida Pohl. En passievolle balletliefde, soos die van Phillip Boyd en Phyllis Spira – hy was ‘n eerstejaarstudent, sy die dosent toe hulle verlief geraak het.

En nog ‘n klomp ander, 27 verhale altesaam.

Dus, as jy in die liefde glo, of weer daarin WIL glo, gaan lees hier.

En as jy by ‘n boekwinkel kom en ons boeke met die groot rooi hart op in ‘n afgelee, donker hoekie sien wegkruip, skuif dit asb sommer na die plek langs die kasregister. (Beskou dit as welsynwerk aan joernalistieke weduwees en wese…)

So lyk die boek se voorblad:

2 antwoorde op Gaan koop bietjie ons boek!!

  1. pilgrim het gesê op Februarie 7, 2008

    Hello daar!
    Mmmmmm, klink lekker interessant. Sal bietjie uitkyk daarvoor as ek weer in ‘n boekwinkel inwals.
    Lekker week verder!

  2. amnell het gesê op Februarie 9, 2008

    Dit lyk na ‘n lekker boek vir die naweek.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.