Ek’s terug! (Oor Steve, ‘n lekker komedie en insulienweerstandigheid.)

Februarie 5, 2008 in Sonder kategorie

 Net toe julle dog ek het vir altyd verdwyn, maak ek my herverskyning. Nes Die Skim…

Was ongelooflik besig met deadlines, en aangesien een van my Nuwejaarsvoornemens was om minder stresvol te lewe, probeer ek so bietjie nader aan my sperdatums beweeg. Al die verskillende teksredakteurs met wie ek werk is natuurlik ONEINDIG verlig – hulle lewens is ook skielik baie minder stresvol…

En wat het nie intussen in ons ou landjie gebeur nie: beurtkrag, Steve Hofmeyr wat moet bontstaan oor sy affair, en moord en doodslag. Dus, niks buitengewoon nie.

Oor beurtkrag is alles wat die moeite werd is seker al kwytgeraak. Maar persoonlik het ek vir die heel eerste keer in my lewe begin wonder oor emigrasie. Ek sal natuurlik nie so verre plek soos Europa of Australie toe laat vat nie, bloot omdat ek te verknog is aan Afrika. Ek sal Namibie toe trek, terug na my geboorteland. En ek is op ‘n stadium van my lewe waar ek maar my opsies oophou. Daarvoor het Eskom skielik gesorg.

Oor Steve?
Ek het hom lank voor hy regtig so fymis was al gereeld bedien in die koffiewinkel (San Fransisco Roastery in die Boulders in Midrand)  waar hy op ‘n stadium daagliks koffie gedrink het. (So in 1995, omtrent). Toe het hy my beindruk met sy onaanstellerigheid. Aangesien ek op daardie stadium ‘n professionele wagteres (waitress) was, het ek hom ook by die pizzaplek gesien waar ek soms saans bestuurder was. Weer was hy nie wintie nie -ongelukkig kan dieselfde nie gese word van ‘n sekere Springbokrugbykaptein wat op daardie stadium ook in Midrand gebly het nie. Hy het gedink as hy gaan sit, sak die son, en het altyd doodseker gemaak die pizzamakers weet presies wie hy is sodat hulle sy bestelling kan bespoedig. (Ai, ai… min het hy geweet ek gaan nog eendag ‘n joernalis word! Come to think of it, min het ek geweet!)

Terug na Steve: hy kon destyds lekker lag vir grappies oor homself, en was ‘n doodgewone ou wat soms sy kinders (buite-egtelik) vir melkskommels gebring het. Dit was voor hy Natasha ontmoet het, en ek moet bieg daar was nie ‘n string vroue aan sy sy nie. Daar was soms ‘n ander man met ‘n bekenderige gesig saam met hom (ek dink een van sy tegniese ouens, of iemand uit die musiekbedryf).

Dus, hy was ‘n doodgewone, aangename mens.

Ook so die kere wat ek later as joernalis met hom ‘n onderhoud gevoer het. Almal was baie interessante onderhoude oor ‘n wye verskeidenheid onderwerpe, want Steve is geseen met ‘n vlymskerp brein! En ‘n mond wat nie bang is om opinies te waag nie! Hy was werklik nog altyd een van die aangenamer celebrities om mee te werk. Ook altyd hoflik, stiptelik (behalwe verlede jaar, met ‘n onderhoud vir Taalgenoot, maar toe kon ek nooit by hom persoonlik uitkom nie, en moes ek gedurig met iemand van sy bestuur praat – frustrerend as mens nie met die ster self kan praat nie… )

Oor sy affair wil ek nie te veel se nie, behalwe dat ons almal menslik is en foute maak. Wat my wel klein bietjie begin irriteer, is die games wat hy hier rondom speel. Die eerbare ding sou gewees het om dit te erken en om verskoning te vra, en loopbaangewys sou die logiese ding gewees het om dan ‘n bietjie laag te vlieg tot die spreekwoordelike stof gaan le. Vandag se koerant is immers more se vis-en-chips-papier… (En vandag se blogs??)

Maar nou is dit eers ontkenning, dan erkenning, dan blaamverskuiwing, gevolg deur dreigery en dan, noodwendig, weer die terugtrekkery-van-dreigemente. En wat my as joernalis natuurlik vies maak, is opmerkings soos dat hierdie hele ding die media se skuld is. Dis nie die MEDIA wat die affair gehad het nie, Steve. Dis ook nie die MEDIA wat die saak begin rapporteer het nie – dis een joernalis. Ek is seker dit was ook nie die MEDIA wat jou oorreed het om jou vrou so kort voor Kersfees (wanneer die meeste tydskrifte verkoop) om verskoning te vra nie – celebrities het immers nog altyd self besluit wat is toelaatbaar in persoonlike onderhoude met hulle, en wat is verboten. Dis ook nie die MEDIA wat die hele ding as “popsterafleiding” beskryf het en toe op Janine se tone getrap het nie. Dis ook nie die MEDIA wat Janine se storie geskryf het nie.

Onthou ook maar hoe goed die media, en baie van ons individuele joernaliste, vir jou deur die jare was. Moet dus nie die MEDIA kruisig nie – ons rapporteer die nuus wat julle ouens gewild maak, doen al die voorblaaie en artikels wat julle in ‘n goeie lig stel (met sommige sterre verdiend, met ander… nou, ja, sal ons dit sag stel en se minder verdiend??) en doen deur die jare al die gratis PR wat celebrities nodig het om celebrities te word. Kortom, die media hou sterre in die kollig – nie net hulle talent nie.

Dus, fight jou fights met die mense wat dit verdien, erken dat jy hierdie keer jou hand oorspel het en uitgevang is, en laat die stof toe om te gaan le. Die mense SAL jou vergewe – daarvoor is jy gewild genoeg – maar net as jy soos ‘n man optree en die games los. Veral die blame-games.

En al het ek al wonderlike Steve-grappies gehoor en gelees die afgelope tyd, wil ek nie in jou en jou gesin se skoene wees nie. Huwelike is ten beste maar baie fragile goeters, en in tye soos hierdie moet dit voel of julle op glas loop. As jou vrou jou nie wegjaag nie, moet jy wys jy is die tweede kans waardig. En moet jy onthou sy moet regtig besonder lief wees vir jou. Sterkte!

Van affairs gepraat:

‘n Skaterlag nuwe Afrikaanse toneelstuk in die Staatsteater

Ek het Saterdagaand ‘n HEERLIKE Afrikaanse toneelstuk gesien: Knypie op die Kant, ‘n Britse stuk (deur Ray Cooney) briljant vertaal deur Pierre van Pletzen. Tobie Cronje en Hannes Muller aka Grotman speel die hoofrolle. Tobie was, met een woord, skitterend! Sy komiese tydsberekening is absoluut onverbeterlik, en hy doen altyd meer as net die woorde. Alles was perfek: van liggaamshouding tot gesigsuitdrukkings.

Mens lag van die gordyne lig op die eerste toneel tot hy sak na die laaste toneel en al die voorafgaande chaos. Soos dit ‘n klug betaam, is hierdie ‘n comedy-of-errors in die ergste graad. Wat nie alles met die arme Daantjie, alias Dr. Jaap de Bruyn, verkeerdloop nie! Eers word hy gevra om te help reel aan ‘n skelm ontmoeting vir sy baas, dan WORD hy ‘n skelm ontmoeting, dan probeer hy die eintlike skelmpies bymekaar uitkry (en later uitmekaar hou) en dan raak dinge net te erg, danksy die Indiese kelner wat nie Afrikaans of Engels behoorlik kan verstaan nie, Mevrou Dominee Papenfuss (kompleet met ‘n tweestuk wat hoog voor opgetrek is oor haar boepmagie en briljlant vertolk deur Lizz Meiring) en die oorspronklike skelmpie se boyfriend wat skielik sy verskyning maak.

Vir almal wat mor dat daar niks in die Afrikaanse teaterbedryf is waar mens nie diep hoef te dink nie, maar net kan ontspan: hier is jou kans! Gaan ondersteun Packed House Productions by die Staatsteater met Knypie op die Kant. Voorlopig tot einde Februarie, maar hopelik tot middel-Maart, as die kaartjies verkoop!

Net een skreeusnaaksie oomblik wat al voor die show plaasgevind het: my een pel en haar man, wat vir sy onthalwe maar naamloos sal moet bly, het saamgegaan. Hy is gewoonlik redelik ernstig, maar begaan toe ‘n gruwelike leesfout wat ons laat skater het. Dalk was dit die font waarin die naam gedruk was, dalk swak lig, dalk ‘n Freudian slip, maar hy het die a in kant vinnig (verkeerdelik) gelees as ‘n o. En hardop gewonder of dit darem nie ‘n bietjie van ‘n riskante naam is vir ‘n toneelstuk nie… En nee, ek gaan dit nie hier skryf nie – gaan figure maar self uit hoekom het ons so gelag…

Op pad terug stop ons vir koffie en iets om te eet by Emperors Palace (al plek op pad terug Alberton toe waar mens na halftwaalf iets kan drink of eet – selfs die Ultra Cities se eetplekke was toe). Toe eers sien ek die maskara-kringe wat letterlik tot amper op my wangbene gelag was…

Maar minder snaaks vir my was die naglewe van ‘n casino. Al was ons net by die restaurantdeel, het daar oral hordes grys mense rondgehang. Grys soos in van gelaat. Of dit is omdat hulle heeltyd daar binne rondhang in die suurstoflose, kunsmatige lug, of grys van verloor, of grys van mistroostigheid en ‘n uitsiglose bestaan, weet ek nie. Maar nie ‘n goeie gesig om laat aand te sien nie. Veral nie die talle klein kindertjies wat kort voor middernag nog rondgehol het nie. Noem my outyds, maar daar is niks verkeerd met ‘n rustige roetine vir kinders nie. Inteendeel.

Goeie nuus op die insulienweerstandigheidsfront
Vir die wat nog kan onthou dat hierdie blog aanvanklik ontstaan het rondom die make-over wat ek saam met twee joernaliste vir Rooi Rose doen: ek het ongelooflike resultate behaal met Antagolin, die middel wat ek gebruik teen my insulienweerstandigheid.

My bloedtelling (vastende insulien) het van 20,6 na 12,7 gedaal in net drie maande, die mees dramatiese vordering nog in die vyf jaar sedert ek met insulienweerstandigheid gediagnoseer is.

Ek het ‘n paar dinge reggedoen, maar al het ek ook dieselfde goed op Glucophage gedoen, kon ek nooit sulke dramatiese resultate kry nie. (Ek kon ongelukkig nie die laaste 2 maande oefen nie, want my enkel-ligamente het nog ‘n paar knoppe in wat die fisio daagliks uitstryk – hou dus maar in gedagte dat hierdie werklik net medikasie en die regte kos was. Dink net hoeveel dramatieser kon die resultate gewees het as ek wel geoefen het!)

Wat het ek reggedoen? Ek het koffie grootliks uitgeskakel (maar ek drink wel soms ‘n koppie lekker filterkoffie of ‘n regte, egte cuppachino met skuim), drink nie meer as twee koppies tee per dag nie, drink baie water (ek mik daagliks vir 2 liter), eet baie groente en proteiene, ook as ek uiteet by Mike’s Kitchen in Alberton, en het my inname van suiker en stysel (verwerk en andersins) na omtrent ‘n derde van my dieet in die verlede verminder. Let wel: ek het dit nie heeltemal uitgeskakel nie, maar stysel vorm nou minder as ‘n kwart van my daaglikse dieet. Ek weet pasta is vinnig en gerieflik, en ‘n toebroodjie ook, maar mens is nie gebou om stysel jou stapelvoedsel te maak nie. 

As ek wel lus is vir stysel, eet ek ‘n gebakte aartappel met botter saam met my vis of vleis en groente of slaai. En Ryvita of ProVita eerder as brood. Ek eet met elke ete ‘n stewige porsie proteien, want dit hou mens se bloedsuiker langer stabiel, wat beteken jou lyf produseer minder insulien. En nie “kunsmatige” proteien nie – the real thing: vleis, vis, hoender, eier, kaas. Joghurt en koue vleis maak mens nie regtig versadig nie. En daarmee saam natuurlik baie groente en slaai, en vrugte ook. Maar te veel vrugte op ‘n slag is ook nie goed vir die insulien nie, onthou maar.

Nog iets wat regtig goed werk, is daardie ou ding van ontbyt soos ‘n koning, middagete soos ‘n gewone mens en aandete soos ‘n bedelaar. Overgezet synde, moenie saans groot etes eet nie, en probeer om glad nie na 5 in die middag stysel te eet nie.

Maar ek het nie nou skielik in ‘n kos-heilige verander nie. As mens so 80% van die tyd alles reg doen, kan jy soms ‘n stukkie koek eet, of poeding, of ‘n sny vars brood met botter (my persoonlike pot lensiesop… Of oor watter soort kos het Esau en sy boetie nou weer ooreengekom om hulle pa te kroek?) Maar in plaas van ‘n hele sjokolade op my eie, vat ek ‘n happie by my kind. Glo my, een handvol Smarties proe in elk geval beter as ‘n hele boksie vol, want jy is nie naar na die tyd van al die suiker nie.

‘n Normale insulientelling is tussen 2 en 11, en ek mik op aanbeveling van my dokter na 7. Wat heel bereikbaar is in die volgende drie maande. En dan, belowe al die eksperts, sal die vet soos, uhm, wel, vet begin wegsmelt. Tot dusver het ek nog net 6 kg verloor, maar heelwat sentimeters. En ek voel gesonder: geen cravings, moegheid of enige van die ander simptome van onstabiele bloedsuikervlakke nie.

Dus, kliek op www.mnilifestyle.co.za vir meer inligting oor ANTAGOLIN, die medikasie wat ek glo my lewe verander. Daar is ook ‘n gratis, baie volgbare en logiese eetplan. Te kry by jou naaste apteek.

Lees intussen darem ook die rooi rose, toe. Daarin skryf my kollegas Teresa en Salome ook oor hulle vordering. Ons volgende foto’s word op 21 Februarie geneem, en verskyn in die Mei-uitgawe.

 

2 antwoorde op Ek’s terug! (Oor Steve, ‘n lekker komedie en insulienweerstandigheid.)

  1. amydem2 het gesê op Februarie 5, 2008

    bly om te sien jy’s weer hier… mens kan sien( lees) jy is professioneel… dit VLOEI so!

    Re Steve: ek dink die ou is angstig en hy panic, en moet iets of iemand blameer. Hy vat bietjie blaam, maar wil te kenne gee dit word aangeblaas deur die MEDIA. Vlieg hoog, val ver.. Ek was nog nooit bang vir vlieg nie, maar wel vir val. Ek kry almal jammer… hele spul.

    DANKIE oor staatsteater-tip.. ek gaan beslis ‘n draai daar maak. Ek is lief vir teater, en veral vir Tobie Cronje. Hy loop net op die verhoog, dan giggel ek al!

    Insulien: kan enige iemand dit sommer net gebruik? Is dit nie Spesifiek vir hoë telling nie?

  2. Hi Ilse welkom terug. Baie interesante blog. Oor Steve, ons moet hom eenvoudig onskuldig verklaar en vir hom bid, dit is al hoe Pappa God met hom sal kan werk. Oor Eskom, ja wat kan ‘n mens sê. Oor die insulienweerstandigheid ek is bly dat dinge beter gaan. Onthou net als met ‘n naam moet voor Jesus se Naam buig.

    Lekker aand vir jou.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.