Die mooie Oos-Vrystaat! En crop circles a la Vrystaat.

Januarie 21, 2008 in Sonder kategorie

Ai, het ek nie die wonderlikste werk op aarde nie??

Ek was die naweek Ficksburg toe vir ‘n storie – het op Rosendal geslaap vir twee aande, en gisteraand op Clarens. En is die Oos-Vrystaat nie mooi nie! Dis grasgroen na goeie reen, en elke nag daar het dit ook gereen. (Min dinge is so sussend soos die geluid van reendruppels op ‘n sinkdak, of hoe?) Maar elke oggend het die son ons weer uit die bed geskyn.

Die saligste van die naweek, behalwe die natuurskoon, was die stilte en die vars lug. Dit het selfs gevoel of ek dieper slaap, want al het ek nie langer geslaap as in die stad nie, was ek soggens meer uitgerus.

Saans het ons met ‘n Maraschino-likeur in die hand ontspan (dis gemaak van die pit van die kersie) en net vir die berge gekyk. Dis nou in Rosendal. Ek het in my pel Schalk Schoombie se knus huisie gebly, en natuurlik is ek opnuut verlief op Rosendal. As dit nie so ver van Johannesburg af was nie, het ek daar gaan woon!

In Clarens het ek in fotograaf Reinier Bronn se huis oornag. Dis ‘n argiteksdroom (hy is self ‘n argitek) en op die rand van ‘n bos – en dit bring die bos as’t ware die huis in. As jy ooit wil lekker bly in Clarens, weg van die gedruis van toeriste, bespreek Forest Edge – ek is vanoggend wakkergemaak deur ‘n gesinnetjie Quaker-eendjies wat kwekwekwek loop en wurmpies soek, en tarentale wat loop en wei. Daar was ook ‘n Piet-my-vrou wat heeltyd vrou gesoek het. Te mooi!

Die pad deur die Vrystaat is ook besonder mooi op die oomblik – sonneblomme, kosmosse en sulke ander geel blomme staan geil. Die mielies is groen, en die riviere vol.

‘n Grappie: naby Reitz het ons op die Vrystaatse weergawe van crop circles afgekom. Crop squares!!! Dit lyk of iemand in daardie spesifieke land baie fun gehad het met ‘n trekker en ‘n dorsmasjien.

Ek post nou-nou ‘n foto of vyf van een van die mooiste dele van die land!

2 antwoorde op Die mooie Oos-Vrystaat! En crop circles a la Vrystaat.

  1. Ek wou net opgewonde raak moun oor daat geen foto is. Sal nou in spanning wag tot hulle gepos is.

  2. AnsK het gesê op Januarie 21, 2008

    Jy het darem ‘n kleurvolle lewe, dame!
    En so ‘n pragtige talent wat jy hier met ons deel.
    Geniet jou skryfkuns…

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.