Lekker lees-dinge!

Desember 3, 2007 in Sonder kategorie

En hier le en skryf ek been-in die lug vir julle!

Was by die arts vir ‘n loer na die voet, en genadiglik is die ligamente nie “deur en deur” geskeur nie(aldus my half-Engelse, half-Duitse GP). Die klein skeurtjie sal met genoeg rus en die lugstut vanself binne die volgende drie na vier weke herstel.

Almal verseker my daar is waarskynlik ‘n rede hoekom ek bietjie rustiger moet wees. Ek self kan net aan twee dink: dat ek kan inhaal op al die boeke wat ek nog wil lees, en dat ek uit die Metropolisie se pad moet bly. Laasgenoemde is glo daarop uit om almal met ‘n agterstallige boete summier te arresteer, al is daar nog vet dispute oor die geldigheid al dan nie van sulke padlangse arrestasies.

Die een groot aspek wat die Metropolisie voortdurend ignoreer is die feit dat hulle moet toon jy het geteken vir ‘n dagvaardiging en dit daarna geignoreer het. ‘n Boete moet ook binne ‘n sekere tyd (ek dink 30 dae) na uitreiking aan die respondent gelewer word vir beswaarmaking. Ek het al boetes gekry vir oortredings wat twee jaar gelede begaan is. Wie kan so ver terug onthou waar jy was en hoekom jy “gejaag” het?

Kom ons praat eerder oor al die agterstallige leeswerk wat ek wil inhaal: daar is ‘n hele klompie nuwe plaaslike boeke wat wag om gelees te word. NB Uitgewers se Op ‘n plaas in Afrika (Helena Gunter), Onsigbaar (die jongste uit Deon Meyer se pen) en  Frats deur oud-joernalis Chris Karsten is beslis op my leeslys vir voor Krismis. En nog een of twee ander.

Wil net eers klaar lees aan ‘n HEERLIKE boek waaroor ek al voorheen hier geskryf het: Around Africa on my bicycle (Riaan Manser, Jonathan Ball Publishers). Dis een van daardie boeke wat mens byna nie wil he moet opraak nie. Jy lees dit suinig, proe-proe, maar jy kan terselfdertyd nie wag om te weet wat volgende gebeur nie. Riaan se trip om Afrika is ‘n openbaring, en behoort verpligte leesstof te wees vir al ons siniese Suid-Afrikaanse siele.

Hy ontdek weer die hart van Afrika – sy mense – en hulle vriendelikheid en vrygewigheid en innerlike goedheid. En hulle vindingrykheid! Die boek is propvol nuttige inligting vir as jy dalk eendag self die plekke wil gaan besoek, maar is ook ideaal vir die rusbank-reisiger wat nie die tyd of die geld (of die beweeglikheid!) het om self deur Afrika te reis nie.

Hy is ‘n positiewe, vrolike ou met ‘n lekker skryfstyl, en mens voel asof jy daar langs hom is op sy wedervaringe. Maar hy is nie naief nie, en toon ook groot insig in dinge soos omgewingsbewaring en politiek.

En hy mag maar trots wees op sy avontuur, want hy het boonop amper met sy lewe betaal toe hy in Liberie deur ‘n klomp jong rebelle aangehou is… En ‘n paar seer seerplekke opgedoen tydens die tog van 36 500 kilometer. Dus, as jy iemand ken wat hou van avontuur, reisverhale of sommer net ‘n lekker ware verhaal, koop dadelik hierdie boek vir sy of haar Kerskous.

Tussendeur het ek so ander lekker boek deurgedraf: Still Life with Chickens deur Catherine Goldhammer (R39 by Fascination Books se uitverkoping).  Dis ‘n pragtige memoir van ‘n geskeide vrou se oor-begin in ‘n huisie-by-die-see. Met ‘n tiener en hoenders! Ses kuikens wat uiteindelik ses volwaardige hoenders word. Dis sommer net mooi geskryf, en enige vrou wat op ‘n dag skielik weer single is en moet oorbegin op haar eie, sal die boek geniet. En sal die rol van die hoenders in hierdie ware verhaal verstaan. Die boek het my weer laat verlang na ‘n plek in die platteland, maar ongelukkig is die werk hier in Gauteng!

Nou ja, hopalong moet nou eers die honde gaan kosgee. Lekker lees!

i

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.