‘n Paar feite – sommige nutteloos…

Desember 1, 2007 in Sonder kategorie

Ek probeer steeds tevergeefs om met krukke geloop te kry. My broer Gerhard seg wysneusig dat hy dink dat ek ook nie kon kruip toe ek klein was nie. Wat heel moontlik die waarheid is, want ek kan glad nie Wiskunde doen nie…
 
Toe gaan krap ek maar bietjie op my rekenaar rond om te kyk waarmee kan ek julle Saterdag opkikker.

Maar eers het ek bietjie by die ongevalle-afdeling gaan rondsit met die 5-jarige wat ‘n enorme allergiese reaksie gekry het na ‘n pizza met sampioene op!! Van sy kop tot sy tone in rooi opgehewe kolle uitgeslaan. Die oumense het van galbulte gepraat. Een baie seer anti-histamien inspuiting en ‘n bietjie kortisoon later was hy weer sy ou energieke self, en nadat ons so ‘n halfuur moes wag dat die dokter kan seker maak al die knoppe en jeukerasies het verdwyn, kon ons huis toe kom.

Hoop dis my laaste avontuur met dokters en hospitale hierdie week…

Maar hier, spesiaal vir julle vermaak, ‘n pennevrug na ‘n speurtog:

In die lig van my mediese ervarings hierdie week, begin ons met ‘n aanhaling van Voltaire:

Die kuns van medisyne is om die pasiënt te amuseer terwyl die natuur hom genees – Voltaire

En dan, ‘n paar ander goed wat jy dalk wou weet, maar te skaam was om te vra 🙂

Hoe om te keer dat iemand se siel deur sy neus ontsnap…Dis nou as jy bygelowig is. Sê eenvoudig “gesondheid” wanneer iemand nies! Dié gebruik kom van oer-bygelowe, toe geglo is dat ‘n mens se siel tydens ‘n nies kan ontsnap, of nog erger, dat bose geeste jou siel kan binnedring terwyl jy nies. Deur iemand te seën (bless you of gesondheid) kan jy voorkom dat die duiwel sy siel kan opeis. Daar is ook (gelukkig verkeerdelik!) geglo dat die hart ophou klop tydens ‘n nies, en dat ‘n seëning die persoon terugroep na die lewe. Omtrent elke kultuur op aarde het ‘n spesiale “nies-groet” – dit wissel van die Hindus se “Leef goed!” tot die Chinese se “bai su”, wat beteken “mag jy 100 jaar lewe”. Gelukkig weet ons deesdae dat nies ‘n refleksreaksie is, hoofsaaklik weens ‘n verkoue of griep, maar ook weens skerp sonlig of ‘n skerp reuk.

Hoekom modepionier Mary Quant wens sy het eerder stil gebly… “Ons beweeg na blootstelling en liggaamskosmetiek, en skaamhare gaan ‘n mode-beklemtoning word,” het sy in ‘n onderhoud met die Britse koerant The Daily Mirror vertel op 6 Februarie 1969. Sy het bygevoeg dat haar eie skaamhare in die vorm van ‘n hartjie geskeer is. Gelukkig was dit een modegier wat nie posgevat het nie…

Hoekom yswater nie ‘n dieetkuur is nie…Sal jy meer kalorieë verbrand as jy yswater drink? Volgens die webwerf www.howstuffworks.com is die kort antwoord ja. Jou liggaam gebruik wel meer energie (1 kilo-kalorie om 1 g water se temperatuur met 1° C te verhoog), maar let daarop dat dit kilo-kalorieë is. Dus, ‘n duisendste van ‘n kalorie! As jy agt glase koue water per dag drink, sal jy in die omgewing van 17 kalorieë per dag ekstra verbrand. Maar kyk bietjie hoeveel verbrand jy per minuut met ander aktiwiteite, aldus Cari-Corbett Owen van Mind over Fatter: fietsry 5, dans 5-7, 2 as jy bossies uittrek in jou tuin, en tussen 5 en 7 as jy spit, plant en buk. ‘n Stadige stappie verbrand 2-3 per minuut, terwyl jy tussen 5 en 7 kalorieë per minuut kan verbrand as jy vinnig of bult-op stap.

Hoekom jy gerus meer kan lag: ‘n Voorskoolse kleuter lag tot 300 keer per dag, teenoor ‘n volwassene se skrale 17 keer per. Maar medici beveel aan dat ons meer lag. Lag verhoog die liggaam se natuurlike soldaatselle, wat virusse en gewasse aanval. Gamma-interferon (‘n proteïen wat siektes beveg), endorfien (die brein se eie pynstiller wat net so kragtig soos morfien werk), T-selle (wat ons immuunstelsel versterk) en B-selle (wat teenliggaampies vervaardig om siektes en infeksies mee te beveg) vermeerder ook tydens ‘n goeie lagbui. Jou bloeddruk verlaag en die suurstofvloei na jou bloed vermeerder, wat jou risiko vir beroertes en hartsiektes verlaag.

Hoekom jy een bakkie hawermout per dag móét eet: Dit stabiliseer bloedsuikervlakke (wat dit ideaal maak vir diabete) en help om cholesterolvlakke te verlaag. Dit verlig ook hardlywigheid, en is ryk aan vitamien B-kompleks (wat stres help verminder) en is ook ryk aan vitamien E en die minerale kalsium, magnesium, potassium en silikoon. Volgens Sally-Ann Creed, Kaapse voedingskundige, voorkom dit ook die vorming van galstene, verlig en voorkom dit kolonsiektes en kan dit bydra tot gewigsverlies. Boonop bevat dit ‘n hoë kwaliteit proteïen.

Hoe om verspot maklik reguit na ‘n vreemde adres te ry: Kliek eenvoudig op www.shellgeostar.co.za, registreer gratis, en tik jou jou bestemming se adres in vir ‘n e-kaart (wat jy ook kan e-pos na vriende). Die oulike webwerf gee jou selfs die kortste (maar dalk stadiger roete) én die vinnigste roete om te ry om veilig daar te kom!

(Bronne: www.arthritis.about.com, www.howstuffworks.com, Let Food be Your Medicine deur Sally-Ann Creed, The Natural Health Bible deur Lisha Simester, www.shellgeostar.co.za)

Gegroet! Ek gaan nou bietjie met my been in die lug sit.

1 antwoord op ‘n Paar feite – sommige nutteloos…

  1. Catface het gesê op Desember 1, 2007

    If it is any consolation, I did not crawl either, I walked early, my middle son didn’t crawl either, he slithered on his belly so I took him to a therapist who taught me to teach him to crawl. I was never a genius at mathematics but with a lot of effort could manage, almost. See ja.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.