Jy blaai in die argief vir 2007 November.

Cheeky wat Chippie geword het, mense om te ignoreer, insulienweerstandigheid en oulike mans

November 12, 2007 in Sonder kategorie

Net ‘n regstelling, voorlat daai man wat ek Chippie noem my dalk ook op die Beeld se voorblad teregwys: as ek van Chippie Watson praat, blameer dit op my vinnige vingers (en die kleur van my hare!). Ek bedoel uiteraard Cheeky Watson. Ons bly in so vreemde land, Chippie Shaik kan my dalk ook nog dagvaar vir naamskending, al het ek nie eens van hom gepraat nie!!

Ek sien daar doen ‘n SMS die rondte dat mense Rapport moet boikot oor Deon Maas se uitsprake verlede week oor Satanisme. Slegte nuus, dudes – ons Afrikaners doen mos nie sulke goed nie. As hy een van die ander bevolkingsgroepe se voorvaderlike geloof aangeval het, sou hy dalk sy hare moes swart kleur, lelike(r) klere dra en onder die skuilnaam Koos Nel in Barberton moes gaan woon. Maar my ervaring is dat mens min te vrees het van goed opgevoede, Calvinistiese Afrikaanssprekendes as dit by massa-aksie kom. Tensy iemand natuurlik ‘n song daaroor skryf…

Maar dit beteken nie ons laat net die man begaan nie. Lees gerus my onderhoud met hom in die nuwe Rooi Rose (die een met Mevrou Minki op) – die wat nog getwyfel het oor waar hy homself t.o.v. geloof plaas, sal na die lees daarvan presies weet!

Persoonlik lees ek lankal in hierdie land baie selektief. As iemand my irriteer, lees ek eenvoudig nie sy gegorrel nie, en Maas se geskrifte is nie al waarby ek meestal verbyblaai nie. Die ander askies-lat-ek-wit-is-en-dat-my-oupagrootjie-vir-apartheid-gestem-het skrywers kry dieselfde behandeling. En die wat my geloof kritiseer, natuurlik.

Is vanaand moeg na ‘n intense oefensessie. As al hierdie flippen oefenry my nie minstens soos ‘n loopplankmodel laat lyk nie, vreet ek my personal train… ag, ek bedoel my hoed op! Mens voel soos ‘n million dollar as jy (lewendig en relatief regop) daar uitstap, maar boy, die moegheid bekruip jou suutjies en kom slaat jou so 8 uur saans oor die kop.

Terloops, op die insulienweerstandigheidsfront: lees gerus ook my artikel in vandeesmaand se Rooi Rose oor die verband tussen insulienprobleme en depressie. Hoe dieper ek krap aan hierdie ding wat hulle insulien noem, hoe meer verstom staan ek. Ek sal binnekort links opsit na gesaghebbende artikels wat ons almal dalk kan help om ons pankreas beter te verstaan.

En dit, liewe vriende, is blykbaar die enigste verhouding wat ek kan verwag om binnekort te hê: ‘n gesonde een met my pankreas. Want wys my ‘n oulike man, en hy het ‘n probleem. Of ‘n geheime vrees. Of ‘n Ventertjie vol bagasie.
 
Sug… Op daardie polskouende noot gaan ek nou slaap. Moet weer more 7 uur by Muriel inklok – wat mens nie alles sal aanvang in die hoop dat jy op 38 skielik 25 sal lyk nie.

Gegroet!

Jake White se nuwe boek, onderhoud met Luke Watson en bysteke

November 11, 2007 in Sonder kategorie

 

Net in Suid-Afrika, of hoe? Dis nou as jy Jake White moet glo (en ek is nogal geneig om hom te glo) oor al die inmenging wat in SA Rugby aan die gang is. Die lagwekkendste en mees tragiese is waarskynlik die Luke Watson-episode. (Vir die wat nie Rapport lees nie, gaan lees Lizel Steenkamp se berig by http://www.news24.com/Rapport/Nuus/0,,752-795_2218807,00.html)

Jake is reg dat die storie van die Watsons se prokureur (met ‘n lys eise van die familie Watson wat Jake moes onderteken as hy sy pos wou behou as Springbok-afrigter) aan ‘n Broederbond-insident herinner. Pateties, sad, lagwekkend, ongelooflik… en ek kan aan nog ander woorde ook dink, maar die is ‘n gesinsblog – ;). 

Tydens die hele Luke Watson-debakel het die vraag heeltyd in my agterkop gemaal of dit is wat Luke wou hê, en of dit eintlik pa Chippie se droom was dat Jake White ‘n punt gewys moet word en Luke ‘n Springbokbaadjie moet kry.

Ek het verlede jaar met Luke ‘n onderhoud gedoen vir die tydskrif Manwees, en somehow voel dit nie vir my of hierdie hele klugspul Luke se idee was nie. Ek het toe die indruk gekry dat hy wat Luke is heel bereid was om sy plek oop te speel. En, let’s face it, hy het laasjaar kookwater rugby gespeel – dis wel jammer dat Jake hom toe nie maar ingesluit het op meriete nie. Dan kon hy bloot vanjaar gesê het Luke is nie op standaard nie (want daar was beslis ‘n klomp beter spelers as hy).

Wat my eintlik bekommer, is al die inmengery in sport. ‘n Groot klomp magic het klaar verlore gegaan toe sport so gekommersialiseer is, en ons kan werklik doen sonder die verpolitisering daarvan. Die klomp besluitnemers in die ivoortoring besef waarskynlik ook nie dat hul inmengery heeltemal NIKS vir die ontwikkeling van sport beteken nie. Soos Jake tereg opmerk: Waylon Murray, ‘n gekleurde speler, se Springbokdebuut is heeltemal oorskadu deur die hele ding rondom Luke se gedwonge insluiting in die span. Sou ‘n gepaste bohaai oor Murray se insluiting (op meriete) nie meer vir rugby beteken het nie??

Interessantheidshalwe, hier is my onderhoud met Luke wat in Manwees was:

As daar een ou is wat ‘n Springboktrui gebasseer op gewildheid kan kry, is dit Luke Watson. Ilse Salzwedel het probeer uitvind wie die man is wat vriend en vyand se stem kry elke keer as Jake White hom (aspris) miskyk.

Legendariese Luke

As Jake White weet wat is goed vir hom, sal hy sy geite laat staan en vir Luke Watson kies vir die Springbokspan. Want kyk mens na die koerante se briewekolomme en luister jy na die sportkommentators, is die hele SA verenig, net soos in 1995. Met een verskil: vriend en Stormers-vyand is hierdie keer bankvas agter een man – Luke Watson.

Oor hoekom Jake hom nie wil kies nie, is die 23-jarige Luke baie diplomaties. “Volgende vraag? Dis ‘n saak wat al so baie bespreek is dat ek al bietjie naar voel. Ek geniet in elk geval die onderhoud te veel om ‘n demper daarop te plaas. Maar dankie.”

En dis dit. Nie ‘n woord oor die gissinge dat Jake se fight eintlik dalk met Luke se pa Cheeky is nie. (Dié het in 2003 tydens ‘n TV-uitsending gesê Jake laat sy bloed kook.) Of dat dit dalk is omdat Luke Jake se 2003-uitnodiging na die SA 0.21-oefenkamp geweier het.

As Jake se probleem eintlik met Cheeky is, lees ek in ‘n Sondagkoerant-onderhoud met Luke, dan’s dit ook maar reg met hom wat Luke is. Want op sy pa is Luke onbeskaamd trots. Dis nie enige iemand wat kan sê sy pa het ‘n Springbokbaadjie geweier omdat hy gekant was teen apartheid nie.

“My pa is ‘n ongelooflike man – hy was my rolmodel, maar eintlik meer. Hy was my held. Hy was ‘n visionary in ‘n tyd toe dit nie maklik kon gewees het om een te wees nie.”

Cheeky Watson het inderdaad groot roeringe op die sport- en politieke waters van die 1970’s veroorsaak. Behalwe dat hy nie ‘n apartheid-Springbok wou wees nie, het hy boonop swart klubrugby gaan afrig en vir Springrose, ‘n swart klub in die New Brighton-township by Port Elizabeth gaan speel. Hy (en sy gesin) moes die prys betaal vir dit waarin hy geglo het. Dis moeilik om vandag te dink dat sy beginsels selfs tyd in aanhouding en nagtelike intimidasie deur die veiligheidspolisie beteken het.

“My pa het rugby gebruik as instrument om te veg vir dit waarin hy geglo het: ‘n demokratiese en vrye Suid-Afrika. Deur rugby te speel het hy vir mense in ‘n andersins hopelose segment van ons bevolking hoop gebring.”

En Luke glo nie dat Cheeky daardeur net swart mense bereik het nie. “Sy bereidheid om sy eie droom op te gee om te veg vir die vryheid wat ons nou in sport kan hê, het ‘n hele nasie geraak.

Sy pa, beduie Luke trots, het beginsels. Karakter. En hope integriteit. “Hy het ‘n groot rol gespeel om van my te maak wat ek vandag is. Ek hoop ek kan eendag net so ‘n man soos hy wees.”

En dit wil klink of hy goed op pad is. Want as hy nie rugby speel nie, is hy motiveringsspreker. Gratis en verniet. Omdat hy glo dat hy met sy talent ‘n verskil kán maak in die wêreld. Met sy talent én met sy Christenskap – sy talente kom immers van God af.

Wat dryf hom? “’n Delikate kombinasie van liefde en haat. Ek is lief vir rugby, lief vir WP, lief vir SA. Ek haat dit om nie ‘ n verskil te maak nie. Ek haat dit om nie ten alle tye my beste te kan gee nie. Ek haat dit om nie my volle potensiaal te kan verwesenlik nie.”

Maar eintlik is alles veel eenvoudiger. “Ek is mal oor die lewe, en ek wil elke sekonde ten volle leef. Ek’s gewoonlik ‘n baie vrolike mens, en nie baie dinge kry my onder nie. Ek vrek oor mense en wil hulle graag almal gelukkig sien.” Hy’s ook ‘n gesinsmens, en woon steeds onder Ma en Pa Watson se dak saam met kleinsus Candy.

Dis juis sy passie vir SA en vir die Stormers wat maak dat hy dit nie eers oorweeg om landuit te gaan rugby speel nie. “Natuurlik is daar baie goeie aanbiedinge. Maar ek wil ook ‘n visionary wees wat ‘n verskil maak in hierdie land, in hierdie nasie.”

Ek pols verder: “Wat’s fout met die Springbokke?”

Maar Luke Watson laat hom nie uitlok nie.

“Niks. Dis ‘n jong en talentvolle span met van die beste spelers in die wêreld. Ek sê ons moet die spelers ondersteun sodat hulle die wêreld kan gaan wys dat hulle die beste is. Vertroue, geloof in jouself en genot – dis mos ‘n wenkombinasie.”

En wat van die feit dat rugby besig is om so ‘n politieke speletjie te word?

“Dit was nog altyd ‘n politieke voertuig, en en sal seker maar altyd een wees. Ek hou van die feit dat Suid-Afrikaners so passievol is oor rugby. Die politiek kom maar saam met daardie passie.”

Vanwaar die lewenswysheid, wonder ek? Dalk die feit dat hy, in sy eie woorde, maar “effens abstrak” grootgemaak is?

“Ek is nie geïnspireer deur gewone mense nie, maar eerder deur mense wat hul talente en suksesse gebruik het om die wêreld om hulle ‘n beter plek te maak. Ek hou daarvan om te leer van mense se moeilikhede en hoe hulle daarop reageer.”

Hoe gaan ons SA-rugby weer op die dieselfde vlak as in 1995 kry?
Eerstens met geduld, antwoord hy. “Ons gaan deur ‘n stadium van groei en ontwikkeling. Ons moet geduldig wees en die spelers toelaat om ‘n kern van jong talent te ontwikkel wat ons vorentoe sal kan dra. Dit gaan oor ‘n positiewe houding en oor ‘n visie.”

Die woord visionary duik vir die derde keer tydens die onderhoud op. “Ons moet visionaries so plaas in SA rugby dat daar strukture kan ontstaan waarbinne groei en ontwikkeling kan plaasvind om ons na ‘n nuwe era in rugby te lei.”

Eintlik, meen hy, is die hele probleem met rugby (en die wêreld) verkeerde denkwyses. As ons net anders kan dink, kan besef dat elkeen van ons die wêreld kan verander.

Sy motto is nie verniet “touch lives and change the world” nie. “As elkeen van ons net een persoon help, op enige manier, kan die wêreld voor ons oë verander.”

Luke se gunstelinge
Kos: seekos en pizza
Fliek: Legends of the fall
Boek: Slaying the Dragon, die outobiografie van die Olimpiese atleet Michael Johnson.
Drankie: Sjokolade melkskommel
Vakansiebestemming: Enige stil of eksotiese plek
Kuierplek: Wasabi in Constantia en Nino’s in Newlands

Terloops, ek weet nie van julle nie, maar ek skuld Jake White ‘n verskoning. Wie sou ‘n paar jaar gelede kon dink hierdie onbekende faktor sou die Webb Ellis kon terugbring? Ek het in 1995 vir Kitsch Christie ontmoet (toe ek nog ‘n waitress was) – en daar was iets spesiaals aan daardie man, iets wat ‘n span so kon saamsnoer dat hulle ‘n land verenig. Jake moet beslis van dieselfde kwaliteite hê om die prestasie te kon herhaal met ‘n feitlik nuwe span.

Jake se boek is op 15 November eers amptelik op die rakke. Maar vir ingeval die boekwinkel in jou dorp dit nog nie weet nie, laat hulle dit bestel. Die titel is In Black and White – the Jake White Story, deur Craig Ray en Jake White. 256 bladsye, uitgegee deur Struik. (Meer inligting by www.struik.co.za

Nou dat ek my eerste en enigste rugby kommentaar vir die jaar geskryf het, is ek skoon uitgeput. Nie dat ek na die naweek behoort te wees nie. Het baie gerus en min gewerk. Die hoogtepunt van die naweek was omtrent dat my 5-jarige Luc deur ‘n by gesteek is of, in sy woorde, “vir die eerste keer met ‘n by gesteek is”. En toe ‘n hewige vertraagde allergiese reaksie opgedoen, al het ek hom bietjie antihistamien en pynstroop gegee voor hy gaan slaap het.

Dit het Vrydagmiddag gebeur, en teen middernag het hy begin kreun en steun in sy slaap en toe kom die koors. Teen halfvier die oggend, omtrent presies 12 ure na die steek, het hy opgegooi, en die koors het aangehou tot gisteraand. Die klier onder die arm van die hand waarop hy gesteek is, is ook groot opgeswel en baie seer. Die arm self is ook seer (hy is op die punt van die middelvinger gesteek).

Nou wonder ek maar net oor die gerugte ‘n jaar of twee terug dat ons bye baie giftiger is weens inteling met Australiese by-soorte. Niemand in my familie is allergies vir bysteke nie, dus kon ek aanvanklik nie eers die kloutjie by die oor kry oor sy middernagtelike siekte nie. Dus, wees maar versigtig as julle kinders of troeteldiere het.

Dis einste Luc wat een ander nag vir my die million dollar-vraag gevra het toe hy steunend en huilend oor die toilet hang: “Hoekom moet mens altyd in die nag siek word?”

Ek het weer gisteroggend daaraan gedink toe ek die son sien opkom met ‘n siek kind langs my in die bed…

Greetings!

Emigrasie, grappies en dieet-verskonings

November 10, 2007 in Sonder kategorie

Emigrasie was nog altyd vir my ‘n vreemde, veraf konsep. Iets wat ek nog nie aan eie lyf gevoel het nie. Ek weet die meeste van julle het waarskynlik mense wat permanent in die buiteland woon, maar ek nie regtig nie. So twee of drie vriendinne wat daar woon omdat hulle met buitelanders getroud is, en ‘n susterskind wat haar jaar in Londen gaan werk het en besig is om vir haarself nogal naam te maak as ‘n mode-fotograaf. Maar nog niemand wat hul tassies gepak en Suid-Afrika amptelik en vir ewig gegroet het nie.

Maar vandag het emigrasie en die gevolge van regstellende aksie en  misdaad skielik aan my eie deur kom klop toe ek my kind se terapeut van die afgelope drie jaar moes gaan groet.

Dis vir my ‘n vreemde gedagte om te dink dat ek en Elise van nou af net ‘n kubervriendskap sal hê, dat ek selde haar stem sal hoor en haar waarskynlik so een maal elke twee jaar in lewende lywe sal sien. Indien ooit. Ons almal weet hoe baie mense is op elke expat wat kom kuier se kuierlysie, en hoe min is hulle tyd.

Ek kan net dink hoe voel mens as jy jou huis moet oppak, jou potplante moet weggee, en ergste van alles, vir jou geliefde troeteldiere ‘n ander huis moet soek. Dis mos soos om jou kinders weg te gee! (Terloops, Elise soek huis vir haar 7-jarige Labrador en 4-jarige Jack Russel. Cute honde, baie gehoorsaam en mal oor kinders. Die mense waarheen hulle sou gaan het vandeesweek kop uitgetrek, en sy wil die twee nie laat uitsit nie. Sal oor die naweek ‘n foto plaas as iemand dalk belangstel. As jy die honde vat, gee sy ses maande se hondekos saam!)

Toe ek en die kids terugry na ons laaste kuier saam, raak ek regtig sommer van vooraf vies vir die rigting waarin ons land beweeg. Oor die duisende mense wat al moes loop omdat hulle vooruitsigte op werk hier byna nul is – en nie omdat hulle dom of ongekwalifiseerd is nie, maar omdat hulle nie die kleur-van-die-oomblik is nie. Ons land verloor ‘n briljante sielkundige met ‘n besondere aanvoeling vir kinders omdat haar ingenieursman die afgelope paar jaar nie ‘n werk in sy rigting kon kry nie. En omdat misdaad en wetteloosheid al te na aan hulle eie lywe gekom het.

Kom ons hoop die regering se beoogde superstruktuur teen misdaad (lees meer by http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2218552,00.html) kan die vrede in ons land herskep. Dan moet die hele kwessie van regstellende aksie nog net getakel word, en ons moet herbesin oor die beoogde wetgewing oor lyfstraf, en ons moet kyk na die kwessie van misdadigers se regte wat gestel word bo die van hulle slagoffers, en ons moet stem oor doodstraf, en korrupsie uitroei, en gesondheidsdienste op standaard kry, en aandag gee aan die onderwysstelsel, en ‘n morele herlewing in Suid-Afrika begin, en begin bid vir die land… en dan sal die Nuwe Suid-Afrika werklik ‘n jolly lekker plek wees. 

Aan Elise en Henk Olivier en hulle kinders: sterkte in Oz. Elise, mag jy vir hulle kinders so baie beteken soos wat jy vir my Zoe beteken het, en Henk, mag jy weer die werk doen waarvan jy hou. En mag julle lewe soos wat ons almal eenmaal lank, lank gelede geleef het: sonder om heeldag deur jou palisade-heining en jou veiligheidshek te loer. Ons drie Salzwedels sal julle mis!

Die grappies vir die naweek het ‘n gesondheidstema, het vroeër per e-pos hier by my aangewaai gekom. (Om my been te trek oor my make-over, natuurlik!) Ek paste dit hier in:

Q: I’ve heard that cardiovascular exercise can prolong life; is this true?

A: Your heart is only good for so many beats, and that’s it… don’t waste them on exercise. Everything wears out eventually. Speeding up your heart will not make you live longer; that’s like saying you can extend the life of your car by driving it faster. Want to live longer? Take a nap.

Q: Should I cut down on meat and eat more fruits and vegetables?

A: You must grasp logistical efficiencies. What does a Goat eat? Hay and corn. And what are these? Vegetables. So a steak is nothing more than an efficient mechanism of delivering vegetables to your system. Need grain? Eat chicken. Mutton is also a good source of field grass (green leafy vegetable). And a pork chop can give you 100% of your recommended daily allowance of vegetable products.

Q: Should I reduce my alcohol intake?

A: No, not at all. Wine is made from fruit. Brandy is distilled wine, that means they take the water out of the fruity bit so you get even more of the goodness that way . Beer is also made out of grain. Bottoms up!

Q: How can I calculate my body/fat ratio?

A: Well, if you have a body and you have fat, your ratio is one to one. If you have two bodies, your ratio is two to one, etc.

Q: What are some of the advantages of participating in a regular exercise program?

A: Can’t think of a single one, sorry. My philosophy is: No Pain…Good !

Q: Aren’t fried foods bad for you?

A: YOU’RE NOT LISTENING!!! Foods are fried these days in vegetable oil. In fact, they’re permeated in it. How could getting more vegetables be bad for you?

Q: Will sit-ups help prevent me from getting a little soft around the middle?

A : Definitely not! When you exercise a muscle, it gets bigger. You should only be doing sit-ups if you want a bigger stomach.

Q: Is chocolate bad for me?

A: Are you crazy? HELLO . Cocoa beans! Another vegetable!!! It’s the best feel-good food around!

Q: Is swimming good for your figure?

A: If swimming is good for your figure, explain whales to me.

Q: Is getting in-shape important for my lifestyle?

A: Hey! ‘Round’ is a shape!
 
As dit maar so maklik was! Het gister by Muriel geoefen dat ek hik, maar dis lekker om te voel mens word fikser en jy kan al hoe langer uithou. Sy weet hoe om mens sielkundig te inspireer om nog ‘n bietjie harder te probeer, en varieer elke oefensessie se roetine. Dus, never a dull moment (en partykeer nie ‘n spier wat nie pyn nie!)

Die make-over ding het begin vertak in ander opwindende rigtings. Al ooit die verskoning gebruik dat jy nie kan gesond eet nie omdat jy dikwels moet uiteet vir jou werk? Of dat jy nie kan uiteet nie, want jy is op ‘n dieet?

Watch this space – hulp is op pad, en oor ‘n paar maande sal nie een van die twee verskonings meer geldig wees nie.

Nou ja, geniet die naweek!

 

Hoekom ons nie van Zim mag vergeet nie, die Rooi Rose-makeover, insulienweerstandigheid en merkwaardige mense

November 8, 2007 in Sonder kategorie

Net vir ingeval julle gedink het ek het van die rand van die aarde afgetiep… no such luck! Hier’s ek nog steeds. Het net twee rowwe dae agter die rug.

Was gisteraand by Kevin Woods se boekbekendstelling, en was verstom. Daar’s iets aan Zimbawiers en ex-Rhodesiers (die naam wat baie nog verkies). Dit was die grootste boekbekendstelling wat ek nog ooit by was – die hele ouditorium by die Military Museum in Parktown was vol. Ek skat digby 200 mense, wit en swart, van die uitgeweke Roy Bennet tot oud-ZANU en ZIPRA soldate. En ‘n joernalis van die Washington Times (het sy naam vergeet, maar ‘n top-ou wat al oor al die hotspots in die wereld verslag gedoen het). Almal spesiaal daar om Kevin se hand te kom skud.

(Net ‘n aside, soos die Engelse seg: ek is ‘n gebore Suidwester/Namibier. En vir een of ander bisarre rede voel mens anders, tuiser, tussen jou landgenote. Seker maar dieselfde as wat al die expats voel.

Aside nommer 2: Skies vir die gebrek aan kappies en deeltekens en goete, ek het ‘n Japsnese rekenaar of iets hier beet!)

Woods se praatjie was inspirerend, en hy het ‘n paar baie sinvolle dinge gese in reaksie op vrae uit die gehoor. Die een is dat Thabo Mbeki se beleid van stille diplomasie omtrent die enigste beleid is wat enige land teenoor Zim kan volg, want Mugabe steur hom in elk geval glad nie aan die buitewereld nie en sal geen besluite op hom laat afdwing nie.

En ook dat dinge nie oornag gaan regkom as ou Bob skielik die emmer skop nie – daar sal ‘n hele herstelprogram vir Zim moet wees. Interessante vergelyking wat later die aand in ‘n kleiner groepie op die tafel gesit is: gaan kyk na Ian Smith se eenvoudige leefwyse. In sy tyd was Rhodesie die derde vinnigste groeiende ekonomie in die land, maar hy draai die pennies om op sy oudag (pensioene uit Zim is lankal iets van die verlede, onthou).

Bob het Zim gekry op ‘n high, en leef soos ‘n koning terwyl die land en die mense krepeer. Letterlik sterf van honger, mense. Net in Afrika… (Dis dieselfde kontinent waar hulle die wereldbekerwennende rugbycoach afdank onmiddelik na sy terugkeer uit Parys, onthou…)

Ek was in Maart in Zim vir werk, en die mense is verby keelvol. Hulle kry swaar. Byvoorbeeld: jou salaris by die groot hotelle in Victoria Falls (die enigste deel van Zim wat nog redelik normaal sake doen), word eers op die oggend van betaaldag bepaal n.a.v. die inflasiekoers! Kan jy jou die onsekerheid voorstel? En dan weet jy in elk geval nie of daar enige kos op die rakke gaan wees om te koop nie!

Besighede soos die hotelle daar wat in forex werk, moet ook ‘n groot persentasie (iets skrikwekkends soos 30%, as ek reg onthou) van hulle inkomste aan die regering afstaan.

Kevin se 304 bladsye hardebandboek (slegs een druk gaan hardeband wees, die res sagteband) is regtig baie mooi gedoen. En bied ook fassinerende visuele kykstof. Alles van die sketse wat hy in die tronk gedoen het, tot foto’s van dinge wat in Zim gebeur het.

Merkwaardige mense:
Het ook baie van die Suid-Afrikaners ontmoet wat Kevin die laaste 17 jaar in die tronk lewendig gehou het. Tannie Maria van Pretoria is amper 80 (maar lyk 70 en is hups verby!), en het 14 jaar gelede in ‘n ou tydskrif ‘n briefie van Kevin gelees waarin hy vra mense moet asseblief nie van hom in die tronk vergeet nie. Sy het dadelik begin skryf en pakkies stuur, 14 jaar lank. En gelobby vir sy vrylating by politici, en regtig gesorg dat mense in gesagsposisies wat hom dalk kan help van hom onthou. Toe ek haar vra hoekom sy dit gedoen het, was haar antwoord eenvoudig: “Want ek het ‘n seun so oud soos hy, en wat as dit my seun was en niemand onthou hom nie?”

So ook Phillip Albertyn, ‘n lektor in toerisme aan die Wes-Rand. Phillip is my ouderdom (38) en het omtrent 10 jaar terug ‘n brief van een van Kevin se mede-gevangenes (Reon Schutte, so drie jaar terug vrygelaat) gelees waarin hy vertel hoe hulle die bos en die buite-wereld mis.

Ewentwel, Phillip het ook pakkies gestuur, gelobby en selfs ‘n paar keer Zim toe gegaan om die manne in Chikurubi te gaan besoek en bemoedig.

Fantastiese voorbeelde van medemenslikheid, veral in die tye waarin ons op elke straathoek met ellende en wanhoop gekonfronteer word. As Phillip en tannie Maria dit vir mense so ver en onbekend aan hulle kon doen, watter verskil kan ons net nie maak in die lewe van mense wat ons daagliks sien nie!

‘n Kersgeskenk met ‘n verskil:
‘n Wenk vir al die sakemanne en korporatiewe dudes: moenie hierdie jaar geld mors met nice geskenke vir jou fans en kliente nie. Baie van hulle gee dit weg/gooi dit weg/pak dit weg in ‘n kas. Of drink dit op en maak ‘n ongeluk op pad huis toe.

Hoekom maak jy nie namens hulle ‘n skenking aan ‘n welsynsorganisasie van jou keuse nie? As jy sukkel om te kies, gaan kies een op www.MakeChristmasMatter.co.za. Dis GreaterGood SA, ‘n sambreelorganisasie vir honderde geregistreerde liefdadigheidsorganisasies landswyd, se veldtog om hierdie Kersfees ‘n glimlag op die gesigte van sommige van die duisende behoeftiges van Suid-Afrika se gesigte te sit. Dus, of jy nou ‘n hart vir diere, oumense, babas of mishandelde vroue het, daar sal ‘n plek wees waar jy iets kan skenk en ‘n onvergeetlike verskil kan maak. Dink maar net daaraan dat baie mense in ons land nooit vleis eet nie – en op Kersdag kreun ons tafels onder heerlike kos en vier soorte vleis.

Ek glo nie in baie cliches nie, maar een is waar: dis lekkerder om te gee as om te ontvang. Maar dit sal jy eers verstaan as jy die vreugde op bejaardes en kinders se gesigte sien oor ‘n paar eenvoudige Kersgeskenke, ‘n sakkie lekkergoed en lekker Kerskos. (Ek is betrokke by Ebenhaezer, ‘n skuiling vir weggooi-bejaardes – jip, reg gelees! – en weeskinders. Meer oor hulle ‘n ander keer.)

Hou die spasie dop – charity en behoeftiges le my baie na aan die hart. Ek sal gereeld wenke oor behoeftes deurgee.

Rooi Rose make-over: hoekom jy jou insulienweerstandigheid MOET takel
Op die persoonlike front: die make-over vir Rooi Rose kry lekker momentum – ek geniet die gym, en die Antagolin begin werk (ek voel BAIE meer energiek en kry ook geen cravings nie, alles omdat my bloedsuikervlakke meer stabiel gehou word deurdat Antagolin die insulienvlakke verlaag).

En die kilogramme (vier in drie weke) begin vanself verdwyn nadat ek vir drie jaar vergeefs op Glucophage was sonder dat dit ‘n noemenswaardige verskil gemaak het. Ander mense wat sukkel met insulienweerstandigheid sal vir julle kan vertel dat die vet aan ons klou soos daai ronde hakiesdorings aan ‘n wolkombers. (En julle het almal gedog ek gaan iets leliks kwytraak…)

Vir ‘n prettige kyk in my kop oor mense se persepsies oor vet (wat ‘n tyd gelede in Beeld verskyn het en nogal die waters op hulle webwerf geroer het), kliek op http://www.news24.com/Beeld/Vroue/0,,3-1841_2191881,00.html.

Jip, daar is allerhande crashdiets en fads waarop mense 3 kg binne drie minute kan verloor (as jy die advertensies glo) maar ek wil hierdie ‘n permanente lewensstylverandering maak, want insulienweerstandigheid kan lei tot diabetes, hartsiektes, beroertes en selfs kanker (die ekstra vet voed sekere kankers, soos borskanker, omdat dit estrogeenvlakke belemmer).

Daar is selfs ‘n verband tussen depressie en insulienweerstandigheid. (Lees meer daaroor in my artikel in die Desember-uitgawe van Rooi Rose, volgende week op die rakke).

Ek volg geen radikale dieet nie – mens kan tog nie melktert en pizza vir die volgende veertig jaar afsweer nie! – maar eet gesond en matig, drink minstens 2 liter water ‘n dag en vermy graan (het agtergekom dit dra baie by tot my sinus, iets waarmee alle Gautengers in elk geval mos maar sukkel). 

‘n Laaste wenk oor insulienweerstandigheid: vermy koffie. Dit stoot jou insulienvlakke baie op, wat veroorsaak dat jou bloedsuikervlakke maklik val. En sodra jy bewerig en moeg voel (jou bloedsuiker) dan gryp jy maar weer na die volgende soet koppie koffie omdat jy dink die kaffeien gaan jou bietjie opkikker… Bose kringloop. Dus, nie meer as een of twee koppies ‘n dag nie.
 
O ja, ek het wel eenkeer 80 kg verloor – toe ek my man lewendig deur ‘n egskeiding verloor het. (Grappie, wou net kyk of julle nog wakker is!)

Gedagte vir die dag: 

Moet net nie sinies raak nie – dis te maklik! (Ek dink dit was Hennie Aucamp wat dit iewers geskryf het. Het pas my laaste breinsel vir die dag afgeskakel.)

Greetings!

Lekker boeke (vir Madmom, alle ma’s en avontuurlustiges)

November 6, 2007 in Sonder kategorie

Weet nie van julle nie, maar op my bedkassie is daar gewoonlik ‘n hele paar boeke op ‘n slag. En daar is altyd te min tyd vir al die boeke wat ek nog wil lees!

My persoonlike filosofie oor lees sal party mense dalk verstom, maar ek lees om te ontspan, nie om slim te word nie. As ek dalk so in die proses slimmer word, is dit ‘n yslike bonus. Maar ontspanning kom eerste. Ons lewe in moeilike, stresvolle tye, en die laaste ding wat ek wil doen, is om my pad deur ‘n boek te moet wroeg.

Ietsie vir Madmom en al die ander ma’s wat blog en blogs lees, is Sam Cowen (van 94.7 se Rude Awakening Show en e-tv se Great Expectations) se Good Enough Mother.

Skreeusnaaks, pittig, vol deernis… ek kan nie aan genoeg byvoeglike naamwoorde dink vir hierdie lekkerlees boek nie. Dit sou waarskynlik nie soveel aanklank by my gevind het as ek nie ook self ‘n ma was nie. En soos Madmom en ander ma’s sal weet: daar is nooit genoeg tyd nie, daar is altyd nuwe uitdagings en mens wonder maar altyd of jy goed reg doen wanneer jy kinders grootmaak.

Sam se debuut Waiting for Christopher in 2005/2006 was ook baie snaaks, maar tog effe swaarder leesstof. Daarin het sy haar baie moeilike swangerskap beskryf, en verstommend eerlik geskryf oor haar post-natale depressie en gedurige gevoel van ontoereikendheid.

Maar Good Enough Mother is ‘n lekkerlag, lekkerlees boek, en al is daar ook swaarder oomblikke (soos ‘n dreigende miskraam), los dit mens met ‘n lekker gevoel van begin tot einde. En Sam is regtig snaaks – haar comic timing is spot on. 
 
Good Enough Mother laat mens ook weer onthou hoekom jy ‘n ma is (en dit vir niks sal wil verruil nie). Ek haal aan:

“Later that evening, in bed with Scarf Teddy and a miniature combine harvester, Christopher and I say our prayers. ‘So what are we going to thank God for tonight?’ I ask my son.

He doesn’t even pause for thought.

‘ThankyouforeverythingandalltheanimalsintheworldAmen.’

OK. I can’t imagine that God even heard that, but OK. Hopefully the Lord grades us on sentiment over delivery.

‘Right, goodnight then my boy,’ I say leaning over to kiss him.

He snuggles down into his duvet.

‘AND Mummy,’ he says.

‘Yes?’ I ask.

‘And Mummy. Thank you God for Mummy. And milkshakes. Amen.’

Seg ek ook. Amen. Al maak my spruite (5 en 8, of amper 6 en amper 9, volgens hulle) my ook hoe mal, kan ek my nie die ondermaanse sonder hulle voorstel nie.

Dis ‘n Oshun-boek (‘n onderafdeling van Struik), en by CNA en ander boekwinkels. Ek kan nie onthou hoeveel myne gekos het nie, want die boetman by die boekwinkel was nog aan’t uitpak en pryse plak toe ek my kopie opgeraap het. Maar al moet jy ‘n paar cuppachino’s prysgee, koop hierdie boek!

Vir die avontuurlustiges kan ek Riaan Manser se Around Africa on my Bicycle aanbeveel. Dis ‘n meneer van ‘n boek (704 bladsye), en ek het maar pas begin lees, maar Riaan se storie is fassinerend. Hierdie Kapenaar het besluit hy wil nie net eendag in sy houtpak ses voet onder die grond gaan rus nie, maar iets nalaat waaraan mense hom kan onthou.

Ek en jy sou dalk ‘n mooi huis gebou het, of ‘n trustfonds begin het, of dalk ‘n diktator iewers in Afrika tot sy sinne probeer bring het, maar nie Riaan nie. Hy het besluit ‘n trapfietstrip deur Afrika is net die ding, en hy het dit gedoen.

Dit het hom weliswaar ‘n bietjie langer gevat as die jaar wat hy oorspronklik daarvoor uitgemerk het in sy dagboek, maar na 2 jaar, 2 maande en 15 dae kon hy die oggend opstaan en homself op die skouer klop. Daar was 36 500 km en 34 lande agter hom!

Die boek lees lekker – daar’s bloedsweet, bloed, nog bietjie sweet (grappie!), ‘n paar trane, ‘n ramp of drie, BAIE avontuur en baie guts. (Soos in moed, nie soos in ingewande nie.) Dis after all nie enige ou wat kan spog dat hy al gyselaar geneem is deur jong Liberiese rebelle EN leef om die storie te vertel nie… 

As dit nie by jou naaste boekwinkel beskikbaar is nie, vra hulle om dit te bestel van Jonathan Ball Publishers. Teen R175 is dit ook goedkoop genoeg om dit op jou Kerslysie te sit, en die kinders te vra om maar die das/sokkies/vatlappe/badsout te los.

Nou moet ek eers werk vir my brood en botter. Maar eers die Beeld lees en kyk wie het vir wie vermoor…

‘n Grappie of twee, en is Maas die nuwe Afrikaner-segsman?

November 5, 2007 in Sonder kategorie

Eers ‘n grappie om die blougeit uit die Maandag te haal: wat kry jy as jy ‘n vlinder met ‘n koei en ‘n miskruier kruis?

‘n Baie oulike ou dingetjie met mooi boobs wat heeldag rustig loop en &*! soek.

Deon Maas… en apartheid:
Oor na ernstiger sake: ek wonder steeds wie is dood en het Deon Maas tot amptelike segsman vir Afrikaanssprekendes verklaar? Of hou koerante soos Beeld en Rapport maar net daarvan om te stir? Ons is almal geregtig op ons opinie, maar om hom nou so voor te stoot in elke media-spreekbuis laat my net wonder: is dit wat Deon kwytraak werklik wat die deursnee Afrikaanssprekende wil hoor en/of self dink??

En nee, ek praat nie sommer net nie: ek het die man al persoonlik geinterview (lees meer in die Desember-uitgawe van Rooi Rose wat volgende week op die rakke is) en wonder maar net. Hy’s nie ‘n onaangename knaap nie, en het terloops baie mooi maniere. Regtig! My aanval is dus NIE persoonlik nie – each to his own – maar wel oor die dinge wat hy kwytraak. Ek hou veral nie van veralgemenings nie, en daarvan het ek nou al ‘n hele klompie uit Maas se gifpen gelees.

Hy maak onder meer groot gewag daarvan dat die (Afrikaanse)Kerk steeds vasgehaak is by apartheid. Hande op, almal wat in die laaste paar jaar in ‘n kerk gesit het waar die preek oor apartheid gegaan het / waar apartheid verdedig is/ waar anderskleuriges by die deure weggewys is. Nie in my onlangse 15 jaar in die (NG) Kerk nie. 

En in elk geval wonder ek wat nog alles op apartheid geblameer kan en sal word. Daarom dat ek die volgende e-pos so baie geniet het:
Wiskunde vraestelle deur die jare:

* Wiskunde 1980:
‘n Boer verkoop ‘n bakkievrag vol brandhout vir R100 – Sy
produksie-koste is
4/5 van die prys.
Wat is sy profyt?

* Wiskunde 1985:
‘n Boer verkoop ‘n bakkievrag vol brandhout vir R100. Sy uitgawes is
4/5 van die bedrag, of R80.
Wat is sy profyt?

* Wiskunde 1990:
‘n Boer verkoop ‘n bakkievrag vol brandhout vir R100. Sy uitgawes is
R80.
Het hy ‘n profyt gemaak?

* Wiskunde 2000:
‘n Boer verkoop ‘n bakkievrag vol brandhout vir R100. Sy uitgawes is
R80 en sy profyt is R20.
Opdrag: Onderstreep die syfer 20.

* Wiskunde 2006:
‘n Boer kap ‘n pragtige woud af sodat hy ‘n profyt van R20 kan maak.
Voordat hy dit egter kan verkoop, word hy geskiet en sy bakkie
gekaap.
Die kaper verkoop die hout vir R50 en die boer se bakkie vir R800 en
maak dus ‘n wins van slegs R850.
Opdrag: Verduidelik hoekom dit Apartheid se skuld is

Sprokies vir grootmense
Alle grootmense wat nog in fabels en sprokies glo en in Pretoria woon, gaan luister gerus Saterdag die 17e November om 11h00 na bekroonde skrywer Corlia Fourie as sy praat oor haar Stories met Stertjies. Dis nie heeltemal geskik vir jou 3-jarige niggie nie, maar hierdie prettige variasies op bekende sprokiesverhale moet jy dalk op jou eie Kerslysie sit. Die illustrasies sorg vir ‘n ekstra skoot pret. Corlia praat by Protea Boekhuis in Minnistraat 8, Clydesdale (dis glo naby Loftus). As jy sukkel om die plek te kry, bel vir Miemie by 012 343 6279 vir aanwysings. Daar’s wyn ook!

Die foto’s:
Op die persoonlike front: die foto’s is geneem vir die Rooi Rose make-over artikel. Al wat my hoegenaamd goed laat voel daaroor, is dat ek teen die tyd wat dit verskyn (in die Februarie-uitgawe) hopelik BAIE beter sal lyk. Ek kan voel dat die Antagolin my insulienvlakke (en dus ook bloedsuikervlakke) meer stabiel hou, en die gymsessies is eintlik heel genotvol. (Maar moenie vir Muriel vertel nie, want dan maak sy dit moeiliker!) Snaaks hoe oefening mens se goedvoel-hormone vrystel, en jou meer energiek laat voel.

Gedagte vir die dag:
“As my tyd eendag verby is, en ek sterf, wil ek nog regop staan van binne.” Joel Osteen, skrywer van Jou Beste Lewe Nou! verduidelik wat dit beteken om in die geloof te lewe.

 

Oud-spioen Kevin Woods vertel alles in sy nuwe boek

November 4, 2007 in Sonder kategorie

Iets om na uit te sien hierdie komende week, is die oud-spioen Kevin Woods se boek oor sy twee dekades van hel in die berugte Chikurubi-gevangenis in Zimbabwe.

Woods was ‘n vertroueling van Mugabe in die 1980’s, en lid van Mugabe se gevreesde Central Intelligence Organisation. Maar hy was ook ‘n dubbel-agent vir Suid-Afrika, en was male sonder tal in die posisie om Mugabe om die lewe te bring. Hy het ook in opdrag van sy Suid-Afrikaanse hanteerders sekere terreurdade op ANC-teikens in Zimbabwe uitgevoer.

In 1988 is hy uitgevang, en tronk toe gestuur. Skielik het hy hom in ‘n dodelike niemandsland bevind. Die Suid-Afrikaanse regering het gemaak of hulle hom nie ken nie, en Mugabe en sy trawante wou hom teregstel.

The Kevin Woods Story: In the Shadows of Mugabe’s Gallows word eerskomende Woensdag die 7e amptelik vrygestel, maar uit my onderhoud vandeesweek met Kevin is dit duidelik dat hierdie boek ‘n moet-lees is. Nie net om die psige van ou mal Bob te verstaan nie, maar ook om ‘n sekere deel van ons hedendaagse Suid-Afrikaanse geskiedenis beter te verstaan. 

En om te verstaan hoe mens na 18 jaar in ‘n vieslike tronk – vyf jaar daarvan in die dodeselle, en drie van daardie vyf jaar poedelnakend – steeds daar kan uitstap met al jou varkies op hok.(Mense in die dodeselle se klere word van hulle weggeneem om hul moraal te breek en om dit moeiliker te maak om te vlug.)

Vyf keer is daar vir hom vertel om sy goed te pak, want hy gaan vrygelaat word. En vyf keer het dit nie gebeur nie…

Woods is ‘n aangename man sonder fieterjasies. Gelukkig het hy weer liefde gevind en van voor af bande gebou met sy drie kinders. (Die jongste was maar vier toe haar pa tronk toe is, en hy vertel dat dit steeds die prentjie is wat in sy geestesoog opkom as hy aan haar dink, al is sy vandag al 24 jaar oud).

Woodsie, soos sy pel Phillip Albertyn na hom verwys, het ook een groot ander waarheid bevestig, sonder om ‘n woord te uiter: ons Afrika-son maak mens gouer oud as wat nodig is. Sy feitlik plooilose vel na 20 jaar uit die son is ‘n besliste bewys daarvan.

Dus, smeer daai sonroom, en bestel jou kopie van The Kevin Woods Story: In the Shadow of Mugabe’s Gallows by Michelle (082 573 9998) of by Kevin self (084 060 2006). Die hardeband boek kos R265, en word uitgegee deur 30° South Publishers. 

My onderhoud met hom verskyn in die Januarie-uitgawe van Rooi Rose (op die rakke teen middel Desember.) 

Groot uitdagings, ‘n nuwe lewe en interessante mense en dinge

November 4, 2007 in Sonder kategorie

Waaroor gaan hierdie blog?

Eintlik gaan dit nie net gaan oor dit waaroor dit veronderstel is om te gaan nie. Naamlik om ‘n lewensstylverandering wat ek ten aanskoue van ‘n halfmiljoen Rooi Rose lesers moet doen. Darem nie alleen nie – kollegas Teresa Coetzee en Salome Delport is die ander twee lede van die driemanskap wat oor die volgende 9 maande saam met my hulle lywe moet hervorm.

Letterlik.

En om dit te doen, moes ons elkeen spesialis hulp kry vir ons spesifieke gesondheidsprobleem. Ek is blakend gesond, behalwe vir ‘n koppige insulienweerstandigheid wat ten spyte van medikasie die afgelope drie jaar nie wil wyk nie. Maar met die hulp van Antagolin, ‘n insulien-antagonis (wat ookal dit beteken!) wat ontwikkel is deur die Medical Nutritional Institute (ww.mnilifestyle.co.za) het ek drie weke gelede die stryd teen die klouerige insulien begin.

En met die hulp van Muriel Rall, ‘n baie bekwame persoonlike fiksheidsinstrukteur van Alberton, het ek die rolle wat die afgelope jare weens veral die insulienweerstandigheid – en te veel stres en te min oefening en verkeerde eetgewoontes – aangepak het, begin beveg.

Kom lees dus gerus saam wat gebeur as mens jou (onwillige) lyf in ander se hande laat.

Maar dit sal vrek vervelig wees as mens net heeldag daaroor skryf, so kom lees saam oor alles anders wat my daaglikse pad as vryskutjoernalis en ma kruis. Daar is snaakse mense, ernstige kwessies en heerlike ervaringe. En bekkige kleuters.

En kom lees oor die jongste boeke (Afrikaans en Engels) wat op Suid-Afrikaanse boekrakke is, mense om dop te hou, mense wat mens eerder nie in ‘n donker steeg moet raakloop nie, plekke wat jy eenvoudig moet sien, en nog baie meer. 

Let the fun begin!