‘n Uitgesproke vrou, en ‘n inspirerende vrou

November 24, 2007 in Sonder kategorie

Baie van julle het dit waarskynlik al gesien, maar ek het eers vanoggend, danksy ‘n e-pos, die New Yorkse sielkundige Wafa Sultan se passionate uitspraak teen ekstremistiese Moslems en vir meer verdraagsaamheid tussen verskillende kulture gesien. Gaan kyk by

http://switch3.castup.net/cunet/gm.asp?ai=214&ar=1050wmv&ak=nul

Volgens Wikipedia is hierdie snippertjie debat (wat in Februarie 2006 op Al Jazeera gebeeldsend is) binne weke deur meer as 1 miljoen mense geluister op e-posse en weblogs. Time Magazine het Sultan ook aangewys as een van die 100 mees invloedryke mense van 2006. Time se kriteria is mense “whose power, talent or moral example is transforming the world.”[1] The Time Magazine stated that “Sultan’s influence flows from her willingness to express openly critical views on Islamic extremism that are widely shared but rarely aired by other Muslims.”[1 (aldus Wikipedia).

Ek het groot bewondering vir iemand wat die moed van haar (of sy) oortuiging uitleef. In die geval van ‘n Siriese vrou wat haar openlik uitspreek teen haar kultuur en voorvaderlike geloof het ek twee maal soveel respek. Want onthou, in die Moslemgemeenskap tel ‘n vrou niks. En om jou uit te spreek teen Islam, is om moeilikheid te vra.

Dus, wees bly vir ‘n land waar ons vryheid van geloof het, waar die regering nie dikteer hoe ons moet optree teenoor ander gelowe nie, en waar niemand van ons verwag om selfmoordbommers te word nie. Dankie vir ‘n land waar ons nog vir onsself mag dink en openlik mag praat en skryf, en dankie tog vir ‘n geloof wat niks ekstreem van ons verwag nie, behalwe om mekaar en God lief te he. (Makliker gese as gedaan, as ek na ons deurmekaar ou wereld kyk.)

Ek het eenmaal ‘ n onderhoud gedoen met Michael Mol en sy pa, Dr. Arnold Mol, ‘n bekende motiveringspreker. Albei is natuurlik uitgesproke Christene. Tydens die fotosessie het pa en seun gemaklik oor-en-weer gesels (en ek het so bietjie afgeluister), en Michael het vertel van ‘n ontmoeting met ‘n Moslem-geestelike, en hoe hy gewonder het oor al die antwoorde op hierdie ou se geestelike vrae en argumente.

Ek kan nie die konteks presies onthou nie, maar wel Arnold se antwoord: “Christenskap is die enigste geloof waarvolgens daar nie van ons verwag word om iets radikaals te doen, soos om te sterf, voordat ons gered kan word nie. Jesus het die radikale ding gedoen: hy het vir ONS gesterf sodat ons kan lewe.”

Wat ‘n comforting thought!

Nog ‘n inspirerende vrou is Adri Vermeulen, lofprysingsleier by Moreleta Gemeente. Sy het gisteraand by ons gemeente se vroue-afsluiting opgetree en vertel van haar jarelange stryd teen depressie. Hier onder is haar verhaal, soos vertel aan my in ‘n onderhoud wat in LEEF verskyn het so maand of drie gelede.  Stuur dit asseblief aan na mense wat julle dink dit mag nodig he, of nooi haar om by ‘n geleentheid in julle gemeenskap haar storie te kom vertel. Dit is werklik ‘n ONGELOOFLIK inspirerende storie. Wat my gisteraand keer op keer opgeval het, is Adri se openlike lewensvreugde en haar aansteeklike lag – net God kan iemand so verander!

Adri Vermeulen het dae uitmekaar die kerkpaadjie saam met haar pa afgestap: eers as bruid aan sy arm, en tien dae later saam met sy kis. Hierna het haar lewe oornag in ‘n hel van pil-verslawing en depressie verander. Maar na ‘n dramatiese genesing sing sy deesdae ‘n nuwe lied – letterlik.

Dis moeilik om te glo die sprankelende, goedversorgde vrou voor my het ‘n paar jaar gelede – volgens haar eie bekentenis – party dae nie eers die moeite gedoen om te bad nie.

“As my man Dries werk toe ry, het ek in die bed gaan terugklim en geslaap. Tussendeur het ek opgestaan en geëet en geëet en geëet, en dan weer teruggeklim in die bed en verder geslaap,” vertel die aantreklike 37-jarige Adri Vermeulen in haar stylvolle sitkamer in die ooste van Pretoria.

Sy het net ‘n rukkie voor Dries van die werk af kom, opgestaan en ‘n paar vensters oopgemaak, en selde aandete gekook. “En ek het glad nie omgegee hoe ek lyk nie,” vertel sy met haar lieflinghond Gabby styf langs haar.

Adri, deesdae aanbiddingsleier by die Moreletapark Gemeente in Pretoria, was vasgevang in ‘n diep, donker depressie. Maar as sy terugkyk, vertel sy, het sy eintlik die bose spiraal van depressie en verslawing toegelaat en vererger deur onder meer haar dosis voorgeskrewe medikasie te oorskry.

Haar donker pad het een week na haar en Dries se troue in Februarie 1996 begin toe haar pa selfmoord gepleeg het.

“Ons het my pa die Donderdag begrawe, en die volgende dag is ek opgeneem vir slaapterapie. Ek het gedog dis die ideale oplossing, want as ek wakker word, sou my probleme mos weg wees.”

Maar sy was verkeerd, en drie jaar van verslawingshel het begin.

“Ek was baie kwaad vir my pa oor sy selfmoord.”

Sy gesin het glad nie besef hoe ernstig depressief hy was nie.

“Die aand voor hy homself vergas het, het ons nog telefonies uit die Kaap, waar ons op wittebrood was, met hom gepraat. Dit het glad nie geklink of daar enige fout was nie.”

Adri vertel dat daar niks onafgehandelde sake was tussen haar en haar pa nie, maar dat sy nie die geweldige gevoel van verlies kon verwerk nie.

Vandag weet sy die slaapterapie het haar werklike probleme bloot op die agtergrond geskuif. Sy het baie irrasioneel opgetree, en byvoorbeeld 24 uur kennis gegee by haar werk.

“Ten spyte van my toenemende depressie, angsaanvalle en woedebuie, het Dries my getrou bygestaan.”

Vandag besef sy niemand sou hom waarskynlik kwalik geneem het as hy destyds eenvoudig van haar geskei het nie.

“Dries het ‘n baie sterk karakter, maar is ‘n sagte mens. Ek het gou besef hoe maklik kan ek hom manipuleer. Ek het ‘n geweldige eetversteuring ontwikkel, en 40 kg gewig opgetel. As ek middernag besluit ek is lus vir hamburger en chips, dan moes Dries sorg dat ek dit kry.”

Doen hy dit nie, was ‘n woede-uitbarsting sy voorland. Adri sê sy het vinnig geleer dat om rusies uit te lok, nog ‘n manier was om Dries te manipuleer. “As hy dan daarop reageer, kry ek woede-uitbarstings en angsaanvalle en nog ‘n verskoning om die psigiater te laat glo ek het sterker medikasie nodig.”

“Ek was wég van al die medikasie – ek wou eenvoudig nie in die realiteit leef nie. Ek het vír depressie gekies, nooit daartéén nie.”

“Ek het ook nooit gekies om my behandeling te laat werk nie.”

Adri vertel dat haar gestel so vergiftig was dat sy op ‘n stadium tien Dormicums (‘n baie sterk hipnotikum, of slaappil) op ‘n slag gebruik het, sonder dat dit enige uitwerking gehad het.

“’n Psigiater het op daardie stadium vir Dries gesê al wat my aan die slaap sou kry, was narkose. Dis regtig bloot God se genade dat ek al die pille oorleef het. Dries het naderhand ‘n kluis gekoop waarin hy dit toegesluit het, maar ek het die sleutel opgespoor en maar net nog meer gedrink.”

Omtrent ‘n jaar na haar pa se dood moes Adri (op 27) boonop ‘n histerektomie ondergaan na jare van erge ginekologiese probleme. Dit het dinge net vererger.

“Ek was ‘n paar keer per jaar in verskillende klinieke opgeneem vir terapie, en het omtrent 11 breinskokke ondergaan – sonder enige effek. Ek het later gelees dat mens nie meer as 13 per leeftyd behoort te kry nie.”

Sy vertel dat sy op skool tot bekering gekom het, maar jare geleef het sonder om God werklik te ken. “Terwyl ek so depressief was, het ek nooit Bybel gelees nie en ook nie gebid nie. By die omgeegroep waarby ons ingeskakel was, moes die mense dit nie eers waag om my te konfronteer nie.”

Dries nog minder. “Hy het net bly bid dat die Here Homself aan my sal openbaar. Hy het op daardie stadium aan die suidekant van Johannesburg gewerk, en het later vertel dat hy elke dag van hier heelpad tot daar gehuil het.”

Een Vrydagoggend iewers in 1999 het God al haar geliefdes se gebede wonderbaarlik beantwoord.

“Ek kan nie eers vir jou die datum gee nie. Ek weet net dit moes die Heilige Gees self gewees het wat daardie oggend in my hart gespreek het. En genadiglik het ek gereageer op Sy stem.”

“Iets het daardie oggend in my gebreek. Ek het geweet dat ek nie veel langer sou leef as ek dinge nie met God regmaak nie. Ek het voor Hom om vergifnis gepleit, en Hy het my vrygemaak.”

Adri vertel dat sy gewéét het sy moet dadelik van elke pil in die huis ontslae raak. “Ek het vir Dries gebel om te vra waar die sleutel is. Hy was bang ek wou selfmoord pleeg, want ek het dikwels daarmee gedreig om hom nog meer te manipuleer. Gelukkig het hy my daardie oggend vertrou en ek het die hele kluis vol pille in die toilet afgespoel.”

Adri glo vandag onherroeplik dat God haar daardie Vrydagoggend met ‘n wonderwerk genees het. “Ek het daarna nog nooit weer ‘n pil gebruik nie, en gebruik steeds net my hormoonvervangingstablette. Tog het ek geen onttrekkingsimptome of hallusinasies beleef nie. Dokters sê ek moes eintlik dood gewees het. Mens word normaalweg in ‘n kliniek opgeneem en geleidelik van jou medikasie gespeen.”

Sy het wel vir ‘n paar dae gesukkel om ‘n nuwe slaapritme te ontwikkel, maar slaap sedertdien “soos ‘n babatjie” en kry nie eens nagmerries nie.

Adri se pad het daardie dag ‘n radikale nuwe rigting ingeslaan.

“Dit was allesbehalwe maklik, maar ek moes vrykom van al die goed wat ek toegelaat het in my lewe. In my geval moes ek nie die spreekwoordelike krukke weggooi nie, maar rolstoele!”, lag sy terwyl sy vir ons vars filterkoffie skink.

“Ek moes klaarmaak met die eie ek, want ek het my depressie geniet! Mense het my jammer gekry en my opgepiep, en ek het daarvoor geleef. Skielik moes ek leer my lewe gaan nie oor my nie, maar oor God.

Die heel grootste menslike uitdaging was om Dries sover te kry om haar weer te vertrou. “Die Here het my gewaarsku ek sal moet geduldig wees – dit sou nie ‘n paar dae of weke wees nie, maar jare, want ek het hom baie seergemaak.”

En dan was daar ‘n ander uitdaging: om haar lewensroeping, dit waarvoor God haar geskape het, te ontdek en te begin uitleef. Hieroor borrel Adri eenvoudig oor.

“God moes behoorlik aan my snoei, want soveel dinge in my lewe was nie in lyn met Bybelse beginsels nie. Ek moes veral nederigheid leer.”

Tydens haar depressie het Adri ‘n sang-oudisie gedoen by Moreleta, maar nie geslaag nie. Die nuwe musiekleier, Abri Brancken en sy vrou Leoni, het haar en Dries se geestelike mentors geword. Toe Abri haar vra om weer vir ‘n oudisie te kom, wou sy niks weet nie.

“Maar gelukkig het Abri aangehou, en hy het my salwing ontdek. Ek sou nooit kon dink my roeping was om lofprysing en aanbidding tydens ons kerkdienste te fasiliteer nie. Deur wat ek doen, kan ek mense help om die Here se teenwoordigheid tasbaar aan te voel.”

Sy bieg dat sy moes leer lofprysing gaan oor baie meer as sing op ‘n Sondagoggend. “Dis ‘n leefstyl. Dis nie ‘n knoppie wat mens aan- en afskakel vir eredienste nie.”

Deesdae bedien Adri en Ds. Elza Meyer saam tydens die vrouebediening by Moreleta-gemeente, en is hulle ook betrokke by die reël van ander vrouebedieningsgeleenthede . Adri het vanjaar die lofprysing gelei voor 7 000 mense by die Esther-konferensie in Maart vanjaar, en voor 3 500 vroue by die Hadasa-konferensie in Junie. Nog vroue-konferensies word beplan vir later vanjaar, en Adri kan nie wag daarvoor nie.

“Ek moes leer om dit so te doen dat ek nie die aandag op myself vestig nie, wat maklik kan gebeur as mens voor duisende mense sing. My sang moet die aandag op God vestig.”

Adri vertel dat nog iets vir haar in die laaste paar jaar skielik duidelik geword het.

“Na skool wou ek gaan drama studeer, maar my pa het geweier. Uit rebelsheid het ek toe glad nie gaan studeer nie. Vandag weet ek God wou my sekere goed spaar, want met my persoonlikheid sou ek beslis aan die kollig en wie weet wat nog verslaaf geraak het. En ek sou in elk geval as aktrise waarskynlik alles vir myself gedoen het en niks vir God nie.”

Adri dink nie aan haarself as ‘n kunstenaar nie, en wou daarom nie eers ‘n CD oorweeg as God dit nie eers goedkeur nie.

”Tydens die Hadasa-konferensie het God in my hart gespreek en gesê Hy begeer ongekompliseerde, eenvoudige aanbidding. Hy’t vir my gesê troonkamer-aanbidding is my ware roeping. Dit is om Sy hart te bedien, naby Hom te wees en my hele lewe voor Sy voete te plaas.”

Na baie gebede saam met ander het dit vir haar duidelik geword God wou hê sy moes ‘n CD doen, en dat hy die bekende Louis Brittz, wat sy van geen kant af geken het nie, daarby wou betrokke hê. Louis het feitlik dadelik ingewillig, en vroeër vanjaar het Naby U/ Close to You die lig gesien.

“Vandag kan ek regtig eerlik sê ek is op ‘n wonderlike plek in my lewe. Ek kan gaan waar God wys, want ek leef binne God se roeping vir my lewe.”

Na Adri se genesing moes sy en Dries ook die feit dat hulle nooit hulle eie kinders sou kon hê nie, saam verwerk. “Maar daaroor het ons vrede. Ons is albei oop vir aanneming, maar dit het nog nie gebeur nie. Ek glo dis vir ‘n rede: ek moet nou eers op my musiekbediening konsentreer.”

Op pad terug luister ek na haar CD, en die openingswoorde van die eerste lied bly my lank na die tyd by: “Ek stap ‘n vreemde pad in ‘n vreemde land met U. U leer my stap vir stap om bruid te wees net vir U.”

Inderdaad.

* Adri is ook beskikbaar vir motiveringspraatjies en musiekbediening. Skakel haar by 083 320 2608, of stuur ‘n e-pos na [email protected]

Nou ja, lekker naweek!

7 antwoorde op ‘n Uitgesproke vrou, en ‘n inspirerende vrou

  1. pilgrim het gesê op November 26, 2007

    Great post! Mens vergeet hoe erg dit vir uitgesproke Moslem-vroue moet wees. En hoe waar is dit nie, dat ons as Christene NIKS HOEF TE DOEN NIE! Net Hom aanvaar, en dit wat Hy vir ons gedoen het! Dis SO eenvoudig! Mense probeer dit so kompliseer, maar dis so eenvoudig!
    Mag ek maar ‘n link na hierdie post van jou op my blog sit?

  2. Alte seker, the more the merrier. Link dit gerus!

  3. pilgrim het gesê op November 26, 2007

    🙂 Thanx! Gedoen…

  4. pilgrim het gesê op November 26, 2007

    Oh, by the way, ek hou van jou nuwe avatar (prentjie)

  5. Dis die cuteste ou dogtertjie wat ek in Mosambiek op ‘n storie raakgeloop het. (‘n Fashionshoot en kosstorie vir LEEF, met Survivor se Jacinda Louw.) Ek het nogal gelag, want ek was die enigste ma onder die hele span, en as die kleintjie nader kom, het almal my geroep om te kom neus afvee en kind besig hou.

    Die dogtertjie (ek kan glad nie haar naam onthou nie want ek kon dit nie uitspreek nie) wou heeldag met my kamera foto’s neem (en die lens polish met ‘n VREEEEEEEEEEEESLIKE vuil lappie wat sy in haar roksakkie gedra het), en al kon ons mekaar glad nie verstaan nie (ek praat nie Portugees nie, sy nie Engels nie) het ons soos ‘n house on fire gekliek. ‘n Kollega het die foto geneem.

    Ek besit nie baie foto’s van myself nie. Neem veel eerder foto’s. Sal julle later maar met ander kiekies vermaak!

  6. rolienv het gesê op November 26, 2007

    Pragtige getuienis, dankie Ilze,dit versterk my geloof en gee my ‘n diep wardering vir alles wat ek het, en die manier hoe ons Hemelse Vader saam met elkeen stap op ‘n unieke manier.Ek prys Hom vanaand, want Hy is eg!

  7. Hy is inderdaad, Thandi! En Hy is nooit ver van enige een van ons af nie. Lekker aand!

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.