‘n Superluukse hotel, mense wat my wil stenig oor my Rooi Rose-onderhoud met die Maas-knaap

November 22, 2007 in Sonder kategorie

Hallo al julle b(l)oggers! Ek’s terug na ‘n paar dae by ‘n konferensie wat by die superluukse Forum Homini Boetiekhotel gehou is. Vir die wat nie weet nie, dis in die Cradle of Humankind naby Krugersdorp. En vir die wat nog nie daar was nie, spaar die geldjies en gaan bederf jouself! Die verblyf is met een woord besonders. Het gistermiddag net voor sononder vanuit my borrelbad gele en kyk hoe wei die wild so 150 m verder – kon ongelukkig nie sien wat dit alles was nie, want het nie my bril (nodig om ver te kan sien) byderhand gehad nie.

Lees meer oor hierdie spogplek by www.forumhomini.com

Die Franse Chef Patron, Philippe Wagenfuhrer, by die Forum se ROOTS-restaurant het ons bederf met meesterlike kos – drie gange in die middae, vier saans. Maar niks wat my skaal laat bewe nie, want Franse sjefs se meesterlikheid le mos juis ook in die klein porsies wat op watertandmooi maniere voorgesit word. Ons het sedert Maandag gesmul aan eend, lam, bees, kalfsvleis, tuna, salm en kingklip, en die poedingspyskaart sou enige sjokolis se hart tjoklits laat klop het (pun intended!). Teetye was daar smoothies, of vars vrugte, of tuisgedroogde appels, of tuisgemaakte roomys, of sjokolade en pistachiokoekies. ROOTS verdien beslis al die lofsange wat oor hom gesing word!

Maar daar is ‘n belangrike kosles vir ons almal gewees in hierdie week se etery. Die porsies is regtig BAIE klein (regtig omtrent een derde van meeste restaurante se kinderporsies), maar die kos is so goed gekies en so geurig voorberei EN so mooi voorgesit dat jy na selfs vier gange nie opstaan met ‘n maag wat wil bars nie. MAAR, al jou sintuie is bevredig. En daar is geen vet nie, maar baie vars kruie, groent, vrugte en interessante souse wat die kos komplimenteer.

Wat op ‘n praktiese manier verduidelik Why French women don’t get fat! (Onthou julle die hoeha oor die boek so jaar of twee terug?)

Terug by koerante en radionuus hoor ek Ian Smith is oorlede. Dis tog jammer, want ek wou nog vroeg in volgende jaar ‘n onderhoud met hom probeer doen het.

Ook op die Zimbabwe-noot: lees bietjie hier (http://www.news24.com/Beeld/In-Diepte/0,,3-67_2225480,00.html) wat skryf ‘n gewese joernalis van die staatsbeheerde koerant oor hoe die media daar gemanupileer word. Joernaliste het in ruil vir hul stilswye kos gekry terwyl die res van die land sterf van honger. Ek is so halfpad gelees aan Kevin Woods se boek, en dis ‘n mind-boggling kyk na hoe sake in ‘n sg. “Afrika-demokrasie” werk. Beslis ‘n belangrike bydrae tot die dokumentering van moderne geskiedenis.

En op LitNet sien ek dat die Deon Maas-debat steeds daar woed. Een vrou wil selfs he dat Rooi Rose ook geboikot moet word oor my onderhoud met Deon. Nogal ironies, veral omdat ek Deon reguit gevra het waarin hy glo en nie toegelaat het dat hy my ‘n verwaterde antwoord gee nie. Toe vra ek hom ‘n tweede keer. Die idee was juis om HOM ‘n slag te krities te ondervra, want in sy rubrieke (en op Idols destyds) het hy altyd die spreekbeurt en al die ammunisie om ander (dikwels weerlose) mense mee te looi.

Die feit dat ek of Rooi Rose hom nie goedpraat nie, maar bloot antwoorde op ‘n paar reguit vrae publiseer, het die LitNet-skrywer skynbaar heeltemal verbygegaan. Die rubriek is die maandelikse ROOI STOEL, en ons kies elke maand ‘n kontroversiele/uitgesproke mens aan wie ons ‘n paar reguit vrae vra. (Ook die enkele lesers wat al by die tydskrif begin kla het, het daai ou puntjie moontlik misgekyk. EN, BAIE BELANGRIK: my onderhoud met hom was op 1 Oktober al, dus minstens 6 weke voor sy Satanisme-rubriek. Wie weet of hy wel op ons nuuslys sou wees as daardie gewraakte artikel voor my onderhoud al verskyn het. (Maar dis MY antwoord, nie die redakteur s’n nie, onthou asseblief. Ek praat bloot as vryskut-joernalis.) 

Wat my bring by ‘n ander belangrike punt: as jy ‘n joernalis is, moet jy dikwels skryf oor dinge en mense waarvan jy nie noodwendig hou nie. Of, wat wel soms gebeur, oor iemand met wie jy nie veel fout kan vind nie, behalwe dat sy of haar standpunte stink. Ons raak nie vriende met almal met wie ons onderhoude doen nie, allesbehalwe.

Maar, liewe lesers, dis ons werk, die ding wat die wolf van die deur hou en die konfyt op die kindertjies se brood sit. En vir julle iets gee om te lees. Moet dus nie die boodskapper stenig nie!

4 antwoorde op ‘n Superluukse hotel, mense wat my wil stenig oor my Rooi Rose-onderhoud met die Maas-knaap

  1. Hello Ilse
    My 1st time on your blog.
    Great stuff!
    Don’t worry…ek dink nie ons skiet mense hier nie! lol
    Lekker middag…
    🙂

  2. It is wonderful to learn that some journalists try to stick to the truth. It is however an unfortunate fact that there are journalists who only report one sided versions of the truth and though they state that they are unbaised, they are not. I must admit that I do not trust most journalists and read their articles and reports with an attitude of “this is not the truth”. Unfortunate but from experience and history, the way it is.

  3. pilgrim het gesê op November 23, 2007

    Dankie weereens vir ‘n skitterende post!
    ‘n Vriendin van my wat by Rapport werk, moes eendag gaan om verskoning vra nadat haar editor haar hele berig verander het, en wat toe verskyn het, nie die waarheid was nie. Ek kry julle joernaliste maar jammer partykeer! Vryskut is seker darem makliker?
    O ja, A3 vertel my gister sy bedien vanaand daar by julle! Geniet dit! 🙂

  4. The more the merrier, so link dit gerus.

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.