‘n Laaste eier oor Deon Maas se afdanking, en die lyflike vordering.

November 19, 2007 in Sonder kategorie

Ek sien dit gons gister in Rapport oor die Deon Maas-afdanking. Wat my as Christen interesseer, is ander Christene se reaksie hierop. Ook as joernalis het ek belang hierby, want wat aan Deon gedoen is, is iets wat elke joernalis se geheime vrees.

Eerstens as Christen. Daar is klagtes van ander (nie-Christene??? ek’s nie seker nie?) dat Christene in hierdie saak min verdraagsaamheid en naasteliefde getoon het teenoor Deon Maas. Vergun my net ‘n opmerking: Deon Maas het dwarsdeur sy rubrieke in By die afgelope paar maande teen Christene, ou ooms, Afrikaanssprekendes, en baie ander groepe uitgevaar. Waar was die naasteliefde en verdraagsaamheid teenoor ander in sy rubrieke? Of is dit net Christene se plig?

Ek dink regtig nie hy weet waar om die streep te trek nie, al beweer hy so in my onderhoud met hom in die nuutste Rooi Rose. Dis een ding om devil’s advocate te speel, ‘n heeltemal ander ding om die duiwel self te laat bloos, by wyse van spreke.

As Christen het ek ‘n probleem daarmee dat ons maar altyd (volgens mense) die ander wang moet draai. Ja, ek weet Jesus predik dit, maar dit was ook dieselfde Jesus wat uit woede die geldwisselaars, wat besig was om sy volk te ondermyn met hulle bedrywighede, se tafels gaan omgooi het en hulle uit die tempel uitgejaag het. Christene mag ook beslis voet neersit en se genoeg is genoeg – om ‘n Christen te wees, beteken nie jy hoef willoos toe te laat dat ander oor jou beginsels loop nie.

En as Deon die Moslems of die Jode so herhaaldelik afgekraak het, sou hy so lank sy opinies die wereld kon instuur? Ek dink nogal nie so nie – iemand sou BAAAAAAAAAAAAAAAAAAAAIIEEEE eerder gekla het.

Ek dink Christene het, nes Deon, die reg op vryheid van spraak. Daar is op verskeie (beskaafde) maniere (SMS’e, lesersbriewe, ens.) beswaar gemaak teen Deon se skrywes die afgelope maande, maar niemand het geluister nie, Deon die minste van almal. Die boikot-dreigement was maar ‘n laaste poging, en ek dink ALMAL is verstom dat Rapport wel geluister het. Dis immers die heel eerste keer in my heugenis dat so iets gebeur.

Wat my bring by Rapport. Ek voel wel jammer vir Deon oor sy openbare vernedering, soos hy dit noem. Dis nooit lekker om afgedank te word nie, en veral nie uit so openbare pos nie. Dis hartseer as die publikasie wat jou in die eerste plek aangestel het, en in die tweede plek jou artikel goedgekeur het, nie bereid is om agter jou te staan in so situasie nie. Ek sal dit haat om in sy loopbaanskoene te wees. Daardie opruiende artikel oor satanisme moes in die eerste plek GLAD nie deurgelaat gewees het deur die redaksionele besluitnemers nie. Hulle publiseer mos nie van gister af Sondagkoerante nie! Oopkop-debat is altyd ‘n goeie ding, maar dan spring jy nie weg met ‘n artikel wat vir seker in jou gesig gaan ontplof nie.

Dis ook maar hartseer dat Deon nou ontken dat hy oor satanisme geskryf het. Vat die blaam soos ‘n man – joernalistiek 101, Deon: as jy bereid is om die woorde op papier te sit, moet jy ook bereid wees om die gevolge te dra.

Wat die lyflike sake betref: die persoonlike martelaar het my vanoggend geweeg en aansienlik ligter bevind. Byna 5kg ligter in ses weke, en daar het 19cm van my verdwyn. Weg! My fiksheidsvlakke is ook baie op, en ek moet bieg, dis ‘n lekker gevoel.

Ek het natuurlik baie hulp – die Antagolin wat my insulienvlakke takel, Muriel wat my gal werk, en die afgelope tien dae, ook die plaaslike Mike’s Kitchen wat sorg dat ek een maal per dag ‘n gesonde proteien en groente kombinasie in my lyf kry. Garth, die eienaar, het gehoor van die Rooi Rose makeover, en my genader om ‘n ander mite die nek te help inslaan: dat uiteet jou vet maak. My “opdrag” is dus eenvoudig: eet elke dag van die spyskaart af, maar maak GESONDE keuses. Groente in plaas van stysel, water of dieetkoeldrank in plaas van alkohol of gewone koeldrank, vetvrye skommels in plaas van gewone skommels, en bewys dat dit nie uiteet is wat jou kilo’s laat saampak nie, maar WAT jy eet.

Garth wil 40 kg verloor (ek wil so 20 verloor), en wil he ons moet kragte saamsnoer om die groep se spyskaart toeganklik te maak vir verslankers, en om ook te kyk na gesonder kossies op die kinderspyskaart. Daarmee saam gaan ons ‘n webwerf ontwikkel met verslankingswenke, news links na gesondheidsartikels, spyskaartidees, raad deur kenners soos dieetkundiges, persoonlike afrigters en dokters, en allerhande ander goed wat ‘n gesonde leefstyl binne gewone mense se bereik sal plaas.

Hou dus hierdie spasie dop.

Nou ja, lekker dag. I owe, I owe, so its off to work I go!!

4 antwoorde op ‘n Laaste eier oor Deon Maas se afdanking, en die lyflike vordering.

  1. amnell het gesê op November 19, 2007

    Hi! Dit lyk nie of Deon omgee om gebruik/misbruik te word deur verskillende instansies nie want hy is ORAL, en ORAL kry hy dieselfde aandag, wat mense net AANHOU gee!

  2. Dankie vir jou standpunt. Ek het oor hierdie saak ‘n ambivalente gevoel. Natuurlik het elke mens in terme van die Grondwet die reg op vryheid van spraak. Maar regte bring ook verantwoordelikhede mee. Verder: As Christen staan ek egter ook onder die Grondwet van die Koninkryk waarin ek my lojaliteit teenoor my Koning moet uitleef. Ek moet sy eer beskerm en toesien dat sy Naam nie ontheilig moet word nie. En dat die bose nie bevorder moet word nie. My standpunt is dat ek die land se Grondwet ondergeskik aan Sy Grondwet moet stel. Ek moet Hom meer gehoorsaam wees as die mens. Dit pla my egter dat sommige christene nie styl openbaar as hulle in debat met ander mense gaan nie. Ons moet steeds ons waardigheid (wat ons van Hom ontvang het) behou wanneer ons ‘n teenparty aanvat! Ek stem saam met jou kommentaar.

    Kobus

  3. ghdraft het gesê op November 20, 2007

    Dankie vir jou standpunt, ook vir Kobus Victor se mening. Daar moet meer van ons christene debat voer in die koerante uit dit wat hulle veronderstel is om te verkondig en hulle minder steur aan ander mense se gevoelens en die GRONDWET. As iemand die bose verkondig, gaan hom teë en wys hom tereg, soos Christus dit sou wou gehad het. Die Afrikanerdom en Christenskap mag deur elke Jan Rap aangeval word en as hulle reageer is hulle verkramp ens. ens ens. Het nie geweet dat liberaliste en vriende die enigste met lewensreg is nie.

  4. pilgrim het gesê op November 21, 2007

    Dis great dat die Christene begin standpunt inneem en opstaan! Nie net oor Deon nie, maar oor alles. Ek dink daar gaan nog baie dinge in ons land gebeur …
    En jinne! 19cm van jou nie meer daar nie! Dis fantasties!!!! Hou so aan!!!

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.