Deon Maas se afdanking by Rapport, satanisme, dwelms, treurige posdienste en die Metropolisie se gebrekkige oordeel

November 15, 2007 in Sonder kategorie

Ek moet my woorde sluk. Gummmmpf…. gummmpf…. en nog ‘n klein gummmpfie.

Want toe het die SMS- en e-pos veldtog waarin met ‘n boikot gedreig word wel vir Rapport laat besef hulle het ‘n ongewilde perd opgesaal toe hulle vir Deon Maas ‘n volle blad in die koerant gegee het.  Maas is amptelik afgedank. Lees alles daaroor by http://www.news24.com/Beeld/Suid-Afrika/0,,3-975_2221889,00.html.

Maar nou het Rapport vir ons ‘n gunsie bewys (en daarmee bedoel ek nie net die ekstra blad wat nou weer vir nuuswaardighede beskikbaar is nie). Nee, eerder die bewys dat ons wel ‘n verskil kan maak as ons saamstaan. En daarmee bedoel ek nie net die Afrikaanssprekendes nie, maar alle Suid-Afrikaners. Tog jammer mens kan nie dreig om die regering te boikot as hulle nie iets aan misdaad doen nie! Dink net hoe ‘n kick sou DIT gewees het as mens met ‘n elektroniese veldtog vir Onse President kon oortuig om vir Manto Sjabala Seman (nie haar man nie, syself, man!) af te dank. 

(‘n Aside: Met onse President bedoel ek nie Kruger nie. alle opgewonde regses. Man, die ander outjie se gesiggie kan ek amper voor my sien… Thabo somebody… uhm, daar’s dit weer… Ek wil-wil hom herken. Nope, daar’s die beeld weg. Moet wees omdat ons hom so min hier plaaslik te lande sien, maar aljimmers op oorsese plekke aan die blad skud en verduidelik dat Vigs net ‘n pigmentasi…. ag, ek bedoel ‘n figmentasie van ons Apartheidsbreine is. )

Moet net lag vir Maas se quote dat hierdie ‘n heksejag was. Heksejag? Satanisme? Get it?? Ek dog 666 is net ‘n syfer, Deon!

(En nee, ek gorrel nie net hier op die blog teen die man nie – het vandag vir hom lesersreaksie op my Rooi Stoel-onderhoud in Rooi Rose gemail, en toe die volgende as nagedagte bygevoeg – dalk lees jy nou ‘n scoop – dalk val hy MY volgende in een van sy rubrieke aan!)

Terloops, ek stem glad nie saam met jou siening van satanisme nie. Jy gaan obviously nie met my saamstem nie, maar Satan is nie ‘n grappie om ligtelik op te neem nie. Gaan praat maar met mense wat verwoes is deur hulle betrokkenheid by satanisme – ek het al so onderhoud of twee gedoen. Dis hair raising stuff. En die wrede en misdadige elemente daarvan (soos my vier geliefde (swart) katte wat al gesteel is vir rituele in die nabygelee begraafplaas) maak dit beslis ‘n saak vir die polisie. Om van die dwelms wat gewoonlik ook ‘n rol speel, nie eens te praat nie. Ek dink alle ma’s en pa’s wil hulle kinders so ver moontlik weghou van dwelms, jy ook.

As Christen kan ek ten minste sien ander gelowe streef daarna om hul volgelinge beter mense te maak en die wereld ‘n beter plek te maak – satanisme doen nie.

As jy ooit regtig in ‘n oopkop-debat wil tree, bel vir Derick de Lange by die Alberton Lewenssentrum (011 – 867 7244) en nooi hom om op jou radioprogram te wees. Derick was ‘n satanis wat by die dood omgedraai het agv van die “onskuldige” praktyke van satanisme, en kan jou baie vertel van die binne-wereld van daardie groepe mense. Hy is deesdae ‘n predikant wat uit sy pad uit gaan om die jeug teen satanisme te waarsku.

Die wat ‘n interessante praatjie wil hoor, is welkom om vir Derick te nooi om by hul gemeente te kom optree, veral by ‘n jeugbyeenkoms. Ons het geen idee van die omvang van die geestelike oorlogvoering in hierdie land nie, en sal beslis meer moet begin bid vir ons kinders. Hulle is onder erger groepsdruk as wat ons ons ooit kan voorstel.

Hoekom noem ek dit ‘n geestelike oorlogsvoering? Lees maar die koerante: die misdade wat gepleeg word, is boser as ooit tevore. Selfs die polisie is dit eens. Ek het so maand gelede met Bushie Engelbrecht van die Polisie ‘n onderhoud gedoen vir Taalgenoot (Januarie-uitgawe) en hy meen hy het nog nooit in sy loopbaan van byna 41 jaar soveel geweld op misdaadtonele gesien nie.

Nog ‘n interessante feit wat hy noem: daar is meer dwelms as OOIT tevore in Suid-Afrika in omloop. Hy meen dis die polisie se no.1 bekommernis, juis omdat dwelms (of die gebrek daaraan vir verslaafdes) mense se persoonlikhede verander en hulle gewelddadig en paranois en aggressief maak. En die gevolg is kindermolestering, verkragtings, ernstige aanrandings, selfs moord.

Ook kriminologie-eksperts stem saam. Dr. Christiaan Bezuidenhout het al meer as ‘n jaar terug tydens ‘n onderhoud gemeen die grootste oorsaak van misdaad in Suid-Afrika is ‘n gebrek aan waardes. En ons praat hier van basic stuff, soos respek.

Goeie oordeel, lyk dit my, kort ook by die wavragte vol in hierdie land. Dalk kan iemand dit vir Krismis bestel en vir die Metropolisielede gee wat Woensdag 23 motoriste vir ‘n volle dag lank toegesluit het vir geringe padoortredings. Hallooooooooooo??? Wat van die taxi-bestuurders wat dink die geelstreepbaan is spesiaal vir hulle geskep? Of wat oor drie bane dwars voor verkeer indraai as hy die oggend so voel? Of dood stop om kleingeld deur ‘n venster uit te ruil met ‘n ander taxi?

Mense wat nie in Gauteng woon nie, het nie ‘n idee hoe erg dit is nie. Ek ry as ‘n reel nie spitsverkeer nie, aangesien ek van my huis af skryf. Maar met die halfeindstryd van die Bokke teen Frankryk het ek besluit om in Pretoria by ouboet oor te slaap, en voor 6 die volgende oggend daar te ry om my kind betyds by die skool te kry.

Hahahahaha. Grappie no. 1! Die 75km tussen Pretoria en die suide van Johannesburg waaraan ek andersins 40 minute ry, het my daardie oggend 1 uur en 40 minute gery! (My kind was bly, want sy het skool gemis!)

Grappie no 2 was omtrent 14 metropolisievoertuie wat in ‘n konvooi kompleet met flitsende ligte en loeiende sirenes in die noodlaan verbygejaag het. Seker ‘n helse ongeluk, het ek nog gedink, of baie belangrike gevangenes wat iewers heen vervoer moet word.

Groot was my verbasing om later te sien hulle het bloot op afstande van ongeveer 2 km uitmekaar afgetrek, en staan langs hulle voertuie/motorfietse en chat en rook. En as daar ‘n taxi in die geelstreep deel verbygejaag kom, word hy met ‘n vriendelike vinger in die verkeer in beduie waar ons dan noodgedwonge vir ta moet plek maak. Sodra hy die spietkop in sy tru-spieeltjie kan sien, is dit terug noodbaan toe.  Nie eenmaal in die meer as ‘n uur wat ons verby Midrand gekruip het het ek ‘n taxi gesien wat afgetrek word nie. Wel ‘n ander eerbare sot op pad werk toe in sy skedonk van ‘n motor. Hy was blykbaar die gevaarlikste mens op die Ben Schoeman, arme ding…

Op ‘n ander noot: net toe ek begin hoop kry vir die posdienste, gaan haal ek vandag ‘n geregistreerde brief by die poskantoor. Na ‘n soektog van meer as 10 minute (in ‘n plaaslike klein takkie in ons naaste Spar) spoor hulle toe die koevert doer diep agter in die liasseerkabinet se laai op. Ek herken my suster se handskrif, en onthou sy het genoem dat sy vir my geskenkbewyse wil pos wat my ma-hulle nie kan gebruik nie. Toe ek vanaand die brief oopmaak, is net die A4-papier waarin die twee geskenkbewyse toegevou was, nog binne in die koevert. Nada geskenkbewyse. Niks, zigolo!

Die koevert moes oopgestoom gewees het, want daar is net een klein gaatjie by die boonste rand waar dit nie plak nie. My raad aan enige iemand: al pos jy net jou ma se melktertresep (minus al die noodsaaklike bestanddele) vir jou skoonma, stuur dit eerder goed verpak EN in ‘n plastieksak met Speed Services.

Nou ja, noudat ek klaar gestoom het in julle ore, gaan ek slaap. Die oudste (amper 9) sal more haar eerste ervaring as entrepeneur beleef by haar skool se Kersmark. Hou styf duim vas dat al die goetertjies verkoop, want die uwe moes stewig bele in die aankope. En my kind die altruis het gevoel ons kan sommige goed sommer vir minder as waarvoor ons dit gekoop het, aan haar maats verkoop. En al het ek nou goeie sakebeginsels van wins en verlies ingedril, is ek nie so seker hoe dit met die deurvoer daarvan sal gaan nie.

O ja, en dit lol maar met die leestekens. Dis nie die rekenaar wat Japsnees is nie, dis die blog-program wat nie vir Afrikaans ontwikkel is nie. Om te kan leesteken, moet ek copy en paste na Word dokumente toe en weer terug paste en so aan en so aan. Maar toe reken ek nou julle bo… ag ek bedoel bloggers is slim genoeg om dit sonder leestekens te kan reg lees. Daar is mos daardie studie wat se jy kan ‘n woord verstaan maak nie saak in watter volgorde die letters geskryf is nie. Eht yj idt al legees?

3 antwoorde op Deon Maas se afdanking by Rapport, satanisme, dwelms, treurige posdienste en die Metropolisie se gebrekkige oordeel

  1. ghdraft het gesê op November 16, 2007

    My vorige kommentaar t.o.v. Maas was dat hy ‘n goeie joiner sou wees. Was nie verkeerd nie, want om hom aan te haal “Ek het geen siening oor satanisme nie” is tipies van iemand wat nie ingelig genoeg is om te weet wat reg en verkeerd is nie. Hy kwetter maar net lustig voort om reaksie uit te lok en is dan verbaas as hy op iemand se tone trap. Tipies die maer lelike seuntjie in graad 1, wat om aandag te trek, die lelikste klere(en bril) dra met die swakste haarstyl. Het die man nog kinders ook? Hoe kan so idioot wat geen opinie het oor iets so boos as satanisme nou nog kinders ook opvoed. Hoogtyd dat ‘n ou eers eksamen aflê voordat jy toegelaat word om aan te teel. Siestog, hulle gaan hulleself seker nou laat aannneem, ek sou met so pa.

    Goed vir Rapport om hom te laat gaan, geen rede om nog iemand aan te hou wat twak praat nie.

  2. Skokkend dat hulle wat skree vir persvryheid en vryheid van spraak ander die vryheid ontsê. Dat dat hulle wat hulle self Christene noem nie naaste liefde kan betoon nie. Geen wonder ek is altyd op die oorlogspad as daar aan die pers getrorring word en geen wonder ek vermy vandag kerke. Maar Satanisme kan ek nie goedkeur nie, maar sal met hulle ‘n gepoogde oorredingsgesprek voer om te verander. Maar om hulle deur sulke reaksies soos teen Rapport verder ondergronds te jaag is net so euwel soos hulle. Oor jou ander stoomafblasery rep ek geen woord nie net nou raak ek saammet jou so woedend dat ek my naweek sal opvoeter erger as wat Deon Maas amper vir Rapport laat opvoeter het. Lekker naweek daar vir jou en die familie.

  3. pilgrim het gesê op November 21, 2007

    Man, ek laaik jou blog! Doen so voort!

Laat 'n Antwoord

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Vereiste velde word aangedui as *.