Jy blaai in die argief vir zola budd.

EK WAS DAAR!

September 19, 2017 in Uncategorized

In my boek “Laatoes – kykweer van ‘n kanniedoodkoerantman” hou ek my lyf onder meer rugbyskrywer – Herman le Roux en Frikkie van Rensburg skuif op!

Van die gedenkwaardigste oomblikke in Bok-rugby op SA velde het voor my oë afgespeel, vertel ek in ‘n hoofstuk oor Murrayfield en daarna.

Mannetjies se drie op die Vrystaatstadion – natuurlik het ek dit gesien. Frik se score, place en drop op Loftus – natuurlik was ek op die paviljoen. Toe Francois Pienaar die Wêreldbeker lig, was ek natuurlik een van die voetstampende juigendes op Ellispark.

Ek hou my lyf ook boksskrywer – vertel van smaaklike onderhoude met ons twee bul-swaargewigte van die 70’s, Gerrie “(Seer handjies”) Coetzee en Kallie (“Bek van Boomstraat”) Knoetze. My bokservarings is egter van beperkter omvang as my rugby-ervarings. Net een swaargewig-boksgeveg bygewoon: op Loftus: Gerrie teen “Big John” Tate van Amerika.

Vroeg in 1979 het Gerrie Leon Sprinks in Monaco met ’n tegniese uitklophou verslaan. Verwagtinge was hoog. Maar Tate het ons held op Loftus opgedons.

Oor krieket skryf ek nie in “Laatoes” nie. Wel in Februarie 1970 vyf dae saam met Frikkie van Rensburg langs die die Wanderersveld in Johannesburg gesit toe die Bokke (ja, nog nie Proteas nie) die veelgeroemde Australiërs se neuse met 307 lopies in die derde toets in die grond gevryf het om die reeks te beklink.

Ek onthou wonderlike kolfwerk van Graeme Pollock, Barry Richards en Eddie Barlow. Peter Pollock en Mike Procter se blitsballe was vir die Aussies een te veel.

En atletiek? Een naam staan groot oor my atletiekervarings geskryf: Zola Budd. Hoeveel keer het ek nie die skaam, kaalvoetatleetjie op die Vrystaatstadion wondertye sien opstel in die 80’s nie! Sal darem ook nie vergeet hoe naelloper Sep Serfontein vir Tukkies Dalrymples gewen het nie, o.m. op Coetzenburg.

En ja, ek was in 1952 by die Van Riebeeckfees in Kaapstad op die paviljoen toe meisies soos Nederland se Fannie Blanckers-Koen en ons eie Daphne Hasenjager die baan aan die brand gehôl het.

Voor die radio was my plek nooit leeg as ‘n Suid-Afrikaner boks (kapokgewig Vic Toweel se verowering van die wêreldtitel onder meer) of die Springbokke rugby of krieket speel nie. Selfs vir rofstoei nadergeskuif: Willie Liebenberg teen “Sky High Lee” en daardie snare.

Ai, die nostalgie wil hierdie ou al weer oorweldig.

SCOOPS – EN ‘N SKANDE

Mei 30, 2017 in Uncategorized

Susters berig oor Die Volksblad se scoop.

Niks is lekkerder vir ‘n koerant as ‘n ordentlike scoop nie. Ai, die louter genot om mededingers met ‘n groot storie die loef af te steek dat hulle hik! Een van die groot scoops van my loopbaan was op 15 Februarie 1990 – onder die opskrif: “Foto’s waarvan wêreld nie geweet het nie”.

Die Volksblad was daardie dag die eerste en enigste ter wêreld (werklik) met ‘n foto van Nelson Mandela en PW Botha se historiese eerste ontmoeting in Tuynhuys op 5 Julie 1989 – die eerste fomele stap in die ontspanningspolitiek wat later tot FW de Klerk se dramatiese besluit sou lei om Mandela vry uit die tronk te laat stap.

Mnr. Mandela is die aand van 5 Julie 1989 in groot geheimhouding na die kantoor gebring waar hy, ironies, later agter die lessenaar sou sit. Die foto’s is op die ingewing van die oomblik met die instemming van albei diehooffigure deur kapt. Ters Ehlers, private sekretaris van die staatspresident, met ‘n gewone mik-en-drukkie geneem.

Die geheimpie dat sulke wêreldskuddende foto’s bestaan, is deur Niel Barnard, nasionale intelligensiehoof, in my oor gefluister. Die nuusman was dadelik op sy tone. Pres. Botha is gepols maar het gehuiwer. Mandela se toestemming sou volgens hom ook nodig wees. Daaroor gaan ek toe by Kobie Coetsee, minister van justisie – een van die ander teenwoordiges – mooipraat. Tot sy ewige krediet willig die Vrystater in om bemiddelaar te speel.

Ek wag in Bloemfontein op hete kole, maar dit duur maande voordat die groen lig uit Tuynhuys en die Victor Verster-gevangenis kom. Ek kon nie vinnig genoeg ‘n verslaggewer in die pad kry Pretoria toe nie om die waardevolle pakkie te gaan haal.

‘n Foto van my met daardie spesiale koerant in my hande sou sou ‘n gesogte besitting wees. Maar het ons foto’s geneem toe die koerant vuurwarm van die pers kom? Kan dit kwalik glo, maar die antwoord is nee. Helaas. Die vloot-offisier Ters Ehlers het die aand in Tuynhuys groter nuus-instink geopenbaar as die uwe en sy redaksiespan op 15 Februarie 1990.

Die waardevolle uitgawe is natuurlik darem nie verlore nie. Dit is in argiewe en by Ineg in Bloemfontein beskikbaar – ook in my eie dokumenteversameling daar. Terwyl ek foto’s uit 1990 uit my albums haal vir die Facebookblad “Volksbladfoto’s” ontdek ek egter al wat ek in my eie albums van daardie heuglike dag het, is knipsels uit ons susterskoerante, Beeld en Die Burger, die volgende dag oor ons scoops der scoops van daardie jaar.

Skande, Piketberg!

Van ‘n ander “wêreldscoop” het ek wel ‘n foto. Dit was oor Zola Budd daardie skraal, stil, kaalvoet-Vrystatertjie, wat van haar skoolmeisiedae kon hôl soos g’n ander nie. Ek en Naas du Preez (nuusredakteur) is tot barstens toe trots by die rolpers afgeneem met ons “eksklusiewe” Zola-koerant. Opskrif: “Ek bly, sê Zola.”

Die “scoop” wat nie ‘n scoop was nie.

Die “scoop” het sy oorsprong by ‘n Britse konneksie weens haar oupa aan vaderskant. Dit het haar ‘n kandidaat vir Britse burgerskap gemaak. In ‘n stadium is sy toe ook vort Engeland toe waar sy internasionaal kon meeding terwyl Suid-Afrika hom in die woestyn van politieke isolasie bevind. Sy sou selfs onder ‘n nuwe vlag aan die Olimpiade kon deelneem. “God save the queen” en so aan.

Terwyl almal bespiegel oor die vraag: bly sy of gly sy (dalk permanent), het Zol in haar eie handskrif Die Volksblad meegedeel dat sy Suid-Afrika kies. Groot nuus! Nie lank na ons “scoop” nie (let op die aanhalingstekens deurgaans in hierdie geval), gly Zola egter. Voordat jy kon sê mes was sy weer as aangenome Brit in Brittanje op die baan.

Dit was maar ‘n bitter pil. Suiker was daar darem soos dat Die Volksblad die dag ná haar oorhaastige aankondiging in The Citizen se hoofberig iets soos tien keer genoem is — ‘n joernalistieke rariteit.
‘n Ware scoopmasjien was die kranige politieke beriggewer Alf Ries. Vir Die Volksblad – waar sy loopbaan in 1953 begin het – het hy in my redakteurstyd veral vir een gedenkwaardige scoop gesorg. Die koerant (wat toe nog ‘n middagkoerant was) het selde beter reg laat geskied aan die motto “vandag se nuus vandag” as met die verkiesing van FW de Klerk as nuwe hoofleier van die NP in die plek van PW Botha daardie oggend – alles danksy Ries se “politieke neus”.

Die onverwagte verkiesing het in groot geheimhouding plaasgevind. Ries het snuf in die neus gekry dat iets betekenisvols aan die gang is. Hy het die berig losgewikkel en daardie middag was dit ons voorblad vol. Toe die Vrystaatse LV Piet Steyn ‘n Bloemfonteinse vriend, prof. Kallie Strydom, bel om hom “vertroulik” in te lig, kon hy op sy rug val toe hy hoor: “Hier staan dit alles in Die Volksblad!”

Met die vliegongeluk van Samora Machel was dit weer die nimlike Ries wat sy mededingers getroef het; weer was Die Volksblad dieselfde dag losvoor met ‘n scoop. Alf en Pik Botha was maats wat saam in ‘n tent was op hul militêre diens. Sulke kontakte help nogal!