Jy blaai in die argief vir woodpret.

‘N PAAR KORRELTJIES

Februarie 24, 2018 in Uncategorized

‘n Paar korreltjies uit my praatjie gister by die WAT-Woordpret op Stellenbosch oor die “Kykweer van ‘n kanniedood-koerantman”- die subtitel van “Laatoes” (Naledi, 2017)

Saam met dr. Willem Botha, hoofredakteur van die WAT.

Resensent Anton van Zyl skryf beeldryk oor Laatoes: Van Deventer pluk as’t ware die stories uit die wingerde waardeur hy die afgelope paar jaar gewandel het. ‘n Vreugde is dit vir my om vandag juis hier in prima-wynland paar korreltjies oor hierdie ou natrossie van my te kom deel.

Mense vra: Watse boek is Laatoes? Die kort antwoord is bepaald: ‘n koeranteboek natuurlik – dit verklap die omslag en die subtitel: Kykweer van ‘n kanniedood-koerantman dadelik. Dit onderstreep die inhoudsopgawe. Van die plus-minus 60 hoofstukke is twee-derdes gekoppel aan koerante en hul mense.

Ek is sensitief om Laatoes se koerantekarakter te sterk te beklemtoon, want ek is al beskuldig dat ek reeds twee outobiografieë gepubliseer het: Kroniek van ‘n koerantman (1998) en In kamera (2003). Ek is bang vir die verwyt dat Laatoes die derde in ‘n trilogie is waarin VD sy eie basuin blaas!

Daardie raps op die kneukel is grootliks onverdiend, meen ek. Kroniek dek ‘n spesifieke era, die 8o’s. In kamera is ‘n boek oor my foto’s. Albei is outobiografies van aard maar geeneen kwalifiseer as volwaardige outobiografie nie. Eintlik is my eerste twee Scoops en skandes en Flaters en kraters ook koeranteboeke. Dié is wel oor koerante se blapse. Dit sluit egter my eie blapse in. Dus, vrees ek, is dit ten dele ook outobiografies!

Eintlik, moet ek bely, is al my werk net ‘n vertakking van die joernalistiek: stories uit die lewe en nie uit die verbeelding nie. Enigste uitsondering is Mayafudi / Spore in die bos oor die fiktiewe wedervaringe van ‘n olifantbul.

Die boekie het nie juis pryse ingepalm nie. Uit Taiwan het Anton Jansen egter op Amazon se blad laat weet sy Chinese klassie is daardeur geboei. Hulle wou elke dag weet: watter nuwe avontuur het Mayafudi nou te beurt geval. Die Mandarynse reaksie was ‘n aangename lafenis ná die kritiek van veral een hoog aangeskrewe resensent. Sy is teen die bors gestuit deur die antropomorfisme wat ek so skaamteloos pleeg. Ek moet bely: ek moes die woordeboek raadpleeg oor wat daardie sonde is!

AJ Opperman skryf op Litnet: Die woord “kanniedood-koerantman” is nogal gepas, want die opteken van gebeure en ervarings doen hy slaafs. Ek kan nie van Opperman verskil nie. Ek het laaie en leggers met notas. In Laatoes skryf ek oor al die eras van my lewe.

Uit my vroeë Volksblad-jare skryf ek bv. oor twee van die gedenkwaardigste koerantstories van my era: moord op dr. Verwoerd op 6 September 1966 en die eerste hartoorplanting op 3 Desember 1967. Ek was destyds hoofsub. Al die berigte is deur my hande – hande bewende van ontsteltenis in die geval van die Verwoerd-moord net ‘n uur of wat tevore. (In November het ek gesien ‘n geraamde voorblad met die Verwoerd-storie hang nog teen ‘n muur by my ou koerant. Het my sommer dadelik laat voel: dis nog my plek!)

Uit my 12 jaar as redakteur is daar hoofstukke oor o.m. die intense Afrikaner- broederstryd tussen verlig en verkramp en die die bosoorlog. Uit my laaste skof van vyf jaar aan die Heerengracht skryf ek oor die goue era van koerante, wat helaas vir altyd verby is; ook oor die stryd vir Afrikaans en die stigting van die Pendoringprys.

Plus-minus 30 van die hoofstukke (amper 50%) is profiele van groot geeste; bekendes soos Pik Botha, Wynand Mouton, Gerrie Coetzee, Kallie Knoetze, Okkie Raubenheimer, Gustav Hoexter en Percy Qoboza; kleurryke kollegas soos Piet Cillié, Johannes Grosskopf, Ton Vosloo, die vermoorde Eric Wiese, Alf Ries, Johan van Wyk, Ben van Rensburg.

In die voorwoord verwys Louis Esterhuizen vriendelik na my vonkel-in-die-oog-kyk na sake, geestigheid en “kenmerkende pittigheid”. Nou-ja, humor gee my groot plesier. in Laatoes is hoofstukke soos “Plett prett”, “Die sool en die kous”, “Kaalbas en strikdas” en Otjie met ‘n CV” wat hopelik ‘n glimlag sal uitlok. Trouens, drie van my eerste vier boeke is humorboeke. Later het nog twee bygekom. Die vyf behels plus-minus ‘n derde van my skryfwerk.

Wordsworths skryf op sy webblad: Die verrassende (of dalk nie?) ervarings met diere in die Krugerwildtuin sorg vir baie vermaak. Luiperds in hul erf, ratels op die stoep, vlakvarke in die kerk…En ja, heelparty bosstories duik op in Laatoes. In Sabiepark is ‘n stapel verslagboeke waarin die boslewe in al sy nuanses gereeld opgeteken word. As ‘n uitgewer dit wil waag, sou ek graag as ‘n laaste hoera ‘n kompilasie van anekdotes met ‘n Sabieparkse voetspoor aanbied.

Die lewe in die bos – dit sou die titel van my bosboek kon wees!