Jy blaai in die argief vir Wildtuin.

BOUDJIES IN DIE BOS

Januarie 23, 2013 in Uncategorized

Stadig stap in die lange pad ….

DIE  oes van kordate jong rooibokkies, vol hupppelende lewenslus, is altyd ‘n somervreugde in die Wildtuin.  Die besoek oor Nuwejaar het ook die Vyf Grotes opgelewer, in verskillende formate.

Die “dag van die olifante” (blog van 18 Januarie) was ‘n treffende ervaring.  Op die S3 moes die liewe Tokkie ‘n ander keer die Honda in trurat gooi en ‘n kilometer ver padgee vir ‘n Meneer wat – niks dreigend nie, maar tog –  slurpswaaiende in ons rigting bly aanstap het.

Renosters (met horings!) was vreemd volop. Die drie op die Skukuzapad  (dieselfde blog) was amper so naby dat jy aan hulle kan vat. Sou gedink het die nuus het al lankal die ou stiksienige lot versprei dat hulle moet ver wegbly van die paaie waar stropers met swaarkaliber-gewere en byle rondsluip.

Buffels was hier, daar en oweral: in groot troppe of een-een. Regte ou staatmakers.

Leeus het ons net een keer gekry: drie lummels uitgestrek aan’t snork naby die Olifantdrinkgat op die pad tussen Tshokwane en Skukuza.

 

Vir ‘n luiperd moes ons wag tot die heel laaste dag. Toe bel Gert-Jan Pols: daar was ‘n vangs naby die Krugerhek. Die luiperd en sy prooi, ‘n rooibokkie, is in ‘n boom langs die pad.  Ons was op pad kerk toe. Was binne minute op die toneel – voordat die grootste verdringing kon begin.

 Dan was daar 17 wildehonde langs die Onder-Sabiepad, twee keer jagluiperds en vele ander toneeltjies wat in die bultende foto-albums in Sabiepark se boekrak plek sal kry.

 

Maar een toneel staan uit. Daarvan het ek ongelukkig net ‘n geheueflits.

 Ons ry vroeg die Phabenihek toe.  Op die S4, net voordat dit by Doispaneweg aansluit, sien ons op ‘n stil oggend van ver ‘n motor staan.

 “Wat sien hulle?” wil die tweeling, Jacob en Thomas, opgewonde weet. Hulle vra dit altyd.

 Vir my lyk dit of daar teenspoed met die motor kan wees. ‘n Gedaante buk by die voorwiel.

 Toe ons nader kom, sien ek die boudjies.  Poedelkaal en baie bleek.  ‘n Dame (?)  spring een-beentjie en probeer haar G-string van haar enkels af opruk.  In die oomblik van paniek pluk sy egter ‘n verkeerde pluk en die spulletjie haak vas. Net so ‘n entjie bokant die swart langbroek wat haar skoene bedek.

 Toe ons verbyry, vorm haar monde een woord: “Sorry”.  Ek het nie gewaag ondertoe kyk nie –kan dus nie rapporteer hoe ver suid die skamele onderkleertjie toe nog was nie. Ook geen ander detail nie. jammer.

 Op die passasiersitplek sien ek ‘n prostrate man, kop in die hande. Slaap hy? Bedek hy net sy kop in skaamte en verleentheid?

 Vrae, vrae, vrae.

 Weet nou nog nie hoe om die scenario vir myself te verklaar nie. My raaiskoot was die twee is vroeg by die Phabenihek in en ‘n groot piepie het toe die vrou agter die stuurwiel oorval.

 ‘n Ander raaiskoot was dat hulle dalk onwettig langs die pad oornag het.  Sy kon dus besig gewees het met ‘n omvattende oggend-ablusie.

 ‘n Romantiese siel in my vriendekring wonder of dit nie passie was wat hom daar tussen die doringbome  uitgewoed het nie.  Die posisie van langbroek en G-string is in die opsig dalk rigtinggewend.  

 In elk geval: ‘n vreemde meisie se kaal boude in die floue oggendsonnetjie  was ongetwyfeld hierdie 72-jarige veteraan van vele besoeke se vreemdste Wildtuin-ervaring tot op datum.

 “Nou het ek alles gesien,” het ek vir Tokkie gefluister toe ek my asem terugkry. Sy het net gelag.

 Naskrif:  In my vervloe Tukkiedae is ‘n groepie vriende ná die eksamen Wildtuin toe. Baie bier het gevloei. Ene moet toe ook dringend sy neus poeier. Hy bespied die omgewing en spring gou uit die motor …  net om Koning Leeu rustig agter ‘n graspol te sien lê.  Hierdie ou vriend (ook al saliger) is blitsvinnig by die motordeur in. Gulp wawyd oop.  Het al gehoor van mense wie se melk weggeskrik is. Ek weet van een wie se piepie ook skoon daarmee heen was. 

 

 

 

 

 

 

‘HYGROMAN’ VAN OLIFANTE

Januarie 18, 2013 in Uncategorized

 

In die opbou tot die groot waters wat nou weer deur nuwe vloede deur die Wildtuin se hoofare – soos die Sabie – gepomp word, het die kwik hemelhoog geklim.

Op 10 Januarie het Sabiepark-eienaar Belinda Gillies op Facebook laat weet om 08:00 was dit op haar termometer reeds 31 grade.  Twaalf uur later, teen 20:00, was dit steeds 35 grade, aldus my nuwe skuilkamera teen die haak-en-steek by ons boshuis se  watergat.

Tot waar die kwik tussen 12:00 en 14:00 opgeskiet het, is ‘n saak vir diskoers.   Dat dit 40-plus was, is redelik seker.  Aanvoelbare temperatuur was volgens allerlei KNP-bronne iets soos 46 grade.

 Nietemin: dit was bloedig warm.  Dalk die warmste dag in Sabiepark in eie heugenis vir hierdie bejaarde ou lyf. Die withelmlaksmanne het met hygende oop bekkies op stoepe lafenis teen die versengende son kom soek. Troupante het op takke langs die pad sit en snak.

 Ons is die oggend met die Claassens-tweeling, Jacob en Thomas, Onder-Sabie toe. Vir ons moeite sien ons toe meer olifante in een oggend as ooit te vore – die noorde van die Wildtuinkangaan slaap.  Op die “dag van die olifante” leer ons toe ook ‘n natuurles:  hoe uiters hittesensitief die arme olifante met hul dik, skurwe velle is.  

 Oral in die benede-Sabie was blinknat olifante in troppe of een-een in die water, wadende, spuitende en plassende.  By die Sunsetdam was vier.  Op die Salitjepad was by haas elke watergat of suiping ‘n modderbad op volle dreef.

 Iets nuut vir hierdie olifant-bewonderaar was die saambondeling van klein gesinsgroepies onder sambreel-doringbome. Hulle staan soos ‘n swart muur in die skaduwee, die ore driftig flappende om hulleself en hul kleintjies af te koel.

 Een kleintjie op die Tshokwanepad was plat teen die grond in die selfgeskepte skaduwee tussen haar mamma se pote.  Ons dag die klein diertjie het aan hitte-uitputting beswyk. Toe bemerk Tokkie ‘n sprankie lewe. Ons sien ook hoe ‘n boetie of sussie, self skaars ‘n klompie bakstene hoog, met die slurp om die neergevelde olifantjie vroetel – duidelik in grote deernis, ter opbeuring.      

‘n Anderster soort ‘hygroman’ speel hom voor ons af.  

Omby Engels ‘n begrip te leen, dring dit op hierdie oggend, 10 Januarie, opnuut tot my deur waaraan die word  “pagiderms”  ontleen word:  die uiterste dik velle van drie tot vier cm sonder sweetgaatjies maar met ontsettend baie senuwee-eindpunte.

 Dis ‘n bloudruk vir hitte-belewenis op ‘n manier wat ons in ons lugversorgde motors nie kan snap nie.  Dit is ook die rede waarom olifante  baie lief vir water is  – om te drink en te speel. Bulle kan tot 200 liter per dag drink.

 Olifante verloor in baie warm weer tot vyf liter per uur – voggies wat broodnodig  is om die dik vel elasties te hou.  Hoe meer water ‘n olifant verloor, des te meer moet hy of sy natuurlik  inneem.

 Diep teue drinkwater wat direk maag toe gaan, word dan aangevul deur stortwater met die slurp op te suig en behaaglik oor die lyf te spuit. So speel hulle onderling, hou hulle aangename en welwillende sosiale verkeer in stand en bly hulle in uitmergelende toestande aan’t lewe.

 Die “dag van die olifante” was inderdaad ‘n dag in die natuur se klaskamer!

 

Naskrif:  Renosters is natuurlik ook “pagiderms” . Tussen Skukuza en Onder-Sabie het ons drie op die teerpad gekry wat duidelik – weens die watermerke en modder op hul lywe  – in die Sabierivier gaan baljaar het.  Gelukkig was geen stroper in sig nie!  

 

.