Jy blaai in die argief vir Wildtuin.

ALTYD IETS NUUTS UIT DIE BOS

April 6, 2017 in Uncategorized

Beelde van Maartvakansie: Tande-meneer by Tarlehoet, volwasse mierleeu en feesmaal naby Skukuza-gholfklub.

Ons luiperds het nou name: Mandleve en Shlarulini. Mandleve is ‘n dominante mannetjie in die Sabi-Sand en Shlarulini is sy wyfie. Die twee het Sabiepark ge-annekseer as deel van hul gebied en kom nou enige tyd van die dag of nag op inspeksie in hul “kolonie”.

Groter versigtigheid is deesdae die wagwoord, veral as jy gaan stap. Selfs Tokkie het haar laat oortuig om sekere roetes liefs te vermy en my Jan Scholtz-kierie op haar alleenwandelinge saam te vat.

Drie vlakvark-wesies is altyd op ‘n bondeltjie naby die kantoor. Dat hulle so moederloos groot word, herinner jou telkens aan die konstante luiperd-gevaar vir mens en dier.

Enigste eie roofdier-ervaring van die somervakansietjie in Sabiepark was egter met ‘n “roofdier” van ‘n heel ander aard: gelukkig net met een van die sogenaamde “Vyf Kleintjies”: die mierleeu.

Voorheen het ek die mierleeu net as die larwe geken wat met sy plat, vet lyf in sy tregtervormige putjie in die sand skuil, ander insekte met sy twee lang kake gryp en blitsvinnig die grond intrek. Nou het ek ook met die volwasse lepelvlerkie-mierleeu kennis gemaak.

Elke aand het ‘n paar by die stoeplig kom rondfladder. Die volwasse knaap lyk soos ‘n naaldekoker of waterjuffer met ‘n lang, skraal lyf en vier lang rafgfyne netvlerke. Hy is maar lomp en vlieg baie swak en rukkerig. Die deurskynende vlerke met jul kolpatrone verleen egter aan die insek ‘n sekere elegansie.

‘n Nuwe voëlgeroep (vir my altans, nie vir Tokkie nie) het die bekende eentonige doe-doe-doe-deuntjie van die groenvlerkduifie onderbreek. Dit is die harde, helder gefluit van die baardwipstert.

Die baardwipstert se roep bestaan uit ‘n reeks strelende frases wat elk drie of vier keer herhaal word, met heelwat variasie. Sommige frases styg in ‘n crescendo. Newman beskryf dit in Tokkie se veel gebruikte voëlboek meesterlik soos volg: “piee piee terr triee .. tsjieroee tsjieroee tsjieroee …. wietsjoee wietsjoee wietsjoee … tirroee tirroee tirroee … piee piee piee piee … tsjoe-iet tsjoe-iet tsjoe-iet.”

‘n Aand of twee voordat ons weg is, het ons die bekende duet van gevlekte ooruile duidelik in die nagstilte gehoor. Die mannetjie se diep “whoeee” word deur die wyfie se sagter “hoe” beantwoord (met of sonder vraagteken – ek weet nie. )

Naguiltjies se pragtige sang het amper elke nag opgeklink; uiters welkom nadat hulle ‘n ruk lank doodstil was.

Op die werf, tussen die aalwyne by die seuns se badjie, staan nou ‘n klein paddaboompie. Dis ‘n geskenk van broer Cules-hulle. Hoop die boompie oorleef en begin kort voor lank die groterige leeragtige vrugte lewer waar die ryp geel pulp deur mense, ape, bobbejane, renosters, neushoringvoëls en witoorhoutkappers geëet word. Laat ons ook hoop die vrugte lok eerder voeëls as ape en bobbejane!

Hoeveel rosyntjiebosse – reuserosyntjie, vaalrosyntjie, witrosyntjie en ritse ander gwerias van onbekende identiteit – op Tarlehoet voorkom, is onbekend. Dit sou ‘n reusetaak wees om te tel. Een ding weet ek: ná goeie reën in Januarie tot Maart is daar hope meer as voorheen. Oral beur ‘n nuwe rosyntjiebos of kruisbos boontoe.

Nog ‘n nuwigheid is natuurlik die stories wat na vore begin kom oor al die beroemde besoekers wat die Williams-Jonese na 250 saamgebring het: J.K. Rowling, Roger Moore en selfs dalk prinses Diana (vorige blog).

Wat elke keer ‘n somerbesoek kroon, is natuurlik die swembadjie. In daardie verfrissende water het ek en Tokkie die drie weke geboer, sonder wroeging oor die waterskaarste in die Kaap. Jy hoor dan die Sabie in jou ore druis!

Die geswem eerste ding elke oggend en laaste ding elke aand – so saam-saam met twee waterskilpadjies in die watergat – het ons selfs die pyn van die eerste dag se batterykrisis laat vergeet. Die ses nuwes en die nuwe reguleerdertjie werk in elk geval kookwater. Moet ook teen daardie koste (amper R15 000)!

Ompaadjie na Tshokwane.

Wat die Wildtuin betref, was dit ‘n openbaring om van die ompaadjie af die enorme skeur in die aarde gade te slaan weens die Mantimahledam wat weggespoel het halfpad tussen Skukuza en Tshokwane. Naby die Skukuza-gholfklub het leeus ‘n groot kameelperd platgetrek. Ons het hulle nie daar betrap nie. Vier hiënas het egter behoedsaam uit die bos gekom op soek na ‘n laaste peuselhappie. Een oggend het ‘n troppie wildehonde ons by die Paul Krugerhek ingewag.

Tussen die ruie gras en bosse was dit egter nie die maklikste ding om diere raak te sien nie. Maar wie gee oor diere om as die manjifieke veld self die oog so streel?

(Hierbo verwys ek na die Jan Scholtz-kierie. Dis ‘n pragstuk van kiaat met ‘n swierige vlakvarktand. By Tarlehoet was die vakansie ‘n beer met selfs nog indrukwekkender tande. Jan se hande sou gejeuk het!)

BOBAAS-BOULDERS

Julie 24, 2016 in Uncategorized

Kamp tussen rotskoppies.

Kamp tussen rotskoppies.

Ons het skaars begin om die heerlike geriewe en merkwaardige uitsigte op die eksklusiewe watergat van die boskamp Boulders te ontdek, toe twee verwelkomingskomitees opdaag. By die watergat het twee olifante kom drink. Oor die rotse by die braaiplek het die vriendelike gesigte verskyn van Johnson en Marvin, Boulders se “butlers”.

Van olifante en die twee “butlers” sou ons albei heelwat sien in die volgende 48 uur. Drie groepe olifante het minstens vyf keer die watergat kom beset; een keer ‘n troppie van agt of so. In die geledere was ‘n enorme bul en ‘n piepklein baba. Die grote het soos ‘n verwoede stormram onder twee wildehonde ingevlieg wat die kleintjie kom steur het.

Johnson en Marvin was soos skimme teenwoordig: dek tafel, was skottelgoed, maak die beddens op en dies meer terwyl jy op sagte rusbanke aan jou jenewer of wyntjie teug. Wyle oom Barnie Human van Bloemfontein – bekend om sy rykdom en sy humor – het gemeen ‘n mens hoef nie ryk te wees nie; jy moet net ryk maniere he. Sulke ryk maniere leer Boulders jou vinnig.

Wildehonde by die waters.

Wildehonde by die waters.

Die twee wildehonde het net voor skemer die eerste aand uit die mopanies verskyn om hul dors te les. ‘n Derde het later opgedaag en sy makkers se spoor gevat. Ook ‘n hiëna en verskeie vlakvarke het kom drink.

Maar die buffels! Die swaar gestaltes met hul indrukwekkende horings het vir die eintlike fees gesorg. Eers rustig uit die bosse gekom. ‘n Trop van minstens 80. Jy het net oë gesien in die donkerte wat intussen toegesak het. Later tot amper teenaan die kamp gewei. Ek en Tokkie het in die lig van die amperse volmaan op ons stoepie gestaan en wonder oor die veiligheid van die Honda wat tussen die pilare onder die gebou geparkeer was.

Uit die bloute jaag iets egter die trop die skrik op die lyf. Toe hulle omspring en oor die klippe storm, het dit gedruis. Twee uur later keer hulle terug, weer op volle vaart in die teenoorgestelde rigting. Twee stormlope in twee uur – min het ons geweet die volgende oggend sou die aarde weer bewe in stormloop nommer drie. Oor wat die rede (redes?) vir die sonderlinge gedrag was, kon ons net raai.

Buffels bondel by die watergat.

Buffels bondel by die watergat.

Buffels was nie al wat vir ‘n skouspel gesorg het nie. Wie sal ooit die vertoning van die vlermuise kan vergeet? Met die westerkim in goud gebaai, het die vreemde diertjies skielik in hul honderde die lug geklief en in ‘n swart wolk koers gekies. By die watergat was sononder weer die teken vir ‘n enorme toesakking van allerlei voëls.

Boulders se naam is presies in die kol. Die onomheinde kamp (ses uiters ruim dubbelkamers met private badkamers en die enorme kuierplek) is omring deur skilderagtige rotskoppies. Die massiewe klipstapels sorg vir ‘n ervaring op sy eie.

Vier klipspringers was deurgaans aan’t klouter in die klippe om die kamp. Die lewendige voëllewe het verskeie besoeke van kleurryke dassievoëls ingesluit. In skeure in die rotse gaan ‘n paar muskejaatkatjies tuis. Veral een is buitengewoon vrymoedig.

Die natuurlike klip-voëlbadjie het nie net die dassievoëls gelok nie, maar ook vir ‘n gedurige toestroming van blou sysies gesorg. Eekhorings en akkedisse het boon op hul dors kom les.

In die seldsame stiller tydjies het ‘n fiere patrysmamma en haar span kuikentjies – so groot soos hoendereiers, meen Tokkie – vir heelwat plesier gesorg. Die oggend toe ons padgee, het ‘n steenbokkie kom inloer.

Boulders is ‘n taamlike ent van Sabiepark – iets soos 225 km. Jy moet roer om in ‘n dag van A tot by B te kom as jy darem ook langs die pad wil bene rek en vir “spesiale” diere wil stilhou, wat ons wel meermale moes doen. Op die reis was o.m. ‘n luiperd of twee, leeus wat rooi van die bloed ‘n buffelkarkas aandurf, sierlike swartwitpense, njalas en dies meer.

Die tog word egter dubbel en dwars beloon. Boulders is een van die Kruger-wildtuin se skitterendste juwele. In sekere opsigte selfs beter as die peperduur private reservate aan die wildtuin se grense. Om ware vrede te vind of vir ‘n spesiale bederf van ‘n geliefde, kan jy kwalik beter vaar.

Ruwe rotse by die braaiplek.

Ruwe rotse by die braaiplek.

Mopanieveld is nie my persoonlike gunsteling nie. Maar die bekroonde kamp tussen die mopanies met sy kenmerkende koppies het waarlik karakter. Ek gee die plek sonder huiwering ses sterre. Vir die uitsonderlike braaiplek teen ‘n natuurlike muur van ruwe rotse gee ek sommer sewe. Die braaiplek, die watergat en die stilte (vir sommige dalk ook die lang kroegtoonbank) ding sterk mee om die hoogste louere, sou ek reken.

Die watergat se pomp word deur sonkrag aangedryf, soos, trouens, al die kamp se ligte en toestelle. Daardie pompie het dapper probeer maar was, helaas, nie teen soveel buffel- en olifantbesoeke bestand nie. In ‘n stadium moes ‘n kragopwekker ingespan word om die watervoorraad ‘n hupstoot te gee. Vir ‘n rukkie het dit die stilte versteur. Maar toe die kragopwekker afgeskakel word, was die bosveld-vreedsaamheid amper des te meer oorweldigend. Juis op daardie oomblik klim die vlamme van die kampvuur die lug in en verskyn ‘n ronde rooi maan tussen die bome. Hemels.

KERK INNIBOS

Junie 15, 2016 in Uncategorized

img049

13427846_10155025396185190_4517233175494087929_n Ons kerk in die bos – rooibokkies wei onder die reuse-koorsboom by die ingang.

————————–

KERK in dreigende reën op ‘n verlate koppie op die oop vlakte; piekniek knus in die kerk tussen die kerkbanke. Waar gebeur iets so raar?

Hier’s leidrade: in dieselfde kerk is al ‘n vlakvarksog en ses kleintjies per ongeluk toegesluit, het ‘n dronkgeslaande hiëna by die konsistorie se deur ingeloer terwyl die kerkraad vergader, en moet kruiwavragte olifantmis van tyd tot tyd op die grasperk opgetel word.

Waar anders as in die Krugerwildtuin? Om meer presies te wees: waar anders as in die unieke NG gemeente Krugerpark in Skukuza, wat pas sy 30ste verjaardag gevier het. Dit is Van Deventers se bosgemeente wanneer ons in Sabiepark kuier, en ons is verkleef aan ons kerkie.

Die atmosfeer binne is behaaglik intiem, en die boskarakter is treffend. Die kerk spog met die enigste pastorie in die wêreld wat in ʼn wildtuin is. Skukuza se kerkklok is een van min – dalk die enigste – wat aan ‘n stuk hardekoolstam hang. Die doopvont is in ‘n hardekoolstomp. Die hout, soos die van die preekstoel, kom alles uit die Krugerpark.

Om te aanbid terwyl vlakvarke die grasperk omdolwe (voordat die onthutste kerkraad dié plek van aanbidding laat omhein het), rooibokkies by die voordeur wei, of voëls hul eie koorsang aanhef in die reuse-koorsboom by die kerktrappies kan nie anders nie as om jou opnuut van die wonder van die Skepping bewus te maak. (Daardie monumentale boom maak op sigself ‘n ritjie die personeeldorp in die moeite werd).

IMG_1328-Small

Indrukwekkende preekstoel uit inheemse wildtuinhout.

Dienste word meermale in die natuur gehou: op die die indrukwekkende Mathekenyane-granokoppie tussen Skukuza en Pretoriuskop, langs die H1-1 suide toe, op die wal van Lake Panic en op die gholfbaan.

Paasdienste op die koppie is werklik uniek. Treffend is dit om op kampstoeltjies hoog bokant die veld te sit terwyl die nag stadig toesak, en om die Paasverhaal in lied (met kitaarbegeleiding), poësie, Skriflesing en gebed te herdenk.

Op Sondagaand 16 Maart 2008 het oud-kollega Herman le Roux en sy vrou, Rina, van Randburg op die granokoppie die viering van Palmsondag saam met ons meegemaak – ‘n spesiale geleentheid vir die Van Deventers persoonlik, vir omdat ons met vreugde en dankbaarheid kon terugdink aan ‘n verbintenis van tien jaar met Sabiepark.

Kitaarbegeleiding op Palmsondag op Granokoppie. Ds. Carl staan links.

Kitaarbegeleiding op Palmsondag op Granokoppie. Ds. Carl staan links.

In die Wildtuin en omstreke daal die kwik daardie Sondagmiddag skielik dramaties. Teen 17:00 kan jy die reën in loodgrys vlae uit die verte sien aankom. Die skraal windjie begin aan die sambrele ruk. Maar die Gideonsbendetjie op die koppie druk dapper deur. Met palmtakke in die hand word entjies-entjies teen die steilerige koppie opbeweeg om die gebeure van die Paastyd treffend met woord en lied in herinnering te roep.

“Ons Koning kom!” (‘n lied uit die Moreleta-sangbundel op die wysie van “Ons roem u Naam”) – hoe verheffend sulke kerkliedere met kitaarbegeleiding in die naderende aand in die bos klink, terwyl die eerste druppels jou hare nat spat, is moeilik om te beskryf. Dis ‘n sielservaring.

Die koue en reën slaan hul kake egter in. “Kerk toe,” gebied ds. Carl, en daar trek ons toe met ons stoele, mandjies en wat nog. Piekniek in ‘n kerk? Dit is vir die uwe ‘n eerste. As daardie kerkbanke maar kon praat, sou hulle nogal smaaklike stories kan opdis, ook van ander vreemdhede. Net twee weke vantevore was byvoorbeeld die vlakvark-insident.

Die agtelosige moeder en haar kroos is deur ‘n skoonmaker binne toegesluit. Die besorgde ma begin toe benoud teen die deure stamp. Skukuza se leraar, ds. Carl Louwrens, word ontbied om die onverklaarbare gestommel te kom identifiseer. Toe hy oopsluit, sien hy net krom tande. Die verligte vlakvarke draf ná die herderlike ontsetting stertjie-orent op ‘n verontwaardigde drafstappie die personeeldorp in.

Besoeke van ander diere sdoos olifante en hiënas eindig darem altyd buite die kerk en nie binne nie – net een keer het ‘n hiëna by ‘n kerkraadsvergadering om die deur geloer. ‘n Olifant het al sy bolle kom los direk onder die kerkklok.

Ds. Carl is ‘n man vir simboliek. Toe ons op 14 Maart 2004 ons eerste Paas-sangdiens bywoon, word brood gebreek wat deur sy vrou, Sarah, gebak is. Spykers word ook uitgedeel om ons aan Golgota te herinner. Elkeen ontvang ‘n kruis wat kunstig uit palmtakke gevleg is. Toe Paaseiers een jaar uitgeruil moet word, dam Tokkie, by gebrek aan die ware Jakob, twee gekookte hoendereiers met ‘n viltpen by. Sy verfraai die doppe met sirkels en bind strikkies om. Die ontvangers “oe” en “aa”, al was dit dalk net uit hoflikheid.

Aand-geleenthede op die granokoppie eindig tradisioneel met ‘n piekniek-ete onder die sterre. Die gemeente bring opvoustoele, mandjies kos, en ietsie vir die keel. Dan word ‘n hond uit ‘n bos gekuier. Enkele jare gelede, toe skoonseun Brent Claassens (wat vinnig ingespan is om die rol van ‘n Romeinse soldaat te vertolk) en dogter Marisa teenwoordig is, daal duisende stinkbesies teen die einde op die gemeentelede neer. Hulle moet vinnig die aftog blaas en in Skukuza verder gaan kuier.

‘n Kers-sangdiens eindig ook altyd met ‘n tradisionele agterna-kuier om die kospotte.

Ds. Carl is ‘n man met ‘n fyn humorsin. In ‘n gemeente-nuusbrief vertel hy van ‘n dooie leeu wat hy teengekom het, op pad terug na Skukuza van ‘n sendingaksie aan die oosgrens af. Toeriste het hom beduie waar dié karkas lê. Dié leeu is oënskynlik deur buffels doodgemaak, wat nogal meer gebeur as wat baie mense besef. Ds. Carl vertel:

“Soos dit ‘n verantwoordelike burger betaam, kontak ek een van ons gemeentelede die oomblik toe ek ‘n sein op die selfoon kry. Ná ‘n paar minute se verduideliking van die presiese plek is ek tevrede en gaan voort met my lewe. Die inligting word verwys na die staatsdiereartse. Later vind ek uit dat die man van veeartsenydienste wat die leeu gaan soek het, redelik gesukkel het om op grond van my aanduidings die plek te identifiseer. Ná ‘n groot gesoek is die leeu toe opgespoor en bevestig dat buffels hom doodgemaak het.
“Droogweg merk ons veeartseny-kollega na bewering toe op: ‘As dít is hoe die dominee die pad aanwys, is ek baie bekommerd oor sy gemeente!’”

Junie 15, 2016 in Uncategorized

13427846_10155025396185190_4517233175494087929_n

13427846_10155025396185190_4517233175494087929_n

Ons kerk innibos – bokkies wei onder die reusekoorsboom by die ingang.

APTYT RAAK NIE VERSADIG

Augustus 3, 2015 in Uncategorized

Groenrugreier op laagwaterbrug oor Olifants.

Groenrugreier op laagwaterbrug oor Olifants.

Ex Africa semper aliquid novi. Op hierdie baie waar Latynse spreuk het ek my al telkens beroep as ek oor ons bos skryf. Ook uit hierdie geliefde stukkie Afrika kom altyd iets nuuts.

Van ‘n intieme leeutoneel tot ‘n bedrywige swerm lepelaars tot ‘n verkeidenheid klein bokkies het vir nuwe ervarings gesorg toe ons verlede week saam met Jaap en Marlene Duvenage van Pretoria Balule toe is vir die eerste van drie besoeke hierdie wintervakansie.

Die leeus het ons so tien kilometer anderkant Tshokwane gekry op pad Satara toe. Vlak langs die H1 – 4. Twee kraagmanne en ‘n wyfie. Ons het skaars stilgehou toe die een mannetjie sy amoreuse bedoelinge laat blyk.

Die wyfie het nie op haar laat wag nie. Amper binne vatafstand beleef ons toe ‘n slaapkamertoneel soos min. Een foto wys hoe die ou se ruggraat eintlik knoppies trek van inspanning.

In my kop “komponeer” ek toe vinnig die volgende versie: Kraagman, kragman, grootmeneer; kopuleer vlak langs die teer; ná bietjie rus toe soek hy meer; hy doen dit weer…en weer .. en weer.

Van die hoogwaterbrug oor die Olifants het ons die swerm lepelaars lank dopgehou. Blykbaar was op daardie kolletjie ‘n digte lot paddavissies of watergoggas saamgetrek. In die geselskap van ‘n klompie wit reiers het die seldsame watervoëls op daardie buit toegesak met ywer en energie. Dit was net wit vlerke en plat pienkerige snawels wat skep-skep sonder ophou. Wat ‘n gesig. Voorheen het ons lepelaars net een-een of twee-twee waargeneem by onder meer die Sunsetdam.

In die bosse naby Balule het ons die klein bokkie gewaar wat duidelik anders was as ‘n steenbokkie of ‘n duiker. Ongetwyfeld Sharpe se grysbok – die eerste keer dat ons ene doodseker identifiseer. Nog ‘n eerste: die eerste keer dat ons op een reis so ‘n verskeidenheid klein bokkies raakloop: ook steenbokkies, duikers, klipspringers en baie bosbokkies. Almal, buiten die bosbokkies, is net tussen 50 en 60cm hoog. Die bosbokkie is 80cm.

Lepelaars by hoogwaterbrug oor die Olifants.

Lepelaars by hoogwaterbrug oor die Olifants.

Oor die laagwaterbrug by Balule kon ons die eerste keer in drie jaar kortpad Olifants toe vat. Nogal lank gevat om dit te herstel na die vloedskade van 2012. Olifants net om die draai is die een bonus. Die ander is die wonderlike fotogeleenthede wat die herstelde brug bied. Het ‘n foto van ‘n groenrugreier van die brug af geneem waaroor ek in my noppies is. Het ook die groen oase van Balule met sy groot essenhoute en worsbome oorkant die rivier uit alle hoeke bekiek. En die asemrowende sonsondergange …

Daardie aristokraat van die bokwêreld die swartwitpens het groot opgewondenheid in die Honda-tjie meegebring. Ons het so agt of tien van hulle by die N’watindplofu gekry, naby die die afdraai van die S36 na Nhlanguleni. Tussen die bome en lang gras moes ek fyn korrel vir foto’s. Maar op my kamera is die bewys dat hulle daar was. Dit was nie die eerste keer dat ons hulle in daardie omgewing sien nie. Maar elke keer dat jy ‘n swartwitpens sien, is in my boekie so heerlik opwindend soos die eerste keer.

• ‘n Minder plesierige eerste was die kwaai wind by Balule Vrydagaand. Gelukkig was ons hoenderdye klaar gebraai. Jaap is ‘n meester by die kole. Ons moes egter maar skarrel om ‘n beskutte eetplekkie te vind. Toe ons in die rondawel kom, was die plek vaal van die stof wat uit die grasdak neergedaal het. Die wasbakke in die ablusieblok was bruin gestreep soos ‘n kamoefleerpak. Nietemin – Balule, ons kom weer en weer. Soos daardie leeumannetjie op die N1 s’n is ons aptyt eenvoudig onversadigbaar.

GOUE DRIEHOEK

Julie 9, 2015 in Uncategorized

1-IMG_2457

See van buffels by die Orpendam.

Die Goue Driehoek in wildtuin-terme is vir my onteenseglik die driehoek Skukuza, Tshokwane, Onder-Sabie, Skukuza. Beveel dese en gene altyd daarheen aan vir ‘n vinnige, vrugbare besoekie. Ses uur van wildtuinplesier wag. Op grond van ‘n resente ervaring wil ek ‘n blindedermpie byvoeg. Dis die Orpendam-omrit

Ek en Tokkie het saam met ons dogter Marisa Claassens, Jacob en Thomas (11) en Christopher (6) die Goue Driehoek verken. Eerste been: Skukuza – Tshokwane. Ek kry toe die ingewing om nie by Tshokwane die gewone H10 te vat nie, maar eerder so drie kilometer verder op die H1-3 te ry en die natuurskone omrit aan te durf.

Op daardie drie kilometer anderkant Tshokwane kry ons toe ons eerste leeus van die dag (later naby Skukuza nog gekry). Op die omrit, by die afdraai na die dam self, ry ons ‘n see van buffels binne – dalk die grootste trop wat ek nog gesien het. Honderde, honderde, grotes en kleintjies. Maar taamlik verspreid.

Olifante was deurgaans volop en renosters glad nie skaars nie. Vir nommer vyf, die luiperd, moes ons egter werk. En Job se geduld aan die dag lê.

Net verby die Sunsetdam was ‘n verkeersknoop aan’t opbou soos slegs op die “wildtuin se N1” moontlik is. Ons was gelukkig strategies geplaas. As die ouens voor ons net wou aanskuif. AS …….. Dit word weer by ons ingevryf dat party ongepoetste jafels hul maniere by die venster uitsmyt wanneer hulle iets spesiaal sien.

In die Land Cruiser voor ons was twee egpare. Die mans had die allemintigste lense. Daarmee het hulle seker ‘n duisend foto’s gekiek. Eenvoudig net verseg om te roer om iemand anders ook ‘n kans te gee.

Ten einde laaste het ons darem die luiperd in ‘n oop kolletjie gesien. Ons het nie oorgeloop van vriendelikheid jeens die hardekwas manne in die Land Cruiser nie. Hul verweer was verbasend. Hulle neem foto’s vir National Geographic!

‘n Swerm aasvoëls in die bome het verraai dat daar ‘n vangs was. Die luiperd was mank en het uiters ongemaklik beweeg – iets waaraan ons op ‘n vreemde wyse herinner is. Kort daarna het ons gehoor van die luiperd-aanval op die gids in ‘n safarivoertuig op dieselfde roete dieselfde dag. Maar ons s’n kon dit darem nie gewees het nie. Die insident was ‘n hele paar kilometer nadir aan Skukuza.

Die Sunsetdam was, soos dikwels, ‘n fees met ‘n groot drukte van waterdiere en –voëls. As bonus ook ‘n kameelperd wat knieë knak om op die hitte van die dag gulsig te drink, omring deur rooibokkies en nimmersatte.

1-1-IMG_2446-001

Berghaan se brekfis.

Twee voëlwaarnemings het ‘n tweede nare waarheid van die hedendaagse wildtuin opnuut tuisgebring. Dit is hoe roekeloos spoedvrate op die hoofpaaie heen en weer jaag. Die eerste was ‘n berghaan wat die laaste stukkies vlees van ‘n bondeltjie vaal vere afskeur. Duidelik die slagoffer van ‘n jaagduiwel. Die tweede was werklik hartverskeurend: ‘n Patrysie wat hartseer rondom sy sterwende maatjie ronddans en paniekerig probeer om die feitlik lewelose liggaampie van die teer af weg te kry.

Terwyl ons op die toneel was, is die enetjie wat raakgery is, dood. Die oorlewende was verpletterd. Die toneel het my so geruk dat my kamera ongebruik langs my bly lê het. Eers later het dit tot my deurgedring die roerende toneeltjie kon aangrypende foto’s opgelewer het. En ek noem myself ‘n koerantman!

LERAAR BID ‘N LEEU LOS

September 23, 2014 in Uncategorized

Hennie se maanhaar.

Hennie se maanhaar.

Hoe gemaak as jy brand om ‘n leeu te sien, maar die wildtuin se hekke wil sluit en die dag in die bos loop leeu-loos ten einde?

Jy maak dit ‘n saak van gebed, vertel dr. Hennie Swanepoel ‘n leraar van Melkbos.  Hy het op versoek van Visnet, gemeenteblad van die NGK Melkbosstrand, sy maanhaarstorie 
opgeteken. 
Dr Hennie skryf soos volg:
“Die braai naby Onder-Sabie in die Krugerwildtuin was alte lekker. Ons het die hele oggend gery, maar die diere was skaars. Terug in die kar het ek ‘n lied op my selfoon gespeel wat die hele dag in my kop gemaal het: ‘…Who is worthy to open the scrole, only You Lion of Judah.’
“En dit is al só lankal my gebed dat ek die Leeu van Juda sal sien en meer intens sal beleef. Ek het die heeltyd terwyl ons gery het in my stilligheid gebid: “Ag Here, ek wil so graag ‘n leeu sien. Wil U nie groot asseblief vir ons twee bederf nie? Maar nie ‘n leeu waar ‘n klomp karre ophoop nie. Ek sien hulle nie lekker as hulle ver is nie. As U wil Here, kan ons nie groot asseblief op ons eie ‘n leeu naby sien nie? Dit sal vir my ‘n bevestiging wees dat U my hoor.”
“Ons het vir byna ‘n halfuur by ‘n watergat naby Phabenihek gesit. ‘n Visarend het hoog in ‘n boom gesit en ons het seekoeie hoor grom. Die tyd het min geraak, want die wildtuin se hekke sluit half ses. Ons sê toe vir mekaar dat ons die visarend tot vyf uur toe tyd gee om te roep. Ons het deur die dag 19 visarendkrete gehoor en 20 sou dit mooi afrond. Maar ai, hy wou toe niks weet nie. Hy was die ene stilswye.
“Om vyf uur besluit ons toe maar om hek se kant toe te ry, want dit het begin skemer raak. Ek het saggies vir Hom gesê: ‘Here, dis reg as U nie vir ons ‘n leeu wil wys nie. U is in beheer. Ek wil in elk geval vir U sien. Ek smag na U’.
En toe, skielik sê my vrou saggies: Leeu! Aan ons linkerkant kom hy toe aangestap. Dit was net ons en hy, ‘n groot maanhaar leeu. Hy het grasieus reg voor ons oor die pad gestap. So op sy eie. Ek het ‘n motor van voor en een van agter gewys om stil te hou sodat hulle ook die stukkie seën kon ervaar.
“Wat ‘n bevestiging! As ons voor vyf of net ‘n rukkie na vyf van die visarend af gery het, het ons die leeu nie gesien nie. Dit is hoe ons Here se tyd werk. Hy gee dinge soos en wanneer Hy wil. Hy is hier en Hy wil gesien word! En wát ‘n sonsondergang het ons nie oor die Laeveld begroet nie!
“Dankie, Here dat U my en my liewe vrou so bederf.”
 .

SKUKUZA VERLAM

Julie 13, 2014 in Uncategorized

Nogal ‘n bisarre belewenis as Skukuza, slagaar van die Krugerwildtuin, in die hart van die wintervakansie om 14:30 op ‘n weekdag ‘n verlammende kragonderbreking beleef.

Die winkel en poskantoor is stikdonker. In die donker hool van ‘n poskantoor sit die twee toonbankklerke soos spoke agter die toonbank. Selfs nie ‘n kers is in sig nie. Hul hande is afgekap. Kon nie eens aan Tokkie n posseël verkoop nie.

In die winkel is dit sake soos gewoonlik – wel, nie heeltemal nie. Winkelpersoneel vergesel die klante met priemende flitse in die donker gange. Een help Tokkie die piesangrak opspoor en skyn bedagsaam sy flits in haar handsak toe sy in die duisternis sukkel om haar beursie vas te vat.

Uit die waskamer klink vrouestemme in strelende harmonie – dit is die ledige wasservroue wat hulleself in ‘n impromptu-koortjie georganiseer het toe die wasmasjiene en tuimeldroers tot stilstand knars en die strykysters koud word.

By die vulstasie staan al die petrolpompe. Arme drommels wat dringend brandstof nodig het vir die reis verder moet maar wag en hoop ….

In die donker toilette moet jy goed mik.

Deur die ontvangskantoor se vensters val genoeg sonlig sodat ongeduldige toue toeriste wat wag op hul rondawels se sleutels, geholpe kan raak. Maar dit is ‘n harmansdrup-proses, lyk dit, so sonder rekenaars en ander broodnodige tegnologie wat van elektrisiteit afhanklik is.

Arbeid wat sonder ‘n oomblik se verposing voortgaan, is die van die suikerbekkies wat by die ontvangsblok met hul lang snawels die nektar uit die bloedrooi aalwyne in volle blom suig. ‘n Skare fotograwe met lang lense staan gereed vir ‘n prysfoto. Party staan knielend vir die regte oomblik en wag.

Moet darem sê dat karige lig vir die kameragarde geen problem was nie. In die helder sonlig was die aalwyne bloedrooi en die suikerbekkies se kleurryke klede so skitterend as kan kom.

LEEUTJIE LEK SY LIPPE!

Maart 30, 2013 in Uncategorized

Vir my vriende in die noorde: die lekker spotprent in vanoggend se Burger oor ‘n leeutjie wat sy lippe aflek vir die Spur-spyskaart

BOUDJIES IN DIE BOS

Januarie 23, 2013 in Uncategorized

Stadig stap in die lange pad ….

DIE  oes van kordate jong rooibokkies, vol hupppelende lewenslus, is altyd ‘n somervreugde in die Wildtuin.  Die besoek oor Nuwejaar het ook die Vyf Grotes opgelewer, in verskillende formate.

Die “dag van die olifante” (blog van 18 Januarie) was ‘n treffende ervaring.  Op die S3 moes die liewe Tokkie ‘n ander keer die Honda in trurat gooi en ‘n kilometer ver padgee vir ‘n Meneer wat – niks dreigend nie, maar tog –  slurpswaaiende in ons rigting bly aanstap het.

Renosters (met horings!) was vreemd volop. Die drie op die Skukuzapad  (dieselfde blog) was amper so naby dat jy aan hulle kan vat. Sou gedink het die nuus het al lankal die ou stiksienige lot versprei dat hulle moet ver wegbly van die paaie waar stropers met swaarkaliber-gewere en byle rondsluip.

Buffels was hier, daar en oweral: in groot troppe of een-een. Regte ou staatmakers.

Leeus het ons net een keer gekry: drie lummels uitgestrek aan’t snork naby die Olifantdrinkgat op die pad tussen Tshokwane en Skukuza.

Vir ‘n luiperd moes ons wag tot die heel laaste dag. Toe bel Gert-Jan Pols: daar was ‘n vangs naby die Krugerhek. Die luiperd en sy prooi, ‘n rooibokkie, is in ‘n boom langs die pad.  Ons was op pad kerk toe. Was binne minute op die toneel – voordat die grootste verdringing kon begin.

 Dan was daar 17 wildehonde langs die Onder-Sabiepad, twee keer jagluiperds en vele ander toneeltjies wat in die bultende foto-albums in Sabiepark se boekrak plek sal kry.

Maar een toneel staan uit. Daarvan het ek ongelukkig net ‘n geheueflits.

 Ons ry vroeg die Phabenihek toe.  Op die S4, net voordat dit by Doispaneweg aansluit, sien ons op ‘n stil oggend van ver ‘n motor staan.

 “Wat sien hulle?” wil die tweeling, Jacob en Thomas, opgewonde weet. Hulle vra dit altyd.

 Vir my lyk dit of daar teenspoed met die motor kan wees. ‘n Gedaante buk by die voorwiel.

 Toe ons nader kom, sien ek die boudjies.  Poedelkaal en baie bleek.  ‘n Dame (?)  spring een-beentjie en probeer haar G-string van haar enkels af opruk.  In die oomblik van paniek pluk sy egter ‘n verkeerde pluk en die spulletjie haak vas. Net so ‘n entjie bokant die swart langbroek wat haar skoene bedek.

 Toe ons verbyry, vorm haar monde een woord: “Sorry”.  Ek het nie gewaag ondertoe kyk nie –kan dus nie rapporteer hoe ver suid die skamele onderkleertjie toe nog was nie. Ook geen ander detail nie. jammer.

 Op die passasiersitplek sien ek ‘n prostrate man, kop in die hande. Slaap hy? Bedek hy net sy kop in skaamte en verleentheid?

 Vrae, vrae, vrae.

 Weet nou nog nie hoe om die scenario vir myself te verklaar nie. My raaiskoot was die twee is vroeg by die Phabenihek in en ‘n groot piepie het toe die vrou agter die stuurwiel oorval.

 ‘n Ander raaiskoot was dat hulle dalk onwettig langs die pad oornag het.  Sy kon dus besig gewees het met ‘n omvattende oggend-ablusie.

 ‘n Romantiese siel in my vriendekring wonder of dit nie passie was wat hom daar tussen die doringbome  uitgewoed het nie.  Die posisie van langbroek en G-string is in die opsig dalk rigtinggewend.  

 In elk geval: ‘n vreemde meisie se kaal boude in die floue oggendsonnetjie  was ongetwyfeld hierdie 72-jarige veteraan van vele besoeke se vreemdste Wildtuin-ervaring tot op datum.

 “Nou het ek alles gesien,” het ek vir Tokkie gefluister toe ek my asem terugkry. Sy het net gelag.

 Naskrif:  In my vervloe Tukkiedae is ‘n groepie vriende ná die eksamen Wildtuin toe. Baie bier het gevloei. Ene moet toe ook dringend sy neus poeier. Hy bespied die omgewing en spring gou uit die motor …  net om Koning Leeu rustig agter ‘n graspol te sien lê.  Hierdie ou vriend (ook al saliger) is blitsvinnig by die motordeur in. Gulp wawyd oop.  Het al gehoor van mense wie se melk weggeskrik is. Ek weet van een wie se piepie ook skoon daarmee heen was.