Jy blaai in die argief vir wahls.

MOORD WAT MY GERUK HET

Julie 4, 2020 in Uncategorized

Dit was n skok om Cicely Wahl, senior lektor in Engels aan die Vrystaatse Universiteit, op uitnodiging van buurman Hekkie Aucamp, ‘n polisiereservis,  op ‘n Sondagmiddag bebloed en vol skietwonde in  haar bed in die Wahls se netjiese huis in Harry Smithstraat, Bloemfontein, aan te tref.

Die skok was groter toe dit aan die lig kom dat prof.Robert Wahl, eerbiedwaardige hoogeleraar in dieselfde vak, met sy eie 6.35 mm pistool op ‘n kort afstand ses koeëls  in sy slapende vrou  se kop en nek gepomp  het.

Die derde skok was dat die besadigde en uiters beskaafde akademikus ná die daad met sy Mercedes die 23 kilometer Maselspoort toe gejaag het – voor die oë van verbaasde vistermanne met brullende enjin tot binne-in die water. Later is ontdek hy het homself in die knie gewond om seker te maak dat hy in die sinkende motor vasgepen bly.

Hierdie hartverskeurende gebeure, vroeg op  Sondagoggend 5 April 1970, het Bloemfonteiners – veral die akademiese gemeenskap aan die U.V.  – verbyster.  Die Wahls was gerespekteerde en gekultiveerde mense : dit was amper ondenkbaar dat so ‘n treurspel hom in hul huis sou afspeel.

Eers toe die legkaart verder voltooi word, het begrip gedaag – en deernis.  Die 42-jarige Cicely was terminaal siek aan kanker.  Haar lyding het eenvoudig te veel geword vir haar man  wat dit in eensame wanhoop alleen moes aanskou en verwerk. Die egpaar was kinderloos, en die ondersteuningbasis van intieme vriende was yl.

‘n Vinnige dood moes uiteindelik die enigste uitweg gelyk het. Sommige het gefluister oor ’n selfmoord-pakt.  Of een inderdaad bestaan het en of iets net skielik in die skraal 49-jarige professor geknak het, sal niemand ooit weet nie.  Geen twyfel het egter bestaan dat hy sy geliefde Cicely ‘n genadedood toegedien het nie – ‘n liefdesdaad uit en uit.

Dit blyk ook uit die brokkie oor die geregtelike ondersoek en die bevinding in die Die Burger se rubriek  “50 jaar gelede” vanoggend – my gunstelingstukkie in die koerant omdat dit dikwels oor dinge handel wat ek beleef het en goed onthou.  Met die Wahlmoord was ek nuusredakteur van Die Volksblad. Hul huis was ‘n enkele blok van ons s’n.

“Die kanker begin Cicely se keel aantas. Ek het haar lief, ek het haar lief, ek het baie lief,” lui ‘n brief waarop die polisie beslag gelê het. Daar was geen naam of datum onderaan nie.  Die brief word vanoggend in Die Burger-brokkie aangehaal. Van daardie brief het ek al vergeet.  Maar die motief word daardeur bo alle twyfel bevestig.

Die besef dat dit ‘n liefdesdaad was, het gemaak dat in Bloemfontein min, indien enige veroordeling gehoor is. Diie algemene reaksie was: “die arme, arme mense.” Ek was in daardie stadium net 29 jaar oud, met beperkte lewenservaring.  Dit was ook my gevoel.. Seker dié dat die Wahl-moord my so geruk het soos min ander moorde in my koeranteloopbaan van 36 jaar.