Jy blaai in die argief vir vyf grotes.

DIE LEEU EN DIE LAM …

Augustus 28, 2015 in Uncategorized

Leeus, wildebeeste en 'n kameelperd by die water.

Leeus, wildebeeste en ‘n kameelperd by die water.

Die Vyf Grotes op die terugtog van Balule na Sabiepark – toe gebeur dit gister die tweede keer in 10 dae. Hierdie keer, na die Kollegamanne se kuier, het die buffels ons tot op die laaste nippertjie laat wag. Eers by die Krugerhek het ons een langs die Sabierivier gewaar.

Dit het vyf uur gevat om nommer vyf af te tik teenoor twee en ‘n half uur die vorige keer. Nietemin ‘n baie spesiale rit gewees. Die eerste keer leeus rustig saam met twee ander spesies afgeneem (foto hierby); die eerste keer gesien hoe ‘n olifant snork, ore klap, laat spaander vir veiligheid en trompetter toe ‘n helikopter laag oor sy kop skeer; die eerste keer ‘n najalabul en -ooitjie saam gesien hier in die sentrale streek van die KNP.

Die Bybelse leeu-en-lam-toneeltjie was by die Mazithidam 9km noord van Tshokwane. ‘n Entjie nader aan Tshokwane het sewe leeus onder ‘n skaduboom koelte gesoek.

Natuurlik geen algemene rekord nie, maar vir die Van Deventers wel loshande een was ons vinnige Vyf na die Volksblad-saamtrek. In twee en ‘n half uur het ons leeus, luiperds, olifante, renosters en buffels afgetik – ook nie net een, een nie maar leeus nie minder as ses keer nie; luiperds twee keer, olifante en buffels groot troppe en renosters drie bymekaar onder ‘n boom. Boonop mooi troppe ander wild gesien. Ook samedrommings van van veral rooibokkies, sebras en blouwildebeeste by watergate.

VYF GROTES

Augustus 5, 2014 in Uncategorized

IMG_2900-001Sondagmiddag langs die Sabie

Op my bedkassie in Tarlehoet is Jeff Gordon se 101 Kruger Tales waartoe die uwe ook ‘n uiters beskeie bydrae gelewer het. Ysingwekkende, hartroerende en humoristiese wildtuinverhale in daardie boek. Kry hom – en bekoor almal langs die kampvuur met jou stories.

Op bladsy 327 word amper terloops genoem van ene Sharmeli Ramchander wat in die eerste drie uur van haar eerste besoek die Vyf Grotes raakgeloop het. Nie sommerso nie. Luiperd bekruip wildebees; leeus vreet aan ‘n karkas; dertig olifante storm deur die bos; renoster merk sy gebied reg langs die pad; net die buffels was onaktief – het lui in die gras lê en herkou.

Sharmeli is blykbaar sommer met twee (vyf?) goue lepels in die mond gebore. Maar nou-ja, die gelukgsdodin glimlag op sommige meer as op ander (ook partykeer meer as ander kere). Ekself het darem al op stil dae drie uur gery en kwalik ‘n rooibokkie in die verte gewaar.

 

Sondag op pad kerk toe op die S3

Sondag op pad kerk toe op die S3

Sondag was weer een van daardie gawe uitsonderings. Amper laat gewees vir kerk met vertragingsfaktore soos die twee leeumannetjies op die S3, ‘n renoster op die Doispanepad, asook twee troppe olifante, ‘n luiperd en ‘n trop kameelperde op die Skukuzapad. Waar was die buffels tog, het ek myself afgevra.

Laatmiddag stap ons na ons geliefde piekniekplek toe. Rustiger kan ‘n Sondagmiddag kwalik as daar langs die Sabierivier – boonop, soos Sondag, met twee troppe olifante 100 meter uit mekaar, en grootvoete voor, langs, agter en om die uitkykplekke oor die rivier en die oorkantste oewer.

Bewonder nog die betowerende olifanttonele so, toe: Voila! Hier stap twee “dagghaboys” (ou modderbekoekte bulle wat merendeels in rivierlope woon) uit die bos, en later sommer vir ‘n toegif in die sakkende son verby ‘n klompie olifante op die rivier se oewer. Toe haal die Van D’s darem ‘n Groot-Vyf-dag – ons eerste in ’n taamlike rukkie.

Moet my nie verkeerd verstaan nie, asseblief. Die wildtuin bestaan uit veel-veel meer as die Vyf Grotes, en die algemene gejaag na veral leeus met behulp van krakende tweerigtingradio’s staan hierdie wildtuinliefhebber nie juis aan nie. ‘n Trop swartwitpense sal elke keer vir my ‘n groter prys wees as selfs daardie indrukwekkende kraagmannetjies wat ons oop en bloot op die rivierpad gesien het.

En die tienstuks kameelperde langs die Skukuzapad – een fier kleintjie onder hulle – was, eerlik gesproke, eintlik ‘n mooier toneel as die luiperd wat tussen ‘n dosyn of meer versamelde safarivoertuie en motors soos blits oor die pad geseil het.

Tog – die Vyf Grotes is die Vyf Grotes. Om almal die een na die ander af te tik, bly tog maar ‘n heimlike lekkerte. Ook vir hierdie ou gryse veteraan met hope wildtuinbesoeke agter die blad.

(My storie in Jeff Gordon se boek heet An Astonishing Confluence of Killers en vertel van ‘n episode langs die Salitjepad lank-lank gelede met leeus, ‘n luiperd en ‘n krokodil as hooffigure.)