Jy blaai in die argief vir volkies.

VOLBLOED-VOLKIE VIR ALTYD

Maart 22, 2017 in Uncategorized

Formeel, voor Volkies (plus drie "jong" onnies uit ons era).

Formeel, voor Volkies (plus drie “jong” onnies uit ons era).

As ek die Volkiematrieks van 60 jaar gelede moes evalueer vir ‘n rapport, sou ek oor die simbool vir beweeglikheid (noem dit ons “ars mobilitas”) twyfel. Party is verrassend hups. Ander kamoefleer dit doelgerig, maar loop bra moeisaam.

Gelukkig vir laasgenoemde was ons 60-fees op Saterdag 11 Maart 2017 by ons alma mater op Potchefstroom oorwegend op plat aarde. Met te veel trappe klim, sou dit kon lol. Kollektiewe prestasie? Tog wel ‘n soliede slaagsyfer.

Die prestasiekurwe beur opwaarts wanneer dit by hartsake kom. Van al die soete herinneringe was dit veral daardie met ‘n romantiese inslag wat selfs die verlepste oë vrolik laat vonkel het (noem dit die “ars romantica”). In die algemeen word ‘n “cum laude” hier toegeken.

In een geval is ‘n “summa cum laude” aangewese. Johan (Blommetjie) Viljoen het vir Wena (Louw) de Kock met wie hy in standerds sewe, agt en nege gekys was, ‘n pakkie kaartjies en briefies saamgebring waarin sy in die dae van hul jonkheid haar hart uitgestort het. Johan se jong vrou, Erika, is gelukkig ‘n geduldige eggenote met ‘n goeie humorsin.

Informeel, voor Jack Pauw.

Informeel, voor Jack Pauw.

Piet en Hettie (du Toit) Otto het ‘n matriekliefde verteenwoordig wat tot ‘n huwelik geblom het – trouens tot sommer twee huwelike! Die twee was geskei. Toe mis hulle mekaar te veel en trou weer. ‘n Tweede skoolkys wat ‘n huwelik geword het, was diê van Koos en Ina (van der Westhuizen) van Niekerk. Hul name pryk op die muur van herinnering wat helaas al op 25 (uit 81) staan. Dit moet waarskynlik meer name bevat. ‘n Klomp matriekmaats is onopspoorbaar.
Twee flinke vryersklonge van weleer, Anton Lombard en die uwe, het voor flitsende kameras hul gades, Leonie en Tokkie, terstond omhels agter ‘n pilaar by Oom Frans de Klerk se biologielaboratorium, nou die personeelkamer. Destyds moes ons Blommetjie en Wol Steyn betaal om foto’s van ons soenery te neem. Ses dekades later het dit ons niks gekos nie.

En, boeta, toe die klomp die skoolsaal instap, moes jy die feesgangers soos bye sien afpyl op die hoekies onder die galery waar amoreuses in 1957 fliekaande handjies vasgehou het en so. Gaudeamus igitur ….

Hoekom al die Latyn hierbo: die “ars mobilitas” (kuns van beweeglikheid), “ars romantica” (kuns van die romantiek), “cum laude” (met lof) en “summa cum laude” (met die hoogste lof)? Om ‘n uitstekende rede. Die skrywer hiervan is naamlik een van ‘n vyftal wat van 1954 saam in die Latynklas gesit het. Soos by vorige reűnies was die vyf weer voltallig teenwoordig. Die ander vier is Willem Hartzenberg (duxleerling), Ferdinand Preller, Koot Bosman en Giel de Swardt.

Sestien klasmaats het opgedaag (party was te broos om te kom – of te kort getroud met ‘n nuwe lewensmaat, soos Santjie Conradie!) Dat die Latynklas vir amper 33.3 % van die opkoms gesorg het, verdien dus gewis ‘n lourierkransie en ‘n “Laureatus”-balkie om te dra onder die lapelknopie wat ons elkeen ontvang het: 100% Volbloed-Volkie. Dit verdien ook vermelding in hierdie blog.

Ander statistieke: dertien van die 16 teenwoordiges was seuns (amper ‘n rugbyspan), twee van die drie meisies weduwees, Wena en Bettie (Kilian) Fourie), een ‘n oupagrootjie, David (Dok) Malan en drie Oud-Wilgenhoffers uit Matieland, die here Hartzenberg, Preller en Van Aardt du Preez. Almal het die wonderlikste kleinkinders – natuurlik!

Die ou bande is vinnig heg gesmee. ‘n Toer deur die skool en koshuise het plek-plek sleg vasgeval. Die arme gidse moes meeding met die lus vir gesels. Tot hul eer was hulle tot die einde prysenswaardig lankmoedig – so ook die spyseniers wat die (heerlike) kos moes warm hou.

Wat almal verheug het, is hoe goed “ons skool” opgepas is. Nuwighede val op soos ‘n gedenktuin vir ontslape onderwysers, ‘n ouditorium waar Oom Stompie Steyn se wetenskaplaboratorium was, en heinings waar voorheen nie heinings was nie; een tot om die onderste slaapkamervensters by die meisieskoshuis Ons Hoop waar by geleentheid nagtelike drukkies gaan uitdeel is.

Maar selfs na 60 jaar (60 jaar!) voel jy dadelik weer tuis in die vertroude omgewing. Jy beleef ‘n skielike terugkeer van bruisende energie. Die lus pak jou amper om uitgelate saam op te draf op die netjiese sportvelde waar juis ‘n groot skoletoernooi aan die gang was.

Middagete was in Jack Pauw se eetsaal. Die vertrek lyk deftiger as die een waar ek en mnr. Jack Slabbert mekaar sleg misverstaan het. Kon hom nie oortuig nie van my standpunt dat ‘n krawat mos ewe goed is as ‘n das (wat aandetes verpligtend was).

Wat baie spesiaal was, is om te kon aansit op dieselfde plek waar ek in 1957 tafelhoof was – en ‘n gewilde een nogal omdat ek my porsie botter om die beurt met die ander tafelgenote gedeel het. Het toe al my brood droog verkies. Ja, botter was destyds ‘n kosbaarheid en die spyskaart heelwat minder aptytlik as vir hierdie spesiale ete.

Jy roep die bakke stampmielies en hopies geel pampoen in herinnering terwyl die kelners tussen die opgetofte tafels beweeg met die wittetjies en die rooi. Jy onthou ook die konstante aanbod van “mystery balls” (ons naam vir frikadelle uit die Jack Pauw-kombuis).

Oor wat alles uit daardie kombuis opgedis is, het ons een aand oproerig geraak en op die B-veld gestaak. ‘n Ander keer was daar konsternasie oor ‘n minder verhewe tafelgebed van ‘n onnutsige Jack Pauwer: “Here, vergewe die hande wat die kos voorberei het.” Toe Koot so mooi vir ons bid, kon ek ‘n glimlag oor oor daardie koswessies nie verhelp nie.

Regtig buitengewoon deftig is die nuwe koshuisbadkamers. In ons tyd was dit Spartaans. Nou is dit net teëls, glas en spieëls waar jy kyk. Als skitterblink. Veral die herboude Blok A (nou Blok C) lyk ná twee jaar gelede se brand plek-plek soos ‘n hotel. Die slaapkamertjies het gedoriewaar deure (pleks van gordyntjies wat enige oomblik oopgepluk kon word), en die matrasse is drie keer so dik soos ons klapperhaar-modelle van weleer.

Ek gaan soek die kamer wat ek en Wiekie Moolman in matriek gedeel het, en raak weemoedig. Ons vriendskap kon selfs ons verliefdheid op een meisie verduur. Nou is my ou maat een van die afwesiges weens ouderdomsverwante gesondheidsredes.

Die Sondag ry ek verby die statige NG Moederkerk naby die stasie, waar ek in my matriekjaar ook die “Boerematriek” afgelê het (ek was toe 16). Ons leraar was ds. Bey Naude, later so ‘n bekende nasionale figuur. Ek ry verby ‘n “rank” van Girls High-meisies op pad na die Engelse kerk, en onthou toe die Volkiemeisies netso in uniforme gelid op pad kerk toe, ry op ry in hul wit rokkies en met wit hoede op hul koppe.

‘n Verlangende hartseer-gevoel wou-wou weer my hart binnekruip. Maar oorheeresend was die gevoel van dankbaarheid. Oor die voorreg om juis in daardie tyd ‘n “volbloed-Volkie” te kon wees, met daardie maats, daardie onderwysers … ja, selfs daardie Jack Pauw-kos.

Die woorde van die skoollied het ek op pad na Johannesburg saggies bly prewel: “En hier het ons ‘n skool gebou, die Volkskool by die Mooirivier. Al swerf ons ook die lewe in, ‘n brokkie van ons hart bly hier!”

TWEEDE IN DIE 880

Desember 17, 2012 in Uncategorized

 

Jy kry atlete en ATLETE.  Ek was een van eersgenoemde. Kort loopbaan. Relatief onskouspelagtig. My swaer Fanie van Wyk was een van laasgenoemde. Victor Ludorum. SA kampioen. 

Wel, ek het darem in matriek ‘n Wes-Transvaalfrokkie verwerf – W33 was ek. Op die foto’s bo pronk ek daarmee vir my kamermaat, Wiekie Moolman, se kamera agter die Jack Pauwkoshuis by Volkies op Potchefstroom.

Daaraan is ‘n storietjie verbonde waarvan ek pas, 55 jaar later, die laaste hoofstuk kon skryf. Daarmee het afsluiting as ‘t ware vir my gekom. Die katalisator was Sabiepark. Maar wag, ek loop die storie vooruit ….

 Kom ons begin by Volkies se kleuresport in 1956. HvD is in matriek maar onder 16, omdat hy op 3 Januarie 16 was. Hy wen die 150 tree … en verrassend ook die gewigstoot in sy heel eerste poging met die ysterbal. Hy kom tweede in die 100 tree, 220 en 880.  Die wenner in elke geval is Fido Barnard, volgende jaar se hoofseun.

 Destydse gebruik was dat die eerste twee in elke nommer deurgaan na die interhoër teen o.m. Gimmies, Klerksdorp Hoër en so aan. Gewoonlik ook Ventersdorp, maar weens die polio-epidemie op ons buurdorp was die skool in 1957 afwesig.

 Elke atleet mag net aan vier ( of  vyf?)  nommers deelneem. Fido se koker is te vol, en hy los die 880 vir my ern Charles Austin wat by Volkies derde gekom het.  In die pylvak met die lint vlakvoor my hoor ek doef-doef-doef.  Dis Charles, latere speurder, wat my inhaal en net-net klop. Ook in die gewigstoot kom ek tweede – afstand 39 voet 10,5 duim (foto). Die interbond op Krugersdorp wink dus in twee nommers. My hemp hou skaars die bultende bors binne.  

 

Ventersdorp hou intussen sy skoolbyeenkoms. Ene Ten Cate wen die 880 vir seuns onder 16 in ‘n beter tyd as myne. Toe die span gefinaliseer word, is Ten Cate in vir die 880 en ek uit. My beste nommer – ek kon huil!

 In die gewigstoot vertoon ek op Krugersdorp bra floutjies – wat nie onverwags is nie.  Ek stoot net ná ‘n bul van ‘n seun met die vreemde van Essakov. Hy het later ‘n SA spiesgooikampioen geword. Kon, wat my betref, ook ‘n SA gewigstootkampioen geword het.

 Oor hoe Ten Cate van Ventersdorp en my mede-Volkie-CharlesAustinin die 880 gevaar het, het ek geen benul nie. Elke keer as ek Charles se naam in die koerant sien by die een of ander groot saak wat hy ondersoek, het ek egter aan daardie 880 gedink. 

 Die Ten Cates was ‘n bekende familie op Ventersdorp, het ek geweet.  Presies wie die Ten Cate was wat ten koste van my vir die 880 gekies is, het ek tot gister nie geweet nie. Toe lees ek op Facebook ‘n inskrywing van ene Elsabe ten Cate uit Sabiepark.  Twee en twee maak vier.  Ek soek daai ander  Ten Cate, laat weet ek vir haar,kan jy dalk help?

 Sy kon inderdaad.  Hy was haar oom: Andries Petrus (Dries) ten Cate, jonger broer van haar pa, Sjoerd, wat twee jaar tevore, in 1956 in matriek was.

 Elsabe-hulle vertrek huis toe net voor die Van Deventers se aankoms in Sabiepark. Ons Wes-Transvalers sou kon saamkuier. Ongelukkig sal ek Dries nooit kan daag vir ‘n beslissende  80 meter in Sabiepark se piekniekplek nie (880 op my jare, vergeet dit!).  My Nemesis uit Ventersdorp is twee jaar gelede aan kanker oorlede.