Jy blaai in die argief vir volkies potchefstroom.

ARME PROTEAS!

Februarie 22, 2020 in Uncategorized

Kom nou eers tot verhaal om ‘n straaltjie oor gisteraand se krieket by te dra. Het my laat dink aan die jaar 1957 toe ek tweede aanvangsbouler van Volkies op Potch was.

Ons speel teen Potchefstroom-Dorp. Een van sy aanvangskolwers is Harry Newton- Walker, groot Springbokstut van die 50’s.

Wat het ek geweet van lyn en lengte? Afrigter het nooit ‘n woord oor so iets gerep nie. Ek kom maar ingedraf – taamlike lang aanloop – en slinger die bal (die “rooi pampoen” het wyle Dana Niehaus dit destyds genoem) min of meer in die rigting van die paaltjies.

‘n Boulbeurt was toe nog agt balle. Die heer Newton-Walker slaan die skraal donkerkop-skoolseun vir 4,6,0,6,6,4,4,6. Hoe miserabel kan ‘n mens voel, jou selfbeeld aan flarde (met jou nooi langs die veld) en jou gemoed verskeur met twyfel oor jou eie vermoe om ‘n tweede soortgelyke aanslag te stuit!

Die kaptein, wyle Charles Bamberger, vervang my gelukkig na daardie eerste rampspoedige beurt met draaier Pierre Lombard, later grootkop in die Spoorwee. Pierre boul die Van Deventer-verwoester toe pens en pootjies. Maar die skade was gedaan.

Ek is bitterlik jammer vir julle, arme Proteas (of Vroteas, soos Die Burger julle vanoggend noem).

STOUTE MATRIEKS

Desember 10, 2016 in Uncategorized

Babelaas na Pretoria.

Babelaas na Pretoria.

Veronderstel in 1957 toe ons klas in matriek was, het sulke dinge soos matriekvakansies, en “Plett Rages” al bestaan. Hoe rof sou ons rinkink het?

Die vraag boei my nou al dae lank. Vir ‘n antwoord het ek die 81 gesiggies op die amptelike klasfoto van die Hoër Volkskool Potchefstroom se matrieks van daardie jaar opnuut bestudeer. Wie sou die kandidate wees vir ‘n nat-T-hemp-kompetisie?

Moet sê, in ons klas, was meisies met gesonde torso’s wat ‘n nat T-hempie sou eer aandoen. By ‘n oefening vir die koorsang by ons matriekafskeid het die sangonderwysers die meisies aangemoedig om die volume aan te draai. Willem Hartzenberg het spitsvondig teruggekap: Hulle kan nie harder sing nie, want hul borsies is te klein. Die hoonlag wat op daardie stelling gevolg het, bevestig my waarde-oordeel oor die belofte in ons klas vir opwindende nat T-hemde, dink ek.

Maar sou ons klasmaats so astrant paradeer? Sou hulle, nog erger, die nat hempies in ‘n stadium laat waai en – hoe later hoe kwater – perdalks ook ander onnnoembare kledingstukkies? Sou ene vir 50 pond wat toe baie geld was – of selfs vir ‘n ongelooflike 500 pond – die laaste skansie tussen kaal en poedelkaal onbeskroomd uitskop?

Lieflike kort rompies maar dik swart kouse wat tot doer strek.

Lieflike kort rompies maar dik swart kouse wat tot doer strek.

As ek gedwing sou word om ‘n moontlike laat-waaier onder 1957 se matriekmeisies te identifiseer, het ek ‘n naam in die agterkop. Sy is ‘n groot genoeg sport om gul daaroor te lag. Maar in matriek al? Ek twyfel tog.

Nou moet ek dadelik bely dat ek as die jongste in die klas – ‘n brose 16 – van die matriekmeisies se dinge bloedmin geweet het. Het hulle maar net in hul kuise skooldrag geken. In die winter was sekere swart rompies wel lieflik kort, maar is die beentjies bedek met dik lang kouse wat tot doer by die onbekende strek.

Vry het in my boekie beteken om handjies te hou en later mekaar te druk en te soen. Daarvoor is redelik algemeen ‘n geneentheid openbaar wat nie al die onderwysers – hardvogtige bokkers – aangestaan het nie. ‘n Reuse-spreilig is as monument vir ons matriek-libido’s buite die skool op die plek opgerig waar die kalwerliefde tradisioneel die sterkste gedy het. Ook die uwe, hoe onskuldig ook al, het dit soms nodig geag om donkerder hoekies te gaan opsoek.

Halfkroon se soen.

Halfkroon se soen.

In my plakboek is ‘n foto wat ons matriek-paparazzi, Johan Viljoen en Wol Steyn, vir ‘n halfkroon vir my geneem het van ‘n omhelsing met ‘n meisiekind in haar volkspelerok. Sy was in standerd agt.

Maar die spreilig: ons het dit ‘n anti-vrylig genoem. Ons had in ons matriekjaar ‘n eie “mielieblaarklub” a la die gewilde radioprogram van destyds (wyle Koos van Niekerk, wyle Carel Weeber, Hartzenberg en die uwe) wat op debatsaande filosofies besin het oor sake wat die gemoed van die leerlingkorps (ons was nog nie leerders nie) beroer. Daardie afkeurenswaardige lig was meermale in ons mielieblaar-manne se visier.

Dans? O aarde nee, my eerste wankelende walsie was op Tukkies. Op skool het ons tiekie gedraai, met galante buiginkies en guitige glimlaggies oor en weer. “Ek soek na my Dina, my Dina , my Dina …..” of “Kompatertjie buig jou stywe dop en volg jou nonnatjie in die kring …”

Ek soek na my Dina ...

Ek soek na my Dina …

Op ons matriekafskeid het ons in rye in ‘n helder verligte skoolsaal gesit. Ons en ons ouers. Die matrieks het vir hul trotse mammies en pappies gesing. Ons is een op die verhoog geroep om fier ons sertifikaatjies te ontvang dat ons voorbeeldige Volkies was. ‘n Toespraak of twee is afgesteek met ernstige vermaninge oor die veeleisende grootmenselewe wat wag. Toe’s ons huis toe, elkeen na sy eie bedjie (na my wete).

Op 20 September 1957 het Blackie Swart, Engels-onderwyser, die hele klas vir ‘n uitstappie met ‘n bus Pretoria toe gebring het (net na die rekordeksamen). Almal was ewe netjies uitgedos, die seuns in gestreepte kleurbaadjies (swart met fyn rooi en geel strepies) en grys langbroeke.

Wat die uitstappie vir veral ‘n paar dorps-ouens glo buitengewoon gedenkwaardig gemaak het, was dat hulle die aand voor die groot uittog in ‘n buitekamer by een se ouerhuis “gekuier” het tot laat in die nag. Die
uitstappie die volgende dag was babelaasgewys vir hulle glad nie ‘n aangename ervaring nie, het een van hulle later laat glip.

Maar ek was ‘n Jack Pauwer. Ons koshuiskinders is sterker in die teuels gery. Een insident onthou ek. Ongelukkig is ‘n ontslape koshuismaat nie meer beskikbaar om by hom lig op te steek oor daardie aand toe hy sy prefekbalkie op die spel geplaas het nie. As ek reg onthou, was dit weens ‘n wegglippery uit die koshuis saam met ‘n dorpsmatriek in sy pa se motor en ‘n bottel of wat uit sy pa se drankkabinet. Ook rondom die rekordeksamen uitgehaak.

Ekself het een Saterdagmiddag in die sitkamer van die Royal grootmeneer-avontuurlik aan ‘n Cola-Tonic geteug, en dit was dit wat drank aanbetref. (Het wel later volstoom ingehaal!)

Nee, waarlik, as die potensiaal van in 1957 dan wel al daar daar was om inhibisies, klere en wat nog so argeloos soos nou, sestig jaar later, te laat waai, het ons die latente vermoë maar baie effentjies ontgin. Sekere ontdekkings van die intiemer soort het van ons tot ‘n dekade of wat later uitgestel. Huweliksklokkies moes eers lui.

Sê nou daar was wel destyds al matriekvakansies. Dan sou ons waarskynlik sommer in die skoolbus na Parys oorgery het vir ‘n piekniek op die walle van die Vaal. Mekaar met waatlemoenskille gesmeer het en so. ‘n Vooruitstrewende klub soos Plet se Zanzibar sou gewis uiters prematuur gewees het.

Ek is op 3 Januarie 76 en ek was nou nog nie in ene nie – al klink die doen en late van die jongklomp vir die ouman nogal interessant.

(Ons klas – diegene wat oor is – hou op 11 Maart 2017 groot makietie om matriek-plus-60 te vier. Sal die ander dan hieroor vra. En laat weet, as julle wil.)