Jy blaai in die argief vir vandeventers.

VAT-VAT AAN 2000 DAE

Junie 26, 2014 in Uncategorized

IMG-001

Een dag in die Wildtuin kan asemrowend wees. Dink net wat “duisend dae” nie kan oplewer nie. So het ek in “Duisend Dae Langs die Sabie” (2011) my verslag oor die van Deventers se eerste plus-minus 1 000 dae in ons boshuis in Sabieprk ingelui.

Dinsdag 1 Julie bestyg ek en Tokkie Kulula weer noordwaarts vir nog twee maande se oorwintering in die milde boswêreld –daar waar die sekelbos-kampvuurtjie se rook elke aand in ‘n reguit lyn boontoe trek. Dit sal so ongeveer ons 40ste besoek sedert 1998 wees.

Ons bou nou fluks aan ons rweede 2 000 dae in daardie wêreld, en begin al oorweeg om ereburgerskap van Mpumalanga aan te vra. (‘n Mens raak immers lief vir die plek ondanks al die slaggate, rookmis, houthakkers en kruiwaens langs die pad.)

Wat kan ons verwag buiten kortmou rondloop in die amperse somerweer? Bepaald ‘n paar verrassings aan die dierefront – soos altyd. Drie, vier, vyf stil dae gaan soms verby, Dan kom ruik n luiperd aan jou voorwiel óf ‘n olifant slenter lui-lui aan in die pad sodat jy om die dood nie kan verby nie. Of ‘n slang seil by jou voete verby.

Hoeveel olifante gaan ons by die piekniekplek sien? Dalk renosters? Dalk ‘n vangs?

Gaan dit n geil voëlseisoen wees of nie? Gaan die bloukuifloeries amper elke dag by ons watergatjie kom pitjies soek en hul rooi vlerke in die skoon water uitgelate skoon skud?

Vriende kom kuier in Julie en Augustus van oral – sommer van die eerste naweek af. Party veterane kom die soveelste keer; ander kom drink Tarlehoet se soet water die eerste keer. O, ons is oorgehaal vir die lekker geselse om die snoesige vuurtjie. Kom ons sit nog stewige ‘n stompie op.

Ons gaan ook verlang en ver-ver terugdink. Dis onvermydelik, Die tyd maal voort. Elke jaar raak meer plekke leeg. Die afskeid van dierbare vriende – dis een van die slegte Sabieparkdinge .

‘n Mens betrap jou al hoe meer dat jy oor jou eie paadjie begin wonder. Hoeveel keer ry ek, Hennie, hoerveel keer jy, Tokkie, nog by daardie sierhek 2km van die Krugerhek binne, draai regs in Maroela en dan links in Wildevy op pad na 154?

 

Mei 24, 2014 in Uncategorized

Wonder of dit dalk een van ou Mayafudi (my storieboek-olifantjie) se afstammelinge is wat sake op Wildevy 154 kom deurkyk het.

Nietemin, Mayafudi-nasaat of nie, by Tarlehoet is heelwat “spore in die bos” van ‘n nuuskierige bul se rondlopery nadat hy die drade by Carol Hughes se huis ‘n maand of wat gelede gebreek het.*

Vir Christopher (5) was daardie “spore” (gebreekte bome en ‘n omgedopte rosyntjiebos) een van die heuglike elemente van sy bosvakansie van 23 dae.  Hy het telkemale sy Ouma opgeroep vir ‘n herbesoek aan daardie stukkie veld naby die grens tussen ons en die Van Heerdens van 155 met die karnuffelde bome (veral raasblare), afgeskeurde en gestroopte takke, asook aansienlike reste van olifantmis.

Van die takke is huis toe karwei om vir Oupa te kom wys.  Oupa is ook spesiaal kom haal om te kom kyk na die jongman en sy ouma se “geheime plek” waar hulle groot geselse gesels het, sittende op ‘n stewige raasblaartak van ‘n mooi boom wat omtrent middeldeur gebreek is.

Deel van Christopher se genot was om Ouma keer op keer uit te vra na ‘n vorige olifantbesoek aan Tarlehoet in die lente van 2000,plus-minus in dieselfde wyke.  Die destydse parkhoof, David Zeller, het vir my ‘n foto Kaap toe gestuur van die olifant met ons swembadjie en watergat in die voorgrond.

Hy het gemeen dit sou nogal ‘n plesier kon wees om in die swembadjie te lê en afkoel terwyl die olifant in jou gesigsveld wei.  Vir my het die vooruitsig van skade wat deur ‘n groot olifantlyf met ‘n bedrywige slurp en yslike voete aangerig word, egter die potensiële plesier oorheers.  Ek het veral gevrees dat dakpale in die slag kon bly – wat gelukkig nie gebeur het nie.

Die besoeker van 14 jaar later het genadiglik ook die dakpale uitgelos. Skade was daar dié keer wel – en nie net in die vorm van verwoeste bome nie. Oor die stukkende watergat is my hart die seerste. ‘n Groot poot het ‘n gat in die bodem getrap.  So vinnig as wat jy water intap, loop dit onder uit – soos uit ‘n wastrog waarvan die prop uitgetrek is. ‘n Nuwe sementvoering word benodig.  Hopelik sal die sebras (en ander wild) daarna terugkeer om weer by die Van D’s ietsie vir die keel te kom geniet.

Eienaardig genoeg was dit natuurlik nie olifantskade waarop ons voorbereid was toe ons op Woensdag 30 April by Tarlehoet inswaai nie. Dit is vir die omvang van die likkewaanskade waarvoor die harte in die Honda-tjie vasgehou is.

Ta het hom mos vroeër vanjaar iewers ingewurm – waarskynlik tussen die muur en die gras van die dak – en uiteindelik skynbaar wanhopig begin raak toe hy nie sy pad na buite kon vind nie.   Eers nadat hy ‘n taamlike versameling breekware in stukkies op die vloer laat beland, ‘n paar fotorame van die muur geruk en een van die kombuisgordyne se voerings aan flarde geskeur het, is hy op heter daad betrap en taamlik onsag verwyder.

Gelukkig het die huishulp Lucy mooi kom skoon maak – ook al die likkewaanmis van sy wekelange huis-arres – en die flenters in ‘n sak vir ons gelos om deur te snuffel.   Dit het die impak heelwat minder gemaak.

Dat ‘n huis in die bos nie altyd net louter vreugde is nie, behoort uit bogenoemde duidelik te wees. Moet ek byvoeg dat die bobbejane boonop sedert ons vorige besoek die stoeplig uit die muur geruk en die vloedwaters van Februarie taamlike dongas in ons motorpad oopgespoel het?

(Carol Hughes vertel dat dit nogal ‘n aardigheid was toe die olifantbul die elektriese heining voor hul huis laat klap het.  Die skrik en die elektriese skokke het die ou woes laat trompetter. Haar kleinkinders wat op besoek was, het hulle omtrent uit hul geloof geskrik waar hulle styf teenaan ouma  die hele gedoente van hul huis aan die Sabierivier betrag het.)

* Spore in die bos – titel van my e-boekie.

WILD EN WOES OP STEMDAG

Mei 8, 2014 in Uncategorized

IMG_2109-001Op stemdag, gister 7 Mei 2014, het ek en die gade ons kruisies op Onder-Sabie vir die kleiner partytjie van ons keuse getrek – ‘n gedenkwaardige dag in vele opsigte.

Dit was ‘n japtrap-besigheid. Binne vyf minute was ons in en uit – Tokkie boonop met die komplikasie dat haar ID-boek al langerig gelede in Walvisbaai gesteel is. Ons ontdek toe by die stembus ‘n rybewys is ewe geldig. Niemand het dit vooraf vir ons gesê nie.

Dit was ook ‘n op-die-nippertjie-besigheid. Die Van D’s was die laaste twee wat op Onder-Sabie deur die worsmasjien is. Toe die pak die vriendelike OVK-spannetjie om 11:30 sy skandeerders, stembriewe, stempels en wat nog en laat vat Krokodilbrug toe vir die middagskof daar.

‘n Spesiale bonus van stemdag was die stortvloed olifante wat ons in en om die Sabie raakgeloop het – honderde dalk? Ek en Tokkie het oor die raming van getalle verskil, maar saamgestem dit was die meeste op een dag in ons ervaring. Vir die jeugdige Christopher Claassens (5), ons kuiergas vir die vakansie, was soveel Grootvoete (en klein Grootvoetjies tussenin) allesins merkwaardig. Natuurlik. Glo hy het verlede nag van olifante gedroom.
IMG_2088

 

Op een kol langs die Sabierivier, enkele kilometer suid van die laagwaterbrug, was twee troppe op ‘n hoop: die een hoofsaaklik in die water, die ander al weer beurend teen die wal op na ‘n koel verfrissing op ’n warm Meidag in die wildtuin.

IMG_2097

Net daar kry ons skeef in die pad ‘n polsiebakkie. Sy voorkant is voos geslaan. Lang sleepmerke getuig dat daar vinnig gery is. Lyk of hy teen ‘n muur vasgejaag het, waag Tokkie.

‘n Stewige polisievrou op die toneel verskaf geselserig die ontbrekende inligting. Die botsing was teen ‘n olifant.

En die olifant? Sy wys met ‘n gulle armswaai rivier se kant toe. “He’s there” – klaarblyklik dus ongedeerd tussen sy makkers!

Nadat ons klaar gestem het, is ‘n polisievragmotor by ons verby, waarskynlik om die stukkende bakkie vinnig te gaan verwyder voordat die verleentheid te groot raak.

Op die terugsit op die Onder-Sabiepad, naby die piekniekplek Nkuhlu, beleef ons ‘n ander olifant-insident waaroor ‘n mens kan bespiegel en wonder. Ons sien ‘n trop vinnig oor die pad beweeg soos kenmerkend van olifante is as hulle ‘n pad oorsteek. Toe, asof ‘n swerm bye op hulle losgelaat is, swaai hulle om en peuel weer terug op hul spore by die bosse uit.

Hulle bondel senuweeagtig in die teerpad. Die slurpe swaai in die lug. Die trompetter kom diep uit die keel. Voertuie aan weerskante skakel versigtigheidshalwe oor na trurat.

Hulle het klaarblyklik vir iets geskrik. Sou dit gewees het oor die baie kleintjies in die trop? Sou dit leeus daar in die bos gewees het? En toe hulle na ‘n rukkie op dieselfde plek weer die bos in is: het die leeus toe gewyk? Hoe sal ons ooit weet?

Nietemin, Woensdag 7 Mei sou al alleen om daardie episodetjie kon uitstaan as ‘n spesiale wildtuin-dag.

Amper vergeet so tussen die olifantstories deur. Ja, ek, Tokkie en Christopher het toe ook by die Mugg & Bean op Onder Sabie gaan eet – waarskynlik die skilderagtigste ene wat bestaan, so op die oewer van die Sabie met seekoeie wat brom, voels wat in die lug draai en olifante wat nat uit die water stap.

Ons oordeel: Vyf sterre vir die die voorkoms, diens, spyskaarte en kwaliteit van kos. Ons hamburtgers was in ‘n ander klas as wat Sanparke se eie spyseniering ooit opgetower het. Net vier sterre egter vir waarde vir geld – want de pryse is styf (R50 vir ‘n kinder-burger!).

Maar wees gerus mense, ‘n Mugg & Bean in die wildtuin tas nie die karakter aan nie. Dit bedreig niks. Dis wel ‘n lekker nuwe “afsaal” as jy honger en dors opdaag na ure se wild soek.

(Hoe dit gekom het dat ons op Onder-Sabie gestem het? Wel, dis ‘n ander storie. Skukuza se stembus was in die visier. Daar was die tou so lank – vriend het drie uur moes staan – dat dadelik besluit is om liewer later terug te kom. Toe val die Onder-Sabie-gelukkie in ons skote.)

VIR OULAAS UIT SABIEPARK

Augustus 14, 2013 in Uncategorized

Mooi goed by Tarlehoet, Junie/Julie 2013

Ten slotte, na nog ‘n onvergeetlike wintervakansie by Tarlehoet in 2013, net vir oulaas van Sabiepark af enkele spesiale dankies: 

 Aan al die olifante en buffels wat so gereeld na die piekniekplek opgeruk het – dankie vir indrukwekkende taferele en genoeg foto’s vir verskeie albums;

 Aan betroubare, bedaarde sebras wat, soos altyd, staatmakers was wat gereeld die watergat kom opsoek het, dag en nag. Sebras het nie net kom wei en drink nie, maar ook kom koelte soek op Tarlehoet se stoep en hulle nie moeiteloos laat verjaag nie!

 Aan die oulike nagapies op wie se koms jy saans weer jou horlosie kon stel – stiptelik van 18:00 af, en wat, soos altyd, eerste prys by al die gaste sou inpalm vir die bekoring van hul skemerspronge in die bome voor die stoep;

 Aan al die geveerdes wat met hul uiteenlopende verskeidenheid van fluite, koere, krasse, kraaie, kwele, kwake, roepe, tjirpe en tjanke elke dag die bos laat lewe het;   

Aan die bloukuifloeries vir hul briljante kleureflitse al om die watergat, en veral die laaste weke ook die gekroonde neushorings vir hul ekskuries al om die huis – dan in die maroela en die haak-en-steek aan die voorkant van die huis, dan in die knoppiesdoring agter;

Aan die kleurryke maar skugter narina trogon (bosloerie) wat ons die voorreg gehad om net ‘n tweede keer in ‘n boom  by die piekniekplek raak te loop;

Aan die visarend vir sy kenmerkende, melankoliese kenwysie van die bos (kenwysie van Afrika?) telkens van die rivier se kant af (maar wat het dan van die langasem-naguiltjie geword?);

Aan die hiënas vir die opwinding om die vuur telkens as hulle kom spore trap in die sagte sand en vir die skel herinnering van sy teenwoordigheid;

Aan die seekoei vir sy diep tromboonklanke dwarsdeur die nag, en die leeu vir sy majesteitlike brul wat die bos ‘n paar keer laat bewe het;

Aan die njala-ooitjie wat ewe tuis in ons voëlbad kom drink het – die plat klipbadjie wat ook klein (en nie so klein) sebratjies  soos ‘n magneet lok. Die njala was die eerste na my wete in Sabiepark;

Aan die twee duikertjies wat ná ‘n lang droogte na Oupatjie Witnek se verdwyning weer begin naderstaan het by hul ou gunsteling-drinkplek.

Aan die elegante kameelperd wat so mooi kom poseer het op ons motorpad een Sondagmiddag;

Aan die vlakvarkies wat ook weer by Tarlehoet hul opwagting begin maak het nadat luiperds die vorige spannetjie feitlik uitgewis het;

Aan die gebande muishondjies wat altyd plesier gee as hulle so erg op hul hoede om die huis rondskarrel;

Aan die welluidende paddakoor by die rivier dadelik na die eerste goeie reens;

Aan die bobbejane vir hul goeie gedrag – jou werklik nege weke lank nie ons lewens by 154 kom versuur nie.

Aan die bos-Honda wat nou 190 000op die klok het, maar steeds betroubaar en geduldig koers hou op die verre stofpaadjies van die Van D’s se vakansies.

 Prediker vermaan ons om nie net aan die ontsagwekkende dinge van enorme betekenis waarde te heg nie, maar ook die klein vreuegdetjies wat die Here jou skenk te troetel. Hoeveel skenk hy nie hierdie onverdienstelike mensekind wat hier skryf nie?       

 (Ns. Glo gistermiddag 10 leeus by die piekniekplek geparadeer. Wel … ‘n mens kan ook nie alles sien nie.)

OLIFANTE ONBEPERK

Augustus 8, 2013 in Uncategorized

 

‘n Effense lugtigheid sal my seker verskoon word toe ek vir oulaas die Honda se neus op die S3-rivierpad inswaai vir ‘n Hazyview-besoek.  Die vorige twee dae was by Sabiepark se piekniekplek skouspelagtige olifant-tonele: ‘n teeltrop van 40 – waaronder ‘n menigte kleintjies – was in, langs en oor die Sabie, dan hierdie kant, dan daardie kant. Die vorige aand is olifant-teenwoordigheid in niemandsland aan die duskant van die rivier tot laat luidkeels verkondig.  

 Ek het nie vergeet hoe ek in Junie my op die Onder Sabie-teerpad in ‘n trop aanmarsjerende olifante vasgery het nie.  Dit was keel-toetrek-oomblikke. Op die smaller, stiller, beboster S3 kon-gondpad so iets baie erger wees.

 Moes immers al voorheen daar ver ente agteruit ry of die versneller wegtrap dat die gruis spat, maar dan was dit telkens darem net een ou bul se moedswilligheid.

 Op pad terug kry ons die groot trop toe wel. Gelukkig egter geen bedreigende situasie nie. Die meeste is op ‘n fluks drafstap voor ons verby oor die pad rivier toe.  In die tru-spieëltjie kon ek sien ook agter ons is ‘n paar oor die pad.

 In ons boshuis Tarlehoet is vele herinneringe aan olifant-ervarings. Teen die mure hang minstens vier groot prenterame met foto’s. In die boekrak is, buiten my Mayafudiboeke, ook ‘n bundeltjie oor ons eerste dekade in Sabiepark, wat in 2007 ten einde geloop het. Die titel is “Olifante Onbeperk”.

Inderdaad!

 Nooit, nooit in al die jare is ‘n vakansie dermate deur olifante oorheers soos hierdie nege weke in die winter van 2013 nie. In “Solly se boekie” by die ingang van die piekniekplek – Solly is die opsigter daar – was in hierdie tyd 15 inskrywings van 10 olifante of meer. Lyk soos die telkaart van ‘n stewige kolfbeurt: 40, 40, 30, 20 ….

En nie almal teken hul waarnemings getrou aan nie.

 Onder die olifant-toeskouers was Frank en Wendy, twee Australiërs wat in Sabiepark gekuier het – tog nie “Australianers nie, asseblief! – en ‘n Britse vrou wat net die vorige nag uit Londen ingevlieg het. Daardie selfde middag word haar droom toe bewaarheid om olifante in lewende lywe te sien.   

 Frank en Wendy gaan nog wyd reis in Suid-Afrika, onder meer ook na die Addo-olifantpark. Ek kon hulle been trek dat hulle besmoontlik in Addo minder olifante gaan sien as in Sabiepark. Hoop darem nie so nie, maar ‘n trop van 40 sien ‘n mens nie elke dag nie … nêrens nie.  

 Nie net die olifant-verkeer hierdie vakansie was uitsonderlik druk nie. Minstens ses buffeltroppe van 100 of meer het kom water drink. Gistermiddag het sowat 200 (party Sabieparkers meen 300) lank in en langs die Sabierivier gekuier. Indrukwekkend.

 Twee renosters het, aldus “Solly se boek”, kom water drink. Die Van D’s het dit nie gesien nie.

 Die ou groot luiperd, die “Baas”, is verskeie kere gesien; een keer toe hy ‘n impala plat trek.   Ook vir hom het ons telkens misgeloop. Een keer net-net maar wel tog.  Ons soek nog ‘n luiperd in die volgende paar dae, anders gaan ons huis toe sonder die Vyf Grotes op ons kerfstok! Die kleinkinders sal dit kwalik glo.

 Oor die “Baas” is die nuus dat hy in die Wildtuin verdoof is toe hy ‘n wyfie se prooi probeer vaslê.  Sy nekband is verwyder omdat die sender nie meer sy doel gedien het nie. Diegene wat gevrees het dat die band ongemaklik styf begin raak het, kan dus weer asem haal.

 En leeus? Elders ‘n paar raakgeloop ja, maar weet nie van enige besoeke hierdie vakansie aan die piekniekplek nie, hoewel leeus twee aande taamlik naby gebrul het as ek my nie misgis het nie.