Jy blaai in die argief vir van deventers.

PYN OOR ‘N PROOI

Augustus 11, 2014 in Uncategorized

Julie2014 004

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Slagoffertjie by sy mamma

 

 

Verskoon tog maar as hierdie Sabieparkse kroniekskrywer vandag ietwat mistroostig klink. Hy verwerk maar swaar die jongste roofdier-ongeval in ons eie paradysie hier aan die soom van die Sabierivier: ‘n kameelperdjie van ‘n maand en iets.

Net ‘n stukkie vel is gevind. Die outjie het waarskynlik luiperdkos geword. Later sou hongerige hiënas wel vinnig kom “opruim” het. Luiperds is die laaste ruk buitengewoon aktief hier rond. Hiënas is onheilspellend volop.

Dat die uwe hom die dood van die diertjie so aantrek, kan vir sommige oordrewe klink. Die meeste wilde diere kom tog wel vroeër of later gewelddadig om, sou hulle kon redeneer. As jy ‘n dier is wat in die veld moet probeer oorleef, word jy die een of ander tyd deur roofdiere gevang, verskeur of opgevreet. Dis mos die wet van die natuur. Of wrede stropers kom jou by …

Twee dinge maak die kameelperdjie-ongeval vir my taamlik emosioneel. Vir eers het hierdie enetjie pas ‘n week of twee tevore uit leeukake ontsnap. Sy ma het haar stert verloor in haar onverskrokke verdediging van haar knopknie-kleinding teen vyf indringers uit die Wildtuin, ons oostelike buurman. Wie kon dink ‘n ander aanvaller of aanvallers sou so gou kom slaag waar die leeus misluk het?

Ten tweede is nou net drie skamele kameelperde in Sabiepark oor. Toe ons in 1998 ingetrek het, was die langnekbevolking 36. Jy kon skaars iewers in die park beweeg sonder om ‘n tros aristokratiese nekke bo die bome te sien uittroon.

Uitdunning weens ekologiese redes het wel wee keer voorgekom, maar sommer baie vangste het plaasgevind. Allerlei ander teenspoede het getref. Een het in ‘n rioolput getrap en in daardie onwelriekende grafkelder vasgekerker bly sit totdat die krokodille uit die Sabie opgedaag het. Een patriarg, ook nie meer so rats nie, het op ‘n rots gegly en sy nek gebreek. ‘n Ongelukkige is deur kragdrade doodgeskok.

Jong kameelperdjies is deur die jare as ‘n maklike maaltyd geteiken. In 1999 het vyf vorige leeubesoekers ‘n outjie platgetrek wat Tokkie pas afgeneem het. Die oulike diertjie poseer soos wafferse modelletjie, met die naelstringetjie wat nog onder die pensie hang. Die foto pryk in ons woonkamer. Daarop het ek net een word geskryf: Leeukos.

Daardie eersgeborene in ons Sabiepark-era was seker nie die eerste klein kameelperdjie wat al in Sabiepark gevang is nie en die jongste slagoffertjie sal seker ook nie die laaste wees nie. Ons weet onder meer van twee wat deur ‘n vorige parkhoof, Gerrie van Niekerk, name gegee is, Lulu en Spikes. Nog ‘n baba wat roofdiere (waarskynlik hiënas) ten prooi geval het, is een waarvan ons Kaapse kinders en kleinkinders die hele skouspelagtige geboorte in 2011 dopgehou het: vandat die voete te voorskyn gekom het totdat die hele lyfie drie meter na benede gestort het.

In die agteruitboerdery aan die kameelperdfront staan nog een faktor uit. Dit is die raaisel van die 12 vermiste kameelperde – iets waaroor van ons ouer eienaars steeds hope onbeantwoorde vrae het. Dit het in 1998 gebeur. Terwyl die helikopters besig was om in die eerste uitdunning 12 na die vanghokke aan te keer, het ‘n bykomende 12 geheimsinnig verdwyn. Spoorloos. Soos wanneer ‘n kulkunstenaar sy towerstaffie swaai. Poef ….

Die destydse parkhoof, David Zeller, kon nie lig werp nie, buiten waag dat hulle dalk oor die rivier kon gestap het Kruger toe – wat werklik uiters vreemde gedrag sou wees.

Hoe ook al, van 36 het ons kameelperde oornag gekrimp tot 12. In ‘n stadium het daardie 12 nege geword. Toe stoot drie geboortes die getal darem terug op tot 12.

In Augustus 2014 loop, helaas, net drie in Sabiepark rond. Jy is skaars van hul teenwoordigheid bewus. Twee van die bittereinders het ‘n rukkie gelede met lang hale oor my werf kom stap. Ek het hulle so agterna gekyk toe hulle die bos in verdwyn. Dis toe dat die mistroostigheid oor die gevalle kleintjie my van nuuts af pak – en ‘n lawwe hersenskim my te binne skiet. Ek sien in my geestesoog hoe 12 kameelperde meteens in formasie deur die Sabie aangewaad  kom Sabiepark toe …

BUFFEL-SKOUSPEL

Augustus 1, 2014 in Uncategorized

Dag van die buffelsWas dit 400 buffels? Dalk ‘n raps minder? Dalk meer? Daaroor kan ‘n mens
redeneer. Dat dit die grootste buffelskouspel in ons nou al amper 2 000 dae
in die bos was, staan vas. Selfs die ervare Solly Sibuyi by die piekniekplek twyfel nie: dit was die grootste trop wat hy nog daar gesien het.

Die buffels het in ‘n lang tou uit die weste aangedrentel. Hulle het geruime tyd in die riete en op die oorkantste oewer van die Sabie gewei. Toe begin die eerstes die rivier oorsteek. ‘n Swart bondel lywe. Ander volg, maar skrik en storm terug. Toe kom die eerstes agterna. Die waters druis en die skuim spat. Hulle vertrap mekaar feitlik om op vaste aarde te kom.

Serengeti – die migrasie van die wildebeeste, se ek en Tokkie gelyk vir mekaar. Albei het spontaan by die vergelyking uitgekom.

Uiteindelik het die buffels iets soos 20 uur by die piekniekplek deurgebring – nie net die grootste trop tot dusver nie, maar boonop die trop wat die langste vertoef het.

Die datum 30 Julie 2014 sal vir altyd in ons boekies as die Dag van die Buffels verewig wees. Die buffels se geleidelike aantog, saambondelende oortog en stormagtige terugtog was die anker van seker een van die vrugbaarste 24-uur-tydperke wat ons nog in Sabiepark beleef het.

Dit het begin met 17 olifante, groot en klein, by die brug voor die Krugerhek. Ons het hulle vroegoggend by die piekniekplek sien verbytou, en toe in die rivier aangetref toe ons gaan kyk na die laaste voorbereidsels vir die volgende dag se inwyding van die gedenkteken vir veldwagters neffens Oom Paul se granietbeeld.

Die middag by die piekniekplek was nie net buffels nie. ‘n Swerm aasvoëls het in die helderblou lug gesirkel. Bokkies het in ‘n eindelose stroom uit die bos gekom om te drink. ‘n Renoster was in die verte op die horison sigbaar.

Die skemeraand se nagapie-plesier op die voorstoep was, soos altyd, ‘n hoogtepunt van die dag. Des te groter was die plesier toe ons later ontdek die ratse klein akrobaatjies het na ‘n lang afwesigheid weer die neste betrek wat Johan meer as tien jaar gelede, ondanks hoogtevrees, teen die nok van die stoepdak vasgewikkel het.

Douvoordag op die 31ste kry ons ‘n buitengewone besoek op die stoep. ‘n Hiëna. Moet erken: een wat vir jou grynslag op jou nugtermaag laat ‘n man se pajamabroek ietwat bewe. Ta het nonchalant die trappies van Wildevy 154 bestyg nadat Tokkie die eerste boeretroos van 31 Julie aangedra het. Hy het aan die swembadseiltjie gelek. Toe draai hy om en loer vir ons met geprikkelde belangstelling deur die ruitglas. ‘n Jaar of ses gelede het vier hiënas my begluur terwyl ek in die agterste lapa my Post Toasties geniet. Die sparretjieheining tussen ons het my destyds veiliger laat voel as die brose gaasdeur.

Daarna skuur die sebras teen Tarlehoet se agterste lapa verby om rustig in ons watergat te kom drink. Die groot vlakvark met die weglêtande meld hom op die werf aan vir ‘n skuur-sessie teen een van die paaltjies by die parkeerplek. Ons wil ry om na die gedoente by die Krugerhek te gaan kyk, maar eers moet Tokkie met dreigemente en klippe die bobbejane verjaag.

By die Krugerhek word ons begroet deur ‘n vreemde toneel. Waar ons al leeus, olifante, wildehonde en ‘n renoster sien loop het, was ‘n miernes van mense. Volop beskerming was darem vir die 400 gaste by die inwyding van die gedenkteken teenwoordig: polisie, militere polisie, gewapende veldwagters en wat nog . Hope noodvoertuie was op die toneel: ‘n ratel, ambulans. ens. Die polisiehelikopter was in die lug. Voertuie was geparkeer in die bosse, tot taamlik diep op die S3-rivierpad. Erger as by die vreeslikste leeutoneel.

‘n Mens moet wonder wat dink eerste besoekers, veral buitelandse besoekers, as hulle die Krugerhek vol verwagting binnery en pleks van diere net wemelende mense sien wat van oral aantou waar hulle langs die paaie en doringbome hul motors, safarivoertuie en busse parkeer het.

Terwyl die makietie koers kry, gaan loer ons by Lake Panic in. Baie seekoeie, baie bosbokkies, baie reiers – ook drie krokodille, ‘n njalabul, ‘n skaars watertrapper, bont visvangertjies wat hul vissies op ‘n tak vlakvoor ons kom afsluk en groot langtone op die lelieblare.

Dan was daar die “verassing na die verassing”. Enkele jare gelede het iemand op die houtblad van die gewilde voëlskuiling by Skukuza uitgekerf: What I saw here you could not even imagine. In daardie selfde hoekie het ons self ‘n verrassing op die lyf geloop. ‘n Familie (drie geslagte) het Oupa se assies op die waters kom strooi. Aandoenlike toneeltjie, al was die kindertjies allermins bedeesd by die gewyde plegtigheid. Darem  ook ongemaklik intiem vir onvrywillige teenwoordiges! Later het ek gaan loer. Die riete se blare was wit van die as.

As jy die 24 uur tot 36 uur sou rek, kan ek ons eerste luiperd van die vakansie byvoeg. Na ‘n luiperdlose eerste 30 dae was sommer twee laatmiddag by die piekniekplek. Ons het egter net die een gesien wat op “Leopard’s RocK” oorkant die rivier ‘n uiltjie knip. Sy maat het hom/haar net voor ons verskyning in die skuiling agter ‘n bossie ingewurm. (hvd)

AMPER TOE SELF IN DIE KOERANT

Junie 11, 2014 in Uncategorized

‘n Motor, twee motors, ses motors kon opgefrommel, platgevee of saamgesleur gewees het toe die swaar vragwa in ‘n draai op die sopnat  N7 begin swaai, tol, knipmes en rol.

Maar die genade was groot. Die ergste het nie gebeur nie.

In die naaste motor op die pad van die tonne staal wat buite beheer oor die pad ploeg, was ek en Tokkie, asook my jongste broer Cules Malan en sy vrou, Dalene, van Pretoria.  Die hele riller-episode het hom vlakvoor ons oë afgespeel.

So dertig, veertig meter voor ons het die potensiële saaier van dood en verwoesting van die pad geploeg en met tollende wiele in ‘n leegetetjie tot stilstand gekom.  Ons het vinnig bereken dat dit ‘n kwessie van sekondes was.  Net ‘n rapsie vinniger gery of later rem getrap en ons voorland was ‘n gewisse dood.

Aanvanklik was ons sprakeloos. Later het ons uit stukkies en brokkies onthou ‘n legkaart begin bou. Nog later het die besef hoe naby ons aan ons einde was, koue rillings veroorsaak … asook ‘n innige dankbaarheid dat ons leef om die storie te vertel.  Die passasier voor in die vragwa was waarskynlik nie so gelukkig nie.

Die toneel was net honderd meter of wat van die Melkbos-afdraai aan die Malmesbury-kant.  Met die huidige verleggings weens die bou van die brug maak die pad daar ‘n bedrieglike skerp draaitjie.

Die swaar vragwa, ‘n perd, groot bak en sleepwa met ‘n hyskraan op, het klaarblyklik te vinnig op die nat pad die draai probeer vat.  Toe ek skielik stilhou, het Cules opgekyk en opgemerk: Die man ry soos ‘n maniak.  Op daardie het die bak en sleepwa woes begin swaai.

Toe verloor die bestuurder beheer.  Die bak en sleepwa knipmes en kantel om. Die gevaarte ploeg oor die pad direk op ons af. Ons wag soos verskrikte hase. Magteloos.

‘n Finale bollemakiesie het die perd se dak aan die passasierskant so plat soos ‘n pannekoek gevou.   Toe swenk die tuimelende monster van die pad.  Dit ruk  met ‘n plof in die leegtetjie tot stilstand – die hele gevaarte op die naat van sy rug dat jy net tollende wiele sien.

Weet nie wie die meeste geskok was nie: Ons of die bestuurder wat verward by die voorruit uitgepop het en moet saamleef met die wete dat hy roekeloos was.

Agterna soek ‘n mens baie antwoorde. Het ek die regte ding gedoen deur net rem te trap en so ver as moontlik na links te beweeg?  Want as die vragwa bly rol het, was dit gewis bo-oor ons. Maar was daar tyd om iets anders te probeer doen; om in trurat ylings te probeer padgee of selfs ‘n vinnige u-draai te probeer maak?  Weet werklik  nie.

‘n Mens dink oor die implikasies as die verkeer op daardie kritieke stonde rondom daardie draai op die N7 net ietwat anders gerangskik was. Hoeveel motors kon nie dan te pletter geloop gewees het nie?

Die BMW was die naaste en sou eerste in die slag gebly het. Ek sien in my geestesoog net  ‘n patetiese stukkie staal, en voel telkens lus om alles te los en sommer weer ‘n slag in die motorhuis oor die bakwerk van my ryding te gaan streel.

Ek dink aan koerantstorie wat ‘n alternatiewe scenario sou gewees het,  en aan die ironie as die uwe – ewige koerantman – self in so ‘n rampstorie op die voorblad sou geëindig het.

Skielik spoel ‘n spesiale vreugde dan deur my oor een koerantstorie wat nie gerealiseer het nie.

 

 

 

SAKFORMAAT-GENERAALTJIE

Junie 5, 2014 in Uncategorized

nancy

 

Nancy (heel links) en ‘n groupie oud-kollegas by ‘n saamkuier op Melkbos se stoep.

 

 

Met die sprake van ‘n “nuwe sakemodel” vir Media24-koerante  hou almal wat vir Die Volksblad  (soos my generasie hom geken het) of Volksblad (soos die koerant nou bekend is) asem op. Die “hartland” van Suid-Afrika sal in sy hart gewond wees as daardie koerant moet seerkry – gewis die dagblad wat nader aan sy lesers leef as elke ander een in die land.

Hoop maar Media24 se direksie dink diep en deeglik voordat hulle dalk ‘n onbesonnenheid aanvang.

Die kommer oor ons koerant se toekoms is wesenlik, maar dit is nie waaroor ek hier  ‘n woord op die hart het nie. My tema vandag  is: Die lojaliteit van Die Volksblad se mense.  Dit tref in hierdie dae opnuut hoe een en almal, oor die generasiegapings heen, hulle eendragtig met hul koerant vereenselwig.

Toe ek Nancy Oosthuysen gistermiddag in Proteavallei bel om haar oor verwikkelinge in te lig, hoor ek die skok en ontsteltenis in haar stem. Kan dit waar wees dat die geliefde Volksblad met ‘n swaard oor sy kop leef?  Dit kan mos nie.

Nancy is een van die Volksblad-veterane. Sy is al amper 20 jaar uit die tuig en word in Julie 79. Maar sy behou ‘n lewende belangstelling in die koerant en kontak met haar oud-kollegas – ook die enkeles wat nog nie afgetree het nie.

Van Nancy het oud-kollega Jaap Steyn in sy biografiese werk “Sonkyker” vleiend geskryf dat die koerant-cliches van “immergroen” en “beeldskoon” haar tot aan die einde van haar loopbaan sou pas.  Ek sou haar nog ‘n paar ander pluimpies wou toevoeg, en ek is dankbaar dat ek dit wel gedoen het in ‘n brief van 2 Mei 1996. Dit is geskryf met haar aftrede.  Ek is maar te dankbaar dat die brief my onlangs weer ter hand gekom het.

Die Volksblad sal nooit weer dieselfde wees sonder sy sakformaat-generaaltjie (sy is maar fyntjies en kleintjies!) in ‘n warm stoel in die subkantoor nie, het ek geskryf.  En verder:

“‘n Loopbaan vol onderskeidings lê agter jou en hopelik ‘n heerlike rustige rustyd voor.

“By die wisseling van lewenstyle bring ek graag hulde aan ‘n knap en kordate kollega wat ook vir my ‘n waardevolle steunpilaar was in my tyd by Die Volksblad.

“Ek skryf ook in my huidige Pers-hoedanigheid (ek was toe uitvoerende hoof van koerante), omdat ‘n skof soos joune – oor die dertig jaar van lojale, getroue en sprankelende bydraes tot ‘n handvol produkte – ook in breër Persverband waardering verdien.

“Mense soos jy is die Pers se sout van die aarde wat hom help bring het tot die hoogtes waar hy vandag staan. Daarvoor klink die woord ‘dankie’ bra dun. Weet egter, dit kom uit die hart.

“Ek wens ‘n mens kon jou loopbaan statisties in perspektief plaas deur byvoorbeeld te weet hoeveel trefferkoppe (opskrifte) oor die jare uit jou vrugbare pen gevloei het; hoeveel voorblaaie met impak uit jou skeppingsvermoë gebore is; hoe gereeld jy realistiese standaarde ver oortref het; by hoeveel kollegas jy ‘n wonderlike werksetiek ingeprent het …

“Dit sou ‘n indrukwekkende totaalbeeld van jou diens aan Die Volksblad en daardeur ook aan die Nasionale Pers bied.   Terwyl van sulke dinge nie boekgehou word nie, moet ‘n mens egter maar op jou aanvoeling staatmaak.

“En, glo my, myne sê vir my ons groet ‘n kollega soos min, klein van gestalte maar groot van formaat.

“Voorspoed, geluk, gesondheid en alles wat mooi is vir jou en Jan op die pad vorentoe. Laat ek en Tokkie julle asseblief in die Kaap sien.  Dit sal ‘n vreugde wees om saam herinneringe oor die goeie ou dae op te diep, miskien oor ‘n vuurtjie langs die see op Melkbosstrand.”

Liewe, Nancy, dit is nou 18 jaar later en baie water het in die see geloop, maar die brief maak my sommer weer bewoë as ek begin dink aan al die wonderlike kollegas saam met wie ek bevoorreg was om ‘n paar sakke sout op te eet.  Ek is darem bly ons het mekaar toe wel in die Kaap gesien, ook op Melkbosstrand – en des te meer dat ons ou Volksbladveterane mekaar nou nog van tyd tot tyd in ‘n gees van kollegialiteit kan opsoek.

KLASKAMER IN DIE BOS

Mei 29, 2014 in Uncategorized

IMG_2216-001

In sy 23 dae in die “klaskamer van die natuur” het Christopher in Sabiepark  o.m. kennis gemaak met versamelwurms*, tentwurms**, broekmannetjies***, mierleeus**** en die vars vel van ‘n vermeende geelpensslangetjie ***** wat dit in die groewe van ons klinker-boshuis afgeskud het.

Die flukse vyfjarige het sy spore verdien deur “goeie stokke” te versamel vir elke aand se vuurtjie; self vuurtjies te pak om ‘n broodjie of malvalekkers te braai;  miljuisende dwarrelende herfsblare (hoofsaaklikl maroela) uit die swembadjie te skep; fakkels aan te steek; te hark, vee en mop; met sy panga te skoffel; as uit te krap, en douvoordag, as die eerste goue gloed van die son bo die boomtoppe uitloer, met ‘n mandjie wasgoed saam met Ouma na die waskamer te verkas.

IMG_2187

Eerste eie vuurtjie.

Hy het Tarlehoet se veld van ‘n kant verken – plus-minus elke boom, bossie, blaar en hopie mis – en ver ente gestap, amper elke dag minstens een keer piekniekplek toe en een keer selfs van die groot swembad af die hele ent tot by die huis.  By elke spoor in die sand is gebuk en ‘n uitkenning gedoen. in Wildevy is hy by die duidelike spore van ‘n dwalende hiëna afgeneem.

Hy het ervaar hoe die wag-‘n—bietjie-boom se sekels ‘n mens vasgryp en dwing om ‘n bietjie te wag; by 267 aanskou hoe ‘n spokende spinnekop heen en weer skarrel om sy hardnekkige prooi in sy maag te kry; hard probeer om een van die “blitsvinnige” akkedissies te vang, snuifkalbassies opgetel en ‘n verskeidenheid veldblommetjies gepluk. (Voor ons vertrek het hy, baie bedagsaam, vir die nimlike akkedissies gerieflike stokke gaan soek om hulle uit die gladde wastrog te help klouter.)

Hy het die lastige bobbejane van die voorstoep verjaag met ‘n kettie en ‘n luide trom wat bestaan uit ‘n braaipan en lepel, “konferensie gehou” met die vlakvarke wat gretig nader staan vir ‘n afvalkossie, die sebras in “sebraland” oorkant ons motorpad in die oog gehou en saans vir die strome nagapies piesang gekerf.

Hy is in Sabiepark, die piekniekplek en die Wildtuin afgeneem by ‘n olifant, ‘n buffel, ‘n seekoei, ‘n kameelperd, sebras, vlakvarke en  nagapies.  (Hy is nie by renosters afgeneem nie, maar twee was teenaan die motor; ook nie by leeus nie, maar het sewe goed gesien waar hulle op die rotse son soek.)

Hy is voorgekeer in “padversperrings” van troppe olifante soos mure oor die pad, renosters, buffels, kameelperde, koedoes en hiënas. Drie keer moes ons op sy aandrang vinnig in trurat padgee as ‘n olifant, renoster of buffel te naby kom.

Hy het hom onderskei as bobaas-verspieder met wakker ogies – o.m. eerste buffels by die piekniekplek, die hiëna by Tarlehoet se stoep, sebras in die steeds ruie veld en menige vlakvark gewaar.

Hy het ‘n brekfis-piekniek gehou saam met Manie Steyn-hulle van Krugersdorp in Nhlanguleni (die krom hardekoolstomp waarby ons soveel foto’s geneem het, is nie meer daar nie) en elke Sondag stroopsoet saam met ons in die kerkbanke van Skukuza se karaktervol kerkie gesit.

Aan kulinêre kant het hy kennis gemaak met stywe pap en kaiings (‘n geskenk van die Pressleys van Skukuza), sy Ouma se renostermelk (melk, kondensmelk en gerasperde sjokolade), Witrivier-mochachos (geurige skaaprepies op die rooster gebraai), asook ‘n verskeidenheid koek en ander lekkernye by ‘n volmaanfees op die stoep.

Hy was onafskeidbaar van sy “braaiklere”, bergklimskoene en Sabiepark-pet (eintlik boetie Jacob s’n wat hy geskaai het), en het net slaaptyd regtig tot stilstand gekom.  Vroeg-vroeg – gereeld teen 4:30 en een keer selfs 02:00 –  is ‘n opgewekte “more Ouma, more Oupa” van sy bedjie af gehoor.   ‘n Nuwe dag om te ontdek en te verower …

Waar ‘n rondloper-olifant op ons werf geloop het, het hom soos ‘n magneet gelok. ‘n Geknakte raasblaar was sy en Ouma se “geheime plek”.  Groot geselse is daar gesels tussen Ouma en haar “steenbokkie” (so genoem omdat sy elke keer opgewonde is as sy ‘n steenbokkie sien.)  Oupa is die laaste middag eers saamgenooi.

Niks was vir ons lekkerder nie as om telkens uit Christopher se mond  die versekering te hoor: “Ek is so gelukkig” terwyl hy dan ingenome sy hande vryf.  Sy breë glimlag, vrolikheid, kommentare en dankbaarheid het baie harte verower, onder ander Sabieparkers en onder die personeel.  Alles wat hom interesseeer, wou hy vir Solly gaan wys.  Hy het die naam Patson vir homself aangeneem.

Trane? Kan amper net die een keer onthou toe die trapleer sy vinger vasgeknyp het. Maar sy avontuurlustigheid het ‘n mens telkens laat ys ….

In ons Sabiepark-huis is waarskynlik meer boeke as in baie ander in die bos.  Christopher het Oupa se hart warm laat klop met sy entoesiasme vir die boekrak, en ook vir die stapel foto-albums waarin die dosyne vorige besoeke aan ons bos-paradysie uitvoerig geboekstaaf is.

IMG_2243

 

Sy slangvel.

 

In sy koffer  huis toe was, by die trofees wat hy self versamel het, ook sy eie fotoboek van Sabiepark, met voorin geskryf: “Vir Christopher. Omdat hy so lief is om na Sabieparkfoto’s te kyk en fluks is by vuurmaak, hark, vee en als.)

* Versamelwurms, ook bekend as treinwurms of sommer gat-neuswurms . Hulle versamel in digte bondels en kies dan in treintjie-formaat koers. Letterlik honderde word op hul oortogte op die pad doodgery.

** Tentwurms. Hulle spin wit “tenthuisies”, veral teen gwarriebosbome.         Christopher het een teen ‘n heiningpaaltjie ondek.

*** Broekmannetjies (ook bekend as grasslangetjies). Dit is ruspes van motte wat van kleins af sysakkies spin en vir versterking van bondeltjies gras of stokkies vir hulle kokertjies bou. Twee broekmannetjies het teen ons gasbottels ‘n heenkome gevind.

**** Mierleeus  of toktokkies – een van die sogenaamde “Klein Vyf” van die diereryk.

***** Geelpensslangetjies – gelukkig onskadelik.

O SOETSTE TAAL

Mei 28, 2014 in Uncategorized

IMG_2340

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Glimlag vir Oupa!

Duimsuiery oor kinder-slimmighede is NIE my gunsteling-leesstof nie. Beweerde “exaamenflatirs” en te oulike sogenaamde kindergebedjies slaan ek liefs oor – dit kom te dikwels duidelik uit ‘n kreatiewe grootmens se verbeelding.

Om drie weke saam met ‘n vyfjarige in die bos vakansie te hou, sluit egter, by al die ander dinge, ook die ervaring in om uitdrukkings, gesegdes en kwinkslae te hoor wat jou om die beurt amuseer of gelate laat wonder: Wat moet tog van ons soetste taal word?

Ouma Tokkie het in ons Sabiepark-logboek enkele voorbeelde uit sy mond in die idioom van die moderne jeug aangeteken.  Sy meld dat woorde soos awesome, cool en cute redelik algemeen in ons jongste kleinkind se gesprekke opduik.

In my boekie kom ‘n paar verwante uitdrukkings voor. Een, waarmee ek nogal saamstem,  is dat dit ‘n goeie move is om die lastige bobbejane met die getamboer van ‘n lepel op ‘n braaipan te verjaag. Ten tweede is Oupa en Ouma telkens opgeroep tot team work.  Ek glo, soos ons jong kuiergas, aan spanwerk.

‘n Kwinkslag ten koste van Ouma wat Oupa lekker in sy mou laat lag het, was dat sy ‘n luiperd teken dat dit soos ‘n worshond lyk. Netjiese metafoor, Christopher!

Oupa het nog breër geglimlag toe Mamma Marisa ‘n laatmiddag bel om na haar jongste se welstand te verneem. Tokkie roep: “Christopher, jou ma is op die foon.” “Ek is nou besig”, laat hy kliphard hoor voortdat hy traag die swembad-skepnet neersit. Glo haar ore het in Welgemoed getuit.

Ouma was ‘n tweede keer aan die ontvangkant met die vraag hoekom haar mussels so slap is. En toe sy wil raad gee met die wiskunde-huiswerk (graad O) kap hy teë: “Ouma weet niks van wiskunde nie. Ek doen dit al my lewe lank.” Sy selfbeeld is gesond!

Oupa bekla ‘n keer sy lot oor ‘n chroniese rekenaarprobleem. Hy verduidelik moedeloos vir Ouma:  “Toe hulle vra of ek ‘n nuwe wagwoord wil registreer, antwoord ek yes.  Maar dit werk nie. Wat anders kon ek gedoen het?”

Christopher: “Oupa kon no gesê het.” Jy kon my met ‘n tarentaalveer omslaan.

Die man is lief vir die woord “blitsvinnig”. Sy teorie was dat die gebreekte nagapieboom (‘n gewone pendoring waaruit die apies saans op die stoep spring) “blitsvinnig” met wondergom herstel sou kon word.  Hy het opdrag gegee dat as hy, in geval van ‘n hiëna-besoek, sou uitroep “flits, flits”, dit “blitsvinnig” oorhandig moet word. Hy hou ook van “super”. Hy  sou byvoorbeeld kwytraak dat die wurms “super-hard” werk.

Drie hiënas hôlop pad kerk toe in Skukuza met oopgesperde bekke by die motor verby. Oupa gryp na sy Canon. Christopher se kommentaar: “Ouma, ouma, al die hiënas glimlag vir Oupa.”

Christopher se naam vir ‘n bromvoël is ‘n skilpadvreter. Oulik, dink ek.  ‘n Bromvoël vreet wel skilpaaie. Die rooigras wuiwend in die wind ontlok van hom die vraag: “Hoekom is hier koring?” Goeie assosiasie.  Klitsgras noem hy gom van die veld.  Deksels netjies.

IMG_2299-001Volmaan in die bos is buitengewoon bekoorlik.  Van die stoep het ons die koeëlronde bol lank dopgehou terwyl dit deur die bome boontoe beur.  Ouma vra Christopher of hy weet van die man in die maan. Ja, hy weet – dis die man wat als doen.  Sy ma vra altyd:  Wie dek die tafel?  Die man in die maan! Wie maak die kamer aan die kant?  Die man in die maan!

Daarop vra hy, vol verwondering, ‘n gewigtige vraag: “Hoe het liewe Jesus die maan so wonderlik gemaak?”  Hoe inderdaad?

Naskrif: Nog iets oor die idioom van die moderne jeug. Sy Ouma leer Christopher liedjies soos: Hasie, hoekom is jou so stert so kort?  Toe trek iemand op die Honda se radio los met iets heeltemal anders. Ons kyk met groot oë vir mekaar toe Christopher saamsing: “Tonight is gonna be a good night. Let’s do it.”

OUPA SKRYF ‘N BOEK

April 27, 2014 in Uncategorized

omslag1-001

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Oupas en oumas is berug vir hul onblusbare entoesiasme oor hul kleinkinders. Ek en Tokkie bely dat ons daardie reputasie ywerig in stand help hou.

 Ons oudstes, die tweeling Jacob en Thomas Claassens, was gister, 26 April, tien jaar oud. Om ons entoesiasme as ‘t ware te “boekstaaf”, het Oupa, met Ouma se kranige hulp – veral aan die onthou-kant van datums en dinge – vir die twee ‘n eie boekie geskryf. Hulle was verstom toe hulle gister die geskenkpapier met wildtonele versigtig verwyder en die boekies die eerste keer in die hande hou.

 “Kampvuurtjies, karnallies en k..k..karnivore” is darem nie bedoel as ‘n romantiserende ophemeling nie. Die 143 A4-bladsye is ‘n kroniek van die lief en leed van nege spesiale kuiers saam met ons in Sabiepark. Aan elke kuier – al die soet en die suur – word ‘n hoofstuk gewy, kompleet met ‘n klomp foto’s.

 Die boek handel primêr oor hul inwyding in die bos-kultuur. Dit is sekondêr ‘n kleinkind-storie – Oupa Hennie en Ouma Tokkie se inwyding in die oupa- en ouma-kultuur. 

Die eerste keer toe Jacob en Thomas alleen saam met ons bos toe is, was hulle driejarige pokkeltjies in doeke. Hul kennismaking met Sabiepark saam met Mamma Marisa en Pappa Brent was reeds in 2005. Hulle was toe net 14 maande.

Op 18 Julie 2005 het Marisa namens die twee in die gasteboek geskryf: “Ons eerste vakansie in die bos. Dankie Oupa en Ouma vir al die nuwe ervarings en al die bederf. Die bos is nou in ons bloed. (Jammer oor al die breekgoed – hoop ons is volgende jaar ook welkom.)” Op 10 Januarie 2013 het Thomas in sy eie handskrif in die gasteboek Marisa se woorde ge-eggo: “Die bos is nou in ons bloed.”

“Kampvuurtjies, karnallies en k..k..karnivore” speel hom so plus-minus tussen Marisa en Thomas se inskrywings af, en eindig met Oupa se waarneming: Oupa kan dankbaar rapporteer dat Jacob en Thomas ware bos-seuns geword het – borrelend lief vir die leefwyse, die diere, voëls en die plante (net nie vir die slange, skerpioene en die perdebye op die stoep nie!).”

Hoe geniet die twee nie daardie anderster lewe in die bos nie! Die stadslewe, Eskomkrag, televisie en winkels is lekker ver weg. Die amper 2 000 kilometer teerpad wat Kaapstad en Sabiepark skei, maak jou vry van roetine en ongebonde aan konvensie. Jy sal sommer onder ‘n buitestort rondspring terwyl ‘n sebratjie teenaan jou aan sy mamma drink, van die stoepmuurtjie af met ‘n boog in die veld piepie en met ‘n oop deur in die buitekamer op die troon sit,

Spesiale evarings sluit in om op ‘n snikhete somermiddag ná bobbejaan-moleste ‘n swembadjie skoon te skrop; om ‘n baba-kameelperd pote eerste by sy mamma te sien uitpeuel; om ‘n koedoe te betrap waar sy goedsmoeds pitjies uit die voëls se kosbak kom gaps ….

Die tweeling se genot aan Sabiepark is ook Oupa en Ouma se genot. Ons harte klop warm oor die waarde wat hulle daar tot ons lewens toevoeg. Elke bosvakansie neem die waarde toe. Die driemankap Jacob, Thomas, Sabiepark is ‘n wenkombinasie. Dit laat ons elke keer voel dat die ondermaanse selfs ‘n nog beter plek is om op te vertoef.

Ons het belowe ons vat hulle as verjaardaggeskenk vir minstens tien dae Sabiepark toe. Maar Oupa en Ouma sal geruime tyd geduldig moet wag … skool, rugby, swem, krieket, atletiek en nog wat kom natuurlik nou eerste. Die eerste kans is die eerste twee weke van 2015. Die vliegkaartjies is net hierdie week gekoop en betaal. Hulle het dit ook gister gekry saam met hul eksemplare van hul boek.

WATERS WAT VERBY IS

April 17, 2014 in Uncategorized

IMG_0001Margot Asquith (1864 – 1945) het op haar oudag gekla:  “All I have to live on now is macaroni and memoral services.”  Hopelik was dit ‘n oordrywing. Dit is gewis darem nie vir alle oumense waar nie.

Die “memoral services” is wel onvermydelik, maar word nes die “macaroni” op die spyskaart met ander bakendatums op die kalender afgewissel.

Bereik jy my jare, 73, is verjaardagvierings soos 70ste, 75ste en 80ste nogal volop. Goue bruilofte en selfs ‘n diamantbruilof hier en daar lewer ook gereeld ‘n uitnodigingskaartjie in die posbus op.

Van ‘n 63ste troudag-herdenking in my kenniskring het ek min ervaring.  Ou Bloemfonteinse bure, Toy en Joha Vermeulen,  is pas op ‘n drafstap  – nou wel nie meer in die geval van Toy nie maar in die geval van Joha bepaald – by daardie baken verby.

Die foto hierby van die egpaar Vermeulen, nou van Atlantic Beach, Melkbos, is op 7 April 1951 op hul bruilof geneem.  Toy, jong man van De Aar, is daardie dag 63 jaar gelede in die NGK Kroonstad-Noord met Joha Beckman van Koppies in die huwelik bevestig.

Die baken moet in hierdie ruimte vermeld word, nie net omdat die twee mede-Melkbossers is nie, maar ook omdat hulle in die jare 80 in Bloemfontein sulke uitnemende bure was. In droogtes het hulle selfs hul boorgat “uitgeleen” (met die tuinslang snags oor Kmdt. Senekalstraat gespan).

Toy het boonop altyd ‘n noodpakkie Rembrandt Van Rijns in sy boonste laai gereed gehou het vir ‘n skelm dampie. Tokkie het my meermale in ‘n minder plesierige bui uit Toy se studeerkamer kom haal. Om die een of ander rede had sy gewoonlik ‘n tabak-snuf in die neus as sy my oor die straat sien sluip.

Die wellewende Joha moes dan telkens die atmosfeer suiwer met ‘n koppie tee en ‘n stukkie melktert of so.  Daardie gasvryheid het nie afgestomp nie. Jy stap nie uit hul huis sonder ‘n bottel top-port uit Calitzdorp se geweste in die hand nie. Joha daag gereeld by die voordeur op met ‘n mandjie appelkose uit dieselfde geweste.

Dankie, vriende.

Toy, wat onlangs sy 90ste verjaardg gevier het, was op vele terreine ‘n man van stoffasie. In die dekades 70′s en 80′s was hy ‘n sleutelman in die Vrystaatse Nasionale Party, eers as amptenaar, later as benoemde LV en senator. Hy KON kollekteer. Ek wonder hoeveel derduisende rande Bloemfontein se Grieke uit hul sakke geskud het as Toy namens die NP kom aanklop.

Kenmerkend van Toy en Joha is dat hulle nie hier vat en daar los nie. As hulle hul lojaliteit gegee het, is dit vir altyd. Soos aan volkspele. Dekades nadat hulle in Europa gaan tiekiedraai het, het hulle van daardie span baanbreker-Volkspelers die spilpunt gebly. Al draai hulle nie meer self tiekie nie (Joha sou wel kon!), klop hul harte steeds op die maat van “Afrikaners is plesierig” en “Jan Pierewiet”.

Geluk, Toy en Joha met die 63 kersies op die troukoek. Die viering van sulke gevorderde bakens op die lewenspad is spesiaal en heuglik, al stem dit tot ‘n bietjie hartseer omdat jy weet: Met die water wat verby is, sal die meule nooit weer maal nie.

KAMPIOENVEGTER

April 15, 2014 in Uncategorized

                                                                                                                                                                                                       henniej

Hennie Jonker in ‘n vrolike luim.

 

B0-aan die lys van dapperste boksers in die geskiedenis pryk die naam van die swaargewig Joe Frazier wat in die 70’s in twee gevegte deur Joe Foreman iets soos 12 keer platgeslaan is.  Elke keer het hy orentgekom en voortgeveg.

 My vriend Hennie Jonker van Melkbos is op sy 77ste verjaardag met Frazier vergelyk.

 In sy 77ste jaar was hy 12 keer in die hospitaal, o.m. vir groot rug- en nekoperasies.  Hy ly ook aan ‘n chroniese bloedsiekte. In die jaar het hy 44 pinte bloed ontvang.  Met tye kon hy skaars ‘n toon roer.  Die kampioenvegter het hom nie laat uitklop nie. Met ‘n ysere wil,  leeuemoed en vaste geloof het hy elke keer opgestaan. 

 Welmenende vriende  – die uwe  ook – wou Hennie in ‘n stadium oortuig dat hy van sy mooi woonstel met die treffende see-uitsig in Kusweg sou moes afstand doen. “Ou vriend, jy sal nooit weer onafhanklik op jou eie kan woon nie.”  

 Hy het ons doemsprofete  met ‘n houtoog aangekyk. Vandag is hy ten volle onafhanklik – ry die wêreld vol met sy nuwe motor.  Hoe dankbaar is ons kleingelowiges nie dat ons kanniedood-maat ons  verkeerd bewys het nie!

 In my hulde wat by ‘n intieme ete aan hom betuig is, het ek verwys na die talle boeke oor dapperheid wat biblioteke se rakke versier:  Boeke oor allerlei helde wat sterk, vreesloos en vasberade in aardebewings, brande, orkane, ander storms dinge vermag het wat vir ander bomenslik lyk.

 Hennie se storie is so spesiaal dat dit ook in die bladsye hoort van ‘n boek, soos Rudyard Kipling se “Captain Courageous”.

 Hy is Melkbos se eie “Captain Courageous”.

BLOGS OOR QUEEN

April 2, 2014 in Uncategorized

My 22ste en laaste blog oor ons vaart op die Queen Mary2 van Kaapstad na Sydney is gister hier geplaas.  Die boek is toe, en ek wil dit nie weer oopmaak nie. Wees maar gerus.

Deel net graag die stukkie wat Paul Clarke van  White Star, die QM2 se mense, vandag daaroor op hul webblad gesit het: 

At White Star we’re used to compliments and – yes – complaints both of which we welcome and attempt to learn from. This is the first time, however, that I’ve known a passenger to take the time and trouble to blog an entire voyage – and in Afrikaans! Mr Hennie Van Deventer cruised on the Cape Town to Sydney sector of Queen Mary’s world cruise in February, and has been kind enough to send the links to us to publish on this site, for the benefit of Afrikaans-speaking passengers and (hopefully!) future passengers! Many thanks, Hennie we hope to see you on board again soon! www.hennievandeventer.com/hvdblog and http://blogs.litnet.co.za/hvandeventer