Jy blaai in die argief vir van deventer.

SOOS MOEDERSMELK

Desember 7, 2014 in Uncategorized

IMG_0105

Spotprente teen my muur.

 

Een muur in my studeerkamer is die ene geraamde spotprente en karikature. Skoondogter, Mariza, het hoeka gese: As pa in die hemel kom, sal hy rondkyk wat daar is om te raam.

Santam verkondig in ‘n advertensie by sy geel sambreel: Ons dek alles.   Mag ek parafraseer: Ek raam alles.

Onder die vyftien-stuks sketse op my “karikatuur-muur” is die wat op agterflappe van HvD-boeke in die 90’s gepryk het:

Een deur Charl Marais van die redakteur HvD, gebaadjie en gedas met Volksblad in die hand.  Dit was op die agterflap van my eerste boek, Scoops en skandes.

Dan een deur ‘n onbekende kunstenaar uit die tydskrif Magazines in focus: ‘n korpulente HvD, koerant in die een hand en telefoon in die ander. Hy bulder: I wish to report a mistake. THE AFRIKAANS PRESS IS NOT DEAD.  Dit was aan die adres van wysneuse wat Afrikaanse koerante al 20 jaar gelede prematuur wou begrawe.  Die karikatuur (een van my gunstelinge) was op die agterflap van my tweede boek, Flaters en kraters.  Die aanleiding was ‘n toespraak waarin ek bruisend verklaar het: Vir die doempofete sê ek vanaand: Trek uit u begrafnisklere. Gooi weg u kransies.  Laat die vonkelwynproppe klap dat ons partytjie kan hou!

Die derde in die reeks is deur Fred Mouton. Dis van HvD agter sy rekenaar  waaruit ‘n stortvloed woorde bly stroom – ‘n afskeidsgeskenk van Die Burger by my aftrede einde 1997.  Dit was op die agterflap van my reisboek, Oos, wes, reismoles.

Ook in die boekekategorie is die omslag van my versamelde hekelversies,  Polisie, polisie, ons reënboog is geroof.  Dit toon twee gewapende rowers wat weghol met ‘n reënboog in hul hande. Orin Scott was die kunstenaar. Ander omslae van HvD-boeke hang elders in die huis.

Oudste spotprent teen die muur is een wat in 1979 in Beeld verskyn het toe die “nuwe dagblad” ‘n tere vyf jaar oud was.  Die tekenaar was Orin Scott. By ‘n verjaardagkoek staan hoofredaksielede Ton Vosloo, Piet Botma, Bob van Walsem, HvD en Piet Muller. Beeld was vanjaar veertig. Botma en Van Walsem is al oorlede

Wat ook teruggryp na daardie dae is ‘n geraamde skets van twee gevleuelde engele op die voorblad van die Nieman Association van Harvard se tydskrif, Nieman Reports. Een engel verklap aan die ander: Confidentially, I’d rather spend eternity as a Nieman Fellow.  Na my wonderjaar op die Harvard-kampus in 1976/77 verstaan ek nogal daardie sentiment.

Uit my Volksblad-dae kom allerlei illustrasies by humorstukke uit my pen. Charl Marais het my geteken waar ‘n Brasiliaanse polisieman met ‘n yslike  snor my op Rio se lughawe beetkry.  Dit had te make met ‘n oorgewig-koffer waarvan ek moeitevol ontslae geraak het.  Daar is ook ‘n Fred Mouton-ene van moleste in die vreemde.  Op die einste Rio-lughawe tuimel Marisa (3) in ‘n stormloop vliegtuig toe gillend uit haar stootwa. Pa gryp sy kop vas.

‘n Derde is van my kennismaking met die Swartsee in Rusland.  Waag ook maar net om ‘n toon in te steek.  Die kunstenaar is Fred Mouton.

Op my 50ste verjaardag het ‘n studentemaat, Faan van Huysteen, vir my ‘n geraamde reeksie uit die strokiesprent Peanuts present gegee.  Die dierbare Peannuts-karaktertjie is besig om ‘n brief aan die redakteur te skryf.  Dit begin: Liewe redakteur van Briewe aan die redakteur, hoe gaan dit met jou?

In die tweede prentjie merk die meisiekind Lucy snipperig op: Hoe gaan dit met jou?  Watter soort brief is dit om aan ‘n redakteur te skryf?  In die derde antwoord Linus: Ek het net gedink hy sal dit dalk waardeer as iemand oor sy gesondheid navraag doen. In die vierde slaan die klein ramkat die spyker nog meer op die kop:  Redakteurs is darem ook so half en half mense, weet jy?

Het ‘n geweldige affiniteit vir daardie geskenk van vriend Faan.

Uit my Kaapse dae is ‘n spotprent wat in Rapport was. Dit is ‘n meesterlike uitbeelding deur Lou Henning van die SAUK se Chris Louw wat ‘n verbaasde HvD verskreeu. Louw is ook reeds heen.

Die onderhoud op Monitor onthou ek soos gister. Dit was oor my persoonlike voorlegging aan die WVK waarin ek o.m. betoog het Afrikaanse koerante het niks om oor verskoning te vra nie; ons het trouens in die voorste loopgrawe gestry om teen die sin van ‘n groot gros lesers die saak van hervorming volhardend te dien.

Louw het dit as ‘n “romantisering” afgekraak en so emosioneel geraak dat hy amper in trane uitgebars het. Die onderhoud het in ‘n kwaai skermutseling ontaard.

Die grootste raam teen die muur is om ‘n reeks Honiball-tekenprentjies  van 1983, wat ek by Thys Slabber van Melkbos present gekry het.  ‘n Koerantverkopertjie skreeu: BURGHE! ‘n Man stoom op hom af.  Die outjie  skrik hom boeglam en lê rieme neer.  Die man haal hom in en gryp hom aan sy kraag.  Dan woel hy in sy broeksak en vra doodgewoon: ‘n Burger asseblief. Die verkopertjie is verstom: Slaan my dood met ‘n kanarieveertjie. En keep de tjyns sê hy ok nog ….

Twee dinge maak hierdie ene vir my spesiaal waardevol: Honiball se handtekening en die pragtige uitbeelding van die hegte verhouding tussen die leser en sy koerant – iets wat wat  al die wondere van die e-era nie kan troef nie.

Trouens, skielik besef ek: Al die spotprente teen daardie muur saam beklemtoon een oorheersende tema. Dit is die HvD-motto waarmee ek my loopbaan afgesluit het, en wat by my steeds geld:  Die koerant is soos moedersmelk.    Daar is geen substituut nie.

OHOPOHO, HIER KOM “OOM”!

Desember 4, 2014 in Uncategorized

 

IMG-004

 

 

 

 

 


Altyd op die regte plek op die regte tyd omring deur die regte mense … Die Volksblad-redaksie rondom die 90’s.

 

Ek soek hom in die politiek, ek soek hom in vernuwings in die koerant. Ek soek hom in gemeenskapsbetrokkenheid en verbeeldingryke promosies.  Ek hoef hom dalk nie verder nie as in die rubriek Stop van Myne te soek.

Die “hom” is die vernaamste onderskeidende element van my jare as redakteur. Die rubriek Stop en sy skrywer Johan van Wyk was dit eweseer as die vuurwarm politiek of iets anders.  Die era van die “Oom” was ook  ‘n geldige, logiese etiket vir die era van hvd.

Stop was ‘n ikoon van die 80’s. Die “Oom” was ‘n ikoon. En moenie nou kom stry met slimstories oor die woordeboekbetekenis van “ikoon” nie.  As die woordeboek van my verskil, is die woordeboek verkeerd.  Kort en klaar. So het ek meermale in my redakteursdae beweer – tot frustrasie van kollegas wat hul redakteur uit die HAT en die falanks ander woordeboeke in ons rakke verkeerd wou bewys.  Net terloops.

Hoekom die “Oom”?  Johan het vertel: “Ek het een keer net nadat Anneline Kriel Mej. Wêreld geword het op ‘n onthaal van die Troskies met haar gedans. Daarna sê sy toe: ‘Dankie, Oom. Dit was lekker.’ Terselfdertyd het die ‘Óom’ sommer gehelp om die ‘ek’ in die rubriek te systap.”

Johan het al in 1974 begin Stop skryf.  Daarna was hy ‘n tyd lank redakteur in Suidwes waar hy o.m. gemoedere beroer het met ‘n vermaning aan boere om van hul “vet wit gatte” op te staan.  Na ‘n kort(!) loopbaan as redakteur het hy as Stopskrywer teruggekeer.  Uiteindelik het hy in meer as 20 jaar by die 6 000 Stoppe geskryf – byna 19 miljoen woorde.

So ‘n lesersvriendelike rubriekskrywer soos Johan van Wyk was ‘n vername wapen in die arsenaal van die koerant. Die kollega het my persoonlik ook heelwat genoegdoening en plesier verskaf. Ek het soms hardop gelag as ‘n knap stuk van sy unieke humor op my lessenaar beland. Maar die bokker (“nog ‘n bokker na Amerika”) het my ook op my tande laat kners.  Johan se ekspedisies in die politiek in was nie altyd met my insigte versoenbaar nie.  Dan word ons kwaad vir mekaar. Ek skeur die gewraakte Stop op. Hy slaan my kantoordeur agter hom toe dat dit in die kosyne ratel. Vandag is ons vriende.  Soek graag mekaar se geselskap op.

Hy het die redakteur ook nederig help hou. As ons saam op plekke kom, moes die uwe maar daarop voorbereid wees om die ondergeskikte posisie op die statusleer te beklee. Dis om Johan dat die mense gekloek het – veral die vroue!  Hy het ‘n sjarme aan hom, die Oom.

Johan vabn Wyk hvd en kollega Tobie Wiese by die bekendstelling van Johan se boek, So was dit.

Johan van Wyk, hvd en kollega Tobie Wiese by die bekendstelling van Johan se boek, So was dit.

Oor hom het Die Volksblad in ‘n seldsame sub-hoofartikeltjie geskryf dat dit twyfelagtig is of enige ander rubriekskrywer al ooit so gelees, so bespreek, so bemin en so gehaat is soos Johan van Wyk.  (P.W. Botha, was nie een van sy “fens” nie. Hy het hom ‘n “skarmonkel” genoem.)

Sy tuiste, die “Republiek van Kafferrivier” was nie sommer uit die duim gesuig nie. Hy was inderdaad naby die destydse Kafferrivier ‘n melkboer, en het baie tyd (ook in “kantoorure”) op sy plaas deurgebring. Hy was bitter lief vir sy beeste en die grond maar het minder liefde gehad vir die “volkies” as hulle naweke “suip” en nie in hul babelaas-kondisie in staat was om die koeie te melk nie.

Wel denkbeeldig,  was al sy reise saam met Pik Botha, Nelson Mandela en wie nog die wêreld vol. Nadat hy oor só ‘n reis kamtig saam met Pik Botha na die Verenigde Nasies toe geskryf het, keer oom Christo Groenewald, oud-burgemeester van Bloemfontein, hom voor. “Man, ek’s bly om te sien jy’s terug. Dit was seker taai gewees.”  Johan het hom nie reggehelp nie..

Van sy uitdrukkings het so vasgeslaan dat hulle dadelik uitpop as ek aan hom dink. Elana Meyer, skraal Springbokatleet, het hy as die “tinktinkie met die groen boudjies” beskryf.  Perfekte beeld.  Onthou helder hoe hy altyd “vermom as ‘n potplant” uit die binnekamers kon skryf. En natuurlik sy beroemde “ohopoho”. Nou die dag weer self “ohopoho” uitgeroep oor ‘n ligte mistykie wat ek begaan het.

In 1984 of so had die eksaminators Transvaalse matrieks aan’t skarrel oor die betekenis van dié befaamde Stop-woord. Wat suggereer dit vir hulle, was die vraag in ‘n Afrikaans-vraestel. Skreeunaakse verduidelikings is skoorvoetend gewaag.

JvW se verduideliking: Ohopoho, het ‘n blinkners administrateur van Suidwes, A.J. Werth, moedeloos uitgeroep toe sy kar die soveelste keer in ‘n slaggat beland dat sy po……(dinges) deurstamp.  Toe word sy bestemming sommer Ohopoho … of Opuwa soos dit vandag heet.

Johan se vrye sê het hom by meer as sy redakteur in warm water beland.  ‘n Keer het hy ‘n vername arts en KP-politikus aangeraai: “Hef ‘n bedpan”.  Dié het dit gelees as bedoelende dat hy ‘n liggaamsfunksie moet gaan uitvoer, en het diep beswaard by die Persraad gekla. My onbenydenswaardige taak was dit om die Engelsspreekende regter O. Galgut te oortuig dis sommer ‘n niksseggende tussenwerpsel soos “Hef a ding-dong day” of “hef ‘n siegret”.  Aikona. Regter Galgut wou nie byt nie.

Oor kollega Johan van Wyk is ek nie uitgeskryf nie. Maar die blog raak lank. In ‘n sekere sin is die langasem-buiging gelukkig ‘n beskerming om my nie te waag op die glibberige veld van name uitsonder nie.  Karakters was egter volop.  Ek onthou elkeen met behae.

Soos ek my hele span met behae onthou, Sidwell en sy spannetjies bodes inkluis. Ook Grace wat so getrou die tee gemaak het.

Vir Jan Scholtz, ons skrynwerker-joernalis,  ‘n pluimpie dat hy my kantoor so deftig gemaak het met sy stinkhout en Birmese kiaat. Kyk net die foto hieronder. Ander kollegas sal my die spesiale vermelding sekerlik vergun.

vbd1Dan, vir heel oulaas,  ‘n stukkie spog oor ons indrukwekkende galery boekskrywers van daardie era, van wie Johan een was.  Deon Meyer, Chris Karsten en Rudie van Rensburg, voorste spanningstrio in Afrikaans, was gelyktydig kollegas. Dis merkwaardig. Chris Moolman, ook uiters aktief in daardie genre, is weg net voordat ek in 1980 by die voordeur van Voortrekkerstraat 79 ingestap het. Darem nie “omdat” nie!

Iets was in die water wat die mense in Bloemfontein ingekry het, of in die drukkersink wat hulle in Voortrekkerstraat ingeadem het. Ek dink persoonlik die ink-selletjies het hul bloed binnegedring en duisendvoudig vermenigvuldig.  As daardie kollegas hulle raakskeer, moet ‘n mens koes soos die ink in alle rigtings spat!

ONS MAAK SKOUERS OOP

Desember 2, 2014 in Uncategorized

prentjie

 

 

 

Roosknoppie, Matrieknooi, Joolnooi in ‘n nuusrokkie. Ons het nie geskrik vir skoonheid nie!

‘n “Kompulsiewe koerantman” met “‘n passievolle drif” vir koerante uitgee.  So het kollegas my by my afskeid in 1992 genoem. Dankie vir die heuningkwas, kollegas – as dit as ‘n pluimpie bedoel was en nie dalk as ‘n doringtak nie.

Drif en entoesiasme is vir my onontbeerlike wapens in ‘n redakteur se arsenaal.  My eie is des te meer aangevuur toe ek in 1980 in Bloemfontein aankom en moes hoor in kringe is die bynaam vir Die Volksblad die “Vaal Boertjie”.  Dit was seker nie afkrakend bedoel nie. Hy was inderdaad nog net swart-wit.  Maar daardie etiket het my allermins aangestaan.

Skud die “vaal”-beeld af! Dit was ‘n onmiddellike doelwit.  “Maak die skouers oop met ‘n groot storie.” Die nuwe kultuur wou ek uit die staanspoor vestig. Dit beteken: Bied die groot storie sterk aan – in kolomruimte en met visuele trefkrag. Oor elke uitgawe was die redakteur se kommentaar (kritiek en lof) as daaglikse leesplesier(?) op die kennisgewingbord.  ‘n Stroom gemerkte skeurblaaie is uit my kantoor subkantoor toe.

In daardie 12 jaar was groot nuus soos die raaiselagtige neerstorting in vlamme van die SAL-Boeing Helderberg naby Mauritius, die Challenger-ruimteramp, die Laingsburgvloedramp, die Vrystaatse vloede van 1988, die Westdene-busramp, die sprokiestroue van prins Charles en lady Diana;  die staatsgreep in die Seychelle onder aanvoering van die huursoldaat, kol. Mike Hoare; die polisiemanbankrower André Stander se reeks rooftogte en uiteindelike skietdood in Florida, VSA; die ontwrigte Springbok-rugbytoer na Nieu-Seeland in 1981; die Barend Strydom-moorde op Kerkplein, Pretoria; die skrikbewind van die pedofiel Gert van Rooyen, die val van die Berlynse Muur in 1989 en, les bes, ontbanning van die ANC en vryheid vir Nelson Mandela in 1990.

Met die nuwe aanslag is die beeld van “Vaal Boertjie” vinnig vir goed afgeskud , glo ek.  Die aanstelling van die kreatiewe Nols Nieman as hoofsub het ‘n sleutelrol gespeel om die “Boertjie” in ‘n “Fleurige Boerenooientjie” te omskep.

Die vervanging is in 1983 met ‘n gesofistikeerde litografiese pers met uitgebreide kleurvermoë vervang. Dit was vanselfsprekend ‘n kritieke faktor – natuurlik een waarvoor die redakteur nie eer kan opeis nie.

My skof van 1980 tot 1992 was ‘n tydvak van intense, onstuimige en grensverskuiwende politieke dinamiek.  Dit was die tema van die vorige blog. Maar soos daardie blog afgesluit is: ‘n Redakteur kan nie van politiek alleen leef nie.  Daardie skof was ongetwyfeld ook ‘n tydvak van vernuwing; van intense gemeenskapsbetrokkenheid, asook les bes, van Johan van Wyk se rubriek Stop van Myne wat ikoniese status verwerf het.

Die nuwe fokus op treffende tipografie en verbeeldingryke nuusaanbieding  was nie al vernuwings nie.

Die Volksblad was tot einde Februarie 1991 ‘n middagkoerant. In ‘n stal van oggendkoerante was dit ongerieflik en duur – ‘n komplikasie in ‘n tyd van ekonomiese druk. Ná ernstige besinning is met verrassend goeie gevolge na die oggendmark omgeskakel. Lesers en adverteerders is met reklame bestook.   Die leuse was: “”Lees vroegdag Die Volksblad en gesels heeldag saam.” Op die radio was ‘n advertensie met Johann Strauss se wals “Oggendkoerante” as inleiding.

Joolskoonhede het die strate ingevaar in fraai nuus(b)rokkies, geskep uit die eerste uitgawe van die vroegdag-Volksblad.  Vir skoonheid is nie in my tyd teruggedeins nie – inderdaad in so ‘n mate dat ons ‘n keer aartskonserwatiewe  van “pornografise neigings” beskuldig is!

Sirkulasie het op die nuwe tydgleuf lewendig gereageer.  Nasionale advertensies het maar ‘n taai kalant gebly. Weens die toespitsing op die kleurkwaliteit wat tydskrifte bied, en ‘n sterker fokus op kleiner, meer afgebakende markte, is dit toenemend van die dgblaaie weggekalwer. Ook die vloei van plaaslike advertensies na media met ‘n goedkoper advertensietarief (gratis tuiskoerante, e.d.m.) het diep in begrotings gekeep.

Koerante is ial hoe meer in ‘n oorlewingstryd gedompel. Redaksies moes kleiner word en weer kleiner word – en die moreel was soms maar pap. Die redakteur moes bly planne maak (soos die vestiging van ‘n eie stal tuiskoerante), bemoedig en aanspoor, al was sy eie moed soms naby sy skoene….

Deur die jare, van lank voor my tyd aF, is vele mooi Volksblad-tradisies gebore. Die Volksblad se vaderskap het hom steeds dieper in lesers se harte laat inkruip, glo ek. Ook op die veld het ek my toegespits.

Ek wil net vlugtig van twee van my witbroodjie-“kinders” vertel: Die Matrieknooiwedstryd en die Kunsmark. Eersgenoemde het in sy nuwe gedaante van Matrikulant-van-die-Jaar-kompetisie in 2010 sy 30ste bestaansjaar gevier. ‘n Glansbrosjure is gepubliseer. Ek kon my verlustig in die verdere lewensverloop van my “matrieknooiens”. ‘n Boompie wat ons in 1980 geplant het, het inderdaad geil gegroei.

Een van die koerant se beste geskenke aan die gemeenskap was Die Volksblad-Kunsmark wat in 1982 gestig is. Mense het in groter getalle as rugbyskares op Kunsmark-Saterdag na Koningspark gestroom. In ‘n stadium was 1 600 uitstallers geregistreer. Nasionaal is ons mark as een van die beste, kleurrykste en florerendste gereken.

Vir die feestelike vyfde verjaardag is o.m. ‘n verjaardagkoek gebak met 70 kg koekmengsel, 30 kg meelblom, 15 kg suiker, 60 dosyn eiers, 15 bottels brandewyn, 18 kilogram botter, 15 kilogram kersies en 9 kilogram neuter. Heerlik!

Vir Die Volksblad was die kunsmark goud werd. Hoe bereken ‘n koerant die geldwaarde van so ‘n juweel? Ongelukkig het latere redakteurs se lus daarvoor gekwyn. Ná twee dekades van vertroeteling is hierdie sprankelende promosie in die redakteurstermyn van Jonathan Crowther aan die Bloemfonteinse Lions-klub afgestaan.

Anders as die Matrieknooiwedstryd is hierdie boompie wat in die jare 80 geplant is, ongelukkig nie goed versorg nie. Van verwaarlosing het dit verlep …

* In die volgende blog kyk ek terug op die era van my kleurryke kollega Johan van Wyk en ander Volksbladders.

OOR PW, FW, MADIBA EN THABO

Desember 1, 2014 in Uncategorized

2014_11_28LINKS: Die “ampsmotor” in die jagveld – kyk net hoe lekker lag die kwaai P.W. Botha. REGS BO: ‘n Vriendelike handdruk voor die onvriendelikheid.  REGS ONDER:  Kort hierna het die AWB inmarsjeer ….

Uit die een president se hand het ek in die jagveld ‘n skyfie lemoen geëet.  Oor ‘n ‘n tweede was daar amper perde oor ‘n “stout” berig ná ‘n groot aand en ‘n baie spesiale oproep. ‘n Derde laat my onthou van ‘n ontsettende groot nood. ‘n Vierde se besoek het gemaak dat ‘n geel onlustevoertuig op die sypaadjie oorkant my huis parkeer.

Oor elke president van my era het ek, by die politieke herinneringe, ook persoonlike glimlag-herinnering  uit hul ampstyd of daarvoor.   Die onthou-fonteintjie het begin borrel ná plasing van die foto-collage by ‘n vorige inskrywing, en dese en gene se  reaksie daarop.

Die lemoen-episode was op een van die P.W. Botha-jagtogte elke winter in die Suid-Vrystaat wat deur Botha se boesemvriend Boet Troskie aangebied is. Met dodelike skietvernuf het Botha altyd self ‘n paar bokkies platgetrek.  Daar in die Vrystaatse winterveld, alleen agter ‘n miershoop of langs ‘n knetterende kampvuur, omring deur kollegas soos Chris Heunis, Pik Botha, Barend du Plessis, Kobie Coetsee, Pietie du Plessis en Gene Louw, was hy op sy mees ontspanne.

My storie spruit uit ‘n keer toe die omgeboude V8-jagvoertuig van die wellewende Pieter Jacobs van die plaas Zuurfontein, Fauresmith – bekend as die  “ampsmotor” – met sy oes van die dag tot by sy asse in die modder wegsak. Om hom uit te kry, het gevat aan die klein geselskappie wat saam met Botha die veld ingekoers het.

Terwyl ons so swoeg (en onderlangs swets), skil hy rustig ‘n lemoen. Toe ons die gevaarte eindelik uit die amperse moddergraf het, kry elkeen ‘n skyfie in die mond. Myne kry ek met die spitsvondigheid: “Ons maak nou geskiedenis. Dis die eerste keer dat ‘n koerantman uit my hand eet!” Figuurlik uit sy hand geëet, het ek darem nooit!

Van die F.W. de Klerk onthou ek veral die aand van 11 Februarie 1992 – ná die aankondiging van Nelson Mandela se vrylating. Die Uitvoerende Raad van die Afrikaner-Broederbond was in sessie op ‘n plaas buite Stellenbosch. Terwyl die Broers die nuus op die TV-skerm volg, wie stap  in?  Die Man van die Oomblik! Broer FW was genooi maar ons het aanvaar dringende sake hou hom weg. Die atmosfeer was skielik tintelend. Net die beste Roodeberg is geskink.

Later word De Klerk ingelig pres. George Bush soek hom. De Klerk bel terug uit die manjifieke plaasopstal se sitkamer met sy swaar geelhoutbalke. Bush nooi hom na die Wit Huis. Die gesprek het presies 11 minute lank geduur, deel hy die gasheer, Piet Carinus, met ‘n bree glimlag mee, maar “moenie bekommerd wees nie; my kantoor sal kom regmaak.” Nee, kap Carinus terug, die geld soek hy nie; net die tjek – as ‘n aandenking.

Die Sondag besluit ek dit is ‘n storie wat te goed is om nie geskryf te word nie. Ek noem nie die AB of die plaas se naam nie, praat net van “vriende” by wie De Klerk was. Maar klaarblyklik was ek nie versigtig genoeg nie. Die Maandag is die vet in die vuur. Die UR is ontsteld. Die president is in die verleentheid gestel. Prof. Peter de Lange, voorsitter, raai aan dat ek Tuynhuys bel.

Wat ek toe dadelik doen. Maar nee wat, sê De Klerk, al was ek ‘n bietjie stout, is geen skade gely nie. Hy het nie slapelose nagte oor die berig nie. Ek hoef ook nie te hê nie. Sjoe – noue ontkoming.

Vrydag 9 Oktober 1997 was ‘n dag wat Naspers nie lig sou vergeet nie. Nelson Mandela het kom saam aansit. In die straat en in die voorportaal was ‘n ontvangs soos nog nie daar gesien is nie. Maar toe volg Die Toespraak. ‘n Driftige een, wat in trant en gesindheid veglustiger was as voorheen

Die Afrikanerdom had, volgens die kwaai President, “baie om oor nederig te wees”.Ons koerante is ook skerp gekap oor, wat Madiba genoem het, ” ‘n onrealistiese terughunkering na ‘n verlede wat nooit weer kan wees nie”.

Terwyl Mandela praat en praat, had hierdie arme drommel sy eie persoonlike nood, aangebring deur ‘n jenewertjie vooraf en een of twee glase wit uit Naspers se voortreflike kelder. Ek was aan ‘n tafel in die verste hoek van die deur af, en intens bewus dat om op te staan en uit te stap vir die vertolking van ‘n protesdaad vatbaar sou wees. Al raad was dus maar vasbyt en bene al hoe stywer gekruis bly sit tot die bittereinde –  wat net betyds aangebreek het!

Ses aar tevore, op Vrydagaand 18 Mei 1991, was Thabo Mbeki, wat Mandela later as president sou opvolg, op my uitnodiging in Bloemfontein. Die geleentheid was ‘n unieke, private byeenkoms met Die Volksblad as gasheer. Die senaatsaal van die universiteit was gepak met leidsliede van die Rosestad: politici, NG-moderator, rektore, president van die Vrystaatse rugby-unie en andere.

Terwyl Mbeki praat, swaai die deure oop, en ‘n peloton verslonste AWB’s, sommige kousloos en met velskoene, marsjeer die saal binne. Hulle soek nie “kaffers” op die kampus nie – nog boonop ‘n “Kommunis”! Na ‘n lang onderbreking en uitgerekte onderhandelinge is hulle uit.

Mbeki sou later by my en Tokkie in Van Schoorstraat kom eet. Genl. Tom Erasmus van die SAP, een van die gaste, was nie gerus nie. Hy laat kom toe van sy manne, wat in geel onlustevoertuie opdaag. Hulle vergesel ons na my huis en parkeer oorkant die straat.

By ‘n buurman, dr. Wim Brummer, was sy seun, Tat, aan ‘t partytjie hou.  “O aarde, die musiek is te hard,” was hul eerste gedagte toe die geel SAP-voertuig opdaag. Die volume is dadelik verstel. Verskeie bure het by die polisiebewakers gaan navraag doen. “Wat gaan dan by die Van Deventers aan?” “Kraai van Niekerk eet daar,” was die antwoord. Hoekom juis Kraai, weet ek nie.

 

AAN DIE DIEP KANT

November 27, 2014 in Uncategorized

 

Desktop6

Goue Volksbladdae:  Herman le Roux,  Wiets Beukes en ekselwers in die swembad; Jaap Steyn in die hoofsubstoel, HvD met die koerant; HvD, Paul Marais en Ollie Olwagen raak stuitig.

 

As studentewerker by Die Volksblad is die 20-jarige Hennie van Deventer in 1961 aan die diep kant ingegooi. Ek moes swem dat die water om my ore spat.  Die Goudveldse verteenwoordiger, wyle Willie Coetzee, is met langverlof en die uwe moes waarneem.  Stoksielalleen.

‘n Storie wat in daardie “leerkurwe” uitstaan, is van ‘n stoker op die treine wat sy broer in die voordeur van hul huis met ‘n pistool gepot het oor onbehoorlike attensies aan sy vrou wanneer die stoker nagdiens doen om die pot aan die kook te hou. ‘n Doodskoot in die rug.

Onervare, doodbenoud, het ek aan die ouerhuis se voordeur langs die treinspoor gaan klop. Die treurende moeder het my binnegenooi en koek en tee aangebied.  Toe sy die doel van my besoek meegedeel is, het sy ‘n klomp foto-albums uitgehaal en vir my carte blanche gegee. “Vat wat jy wil”.  Wens ek het ‘n foto gehad van my plat op die vloer, omring deur foto-albums en met ‘n stuk sjokoladekoek in die hand!

Begin 1963 het ek in Bloemfontein ingeval en uit die staanspoor net beroepsvreugde ervaar. Die koerant was dadelik in my bloed.

Kollega Herman le Roux vertel die storie wat my dadelik “op die map gesit het”, is deur hom aangedra. Hy het by sy haarkapper gehoor van twee lyke wat omgeruil is.  Die vergissing is kort voor die onderskeie begrafnisse 100 kilometer uit mekaar ontdek. Drama. Lykwaens moes met die oorskotte na hul regte bestemmings jaag terwyl begrafnisgangers die wagtyd somber verwyl.

Die ouers en familie het soos sfinkse geswyg. Maar ek het die storie in Brandfort se kroeg losgewoel. Die kroegman was ‘n begrafnisganger en had die vermoë om ‘n storie in kleur en geur te vertel.

As Parlementêre verslaggewer in 1964 en 1965 (ongelukkig net twee jaar) het ek die Verwoerd-era as’ t ware in die voorste ry beleef. As jong hoofsubredakteur (‘n pos wat te gou gekom het), moes ek die moord op dr. H.F. Verwoerd op 6 September 1966 hanteer. ‘n Groter nuus-“storie” het nie in my dae oor my lessenaar gekom nie.

Maar ek  moes weer aan die diep kant leer swem. My eerste dag in daardie stoel onthou ek as my swartste dag in die joernalistiek.  Die hoofsub het daardie tyd  ‘n uur of twee voor sy kollegas kom inval om solank die kopie vir bepaalde blaaie te sorter. (DV was ‘n middagblad.) Ná ‘n eensame uur het ek besef ek weet nie wat ek doen nie. Toe my voorganger, Jaap Steyn, twee uur later opdaag, was ek in ‘n staat van paniek.  “Jaap, neem oor,” het ek vurig gepleit.  Hy wou nie.

Toe ek wurgend uitkry: “Jaap, vat oor of Die Volksblad verskyn nie vandag nie, het hy die omvang van die krisis besef. Hy het oorgevat. Gebukkend gewerk. Nooit opgekyk nie. Die koerant betyds op straat gehad.  Die volgende oggend was ek terug in die warm stoel.  Sonder hik  het die eerste Volksblad met ‘n HvD-stempel betyds verskyn.

As nuusredakteur van 1967 af kon ek my ses vervullende jare as joernalis ten volle begin slyp. Die aardbewing in die Boland; die eerste maanlanding en Neil Armstrong se onsterflike woorde: “That’s one small step for a man, one giant leap for mankind”; die jintelman-kommunis Bram Fischer se hofsaak en vonnis; Jackie Kennedy se huwelik met Aristoteles Onassis; die Rosenkowitz-sesling; die Groesbeek-moord — dit is groot stories soos dié wat die nuusredakteur moet regvat en raakvat om nie deur mededingers onder die stof geloop te word nie.

In 1974 is ek na die nuwe dagblad Beeld toe as eerste nuusredakteur. Daardie koerant se stigtingsjare was veeleisend maar vrugbaar.  Die joernalistieke omgewing was dinamies, energiek en opwindend. Die leermeesters was van die deurwinterdste koerantmense van hul tyd.  Die Beeld-tyd het vir my nuwe vergesigte geopen.   Tog was daar donker oomblikke soos die dag toe ‘n meisie op die voorblad pryk met ‘n skamele kostuumpie, as  jy dit so kan noem, waarmee sy by ‘n winkel skaamteloos die prys losgeslaan het vir die klant wat met die minste klere aan haar lyf opgedaag het.  By Beeld was algemene ongelukkigheid.  Ek moes mooi verduidelik die foto was nie die nuusredakteur se keuse nie.   Wie se keuse dit wel was, het nooit uitgekom nie.

Ek het daardie dag reikhalsend terugverlang Volksblad toe – ook weer die dag toe ek ‘n verslaggefster, Petra Pietesre, gestuur het om die Argentynse bokser Victor Galindez, bekend as “Die Dier” te gaan soen voor sy geveg teen SA se Pierre Fourie. Skitterende foto gewees. Maar die vroue in die redaksie was in opstand – diep in hul feministiese siele gekneus. Arme HvD had dit bra hotagter om gemoedere te kalmeer.

In 1976 is ek as Nieman Fellow na die Harvard-universiteit in Cambridge, Massachusetts. Die wonderlike ervaring het sy eie eise gebring, ook vir my gesin.  Onthou dit was in 1976/77 – Soweto het uitgebars. Swart nasionalisme het onheilspellend spiere gewys.  Die Suid-Afrikaanse Nieman-genoot voor my, Percy Qoboza, is in die tronk gestop.  Ek moes bontstaan in ‘n vyandige, liberale omgewing. Ook daardeur is ek enormlik vir latere verantwoordelikhede geslyp.

‘n Jammerte uit ‘n persoonlike en loopbaanhoek is dat ‘n skof in die Londense kantoor weens gesinsomstandighede verbeur moes word. Ons passaat op die SA Vaal na Southampton was klaar bespreek toe ons oudste, Johan, op ses maande met diabetes mellitus gediagnoseer word.  Pediaters het ons aangeraai om liefs nie in die uitdagende nuwe situasie die vreemde aan te durf nie.     Ook in latere fases van my loopbaan het ek gesinsomstandighede voorrang gegee in my besluite. Ek is nie spyt nie.

Ns. Later skryf ek  oor my terugkeer na Bloemfontein in 1980 – nou as redakteur van daardie gerespekteerde dagblad in die hartland.

 

 

PLAISIR D’GENEPI

Augustus 25, 2014 in Uncategorized

1-IMG_3062Ons het ‘n lekker Brekfis by Balule geniet (foto bo) waarop ek graag ‘n heildronk met ‘n knertsie verfrissende génépi uit die westelike Alpe wil instel.

Die sjarmante Franse gesinnetjie aan tafel saam met die Van Deventers en Van Rensburgs (Philip en Nancé) van Sabiepark was ewe verfrissend as die geurige Franse “witblits”. Dit kom van Alpynse kruie wat in die somer op ‘n hoogte van 2 000 meter groei – die hoogste plant in die Alpe (wetenskaplike naam Artemisia, in Engels bekend as wormwood).

Die Franse het oornag Franse vriende geword met wie adresse uitgeruil is. Hulle is Didier Charvet, sy sjarmante vrou, Emilie Anxionnaz, ‘n skaapwagter se dogter wat sonder lopende water in die huis grootgeword het, en hul twee flukse meisiekinders, Myrtille (10) en Melisse (7). Vir die génépi waarvan ons mildelik uit ‘n pragtige vlekvrye staalflessie geniet het, het hulle self die Alpe naby hul tuiste, La Rosiere de Bourg, aangedurf op ‘n gevaarlike klimroete waar ander génépi-soekers al met hul lewens geboet het. Soos ek verstaan, is dit in die omgewing van St. Maurice.

In my Sabieparkse drankkabinetjie is nou so ‘n kosbare flessie génépi vir baie spesiale okkasies, soos die lank afgewagte besoek deur ou Bloemfonteinse vriende, Andrew en Christine Murray, die naweek. In my boskar is ook ‘n CD met vrolike Franse kabaretmusiek. Didier is voor die clavier. Hy takel die klawers met vernuf en entoesiasme. Op die omslag is ‘n afbeelding van ‘n Hadu, ‘n mitologiese Alpynse bok met een been langer as die ander. Dis glo om beter te kan vastrap teen die steiltes!

Die brekfis met vars vrugteslaai, spek en roereier was die enigste floue teenprestasie wat ons kon aanbied. Darem gelyk of veral die vrugte goed afgaan by Myrtille en Melisse. Die twee het ‘n wederkerige bederfie verdien. Die vorige aand het hull eons bederf. Onder die skouspelagtige sterrefirmament, terwyl die hiënas buitengewoon luidrugtig om Balule se grensdraad kaperjol, het hulle, bo en behalwe al die ander gebare van welwillendheid, in hul soet kinderstemmetjies vir die Suid-Afrikaners gesing: Bambali, bamba, soli bali bamba, bambali, bambayé, yé ouvana souli bayé, ouana souli bayé, ouana souli bayé… Klink soos ‘n Zoeloe-wiegeliedjie in Frans.

1-IMG_3059Die reis na Suid-Afrika het sy oorsprong in Myrtille se geboorte tien jaar gelede. Die ondernemende jong ouers het terstond besluit   as sy tien word, moet die gesin dit herdenk met ‘n reis wat sy nooit sal vergeet nie. Australië is oorweeg maar verwerp weens sy gebrekkige dierelewe. Ook ander lande in Afrika was op die tafel. Die goedkoop rand het die deurslag gegee.

Hulle het in die Kaap begin en dadelik op Chapmanspiek aan die verkeerde kant van die pad in ‘n ongeluk beland. Ná die vroeë teenspoed was die reis ‘n fees … robbe by Houtbaai, pikkewyne by Simonstad, walvisse by Hermanus, leeus en olifante in die Wildtuin … Die hoogtepunt? Die walvisse, sê Didier dadelik. Dis die enigste wat jy nie in ‘n dieretuin kan sien nie.

Maar Balule se hiënas het darem ook Didier se Canon laat oortyd werk en die dogters laat rondhôl terwyl hulle uitbundig jil van plesier. Trouens, hierdie ou oom wat die middag nadergestaan het om die skamerige nuwe intrekkers in rondawel 3 in die kamp te verwelkom, het nogal daaroor ‘n teorie. Hy glo een van die redes waarom hy en sy geselskap so op die hande gedra is, was juis daardie aand se “wilde kabaret” langs die grensdraad. Ek het hand en mond belowe die koddige diere sou opdaag, en toe kom hulle in getalle … hulle rol in die sand, karnuffel mekaar speels en lag dat dit dreun tot tot wie weet watter tyd.

‘n Bekoorlike kuiertjie met bekoorlike nuwe vriende uit ‘n verre land op die bekoorlikste plek in die Wildtuin. Ai, hoe bevooreg is ‘n mens nie!

• In Wikipedia kom ek die volgende teë oor génépi: Génépi can be made at home through the simple addition of prepared herbs to vodka or grain alcohol. The chopped, dried wormwood flowers are sold in southwestern Europe in small sachets similar to tea bags. Home-brewing instructions, as well as ingredients, can be found online. For the more adventurous, the flowers and herbs can be harvested in July and August. After drying and chopping, the herbal mass can be enclosed in cheesecloth for steeping. Each Alpine mountaineer has a recipe for génépi, but a generic recipe for a liter would require forty flowers and forty sugar lumps to be added to 40% alcohol by volume.

VOLKSBLAD-SAGE

Junie 13, 2014 in Uncategorized

Vandag is die eerste dag van die res van Volksblad se lewe. ‘n Tikkie uitgelatenheid is seker veroorloof dat die geliefde dagblad nie vir die Afrikaanse leefwêreld verlore is nie. Gaudeamus igitur.

Tyd vir ‘n nugtere bestekopname oor die krisis van die afgelope tien dae behoort egter ook ingeruim te word. Die brandstapel het immers ongemaklik naby gekom. Niemand vir wie Volksblad iets beteken, wil ooit ‘n herhaling beleef nie.

In die konteks van so ‘n bestekopname is twee kernfaktore konstant. Die dinamiek van die gedrukte koerante het nie oornag verander nie. Die drywers van die radikale plan het ook nie oornag verdwyn nie. Wanneer hulle opnuut by Media24 die pionne begin rondskuif op soek na formules om hul boeke beter te laat lyk, moet ons nie verwag dat hulle dit dadelik met nuutgebore insigte en verfrissende ander gesindhede gaan doen nie.

Om nou rustig in ons onderskeie gemaksones agteroor te gaan sit en mekaar op die skouer te klop omdat die gevaar vir Volksblad afgeweer is, gaan niemand dus ver bring nie. Aan verskeie fronte wag uitdagings en werk.

Volksblad self het al ver gebou aan die model van ‘n geslaagde streekblad wat die karakter en behoeftes van sy spesiale nismark deeglik verreken. Ongetwyfeld sal hy hom verder daarop wil toespits om selfs nog nader aan sy lesersgemeenskappe te leef.

Mag ‘n mens egter ook hoop dat die skrik van amperse verlies ‘n nuwe stroom energie by lesers en adverteerders sal ontketen om hul koerant se hande te sterk in sy strewe om in sy lesersgebied die beste diens te lewer? Die lang, gelukkige en onbekommerde voortbestaan van hul koerant is immers primêr in die twee belangegroepe se hande.

As hierdie mense en instansies so sterk oor hul koerant voel, soos uit briewekolomme, verklarings en op sosiale media blyk, was die tyd nooit ryper nie dat hul liefde en lojaliteit  nou van die simboliese na die prakyk beweeg. Kortom, hulle sal op groot skaal moet begin inteken en adverteer Slegs so sal hulle hul koerant op die langeduur kan red en verhinder dat hulle, tot die enorme verarming van die ganse gemeenskap, van ‘n kosbare, onmisbare vennoot beroof word.

AfriForum is een instansie wat in die Volksblad-sage gewys dat sy hart reg klop vir koerante deur sy veldtog om openbare steun te werf vir die voortbestaan van die koerant in sy huidige formaat. Hopelik is hy oorgehaal om daardie veldtog te omskep tot ‘n nuwe veldtog om op elke terrein sterker vitaliteit vir die koerant te ontgin.   Ander belangegroepe sou daarby kon inval sodat dit ‘n magtige aksie word waarin kultuur, kerk, sakelui en andere hande vat.

Die kollig van kwesbaarheid was die laaste paar dae fel op Volksblad. Nie net by hierdie oudste Afrikaanse koerant in die land met sy trotse geskiedenis van 110 jaar nie, maar by elke ander titel is kwesbaarhede in mindere of meerdere mate teenwoordig – by van die ander selfs meer so as by Volksblad.

Media24 sal dit seker ten enemale ontken, maar by vele bestaan ongelukkig die persepsie dat die snoeiskêr die wapen is waarna sekere kern-rolpelers telkens byna refleksief gryp om die kwesbaarhede te verminder. Hoe meer jy snipper, des te meer bind jy egter koerante se hande agter hul rûe vas vir die taai stryd wat hulle moet voer. Des te kwesbaarder word hulle in die proses.

Die pad van verdere inkortings lyk egter vir hierdie waarnemer werklik nie na die pad om te loop om die geweldige eise te probeer ontmoet nie. Minder skadelike alternatiewe sal eenvoudig steeds met kreatiwiteit en ywer gesoek moet word.

Vir geen oomblik dink ek dat die huidige generasie besluitnemers ‘n pad sonder duwweltjies bewandel nie. Hopelik kry hulle egter so met stampe en stote tog maar die regte insigte en formules. ‘n Persoonlik versugting, ten slotte, is net dat ons asseblief tog gespaar bly dat die bloudruk vir die sluiting van ‘n trotse dagblad weer uitgebroei word by ‘n spruit van die idealistiese Nasionale Pers wat ek 36 jaar lank geken, gedien en liefgehad het. Ek kan in my verbeelding die voorgeslagte gepynig hoor uitroep.