Jy blaai in die argief vir vaart op die qm2.

BLOGS OOR QUEEN

April 2, 2014 in Uncategorized

My 22ste en laaste blog oor ons vaart op die Queen Mary2 van Kaapstad na Sydney is gister hier geplaas.  Die boek is toe, en ek wil dit nie weer oopmaak nie. Wees maar gerus.

Deel net graag die stukkie wat Paul Clarke van  White Star, die QM2 se mense, vandag daaroor op hul webblad gesit het: 

At White Star we’re used to compliments and – yes – complaints both of which we welcome and attempt to learn from. This is the first time, however, that I’ve known a passenger to take the time and trouble to blog an entire voyage – and in Afrikaans! Mr Hennie Van Deventer cruised on the Cape Town to Sydney sector of Queen Mary’s world cruise in February, and has been kind enough to send the links to us to publish on this site, for the benefit of Afrikaans-speaking passengers and (hopefully!) future passengers! Many thanks, Hennie we hope to see you on board again soon! www.hennievandeventer.com/hvdblog and http://blogs.litnet.co.za/hvandeventer

KAALVOET DIE BERG OOR

April 1, 2014 in Uncategorized

koeala

As die son in Loempoer oor die vliegtuie loer …

Ons moes kaalvoet deur sekuriteit, mor twee susters van Worcester toe ons op pad terug van Sydney notas vergelyk oor ons onderskeie beproewings aan die hand van lughawens se sekuriteitsmense.

 My voormoedere is kaalvoet oor die Drakensberg, troef ek hulle. Die twee moet toegee dat kaalvoet oor die klippe, gedryf deur ‘n sterk vryheisdrang, veel veeleisender moet gewees as kaalvoet op die lughaweteëls weens die vermeende veiligheidsgevaar wat die gespes aan jou skoene verteenwoordig.  Maar lughawesekuriteit is darem deesdae self  ‘n berg voor ‘n mens.  

 Meen, ek was self in daardie stadium gestroop van gordel, horlosie en wat nog. In die boks van vir altyd verlore goedere was my snorskêrtjie wat in my toiletsakkie was (skoon vergeet uit agtelosigheid), my skeerskuim en ‘n waterbottel half gevul met uitstekende Calitzdorpse port. Daarvan is van tyd tot tyd in kajuit 6005 op die Queen Mary2 ‘n doppie geskink. Dit was ‘n geskenk van my vriend Toy Vermeulen van Melkbos.

 Nou is my waterbottel met sy waardevolle inhoud verbeurd verklaar sonder ‘n gewilligheid om te verduidelik – ‘n lot wat my soutwaterspuitjie vir sinus ook net-net vryspring. ‘n Streng Australiese “sheila” met ‘n ligte snorretjie op die bolip was uiters ongelukkig oor so ‘n potensiële wapen van massaverdelging in die bagasie van ‘n hardekwas gryskop uit Suid-Afrika. ‘n Simpatieker manlike kollega moes uiteindelik ingryp (Gelukkig had ek ‘n “paspoort”vir my bioniese heup!)  

 Om vlieg ‘n nog pynliker ervaring te maak vir iemand wat pas op ‘n weeldskip tot in die aarde bederf is, skeduleer die lugrederye deesdae mos hul vlugte op die onmoontlikste tye.  Op Kuala Lumpur het Maleysia Airways sy vrag vaak pasassiers in die Boeing 777 (presies dieselfde as die vermiste een) om 03:50 afgelaai. Ondanks waarskuwings tot die teendeel was elke stoel in die lughawesitkamer in daardie stadium deur die prostate liggaam van ‘n slapende passasier beset – ‘n aansienlike logistieke uitdaging vir ‘n nuwe aankomeling wat ambisie het om ook te dut.

 Toe die rooidag breek (foto hierby) was die uwe bra uitgemergel.  Die volgende versie (parodie op ‘n versie) het ek agterop my instapkaartjie vir vlug  MH 0448 in my persoonlike soort snelskrif neergepen: As die son in Loempoer, oor die vliegtuie loer, begin slapende lywe in al wat stoel is, te roer ….

 Uit Dubai het ons Emiratesvlug net omgekeerd verloop. Dit het om presies 03:50 opgestyg. Vir wat?  Moet sê hierdie ou was nogal verbysterd oor die bedrywigheid op daardie enorme lughawe daardie onheilige tyd.  Slaap die Dubaiers dan nooit?

 IMG_1849-001

Onheilige tyd.

Operasie Omdraai het eintlik in Sydney al begin skeefloop toe die sogenaamde Air Bus ‘n kwartier laat by die Mercure Hotel langs Central Station opdaag.  Om 17:00 in spitsverkeer voeter die bestuurder toe die malhuis binne waarin die besige George Street met die aanbreek van die naweek ontaard. Dit toet, swets, trommel met die vingers op die stuurwiel en druk paniekerig die knoppies op die selfoon, maar daar sit ons, vasgekeer agter ‘n ry busse wat nie ‘n duim roer nie.

 Mettertyd blyk dit die stomme man agter die stuur moet nog by drie ander hotels passasiers oplaai. En die tyd stap aan.  Die ou begin senuweetrekkings kry.  Van die vroue op die bus kry op hul beurt senuweegiggels.  Die Van Deventers wat net agter die bestuurder sit, word gevoer met ononderbroke kommentaar wat deur dun lippe uitgesis word, ryklik gespesery met die f-woord.

 Uit selfoongesprekke lei ek af die bestuurder se naam is Nic. Hy kon waaragtig die ware ou Niek gewees het waarteen ons ouers ons jare her deurgaans gewaarsku het!

 Toe ons uiteindelik aan die gang kom, swaai hy, in ‘n poging om te ontsnap, die bus en sleepwa by ‘n wandellaan in ChinaTown in. Hy lê op die toeter.  Ingehaakte Chinese paartjies los mekaar en skarrel in alle rigtings.  Maar hy ry hom weer vas. En ons sit opnuut. Magteloos. Beweginkies wat daar is, is kort en rukkerig.

 ‘n Uur (eintlik darem net 55 minute) nadat ons by die Mercure weg is, doem die naam van ons hotel weer voor ons op. “Nou moet jy gat skoonmaak, vriend,” eis gespanne passasiers.  Nic luister. Hy ry ‘n roete wat niemand seker nog ooit gery het nie, skuur rakelings verby ander voertuie en jaag een keer tot teenaan ‘n bus. Maar hy ry.  

 Net 17 minute ná die herbesoek aan die Mercure spoed hy die lughaweterrein binne.  Seker ‘n rekord tot op dese, maar ‘n nagmerrierit as daar ooit een was.  Toe’s daar ‘n ander neukery.  ‘n Bagasietrollie kos vier dollars. Tokkie wat ons geldsake hanteer, moet eers die koffers los en ‘n trollie gaan aanskaf.  Koffers word deur die gespanne Nic minagtend op die sypaadjie neergesmyt.

 Toe die man wil ry – daar’s nog pasassiers wat vir ‘n ander terminaal bestem is – is ons koffer nommer vier nêrens. In hierdie oomblik van nood lyk al die koffers in die sleepwaentjie boonop vir my presies eenders.  Die naam “Tokkie” is ongetwyfeld nog nooit met soveel dringendheid en rou emosie op Sydney se lughawe uitgekreet nie.  Sy hanteer immers nie net die geldsake nie – ook die koffersake.

 Gelukkig hoor sy in my stem dis ‘n krisis. Sy los eers die trollie en kom pluk die regte koffer uit die sleepwa. Dankie tog vir so ‘n staatmakervrou. 

 Maar vlieg? Daar is regtig aangenamer maniere om van punt A tot by punt B te kom.  Soos om daarheen te vaar. Veral op die QM2 … (Slot).

TOE’S ALMAL DOOD …

Maart 30, 2014 in Uncategorized

Will&Ann

 

Die sanger Will Martin –  boordjie kenmerkend losgeknoop.

 

Oor Nieu-Seeland kan ‘n mens maklik die fout begaan om te dink die landjie produseer net rugbyspelers Dink egter aan Kiri te Kanawa, Edmund Hillary, Richard Hadlee –  nee, geeneen het vir ‘n Super15-span uitgedraf nie.

Op die QM2 was ook ‘n bekende Kiwi – onbekend aan my persoonlik, maar ‘n sangsensasie in sy eie land en sy aangenome land, Brittanje, verneem ek.  Sy naam is Will Martin en hy ryg die platinumplate in.  Het darem ook ‘n rugbyverbintenis: Voor die eindstryd van die rugbywêreldbekertoernooi van 2011 het hy die Franse volkslied, “La Marseillaise” op Eden-Park in Auckland gesing.

Miskien is dit omdat hy, ondanks sy 29 jaar, so weerloos jonk lyk, dalk omdat hy inderdaad ‘n goeie “entertainer” is  (hy speel ook klavier dat die klawers bons), maar op die QM2 het mense ná sy konsert in die Royal Court Theatre vir hom opgestaan.  Veral vroue.

Oor sy musiek wil/kan ek my nie uitlaat nie. Sy tweede konsert op die skip het ek in elk geval liefs prysgegee vir ‘n aand op die dek met ‘n glasie wyn in die hand.  Maar die jongman het so tussen sy liedjies met ‘n storie vorendag gekom wat ek graag hier oorvertel. Kan nie onthou dat ek dit iewers gelees het ná die groot aardbewing (7,1 op die Richterskaal) in Christchurch in 2011 nie.

Die sanger wat in 2007 na Londen verhuis het, was nog kort voor die aardbewing in die CTV-gebou (Canterbury TV) vir ‘n onderhoud.  Hy is vroeg weg vir ‘n middagete-afspraak met ‘n oud-onderwyser en dié se 10-jarige dogter. Toe die aarde skeur, het daardie gebou in ‘n wolk van stof in duie gestort. 

Altesaam 115 mense is in die enkele gebou dood – sowat die helfte van al die sterftes in die stad daardie dag.  Al die mense wat by die Martin-onderhoud betrokke was, het omgekom: onderhoudvoerder, kameramanne, regisseur, die lot.   “As ek in die gebou gebly het, was ek ook dood, het Martin die gehoor op die QM2 meegedeel.  “My besluit om vroeg weg te glip vir my afspraak, het my lewe gered.”

Op daardie oomblik het die skraal kêreltjie met die amper skaam glimlag en die  losgeknoopte boordjie nog broser gelyk.  Die Australiese vrou in die stoel langs my, het met haar sakdoekie by haar oë gevroetel.

churchill

hastings

 

Churchill en Max Hastings.

 

Iemand wat ‘n mens nie eintlik met die woord broos vereenselwig nie, is die man met die growwe stem en sigaar, Winston Churchill. ‘n Storie oor die gevierde Britse staatsman wat vir my nuut en … wel … deerniswekkend was, het ek ook op die QM2 gehoor. Dit het uit die mond van sir Max Hastings, beroemde oud-redakteur en voorste Britse kenner van die Tweede Wêreldoorlog, gekom. Sir Max – ‘n regte langeraat wat graag wandelinge op dek 7 onderneem het  – was een van die gassprekers op die sogenaamde “Cunard insights”-program op die skip. Churchill was een van sy onderwerpe.  Sy boeke het soos soetkoek verkoop in die boekwinkeltjie langs die indrukwekkende biblioteek op dek 8. 

Die lang Brit in die roomkleurige pak het boeiend vertel van die verpletterende Duitse bomaanvalle op Londen in die sogenaamde “Battle of Britain”, en Churchill se byna bomenslike pogings om sy land en die Britse weermag met sy moed en silwer tong gemotiveerd en gefokus te hou.

Maar Churchill was ook kwesbaar vir sentiment, aldus Hastings. Een middag op pad na die plattelandse premierswoning Chequers het ‘n lang tou mense sy oog gevang. Hy het die bestuurder van sy ampsmotor opdrag gegee om stil te hou. Hy stuur toe een van sy veiligheidsmanne om te gaan vra waarvoor hulle tou staan.

Die antwoord was: Hulle hoop om voëlsaad vir hul troetelvoëltjies te koop. Toe die groot man dit hoor, het hy gehuil.   

mof

 

Mof Myburgh

 

Wat my byna bewoë gehad het, was oud-Springbok H.O. de Villiers se herinneringe aan legendes soos Frik du Preez en Mof Myburgh – ook as deel van die “Cunard insights”-program.  Swaar om te sluk, was dat die beroemde Springbokstut in armoede oorlede is in ‘n houthuis in die agterplaas van een van sy kinders.

Dit, terwyl vandag se rugbyspelers, al is hulle nie juis vreeslik waffers nie, nie die einde van hul skatte ken nie. Die ou lewe kan soms wreed wees.

KAAL MAN OP STROOIBED

Maart 28, 2014 in Uncategorized

 

jackies

Jackie Stewart op die QM2. Die klein kampioen teken die video oor die  Monaco Grand Prix van 1971  en die mense staan tou.    

Bedink die verbasing (skrik) van ‘n groep Belgiese nonne oor hulonverwagse konfrontasie met ‘n poelkaal jong man op die naat van sy rug op ‘n bed van strooi in ‘n plaasvragmotor.

Wat staan ‘n ordentlike non in so ‘n onbehoorlike krisis te doen?  So vinnig as moontlik die man se skaamte bedek, natuurlik.  Wat hulle terstond en deeglik gedoen het.  Toe stap ‘n ander man in – een met so ‘n weglêsnor –  en trek die prostate figuur se klere dadelik weer alles uit.

Die kaal man was sir Jackie Stewart, vermaarde Skotse Formule 1-kampioen, bekend as “The Flying Scot”. Die ander man in die verhaal is sy medejaer Graham Hill – vir wie dit, volgens die spitsvondige Stewart, nie ongewoon was om iemand anders se klere uit te trek nie, egter nie ‘n ander man s’n nie. 

Rede vir die klere-episode was ‘n ongeluk in die rampspoedige Belgiese Grand Prix van 1966 – ‘n storie wat ek uit my hoofsubdae by Die Volksblad goed onthou.  Dit was groot nuus. Stewart en ‘n rits ander jaers het in ‘n geweldige reënstorm van die baan gejaag. Die Skot se BRM P261 het eers ‘n telefoonpaal getref, toe ‘n boskapper se hut. Dit was, in sy woorde, “opgevou soos ‘n piesang”. 

Stewart is 25 minute lank in ‘n dam hoogs ontvlambare vliegtuigbrandstof in die wrak vasgekeer. Hill en nog ‘n renjaer wat kort na Stewart ook van die baan getol het, Bob Bondurant, het hul makker te hulp gesnel. Hill het hom nog die kwinkslag veroorloof: “You look very second hand”.

Daarna het hy en Bondurant met die gereedskapstel van ‘n toeskouer aan die werk gespring.  Hulle het koorsagtig gewerk om die klein Skot te bevry terwyl die groeiende plas brandstof rondom hulle enige oomblik in ‘n vuurbal kon ontplof.  In die 25 minute wat die operasie geduur het, het geen wedstrydbeampte gesig gewys nie!

Sy redders het Stewart na ‘n plaas gedra en op ‘n bed van strooi gemaklik gemaak.  Op versoek van Stewart het Hill sy deurweekte renpak verwyder.  Die kragpetrol het sy vel gebrand en was buitendien ‘n yslike risiko.  Maar hoe moes die stomme nonne dié detail nou weet?  

Selfs toe was die arme Stewart se beproewing nie oor nie. Hy is versigtig in ‘n ou ambulans gelaai wat hom na ‘n plek geneem het wat as mediese sentrum moes deurgaan. Hy is daar op ‘n seil-drabedjie gelaat. “Daar was geen dokter nie. Ek is op die kateltjie gelaat, op die vloer, omring van sigaretstompies. Dit was ver van skoon.”

Uiteindelik is hy in ‘n ander ambulans gelaai wat met loeiende sirenes en ‘n polisie-eskort die pad gevat het na die hospitaal in Liege. Op pad het die eskort en die ambulans geskei geraak. Toe verdwaal die ambulans. Die bestuurder het nie die pad geken nie.

Eind goed alles goed. Jackie Stewart (nou amper 75) het heelhuids uit die ongeluk gekom. Hy was een van die eminente sprekers in Cunard se verrykingsprogram Cunard Insights op die Queen Mary 2 op ons vaart na Sydney.  Selfs die uwe wat geen Formule 1-entoesias is nie, het in ‘n volgepakte Royal Court Theatre aan sy lippe gehang. Later het ek gretig ‘n vertoning van Roman Polanski se dokudrama Weekend of a Champion in die Illuminationsteater gaan bywoon. Ook daar was geen sitplek leeg nie.

Die film dek vier dae in Mei 1971 toe Polanski sy vriend, wat in daardie stadium die eerste keer wêreldkampioen was, na Monaco vergesel het vir die 29ste Monaco Grand Prix.  Die rolprent wys hoe ‘n jong Stewart vol selfvertroue en met lang swart luislere sy renmotor as’t ware ratverwisseling vir ratwisseling deur die uitdagende roete in Monaco vat. 

WEEKENDCHAMPION-articleLarge

Stewart en Polanksi in 1971.

Aan die einde sit die twee vriende en gesels in dieselfde weelderige hotelsuite waar Stewart vier dekades gelede tuisgegaan het. Hulle gesels oor die opwindende dae wat verby is, Stewart se stryd teen sy erge disleksie toe hy ‘n kind was – asook sy onvermoeide kampanje om veiligheid op renbane te bevorder.  Van die skouspelagtigste ongelukke op die renbaan word vertoon: motors wat deur die lug tol, wat aan flarde spat, wat in vlamme uitbars.  

“In die 1970s was motorrenne gevaarlik en seks veilig,” sê sir Jackie met ‘n stout glimlag. Mnr. Polanski kan nie anders as om nadenkend saam te stem nie.

Stewart se kampanje vir groter veiligheid in motorsport spruit grotendeels uit daardie 1966-ongeluk toe Graham Hill en Bob Bobdurant hom gered het. Danksy sy energieke pogings is motorrenne dalk nie meer heeltemal so gevaarlik soos destyds nie. Altans, so glo hierdie leek nadat hy die voorreg gehad het om sir Jackie Stewart se stimulerende voordrag op die QM2 aan te hoor.

A LA FRANK SINATRA

Maart 28, 2014 in Uncategorized

                                                                                                                                                                                                                                                                                                                         Frank-Sinatra-007

Frank Sinatra: “Vive la difference!”

Frank Sinatra se bekende My Way, deesdae nogal gewild as ‘n huldigingslied by begrafnisse, bevind hom in interessante Afrikaanse geselskap. Soos Sarie Marais en Ou Ryperd (en verskeie ander ingevoerde Afrikaanse liedjies) het My Way ‘n ietwat verrassende oorsprong.

Sarie Marais, deur baie geag as so tradisioneel Suid-Afrikaans soos die koeksister, dra natuurlik die stempel “Made in USA”. In Amerika was dit in die jare her bekend as Elly Rhee.  Ditto Ou Ryperd.  Chris Blignaut se immergroen liedjie (deur Dozi nuwe lewe ingeblaas) het onlangs sy plek tot in die 25 boonstes van die “Grootste Afrikaanse Liedjie van Alle Tye” oopgalop. Dit is, helaas, niks anders nie as ’n vrye vertaling/interpretasie van Old Faithful.

Gene Autrey, daardie gawe cowboy van die jare 40 – toe ek self nog ’n aspirant-cowboytjie in Kimberley was – het sy getroue ryperd so besing as hy by sy vuurtjie in die Amerikaanse Wilde Weste kitaar sit en tokkel. “Old Faithful, we roam the range together . . .”

My Way is op sy beurt g’n niks Amerikaans nie.  Die Kanadese sanger/komponis Paul Anka het die melodie in Frankryk gaan “gaps” en die lirieke vir Frank Sinatra herskryf.  Ole Blue Eyes het daarvan ‘n internasionale treffer gemaak. Maar wie het al ooit van Comme D’habitude gehoor wat in 1967 deur Claude François and Jacques Revaux gekomponeer is?

Die lirieke van My Way vertel die storie van ‘n man wat op gevorderde jare terugkyk op sy lewe terwyl die dood nader kom. Hy is gemaklik met sy sterflikheid en aanvaar verantwoordelikheid vir hoe hy al die uitdagings van die lewe gehanteer het. Vir baie mense slaan ‘n taamlik klankie van eiewaan en arrogansie in die woorde deur:   

And now, the end is near
And so I face the final curtain
My friend, I’ll say it clear
I’ll state my case, of which I’m certain

I’ve lived a life that’s full

I traveled each and ev’ry highway

And more, much more than this, I did it my way

Paul Anka, by my generasie bekend as die sanger van die trefferliedjie Diana, is klaarblyklik ook iemand wat dinge op sy eie manier gedoen het.   Luister mooi as jy weer Diana hoor:

I’m so young and you’re so old
This, my darling, I’ve been told
I don’t care just what they say
‘Cause forever I will pray

You and I will be as free

As the birds up in the trees
Oh, please stay by me, Diana. 

Klaarblyklik geen konvensionele verhouding hierdie nie. G’n wonder dat die mense geskinder het nie.   

Frank Sinatra is nie juis een van my gunstelinge nie.  Het geen diepgaande studie oor hom gedoen nie.  Waar ek dan aan my slimmigheid  oor hom kom?  Het graag by die Illuminations-teater op die QM2 na die program “Cunard insights” gaan luister. Een van die boeiende sprekers was die musiek-historikus Chris Walker, wat lekker oor grotes soos Irving Berlin, Gershwin en Sinatra se lewe en werk vertel het.  Die onthullinkie oor My Way kom van hom.   Vir vele in die gehoor was dit ietwat van ‘n ontnugtering.

REK JOU RANDJIES

Maart 24, 2014 in Uncategorized

 duur plesier-001

  Vermy o.m. Todd se a la carte-geregte, ‘n sigaartjie in Churchills, ‘n glasie sjampanje in die Veuve Clicqout-sitkamer en ‘n ruikertjie vir jou kajuit. 

Duiselingwekkende derduisende dollars.  Dit moet die opgehoopte aan-boord-rekenings beloop van passasiers op die QM2 wat lag-lag kan betaal, of nie eintlik kan nie, maar tog hul oë toeknyp en hul kaarte aanbied vir alles wat die hart begeer.  

 ‘n Groot bedreiging vir die debiet is daardie skemerdrankie, wyntjie of biertjie. ‘n Margarita jag jou $8.25 uit die sak; meer eksotiese skemerdrankies soos een van die “Cunard favourites” maklik $9,95. ‘n “Champagne cocktail” ruk jou $15,95.  ‘n Bottel wyn aan tafel begin op tussen $40 en $50. Kurkgeld beloop $20.  ‘n Wynpakket (ses bottels) kos van $249 af op.

 Vir ‘n “afternoon tea” plus sjampanje is die “beginprys” $30. Vir ‘n gewone wynproe (Rhebokskloof) word ‘n “nominale” tariefie van $40 gehef. Sommer ‘n gewone bier (Budweiser of Becks) kos al klaar $5,50.  Onthou, jy moet by alles “diensgeld” van 15% voeg, en dan boonop alles met 10 vermenigvuldig as jy in rand dink, soos ekke. 

 Spaarsamiger mense benut die “World Voyage Promotion” om drank vir een dag belastingvry te koop  –  maar asseblief tog vir “consumption in your stateroom only”.  ‘n Liter Glenfiddich kos jou dan $65 en ‘n liter jenewer, voda of rum tussen $35 en $50. Jy kry ses blikkies soda op die koop toe.  Die aanbod is opgeraap. Mense het tougestaan.

 Nie net drank kan ‘n onversigtige man ‘n fortuin kos nie. Veronderstel jy is van die sentimentele soort. Jy wil darem graag ‘n paar van die mooi foto’s aanskaf wat die skip se knap beroepsfotograwe op elke moontlike oomblik en plek van jou neem.  Maak jou klaar om vir ‘n pakkie van ses $149,95 op te dok.  Wat van ‘n “unlimited package”? Glo ‘n winskoop teen $399,95!  

 ‘n DVD van die vaart word sterk bemark, selfs op die TV-skerm in jou kajuit. Dalk verskyn jou gesig vlugtig iewers daarop.  Dit kos SLEGS $34,95 elk.  

 Oor die roospryse op Valentynsdag het ek voorheen verslag gedoen ($65 ‘n dosyn).  Selfs ‘n onromantiese ding soos ‘n sak wasgoed vat aan jou sak. As ‘n “special offer” op sekere dae, let wel, kos 30 stukke of minder jou steeds  ‘n koele $40.

 As jy ingaan vir ekstra “bederfies” soos aromaterapie, masserings en “facials”, sal jy by die baie mooiCanyon Ranch Spa tussen $149 en $161 moet uithaal.  Ek moet toegee: Die plek ruik hemels. Ons het elke dag ‘n keer of twee daarlangs gestap.   

 Nog ‘n bederfie is om by die uiters deftige Todd English Supper Club a la carte te gaan eet of, as die gier jou pak, saans aan te sit met spesialis-spyskaarte gedempte lig, mooi tafeldoekies en kelners wat anders  uitgevat is, in gesellige hoekies van die Chef’s Galley – wat teen ‘n prys – vir die kieskeuriges afgeskort word. 

 Jy hoef jou egter nie brandarm te kuier op die QM2 nie.  Vir die gewone vaartrpys word jy klaar soos ‘n vorstelike bederf. Vermy dus onnodige buitensporighede. Moenie betaal vir iets wat jy verniet kan kry nie, is my leuse. Moet ook nie deur jou nek betaal vir iets wat goedkoper bekom kan word nie.  

 duur plesier1-001

Bring-‘n-botteltjie.

Cunard se drankbeleid is minder rigied as dié van ander rederye. Ons het die “venster van geleentheid” benut om ‘n ietsie in ons koffers saam te vat. Toe koop ek ‘n sogenaamde “soda package” teen $6,50 ‘n dag. (Jy kry allerlei pakkette, o.m. ‘n koffiepakket as die gewone aanbod nie in jou smaak val nie.) Die sodapakket behels onbeperkte gaskoeldranke uit die spuit (Pepsi, tonic, lemonade en sodawater), asook vrugtesappe soos lemoen, pynappel, tamatie, pomelo, bosbessie en appel.  

 

Elke aand voor ete het ek in een van die mooi sitkamers net my sodaplakkertjie vir die kelner gewys. Weldra was ‘n lang glas van die een of ander uit die spuit voor my op die tafeltjie.  TvD het diskreet die versterkinkie bygevoeg. Aan etenstafel het ek my gratis glas tonic by die vroulike Spaanse sommelier bestel. Geen haan het daarna gekraai nie.

 Verder neem ‘n mens (verstandige mens, suinige mens – besluit maar self) jou eie foto’s, was jou eie wasgoed, eet net in die gewone restaurants van die gewone spyskaarte af (dit bied in elk geval ‘n verbysterende keuse) en geniet jy die skitterende “afternoon tea” (sonder sjampanje) wat elke middag in die Queens Room gratis en verniet aangebied word.  

 Jy aanvaar summier die uitnodiging na die kaptein se verwelkoming en elke uitnodiging na ‘n kunsuitstallings of –veiling in die pragtige Clarendongalery – die grootste ter see. Gratis sjampanje is by sulke okkasies nie skaars nie.

Die skip se ekskursies is berug duur – wissel tussen $60 en amper $200, en dis vir een mens.  Maar om jou eie te reël, verg werklik nie veel nie. As die sogenaamde “destination”-spreker jou klaar oor ‘n stad ingelig het, weet jy immers haarfyn watter nommer bus jy by watter staanplek vir watter roete moet neem.   Die rooibustoere (“hop on – hop off”) bied oral goeie waarde vir geld.  Selfs ‘n taxi en ‘n persoonlike roete kos minder as ‘n georganiseerde toertjie.   

 Slotsom: Mense wat op die QM2 wil gaan vaar en groot skade aan hul bankrekenings wil vermy, moet maar met my en Tokkie kom gesels.  Ons   beskou onsself, heel onbeskeie, as buitengewoon deskundig aan die geld-spaar-front sonder om ons op enige wyse te kort te doen.

DIE ROOI BAADJIE

Maart 23, 2014 in Uncategorized

  

 IMG_0742

Op die dek van die QM2.

 

Takseer gerus maar vir Tokkie op die rooi baadjie waarmee sy hier op die dek van die Queen Mary 2 by ‘n reddingsboei kniel.  Sy en daardie baadjie kom ‘n lang pad. Dis ‘n baadjie met ‘n “peddiegrie”; die veteraan van ver paaie. Sy spore lê wyd op hierdie aardbol.

 Die baadjie is in die 80’s deur ons seun, Johan, aangeskaf om hom teen wind en weer te beskerm toe hy as hoërskoolseun sy pa se koerant, Die Volksblad, afgelewer het. Met van die eerste geldjies wat hy so verdien het, het hy vir sy pa ‘n swarthoutkierie laat maak en die waterdigte rooi baadjie gekoop. Dit kan giet in Bloemfontein.

 Kierie en baadjie was nou saam op die QM2 via Durban. Mauritius, Perth, en Melbourne na Sydney.  Daarna natuurlik terug via Kuala Lumpur, Hong Kong en Dubai na Kaapstad.  Die kierie lê na aan my hart en was ook al die wêreld vol.  Vandag se storie is egter oor die baadjie.

  bkog15g

 Johan met sy rooi baadjie op sy fiets in Bloemfontein.

Anders as wat gewoonlik gebeur, is die baadjie nie van ma na seun aangegee nie, maar andersom.  My vrou het ‘n wyd bekende voorkeur vir rooi. Johan se baadjie het uit die staanspoor haar oog gevang. Toe dit vir hom ietwat knap raak, was sy die dankbare ontvanger.

 Dit was in die jare 80’s in Bloemfontein.  Ons moes die Kaap dikwels weens werkverpligtinge besoek.  Aprilmaande het ons op Buffelsbaai vakansie gehou.  Elke keer is die rooi baadjie saam. Sy reputasie as betroubare reisgenoot het vinnig toegeneem. 

 In die jare 90 het werks- en vakansiereise die Van Deventers na Amerika, Europa, Japan, Israel, Zimbabwe en Mauritius geneem.  Die baadjie was telkens van die eerste kledingstukke wat ingepak is.

 Die rooi baadjie is ‘n baadjie met status en het nie in die verband hupstote nodig nie.  Tog het ons gemeen ‘n foto op die QM2 sou van waarde kon wees. TvD het verskeie kere haar kniele by hierdie nimlike reddingsboei hierbo gaan kniel totdat die fotograaf tevrede wees dat die see blou genoeg is en die son presies reg val.  Mense het ons naderhand skeef aangekyk.

Ongelukkig het ons nie daaraan gedink om die baadjie by een van Sydney se ikone, die Operahuis en die brug (plaaslik bekend as die “coat hanger”), af te neem nie.  Wel darem bo op die top van Hong Kong se Victoria Peak (waar ‘n geniepsige windjie gestoot het) met daardie merkwaardige stad van wolkekrabbers voor haar uitgestrek.

 Desktop1-001

Die rooi baadjie voor Crimson Court, ons woonstel in die 70’s in Cambridge; by ‘n Amsterdamse grag; in die Oostenrykse Alpe, in die Grossglockner-pas; en op Victoria Peak in Hong Kong.

 

 Toe ons die idée kry om ‘n foto-collage te maak van waar die rooi baadjie al oral rondgeloop het, het ons in ‘n japtrap foto’s uitgedolwe van my vrou en haar baadjie in Amsterdam, in die Oostensrykse Alpe, in Cambridge, Massachusetts, in Brussel en in Lynmouth aan skone Exmoorkus in Engeland.

Die baadjie was o.m. ook in Kobe, Japan, Londen, Wenen en New York. Kry ongelukkig nie foto’s van daardie besoekies raakgevat nie. Dalk was die weer nie daarna nie. Dalk het sy die baadjie wel aangetrek, maar bestaan net nie foto’s van die betrokke okkasies nie.  Sou ‘n mooi foto op Piccadilly Circus in Londen kon uitmaak. Of op die uitkykdek van die Empire Stategebou in New York.  Maar nou-ja …

Kon natuurlik nie al die foto’s hier plaas nie.  Gaan kyk gerus ook in die album Rooi baadjie by www.picasaweb.google.com/hennievandeventer

 

Naskrif:  Nog ‘n geheimpie uit my vrou se klerekas moet ek darem hier verklap.  Dit raak die African Ball wat op een van die QM2 se formele aande gehou is.  Die passasiers trek, so ver moontlik, temadrag aan. TvD was in ‘n bloesie geklee wat veral een Australiese heer na sy asem laat snak het. Pure Afrika.  In ‘n moedswillige oomblik het sy die stomme man se seepbelletjie geprik.  Afrika se voet – die ryklik geborduurde bloese het sy 38 jaar gelede in Jerusalem gekoop.  Oor dié openbaring het hy telkens opnuut gegiggel as ons hom op die dek raakloop.

IN ONS GEDAGTES

Maart 22, 2014 in Uncategorized

Met die komplimente  van Vodacom was ons vir die duur van die vaart van Kaapstad na Sydney as ‘t ware incommunicado. Van die beloofde “roaming” was g’n sprake nie. ‘n Agent in Table View het ons verkeerde aanwysings gegee. Jammer meneer, en dis dit.

 Totale isolasie is vermy deur teensinnig ‘n internetpakket op die QM2 te koop: Amper R500 vir 120 minute. Die pakket kom met die waarskuwing dat die satelliet ietwat stadiger inskop as konneksies tuis.  Dis sweerlik die “understatement” van die dekade. 

 Toegang tot Mweb was ‘n marteling. Soos aanbeveel, het ek in die adresveld getik:  “Mweb webmail login”.  Maar die wieletjie het net bly draai en draai, terwyl die hol kol op my maag groter word en ‘n onsigbare digitale monster my kosbare randjies verteer.  Wanneer “login” dan ná ‘n ewigheid skielik slaag, skrik ‘n mens jou so boeglam dat jou vingers dom raak. Net enkele boodskappies heen en weer, buitengewoon kort en kragtig, het ek vir my R500 gekry – helaas.

 Maar liewe vriende, al het julle dan niks (of byna niks) van die VanD’s  gehoor nie, was julle tog gereeld in ons gedagtes.  Met goeie rede ook. 

 Aan die kleinkinders, Jacob, Thomas, Migael en Christopher, het ons  gedurig gedink; die uwe nooit intenser nie as met die Insident by die Hysbak.  Ons en ‘n seuntjie van so vier, raai ek, daag gelyk op. Ek druk die knoppie en hy druk die knoppie. Die volgende oomblik gly die deur oop, en ek gee hom ‘n speelse oupa- vegie oor die vingers: “Here it is”.    Die dak wou lig. “He whacked me, he whacked me!” Gelukkig was die jong vader ‘n verstandige man. 

 Aan Cas Jacobs van Centurion het ons gedink die aand toe ons kelner, Michael Vitug, in die Brittania-restaurant wil weet hoe ons ons filet verkies.  “Madame” hou van hare ietwat rouer.  Waaragtig, Cas, toe Michael die borde bring is daardie filet presies soos versoek, so perfek in voorkoms en in smaak soos jy kan droom om dit in Balule op die kole gaar te maak.   En onthou, ons is 1 200 wat by ‘n etesessie aansit!

 Aan Sarel Venter, Volksbladkollega van Bloemfontein, en sy vrou, Liesbeth, het ons gedink die aand toe ons op die blou kaart op die TV-skerm in ons kajuit sien hoe naby Adelaide ons daardie nag van Perth af op pad na Melbourne verby sou vaar. Die Venters se seun, Gerhard, en akademikus-skoondogter, Rietie, woon nou daar –  en, natuurlik die kleinkinders, waarna in De Jagerstraat, Fichardtpark, met seer harte verlang word.

 Aan George Louw, digtersvriend van Panorama, het ons gedink toe die ou aan die tafel langs ons s’n by die eerste formele ete in sy Skotse rokkie opdaag. Die nimlike George was in ‘n Skotse rokkie getooi by sy seun Marck se troue met Samantha onder die klanke van ‘n doedelsakorkes iewers op die Skotse Hooglande.

Aan dr. Marius Falck, een van ons Melkbos-dominees, het ons gedink toe ons by die interdenominasionale Sondag-erediens ná ‘n kort, kragtige diens die tradisionele seemanslied, lied 25, aanhef: ”Eternal Father, strong to save/Whose arm has bound the restless wave/Who bidd’t the mighty ocean deep/Its own appointed limits keep/O hear us when we cry to thee/For those in peril on the sea…” Met Marius se kragtige voorsang sou die Royal Court-teater darem gebewe het met die aangrypende lied hoor.   

Aan Marius se vrou, Wilna, het ons – veral Tokkie – gedink toe die jong man John Courtenay, ‘n kêrel wat weet hoe om, nes sy, ‘n klavier energiek te takel,  die aand in die Royal Court die klawers ‘n slag sommer met sy voet bydam – skoen en al.

 Aan swaer Fanie van Wyk van Klaradyn, Brackenfell, het ons gedink wanneer ons by die King’s Court se buffetafels hande in die hare staan watter van die berge heerlike geregte om uit te los. Fanie vertel graag (en ek glo hom) hoe hy telkens by ‘n buffet in sy kop ‘n verbeelde sakrekenaartjie uithaal.  Dan word sommetjies gemaak en word terstond besluit te min is te min. Sonder aarseling laai Fanie dadelik van voor af sy bord om waarde vir sy geld te kry. 

 Aan Lourette Ellis van Melkbosstrand het ons gedink – ekskuus Lourette – toe die sogenaamde “Professor in Pickpocketry” Bob Arno ons oor persoonlike veiligheid toespreek. Die volgende harde uitspraak het oor hierdie beroeps-sakkeroller en kulkunstenaar se lippe gekom: Om jou handsak aan jou stoel se leuning op te hang, is omtrent die domste ding wat jy kan doen.  Soos daardie keer ….. Toemaar, Lourette, die VanD’s  was ook al minder waaksaam as nodig. 

 Aan vriend Ben van Rensburg, in sy fleur Motorskrywer van die Jaar, het ek met begrip gedink toe ek na sir Jackie Stewart, spitsvondige Skotse oud-Formule I-kampioen sit en luister. In die  Royal Court met sy 1 000 of wat sitplekke kant en wal, het die klein kampioen ons almal met sy anekdotes meegevoer.    Ben – ook bekend as Ben Wieletjies – het my waarskynlik nooit verdink dat Formule I my sou boei nie. Maar dit het Ben, dit het.  Sir Jackie, wat disleksie en taai kinderjare moes oorwin,  is eenvoudig ‘n ster. 

 Aan wyle kollega Fred Schnetler het ek gedink toe die Span Van Deventer (my spanmaat Willie Schouwter van Brisbane het my met die naamregte vereer) in ‘n Trivia-kragmeting in die Lion’s Pub nogal sukkel.  Gee my een Fred Schnetler, en ek vou hierdie klomp sommer met die linkerhand op, het ek Willie verseker. Fred was ‘n Flinkdink-kampioen as iemand al vergeet het.

 Aan matriekmaat Willem Hartzenberg het ek gedink elke keer as in die skraal man met die bril vasloop wat aan my as Britse regter uitgewys is.  Regter Willem dra sy bril op dieselfde hoek, en gee ook gedurig die indruk dat hy met diep en belangrike kwessies stoei agter ‘n eenderse breë voorkop wat ‘n fris klomp grysstof verberg. Naaldwerk

IMG_0052

 “VLV” op die QM2

 Op die skip was, ten slotte, gereelde naaldwerk- , brei- en blommerangskikking-klasse. Ek het die kring vroue met hul naaldwerk in die sjampanjesitkamer, die Veuve Clicqout, stilletjies afgeneem terwyl hulle in diepe konsentrasie met die goeters op hul skote werskaf.  Aan wie dit ons laat dink het?  Vir my aan die VLV.  Vir Tokkie aan Hilda van 7de Laan, wie anders?

LEES-FEES

Maart 21, 2014 in Uncategorized

IMG_0142-002

  My beskeie bydrae tot die lees-fees: ‘n herbesoek aan Blandings Castle van P.G. Wodehouse.

Boeklees, leesfees, woordfees – vir die liefhebber van boeke en die gedrukte woord was die vaart op die QM2 ook in daardie opsig ‘n fles nardus-salf vir die siel.

 Soos op daardie skip gelees word, is ‘n openbaring.  In die teaters voor vertonings begin, in dekstoele, langs swembaddens, in sitkamers …. natuurlik, in die wonderlike biblioteek …  oral sien jy mense verdiep in hul boeke.  Ry op ry. In die gange sien jy oral boeke onder die arm – dikwels allemintige dik boeke.  

 Die waarde van ‘n boek word in die huidige tydvak, helaas,  nie meer deur almal ewe hoog aangeslaan nie.   Honderde – dalk duisende aanhalings – kan nietemin opgediep word wat die boek in gloeiende terme besing. Ek hou van dié woorde van Carlos Ruiz Zafon in “The Shadow of the Wind“, wat ds. Carl Louwrens van Skukuza, ‘n bibliofiel by uitnemendheid,  ‘n keer met my gedeel het : 

bbb-001

Grootste biblioteek ter see.

  “Every book has a soul. The soul of the person who wrote it and of those who read it and lived and dreamt with it. Every time a book changes hands, every time someone runs his eyes down its pages, its spirit grows and strengthens. In a shop we buy and sell books, but in truth books have no owner. Every book has been somebody’s best friend.”

 Die boek – ‘n vriend, ‘n sielsgenoot. Iemand anders,  naam ongelukkig vergeet, het ook ‘n goeie boek as ‘n goeie vriend beskryf. Hy/sy het iets in hierdie trant bygevoeg: Dit praat met jou wanneer jy lus is vir gesels, dit bly stil as jy stilte wil hê – en daar is nie baie vriende wat hierdie geheim ken nie.

 Weet nie op ander vaarte nie, maar op hierdie een van die Kaap na Sydney het dié warme gevoel oor boeke klaarblyklik oorheers.  Kyk gerus na die foto’s wat ek sommer rond en bont gemik en-druk het.  Dit vertel die storie, maar ook nie heeltemal nie. Trouens, die paar foto’tjies bied eintlik maar ‘n effentjiese beeld van die omvattende leeskultuur op die skip.

 IMG_0184-001                                                                                                            

Ontspanning op die dek – jy spel dit l..e..e..s.

 Miskien het hierdie leeslus iets te make met die spyse wat Cunard bied.  Op sy skepe is dit immers nie net baldadigheid, bingo, black jack en bordspeletjies nie.  Op die program is ‘n stewige intellektuele komponent, met voorlesings deur kenners, seminare, werkwinkels en nog wat.  Die kroon is die QM2 se biblioteek op dek 8 – ‘n ware skatkamer. 

 Rye blink gepoleerde okkerneuthoutkaste staan in rye in die smaakvolle ruimte van 65 vk. m.  Agter die glasdeure is iets soos 10 000 boeke – die grootste versameling ter see.  By die groot, diep vensters is heerlike diep leunstoele.  Salig om genoeglik daarin weg te sak met jou boek. Telkens as jy opkyk, sien jy hoe die boeg die blou dam se waters klief. Ai, daardie mooi biblioteek. Dis ‘n plek wat ek en Tokkie graag opgesoek het vir ‘n paar rustige oomblikke. Ons was nie altyd gelukkig nie. Soms is ons deur te veel ander boekliefhebbers voorgespring.

 Ek het met ‘n lys boeke by die skip opgedaag.  Maar “so many books, so little time”, soos Frank Zappa homself bejammer het. Uiteindelik had ek te min tyd. Ek was tog lus vir P.G. Wodehouse en Agatha Christie, twee staatmakers uit vergange jare.  Wodehouse het ek vergeefs in die humor-rakke gesoek. Sy boeke oor Jeeves, die hoëlui van BlandingsCastle en so is, tereg, as “classics” gesorteer.   (Van “My Lady” Agatha – mag haar seker maar so noem? – het ek haar antieke moordstorie uit Egipte gelees: “Death come as the end” – boeiend.) 

 In die biblioteek was verskeie boekteken-okkasies. Die hoog gestapelde boeke van sir Max Hastings, Britse oud-redakteur en geskiedskrywer, in die winkel langsaan het veral groot aftrek gekry.  Die joernalis Peter Hawthorne, ook bekend in Suid-Afrika, het munt geslaan uit Nelson Mandela.  Hastings, Hawthorne en andere het met hul bekendstellings vol sale getrek. Vir my Sabieparkvriend Tony Park van Sydney  – so plus-minus die Australiese eweknie van Deon Meyer – het ek laat weet: “Jy moet op die QM2 kom boeke verkoop. Dit sal vlieg!” (Deon Meyer se “Kobra” is, terloops onder party arms gewaar. Engelse vertalings van sy boeke figureer in die skeepsbiblioteek.)  

Leesopskip1-001

 

Met die loerkamera betrap: besig om te lees.

 

 Waarop stuur ek af?  Vir eers dat uitgewers en allerlei anderlike boekemense in die algemeen maar mismoedig is oor die toekoms. Daarby  dat doemprofete oor, selfs grafgrawers vir die gedrukte woord deesdae agter elke tolbos uitgeskop kan word.

 Vir die mismoediges én die premature roubeklaers is hierdie ervaring hopelik nuus. Ek nooi hulle vrymoediglik: Kom, vriende, Romeine en landgenote, kom kyk hoe die boek op die QM2 gedy.

 “Die kind is nie dood nie…. ” (met verskoning aan Ingrid Jonker.)

KOM SING EN DANS

Maart 20, 2014 in Uncategorized

  ddd-001

Mooi mense maak mooi musiek

  Wanneer die jong strykkwartet uit Kiëf saans vir ons musiek maak saam met ons skemerkelkies in die QM2 se elegante Chart Room of elders – Mozart, Lizt, Rachamaninoff, De Bussy, Lehar en andere – wonder ek of die mooi kinders hartseer is oor die bloedvergieting in hul geteisterde stad in die Oekraïne aan die oewer van die Dnieperrivier, tussen die steppe en die woudsteppe. Kiëf is in vlamme en hoeveel mense op die stadspleine sterf in die opstande daar, oorheers die daaglikse nuusbulletins.    

 Hulle toon nie emosie nie terwyl hulle glimlaggend hul strelende musiek optower. Een aand, toe hulle oppak, stap ek nader, stel myself bekend en vertel van ‘n besoek aan Kiëf in die jare 80. Oekraine was toe nog deel van die Groter Rusland, onder Gorbatsjof. Die Britse toergroepie waarvan ek deel was, was tuis in die erg middelmatige Hotel Bratislava. Ek onthou die hotel of ek gister daar was weens die swak matras en die besnorde generaal-majoor wat my een oggend uit die eetsaal geboender het omdat ek vyf minute te vroeg wou kom aansit.  Dit vertel ek nie vir hulle nie.

 Waar ons elke aand skemermusiek gaan geniet, vorm deel van die gereelde laataand-besluitneming ons oor program vir die volgende dag. Die keuse val meermale op die jong strykers.  Hannah Ruiters, die treffende blondine uit Amerika met haar singende harp is ook ‘n gunsteling.  Die stylvolle harpspeler met die soepel vingers dra lang tabberds met ‘n strategiese spleet – ‘n mooi prentjie.

 Die kwartet en die harp-meisie maak beurte op die balkon op die boonste vlak van die Brittaniarestaurant.  Dra by tot die atmosfeer van deftigheid, swier en elegansie wat restuarantgangers saans eenvoudig laat voel dit is die regte ding om vir ete aan te trek.  Vir dié wat informaliteit verkies, word ‘n gawe buffet tot laataand in die Kings Court opgedis.  

 Drie pianiste met verskillende style tokkel om die beurt die klawers o.m. in die uiters deftige Commodoreklub in die voorstewe van die skip, en die jolige, informele Lion’s Pub wat maklik by Covent Garden in Londen sou kon staan. Goue ou treffers is meesal aan die orde.

 In die Roya l Court  Theatre is elke aand twee topklas-vertonings, gewoonlik met ‘n sterk musiek-element.  ‘n Klassieke kitaarspeler, Sam Piha, en sy vrou, Louise Garner, op die fluit het vir verskeie middagkonserte gesorg met oospronklike verwerkings van uiteenlopende werke: Van John Denver tot Vivaldi.

 Die Queens Ballroom en die Roya l  Court Theatre het elk sy eie orkes. Saam vorm hulle ‘n “big band” van 14 lede.  Op die skip is voorts ‘n Karibbiese orkes Vibz wat by die Pavillion-swembad op dek 12 of op die ruim oop dek 11 by vonkelwyn musiek maak wanneer die QM2 met die “diep grom van sy sterk skeepshoring” sy vertrek uit ‘n hawe aankondig. (Ek leen die mooi uitdrukking by my vriend Sarel Venter van Bloemfontein se seun, Gerhard,  wat in Adelaide die Queen gaan groet het.)  

 aaa

Dansers met passie.

 Een aand was 22 musikante op die verhoog van die Royal Court vir ‘n kleurryke sang- en dansprogram met die naam Appasianata.  Dit was  inderdaad passievol.  Die Queen se vermaaklikheidsdirekteur Paul O’Loughlin het gespog dit oortref enigiets op Broadway of in die West End.

In ‘n vertoning met die naam Viva Italia het die meevoerende Napolitaanse liedere selfs hierdie ou stoïsyn se voete saam laat tyd hou.

 Die reuseteater met sy amper 1 000 sitplekke begin vroeg-vroeg vol loop.  Die beste sitplekke is gou opgeraap. Nie elke aand se kunstenaar het die vroeg opdaag en lang wag in die Royal Court  vir hierdie tradisionele vroegslaper eweredig die moeite werd gemaak nie.  Maar die Drie Keltiese Tenore – vir hulle sal ek altyd uit my pad gaan, selfs toustaan. 

 Musiek en die Queen Mary 2 is sinoniem.  In die Illuminationsteater kon ons voorts gaan luister na ‘n musiekhistorikus se oudo-visuele aanbiedings oor ikone soos Gershwin, Irving Berlin en Frank Sinatra.  Ek is nie juis ‘n Sinatraman nie, maar tog lekker gewees om ‘n toer deur sy lewe te onderneem en weer treffers van my generasie soos “My Way” en “Chicago” uit “Ole Blue Eyes” se eie mond te hoor. 

 Oor “My Way” het ‘n ietwat ontnugterende onthulling op die stampvol teater gewag.  Ek vertel later daarvan.