Jy blaai in die argief vir uit melkbos.

DRIE MAAL IS “SKEEPSREG”!

April 24, 2017 in Uncategorized

Drie maal is skeepsreg. So lui die spreekwoord. Wel, ek en Tokkie het nou drie maal goue bruilof gevier.

Wat die begrip “skeepsreg” in die spreekwoord ookal beduie; ons kan gewis nou daarop aanspraak maak, glo ek.

Die eerste viering was ietwat prematuur. Op 26 Maart 2016 al het ons tent opgeslaan op die gras voor ons huis hier in Melkbos.

Ons goue bruilof op 31 Desember was een van die drie bakens in 2016 wat gevier is. (Die ander was my 75ste op 3 Januarie en Tokkie se 70ste op 15 Maart).

Die “tent van samekoms”, het Johan van Wyk ons tent genoem.

Op die groot dag self, oujaarsdag, het ons ‘n speenvarkie op die tafel gehad. Die Claassensgesin was hier vir die ongewone ete. ‘n Gedenkwaardige oomblik was toe Chistopher (7) se oog die eerste keer op die brosgebraaide varkie val. “‘n Wolf!” het hy dit uitgekreet.

Maar fees nommer drie – die “skeepsreg”-ene.

Wel, dit was ten minste op ‘n skip: te wete op die MSC Sinfonia op pad na Walvisbaai. Op Vrydag 21 April – 13 maande ná ons drie-baken-fees in die tent van samekoms.

Om 10:00 was daar ‘n kloppie aan die deur van kajuit 8152 op dek 8, die Bach-dek. ‘n Kelner in ‘n wit baadjie. Op die silwer skinkbord in sy hand was ‘n bottel Moët et Chandon, twee sjampanjeglase (vergeet van vonkelwyn!), twee glase met vars lemoensap en ‘n bordjie met ‘n croissante-keur.

Dis MSC se geskenk aan mense wat binne ses maande van hul vaart af goue bruilof gevier het. Nogal nie ‘n geskenk om te versmaai nie. Op die skip se wynlys in sy verskeidenheid sitkamers en kroegies is Moët et Chandon die duurste artikel: 70 dollar ‘n bottel!

Nietemin, ek en Tokkie het die lemoensap en die elegante croissante in die kajuit in ons alleenheid geniet. Die middag is ons met die ysemmer en ons kosbare feesbotteltjie na die Manhattankroeg op dek 5, die Beethovendek.

Die een glasie na die ander word geteug, en dit raak heeltemal ‘n okkasie toe Hermie Zietsman van die Oos-Kaap en sy vriend Charl Joubert langs ons op die bank inskuif terwyl die son begin water trek en twee nooientjies op die verhoog al hoe dromeriger sing.

Die romantiese geleentheid gaan nie ongedokumenteer verby nie. Die mooi foto hierbo van my en Tokkie met ons geskenkglasies vol Moët voor die patryspoort is deur Hermie. Sy aanspraak dat hy ‘n student in die fotografie was, word daarmee bevestig, meen ek.

Later is ons met die laaste bietjie in die bottel eetsaal toe, die Ile Galeone, ook op dek 5.

Die voggies het tot die eerste gereg gehou. Ook maar net. Maar wat ‘n spesiale aand was dit nie vir ons twee nie. Dat ons 50 jaar getroud is, sal ons ná dese nimmer kan vergeet nie.

As iemand ‘n definisie soek vir “skeepsreg” – ‘n botteltjie yskoue “Moët” skemeraand in die Manhattankroeg van die Sinfonia; dis die Van D’s se voorstel met algemene akklamasie uit Penguin Place 11.

AÄRON EN HUR IN EEN

Februarie 3, 2017 in Uncategorized

Die bestuurspan van die Pers in die 90’s. Voor in die middel sit Eric Wiese. Ek staan agter hom. Voor van links is Philip Meyer, Robert Crowther, Eric, Conrad Sidego en George Coetzee. Agter is van links Andrew Marais, Hennie van Deventer, Helgard Raubenheimer en Salie de Swardt.

Die notering van Naspers op die Johannesburgse Effektebeurs toring ongetwyfeld uit as een van die hoogtepunte in die vyf-jaar-skof aan die einde van my loopbaan by die Nasionale Pers.

Sal ek die opwinding vergeet om op die vloer van die Beurs te kon staan toe die klok lui en die verhandeling in Naspers begin? Daardie middag op die Boeing Kaap toe het ek (koerante), Salie de Swardt (tydskrifte) en Andrew Marais (skakelafdeling) die heildronke ingeryg.

Enorme waarde is deur daardie notering vir ‘n groot gros aandeelhouers ontsluit. “Waardelose” sertifikate in kluise het oornag stewiger bankbalanse en selfs welvaart beteken. Vir die uwe met die joernalistieke bloed van drie dekades in sy are was dit egter geen onvermengde seën nie.

Skielik was daar die nuwe uitdaging van intense blootstelling aan finansiele analiste, selfs van oorsee. Van Deventer wat tot die einde maar gesukkel het om van ‘n balansstaat kop of stert uit te maak, moes nou met ‘n vertoon van groot selfversekerdheid die priemende vrae van die kenners hanteer!

Gelukkig was daar iemand soos kollega Eric Wiese om op terug te val. Hierdie nederige gewese finansiele direkteur van die Pers is inderdaad een van die gesiglose helde van sy tyd, nie net weens sy eie formidabele bydraes nie, maar ook in die rol van ‘n Aäron en Hur sommer in een, wat wankelende Mosesse soos ekself se arms moes orent hou.

Sondag vier Eric sy 80ste verjaardag. By die bereiking van die baken kom saam met die voorspelbare strome goeie wense uit alle oorde aan ‘n uitmuntende mens en kollega, uit Melkbos opnuut ook weer ‘n opregte woordjie van dank vir die kokon van bestuursbeskerming wat hy altyd so gewillig aan die minder syferslim kollega gebied het.

Eric se deur oorkant die gang op die 18 verdieping was altyd oop en sy geduld met dom vrae het nie opgeraak nie – nooit so dat jy dit sou agterkom nie in elk geval!

Ek salueer graag vandag een van die mees ewewigtige, besadigde en onversteurbaarste mense wat ek ken.
Het ek gesê onversteurbaar? Wonder darem of die beskrywing ook sou geld vir die stel wat hy en twee kollegas in 1997 op die dorpie Victoria Falls in Zimbabwe afgetrap het – en hul verlee reaksie.

Die bestuurskader van die maatskappy was daar saamgetrek vir die jaarlikse bestuurskonferensie, en die here Wiese, Andrew Marais en Tim du Plessis, destyds nog adjunk-redakteur van Beeld, het afgesit Valle toe om daardie indrukwekkende natuurskouspel in die magtige Zambezi te gaan besigtig.

Skielik is hulle asof vanuit nêrens deur ‘n spannetjie geldsmouse omring. Die bied drie Zimdollars vir R1 aan teenoor die werklike wisselkoers wat sowat 2,3 is. Alle waarskuwings oor die klas aasvoëls vergete, het die vername Pers-leiers – ‘n finansiele direkteur wat hom nie deur die slimste C.A. laat ore aansit het nie, ‘n wêreldwyse skakelhoof en ‘n deurwinterde koerantman – in ‘n oomblik van swakheid geswig.

Hulle besluit toe om elk R100 om te ruil (‘n bedraggie wat toe nog nie te versmaai was nie). Marais sou die transaksie hanteer. Maar net toe hy die geld oorhandig, sê een van die smouse: “Pas op, hier’s die polisie.” Die drie Naspersmanne spring in ‘n stegie in. Toe hulle uitkom, is daar niks. Niks polisie. Niks smouse. Niks R300!

Kollega Eric het darem die teenwoordigheid van gees behou om toe ‘n straatkind hom nader, vir hom ‘n onvergeetlike antwoord te gee: “Nee, ek het klaar die geld vir jou pa gegee!” Die res van ons het ons aan die episode verkneukel!

Eric se antwoord belig ook ‘n ander faset van die man: sy instinktiewe, droë in-die-kol-humor. Nog ‘n insident wat daardie eienskap goed weerspieël, was gekoppel aan sy rotsvaste lojaliteit aan Afrikaans en sy handhawing van sy taal in alle omstandighede.

Veral op sy gereelde heen-en-weer-vlugte Johannesburg toe vir bestuursverpligtinge is Eric se ingesteldheid oor taal telkens uitgedaag met SAL-kajuitpersoneel wat verseg om ‘n woord Afrikaans oor die lippe te neem. Op die betrokke aandvlug weer. Ete word bedien, maar al die aankondigings kom net in Engels.

Eric gaan tot die irritasie van die lugwaardin voort om sy koerant te lees met sy skinkbordjie onoopgevou in die rakkie. Die meisie spreek hom direk aan in Engels maar hy reageer nie. Naderhand pers sy teësinnig oor dun lippe: “Eet u nie, meneer?”

Toe kom dit vintage Wiese: “Ek is nie genooi nie!”

Ek skuld Eric nie geld nie, maar ek wil hom tog net nog ‘n pluimpie gee. Geen ander syferman in my ervaring was so sterk op korrekte taalgebruik ingestel nie. Soos ek by Eric kom aanklop het oor somme, het hy dikwels by my kom aanklop oor taal. Hy doen dit nou nog en jaag my gereeld na Anton Prinsloop se idiomeboek om die betekenis of oorsprong van dié of daardie idioom bo alle twyfel te bepaal.

Die verskil tussen ons is dat ek hom nooit kon vasvra oor somme nie; hy vra my, vervlaks, meermale vas oor taal!

SAAM IN ‘N BUS

Januarie 31, 2017 in Uncategorized

In langer as sewe uur saamgebondel in ‘n bussie kry die passasiers kans om hul medereisigers vir koddige gewoontes, geite en giere goed deur te kyk.

Op ‘n rit van Kaapstad na George Vrydag het verskeie van die insittendes ‘n mens nogal geboei. Veral drie het ‘n onuitwisbare indruk gemaak: die prima donna met die slimfoon, die tante met die potplant en “Madam Matie”.

Duidelike wenner vir die boeiendste kameevertoning was die prima donna: ‘n blonde jong ouma wie se vingers net stil raak wanneer sy vir kort rukkies indut met haar gepelsde baadjie as kussing. Haar boodskap-bombardement op die seepgladde slimfoon was omvangryk.

Wat eerste van die nuwe passasier getref het, was die dralende, tranerige afskeid van haar dogter en twee opgeskote kleinkinders buite Somerset-Wes waar sy opgeklim het. Eers later sou dit blyk dat heelwat emosie ook opgekrop het oor die bus wat laat was. Sy was ontstoke dat sy “saam met haar kinders in die son” moes staan en wag.

Die bussie het die oggend op die heenreis weens swaar reën en opdammende verkeer al ‘n uur verloor. Daardie verlore uur was rampspoedig. Om in die Stellenbosse spitsverkeer op ‘n Vrydagmiddag verstrik te raak, is nie ‘n wandeling in die park nie. Het seker al 90 minute laat op Somerset-Wes stilgehou.

Jong ouma was net op die bus toe die vingers begin woel. Oor die kwelgeestige inhoud van haar kommunikasies is ek later deur ‘n medepassasier ingelig. Die instrument is naamlik teen so ‘n hoek gehou dat dit as’t ware teen my bron se neus druk.

‘n “Brander” – so het sy dit in opvolgboodskappe genoem – is eers na die eienaar van die busdiens afgeblits om hom in te lig wat sy van die “treurige diens” dink. Die “brander” is daarna ruimskoots met opgewonde vriendinne gedeel. “Reg so”, “vat hulle”, het die vriendinne se goedkeuring teruggestroom.

‘n Vriendin wat nie dadelik geantwoord het nie, is ongeduldig gekonfronteer: “Hoekom is jy so stil? Met wie praat jy so lank?” Ons ouma is duidelik nie ‘n meisie wat ingaan vir pyn nie.

Sommer by Riviersonderend al word ‘n nuwe rede tot ontsteltenis ontdek. Ons hou stil vir verversings en so. Van die toilette af terug bussie toe sien iemand met ‘n skerp oog net een van die kopligte brand. “Seker maar die oggend in die kwaai reën die gees gegee,” gooi die bestuurder wal. “Gelukkig darem net as die lig gedoof word.”

Weer ‘n “brander”. Weer opgevolg met ‘n koor van ondersteuning van welmenende vriendinne. Maar hierdie keer ook ‘n opdrag aan haar man op George: “Kom haal my op Mosselbaai, ek ry nie ‘n tree verder op hierdie bus nie.” Wat hy toe wel gedoen het – weet seker wat goed vir hom is en wat nie.

Jong ouma is in gietende reën met ‘n sierlike sprong na buite. Die res van die reis George toe minus haar was eintlik vervelig – een lig en al.

Maar nie voor nog ‘n stukkie drama kon sy haar ontvlugting-sprong spring nie. Net buite Swellendam keer ‘n grimmige verkeersman die bus voor. “Jou lig is dood”. Wonder bo wonder aanvaar hy die stamelende verduideliking.
Agterna is bespiegel dis die ouma met die slimfoon wat die bestuurder verkla het. As ons afgetrek is, was ons natuurlik vir die nag langs die pad in die reën vasgekeer, sonder iets vir die dors of ‘n plek om te piepie. ‘n Siddergedagte oor wat onbesonnenheid jou in die sak kan bring.

Ook vir onbedagsaamheid wil ek ‘n prys toeken. Hier was dit ‘n kop-aan-kop wedloop tussen die tante met die potplant en Madam Matie.

Laasgenoemde is een van die nuwe generasie Maties wat nie Afrikaans wil praat nie. Selfs Mosselbaai uitgespreek as “Mosselbaai” geval haar nie. “Mozzle Bay”, korruseer sy uit die hoogte.

Die bestuurder van die bussie het haar aangespreek as “young lady”. Dit verklap ‘n verstaanbare element van irritasie, meen ek. Ek sou haar graag as “madam” wou aanspreek. Verbeel haar sy is ene. Het ons waaragtig op Stellenbosch tien minute op haar laat wag. Eers hoeveel selfoonoproepe later, kom sy rustig aan, klim in sonder om boe of ba te sê (wat nog van “ekskuus”!) en strek haar slanke bene met die riempiesandale voor haar uit vir ‘n gemaksugtige res van die reis.

Sy wen die prys in my boekie. Die tante met die potplant is darem net-net geklop. Toe sy in Bellville inklim, korrel sy vinnig waar die beste TWEE sitplekke is: die een vir haar, die ander vir haar potplant. Eers toe sy op Swellendam afklim, kon die uwe en Tokkie gretig van die agterste bankie vorentoe skuif. Toe was hierdie ou man se boude darem al deurgesit op daardie agterwiel, hoor.

Ek kan darem ook ‘n positiewe rapport aan ‘n mede-passasier gee. Dit gaan aan die jong man van Hartenbos wat besef het die uitputting haal ons bestuurder in. Hy was immers al van 06:15 op die pad en moes reën, vragmotors, dooie lig en lastige passsiers trotseer, stomme man.

Toe hy later so aan sy kop begin vat-vat, kon ‘n mens agterkom die moegheid wil-wil hom oorval. Gelukkig sien die Hartenbosser langs hom ook die gevaartekens. Hy trek skielik los en babbel sonder ophou. Knap gedaan, jongeheer.
Ook punte aan die moederlike mevrou in die stoel net agter die bestuurder se stoel. Toe die Hartenbosser op Mosselbaai afklim, grawe sy ‘n bruin kardoesie biltong of iets uit haar handsak en tik die bestuurder op die skouer: “Sit die tussen jou bene neer.” Hy kon kou tot by George waar ons om 10: 30 aangekom het.

Vir die bestuurder was dit nog het einde niet. Hy moes nog terug Mosselbaai toe. Was seker teen middernag eers in die bed. Dan vertel hy hoe geseënd hy nou is ná vorige verblywe in die Vaaldriehoek (“kan nie jou kinders daar grootmaak nie”), Kimberley (“darem te warm”) en Bloemhof (“geen ekonomie”).

Wonder of hy nie ná ‘n uitmergelende 16/17 uur agter die stuurwiel op die Tuinroete na die rustigheid van Bloemhof verlang nie, gebrek aan “ekonomie” of te nie!

ON-VERGEETLIKE FANIE

Januarie 24, 2017 in Uncategorized

1-IMG_0002

My swaer Fanie van Wyk wat vandag ‘n jaar dood is, het ek by sy gedenkdiens tipeer as:

Vinnige Fanie: In matriek op Bultfontein in die laat 50’s was swaer Fanie van Wyk junior SA kampioen in die 440.

Vergooi Fanie: ‘n Keer het hy die spies so ver geslinger dat dit tussen die gewigstoters doer ver beland het. Die gewigstoot moes gestaak word totdat Fanie klaar was.

Versamel-Fanie: Fanie was versot op sy boeke, veral oor die Anglo-Boere-oorlog, sy bonsais, sy skilderye, sy seëls, sy wyn, sy plate, sy knipsels oor vele onderwerpe. Hy het selfs ‘n klomp outydse penpunte (daardie wat jy in die botteltjie ink gedoop het) in sy laai gehad. Trouens, wat het hy nie versamel nie?

Vrolike Fanie – Sy opgeruimdheid, luimigheid, spitsvondigheid, sêgoed en stories kon sekerlik nie anders nie as om die mense rondom hom op te beur.

Stand-Vastige Fanie: Sy geloof was rotsvas. Sy kernbegrip van die evangelie was eenvouidg: Jesus het MY lief; Jesus het vir MY sondes aan die kruis gesterf; Jesus kom weer om MY te kom haal. In sy Bybelstudiekring, vir familie en vriende en vir vele ander was sy verduideliking van hierdie waarheid rigtinggewend en inspirerend.

Voorslag-Fanie: Ná sy pa, Kotie, se vroeë dood was Fanie in Hertzogstraat, Bultfontein, die man in die weduwee Marietjie van Wyk se huis. Haar regterhand. Een van sy rits take was om elke dag die koei in die meent te gaan haal en te melk.

Versigtige Fanie: Hy het hoogtes en allerlei ander gevare liefs vermy. Sy hande was sopnat gesweet op ‘n rit om Chapmanspiek.

Gevatte Fanie: Sy kinders het bv. gekla hul pa gaan haal altyd die bobbejaan agter die berg. Daarop was sy raak antwoord: As hy die bobbejaan hoor boggem, weet hy mos hy’s daar. Wie kan stry?

Vindingryke Fanie. Op ‘n dag moes hy ‘n span “bandiete” (gevangenes) op sy dak oppas terwyl hulle verf. Toe raak die verf op. Fanie het eenvoudig die leer verwyder en met ‘n geruste hart winkel toe gery.

Vurige Fanie: Een nuk was dat hy nogal uitermate opgewonde kon raak. As daardie opgewondenheid uitbars, moes jy koes. Vra maar die tuinman, arme drommel, wat op ‘n Saterdagmiddag sy besproeiing stukkend gespit het.

Vlymskerp Fanie: Toe ek op sy sterbed praat van groet, was sy lakonieke kommentaar: “Groet? Waar gaan julle dan heen?”

Na ‘n jaar: Hoe mis ons nie al hierdie Fanies nie.

Hy was in terugskoue die On-Vergeetlike Fanie.

KONING CAMRY

Januarie 19, 2017 in Uncategorized

Die Camry kom terug! Baie Camry-eienaars sal vir jou sê: maar die Camry was mos nooit weg nie. Dis net dat nuwe modelle nie die laaste jare bygekom het nie.

Sou graag wil weet hoeveel Camrys is nog in Suid-Afrika op ons paaie. ‘n Mens sien amper elke dag een – almal met honderde duisende kilometers agter die blad. Wyle swaer Fanie het ook een gery. Was ‘n bielie van ‘n kar.

Het een keer gehoor ‘n Camry van die sakeman Whitey Basson – sy motor in die Baai – het al drie miljoen kilo’s gedraf. Kan nie instaan vir die storie nie. Een veteraan met 1,3 kilometers op die klok ken ek egter goed. Was trouens al self agter sy stuur tussen Sabiepark en Skukuza-lughawe. Voel of jy ‘n skip stuur.

Die bloubloed-motor – toevallig ook blou geverf – is die boskar van oud-kollega Philip van Rensburg van Sunset Beach, Kaapstad. Die wildtuin se omgewing is nie vir die “koning Camry” vreemd nie. Voor sy permanente verskuiwing daarheen het Philip-hulle minstens 26 keer met hom pad gevat wildtuin toe.

Die blou Camry is ‘n 1995-model. Was Philip se werkmotor van 1995 tot 2012. Hy het toe vir hom ‘n Lexus gekoop. In Junie 20012 het hy die Camry van Kaapstad na Sabiepark verskuif. Sonder enige probleem hoegenaamd die 2 000 km gery. In Sabiepark werk die ou nou vakansietye kliphard. Philip en Nance is elke dag in die wildtuin met hul reuse-lense.

Sedert 2005 het die Camry nege keer tussen Kaapstad en Sabiepark gehardloop – ‘n paar keer danksy die Nationwidedebakel. Onthou julle nog? Die bokkers skuld my ook nog my geld vier vier kaartjies Nelspruit toe, boonop retoer.

Ek wonder of ‘n ander motor nog op die pad is wat meer kere oor ‘n langer tydperk die Krugerpark besoek het. Sy eerste besoek was in September 1995. Daarna tot in 2002 minstens een keer per jaar. Tussen 2002 en 2005 het Philip-hulle nie die park met die Camry besoek nie, maar weer van 2007 af – rofweg geskat sowat 26 besoeke.
Philip het vanselfsprekend ‘n baie sagte plekkie vir daai flukse staatmaker van hom.

Sal lekker wees as iemand vir ons Camrystories wil opteken. Ek dink daar is genoeg vir ‘n bundeltjie. Het een keer bv. in Weg gelees van ‘n ou wat sy aandete – die een of ander hoendergereg – onder sy enjinkap gaargemaak het terwyl hy bedags in die wildtuin wild soek.

‘N SIERAAD VAN ‘N MAN

Januarie 11, 2017 in Uncategorized

1-img

Hoe lyk die profiel van iemand wat ‘n sieraad van ‘n mens is?

Paulus – die oorpronklike een – gee vir ons kosbare rigsnoere in sy brief aan die Galasiërs. Sy lys kerndeugde is formidabel: liefde, vreugde, vrede, geduld vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing.

So ‘n klassieke bloudruk van voortreflikheid klink haas onbereikbaar. Watter gewone sterfling het al daardie eienskappe?

My kandidaat is ds. Ockie – juis die man wat 2 000 jaar later self die eretitel van Afrikaanse Paulus sou verwerf op grond van sy baanbrekersreise om die Woord te verkondig. In niemand was Paulus se “vrugte van die gees” vir my sigbaarder nie

Twee kantaantekeninge:

Ds. Ockie kon in die openbare domein met gesag oor ‘n verskeidenheid aktuele onderwerpe saamgesels.
In Kerkbode en koerante het gereeld waardevolle briewe uit sy produktiewe pen verskyn. Altyd was sy insette ‘n model van fatsoenlike debatvoering.

Een onderwerp waaroor hy hom nie onbetuig gelaat het nie, is die onheuglike sinodesitting van die Wêreldraad van Gereformeerde Kerke in Ottawa in 1982. Hy was ampshalwe teenwoordig, en het die skuldigbevinding van die NG kerk aan sogenaamde “kettery” eerstehands pynlik ervaar.

Daardie geskiedenis en die huidige uitloopsels daarvan word nie deur almal in die Kerk eenders beleef nie. Diepe dispuut en driftige debat vlam van tyd tot tyd op.

Ds. Ockie het sy eie insigte oor die meriete van die saak en oor die betrokkenheid van sekere rolspelers kristalhelder geformuleer; altyd in ‘n beskaafde, konstruktiewe, christelike trant. Sy teenstanders is met respek behandel; hul standpunte is met oorwoë argumente begroet. Nooit het iemand in die ander kamp dadelik verwoed op sy perdjie wou spring nie.

Veronderstel Paulus – wat self heelwat vir publikasie geskryf het – kon soos in wetenskapfiksie in die verre toekoms sien. Hy sou waarskynlik dan ook oor hierdie deug in Galasiërs 5 ‘n woordjie wou spreek.

2. Veronderstel Paulus sou selfs net vaagweg die buitelyne kon waarneem van die minsame ds. Ockie wat ons in sy herfsjare hier op Melkbos leer ken het. Dan sou hy aan die Galasiërs waarskynlik ook die een en ander oor wellewendheid wou meedeel.

Altyd vriendelik, altyd hoflik, altyd nederig, altyd meelewend, altyd met deernis, altyd met ‘n woordjie van opbeuring, altyd met ‘n glimlag, altyd oop vir ‘n stukkie humor wat ‘n vonkel in sy eie en ander se oë bring – so het ons Melkbossers ds. Ockie leer ken en lief kry.

In Maart 2012 sou hy ons gryskoppe by ons kerkvereniging Silwerkrag toespreek. Hy daag toe op met ’n kierie – ‘n vreemde gesig.

Dit blyk die man, bejaard soos hy is, het sy dokter se besware vriendelik maar ferm van die hand gewys, uit sy hospitaalbed opgestaan, hom – soos altyd – spiekeries uitgevat en siek-siek kom oë wys. Só lyk gedrewenheid.

Nou het ’n lang, lang seisoen van ver paaie loop, tot ’n einde gekom. Ons groet in dankbaarheid hierdie onberispelike heer en aristokraat van die kerk. Ds. Ockie Raubenheimer, kind van die Karoo, was Galasiërs 5:22 in die praktyk – met hierdie paar kort kantaantekeninge op die koop toe.

Hy was ‘n sieraad.

(Huldeblyk by die gedenkdiens van ds. Ockie Raubenheimer in die NG kerk, Melkbosstrand, Woensdag 11 Januarie.)

OTJIE MET ‘N C.V.

Januarie 1, 2017 in Uncategorized

1-1-img_4958

Kleinseun Christopher(7) kom van die strand af in groot haas om ‘n emmer te kom soek. Steek in die deur vas. Staar na die gedoentetjie op die tafel in die woonkamer. “Is dit ‘n wolf?” wil hy weet.

Geen wolf nie, Christopher. Net maar ‘n otjie, lekker bruin gebrand en mooi gegarneer. Maar gewis nie sommerso se otjie nie. ‘n Outjie met ‘n lang CV, hoor. Dis nie net vir instap in ‘n slaghuis en tjoef-tjaf jou varkie koop nie. Regte varkboerdery, grootte, gewig – dis alles vername faktore as die gier vir ‘n speenvark jou pak.

Tokkie se oë het in Oktober begin glinster. Gebraaide speenvark op die tafel op Oujaarsdag. Nes in die prentjies met die pootjies netjies ingevou en ‘n blink rooi appel in die bekkie. Dit was op haar spyskaart vir die dag wat ook ons goue bruilof sou wees. Niks sou haar daarvan laat afsien nie.

Sal nie opnoem by hoeveel “logiese plekke” sy vrugteloos aangeklop het nie. Ook nie hoeveel vriende later help soek het nie – tot in Merweville in die Karoo. Uiteindelik kom ‘n buurman van ‘n buurman met die naam van die Pork Deli in Klein Drakenstein vorendag.

Tokkie en die eienaar, Altus Joubert, kom tot ‘n akkoord. Haar varkie moet soveel siele voed. Moet dus soveel weeg. Hy moet in haar oond inpas. Hoe groot is dié? Die maatband kom uit. Dit word ‘n gereelde bellery Paarl toe om die vordering te monitor.

Op ‘n dag kom die nuus: die varkie is nou net groot genoeg. Net swaar genoeg. Als doodreg. Maar toe ons die dag oorry, kry ek hond se gedagte. Die gevriesde varkie se pootjies staan doer. Ek korrel die oond se deur in my gedagtes. Aikona.

Ek sien die twyfel ook in Tokkie se oë. Maar die vark kom saam huis toe, en die onder in die vrieskas onder met sakkies gerasperde kaas en wat nog beskerm. Een van daardie penorent oortjies moet tog nie afbreek nie.

Nog ‘n kwellender gedagte: skoonseun Brent moet tog nie die otjie ontdek as hy gaan ys haal vir ‘n ottermaklottertjie nie. Hy gaan tydelik hier tuis. Tokkie wil die kleinkinders met die varkie verras, en vrees elke aand haar geheim gaan op die lappe kom.

Maar die geheim hou, en intussen duik ‘n ander gelukkie op. Sy laat haar motor op Melkbos versien. Die eienaar laat val sy vrou moet vir ‘n groot troue regstaan. So kom my vrou by Tracy van Zyl uit. Sy sien kans. Haar tuisbedryf, Chef-at-home, gelukkig ‘n groot nywerheidsoond.

Presies om 11:00 , soos afgespreek, kom Tracy en haar man, Johan, toe Saterdagoggend met die speenvark hier aan. Nes in die prentjies van ouds. Die varkie is die ene ore. Kon egter bekkiger gewees het. Bekkie was te klein vir die tradisionele appel, ongelukkig. Of dalk is deesdae se appels te groot.

Thomas, Jacob en Christopher maak kennis met die otjie. .

Thomas, Jacob en Christopher maak kennis met die otjie.

Ewenwel, die kameras het geflits: Tokkie by die vark; ek by die vark; ons by die vark, glasie vonkelwyn in die hand; kleinkinders by die vark; al die teenwoordiges saam by die vark. Vir laasgenoemde word die Canon op ‘n hoë stoel staangemaak vir ‘n tydopname, natuurlik.

Die lakmoestoets lê egter voor. Hoe smaak die vleisies onder daardie krakerige, bros, donkerbruin vel? Aan al die betrokkenes en belangstellendes rapporteer ek graag terug: die vark het vorentoe gesmaak.

Die klein kalant het ons gryshare besorg. Dit is waar. Maar hy het ook sy kant gebring om die goue bruilofsete saam met kinders en kleinkinders ‘n avontuurlike en gedenkwaardige okkasie te maak.

Tokkie se oë glinster weer soos hulle in Oktober begin glinster het.

BOBAAS-BUURMAN

Desember 25, 2016 in Uncategorized

Ou kamerade. Toy Vermeulen groet 'n Bloemfonteinse vriend, Kiepie Herholdt. op sy 90ste verjaardag.

Ou kamerade. Toy Vermeulen groet ‘n Bloemfonteinse vriend, Kiepie Herholdt. op sy 90ste verjaardag.

Die spore van J.A.J. Toy Vermeulen (92) wat Saterdag, op die vooraand van Kersdag, sag heen is, lê veral die Vrystaat vol . Op vele terreine was hierdie seun van De Aar ‘n staatmaker. Hy kon dankbaar terugkyk op ‘n vol en vrugbare lewe.

In die dekades 70 en 80 van die vorige eeu was hy ‘n sleutelman in die Vrystaatse Nasionale Party, eers as amptenaar in die Goudveld en Bloemfontein, later as benoemde LV en senator. Hy was voorsitter van die Verdedigingsgroep in die Parlement, ‘n regterhand van minister Magnus Malan.

Hy KON kollekteer. Die Griekse gemeenskap was sy “sagte teiken”. Ek wonder hoeveel derduisende rande die Vrystaat se Grieke uit hul sakke geskud het as Toy namens die NP kom aanklop.

In hoeveel rade en komitees hy gedien het – kerk, skole, kultuur, plaaslike bestuur en wat nog – kan ek nie raai nie. Waar sy foto’s oral hang, sou hy dalk self nie weet nie. Een onverwagse plek vir my was die klubhuis van die Koeberg-rolbalklub op Melkbos. Daarvan was ‘n jonger, fikser en ratser Toy op sy dag president.

Sy versameldrif – die woordeboek praat ook van versamelwoede – het geen weerga geken nie. Elkeen wat al ‘n voet in Toy se studeerkamer gesit – in Bloemfontein, Blouberg en selfs in sy herfsjare in die gholflandgoed Atlantic Beach op Melkbos – kon dadelik sien: Soos bye heuning vergaar, vergaar hierdie man dinge van waarde.

Sy studeerkamer was ‘n kulturele skatkamer. Hy was ‘n klassieke bibliofiel wie se boekrakke gekreun het onder sy monumentale ABO-versameling en ander Africana. Sy kwaliteitswyne het getuig van liefde en kennis. Al hierdie waardevolle eiendom is geberg in kaste van glimmende dolfhout. Ook mooi hout was vir Toy onweerstaanbaar.

In hierdie “klein koninkryk”, omring deur sy waardevolle boeke, historiese foto’s en ander gedenkwaardighede, het hy tot enkele ure voor sy dood agter sy lessenaar gesit, ‘n man wat vreugde vind in sy identiteit.

Sy unieke seëlversameling was ook op sy dag in filateliekringe hoog aangeskrewe. Op sy lys van liefhebberye sou ‘n mens munte en vetplante kon voeg. Dan is dit nog ver van volledig.

Ek het oorweeg om Toy ‘n “koorsagtige” versamelaar te noem. Dit sou nie deug nie. “Koorsagtig” beskryf nie die stiptelikheid waarmee hy sy goeters georden het nie. Hy het geweet waar om elke ding raak te vat, ook elke koerantuitknipsel van betekenis. Hy het eie gedagtes in sy netjiese fyn handskrif opgeteken.

Soos kampioenkolwer Jacques Kallis in sy loopbaan lopies geakkumuleer het, het Toy vriende versamel. In Bloemfontein is gespot die ruimhartige Toy ry altyd met ‘n kis goeie rooi wyn in sy kattebak. Waar hy ‘n vriend teëkom, delf hy gou ‘n geskenkie uit. Dat gee vir hom ‘n lekkerte is, was tot die einde duidelik. Jy het nie uit sy huis gestap sonder ‘n bottel top-port uit Calitzdorp se geweste in die hand nie. My laaste het ek die dag voor sy dood ontvang.

Onvergeetlik uit ‘n persoonlike hoek was sy uitnemende buurmanskap in Dan Pienaar, Bloemfontein. Hy was ‘n bobaas-buurman wat in droogtes selfs sy boorgat “uitgeleen” het (met die tuinslang snags oor Kmdt. Senekalstraat gespan) en boonop altyd ‘n noodpakkie Rembrandt Van Rijns in sy boonste laai gereed gehou het vir ‘n skelm dampie.

Kenmerkend van Toy was dat hy nie hier vat en daar los nie. As hy sy lojaliteit gegee het, was dit vir altyd. Soos aan die Nasionale Party en Afrikaner-instellings, bv. die Afrikaner-Broederbond. Ook aan volkspele. Dekades nadat hy en die sprankelende Joha in Europa gaan tiekiedraai het, het hy van daardie span baanbreker-Volkspelers die spilpunt gebly. Al kon hy nie meer tiekiedraai nie (Joha sou wel kon!), het sy hart steeds op die maat van “Afrikaners is plesierig” en “Jan Pierewiet” vrolik bly klop.

Wat presies die betekenis is van “kompatertjie buig jou stywe dop” weet ek, ‘n volkspele-analfabeet, ongelukkig nie. Dit klink egter vir my reg om te sê: Hierdie “kompatertjie” buig graag vir die ontslape kameraad in eerbied sy “stywe dop” – met ‘n “stywe dop” Boplaas op die koop toe!

FANUS DIE KERSBABA

Desember 23, 2016 in Uncategorized

‘n Kersdagstorie van Fanus Rautenbach wat dalk nie so bekend is nie, uit die mond van Danie Botha wat as boekeredakteur saamgewerk het aan Tien uit Tien, ‘n keur uit Fanus se humorstories saam met ‘n paar verse en spitsvondighede:

“Tot kort voor sy dood op 29 Januarie 2011 het Fanus nog grappies gemaak oor sy geboortedatum. Algemeen word aanvaar en kan ook bewys word dat hy op 23 September 1928 op Lichtenburg gebore is.

” Nee, Fanus skud kop. Hy verjaar nie op 23 September nie, hy verjaar op 25 Desember. Hy verjaar op Kersdag.

” Nou hoe kan dat nou, soos die Nederlanders se. Hy verduidelik dit met ‘n versie oor Kersfees 1927:

” Daardie jaar
Het Kersvader haar weer geflous;
Hy sit toe net sy liefde
In haar Kersfeeskous.

“Die bedoeling: Ons moet almal minstens nege maande van ons sg. verjaardag af terugtel tot by die oomblik van ons ontvangenis.”

Na aanleiding van sy “geboortedag”op 25 Desember het Fanus ‘n hele storie vertel oor almanakke in sy kinderdae.Ek stel weer vir Danie aan die woord:

“Heel nostalgies wei hy uit oor hoe vroeg in Desember die almanakke vir die volgende jaar al opgehang is: Daar was drie: Hugo en van der Merwe die kruideniers s’n hang in die kombuis met ‘n prent van Tafelberg daarop;

“Die tweede een is Ingram se apteek met ‘n ag-hoe-teer, ag-hoe-fraai prentjie van moeder en baba, ‘n advertensie vir Johnsons se babapoeier. Dit was in Mammie-hulle se kamer,

“Die derde hang agter die toiletdeur – die kerkalmanak.

“Fanus glo ‘n kerkalmanak hoort agter ‘n toiletdeur. Daar neem die hele gesin rustig kennis van alles wat gaan gebeur. ‘n Sedige kerkalmanak laat ook nie jou gedagtes dwaal nie. Na die sewende maand ken jy darem al die telefoonnommers van die dominee, die koster en die orreliste uit jou kop.

“Die drukkoste is gewooonlik gedra deur die begrafnisondernemer, gewoonlik AVBOB (Almal Vrek Behalwe Ons Boere). Die kerkalmanak het sy Mammie gebruik om almal se verjaardae op aan te teken.: 4 Januarie Susie; 14 Februarie Kalie; 25 Junie Pappie; 2 Julie Mammie; 23 September Fanie en 11 November Gerrit. Niks by 25 Desember nie.

“Fanus vertel: Toe gaan skryf ek by 25 Desember: Liewe Jesus.”

JAAR VAN DRIE BAKENS

Desember 20, 2016 in Uncategorized

1-vir31des

Die Jaar van die Drie Bakens. Só sal 2016 in die Van Deventer-annale opgeteken wees. Baken een was HvD se 75. Baken twee Tokkie se 70. Baken drie is amper hier: ons goue bruilof op Oujaarsdag!

Aan die vooraand van die groot dag vloei die gedagtes onwillekeurig terug na daardie snikhete Saterdagmiddag op Bultfontein op 31 Desember 1966; die bruidegom, swetend in sy swart wolpak met die fyn strepies, die bruid stralend in haar sagte wit trougewaad met ‘n krisanteruiker, geskenk van Frank Budd, in die hand, gereed om ‘n nuwe toekoms saam in te stap.

Nou stap ons daardie pad al 50 jaar. Hobbels het nie ontbreek nie. Tog het ons heerlike herinneringe aan goeie, geseënde en gelukkige lewens saam. By die 50-bakens is ons diep dankbare mense, ook oor kosbare verbintenisse wat elke dag ons aardse bestaan verryk.

Ons is woordeloos oor milde genadegawes – total onverdiend. In ons gemoedere is vrede, nostalgie en ‘n tikkie bewoëndeid.

Ons kyk vorentoe in biddende afhanklikheid.

teken1 Ons het op 26 Maart by ons tentfees op ons gras langs die weskus dankie gese vir die 100 gaste wat hier kon wees vir die waarde wat elkeen op ons pad van Bultfontein tot Melkbos – oor Bloemfontein, Randburg en Welgemoed – toegevoeg het. Ons herhaal graag daardie dankie ook in hierduie ruimte, en gooi die net natuurlik graag wyer om almal in te sluit wat nie hier kon wees nie.

1-teken1

Wat nog in 2016?

Ons tradisionele bootvaart het gesneuwel weens geweldige storms wat die MSC Sinfonia toegetakel het. ‘n Plaasvervangende een (weer na Walvisbaai) is geskeduleer vir April 2017, kort ná die viering van matriek-plus-60 op Potchefstroom en ‘n somerbesoek aan Sabiepark.

Die joernalistieke vuurtjie brand nog hoog. Verskeie artikels uit die HvD-pen is in die dagblaaie, By en Rapport gepubliseer. Een – oor ds. Ockie Raubenheimer (92), die “Afrikaanse Palus” – het selfs gelei tot die vleiende uitnodiging van ‘n voorste uitgewery om weer ‘n boek aan te durf. Die summiere antwoord: nee dankie vir sulke harde werk op gevorderde jare.

Die spannetjie Kollegemanne was vir oulaas op Balule. Wat Balule 6 sou wees, word nou Orpen 1 in Augustus 2017. Nuwe gesigte kom by. Ons het in die wintervakansie ook die Wildtuin se salige Boulderskamp ontdek, met komplimente van broerskind Marcus Malan. Dié skilderagtige kamp tussen die rotskoppies is weer op die 2017-skedule.

Ons hartsplek in die bos, Sabiepark, het ná ‘n wrede droogte uiteindelik in November reën begin kry. Behoort in Maart pragtig geil en groen te wees.

Tokkie se geliefde broer, Fanie van Wyk, se stem het stil geraak. Ook die stem van Hannetjie Smith, vrou van neef Ben. Saam met Fanie en saam met Hannetjie is spesiale tye deurgebring. Hulle laat groot leemtes.

In die Probusklub was die Byl intens bedrywig. Vier lede en een oud-lid is oorlede. Verskeie ernstige siektes in die vriendekring weerspieël eweneens die toenemende broosheid wat saam met die opstapelende jare vir ons almal op die loer lê.

Die gesin Claassens het na die Kaap teruggekeer ná twee jaar in Hilton, KZN – heuglike nuus vir oupa en ouma. Brent is die nuwe Kaapse streekbestuurder van CJP Chemicals. Die gesin het huis gekoop in Chavonnestraat. Jacob en Thomas keervir graad 7 terug na Welgemoed Laer. Christopher pak graad 2.

Op George is die groot nuus die stigting van Johan en Mariza se skooltjie vir kinders met spesiale uitdagings, soos Migael. Die skool is in ‘n netjiese huis met vele geriewe, gras, genoeg speelplek en selfs ‘n groetentuin. Die twee kinders stort hul hart in die projek met groot idealisme en toewyding. Die skool gaan van krag tot krag.

Die Van Deventers van George gaan Kersfees, Nuwejaar en pa en ma se goue bruilof in Sabiepark vier. Die liggies van die oumense se Kersboompie brand vanjaar op Melkbos.

Seënwense vir al die bloglesers vir Kersfees en die nuwe jaar.