Jy blaai in die argief vir toonnaels.

BY MY STOEL VERBY

Februarie 28, 2019 in Uncategorized

Om jou toonnaels te laat knip, is een van daardie sleurwerkies waaraan min mense seker erg het. Diè roetintakie kan ‘n openbarende studie in geriatriese gedragspatrone word as jy, soos ek, vir daardie doel die plaaslike oord vir bejaardes besoek.

Jy wag jou beurt by die voetdokter op ‘n bamboesstoel in die voorportaal af. Regs van jou is die Alzheimer-vleuel, links woon die ander oumense. Langs jou is die deur na die eetsaal. Aan die arm van ‘n verpleegster in ‘n kraaknetjiese blou uniform, in rolstoele of met looprame daag inwoners wat nie meer so mobiel is nie, vir ontbyt aan groot ronde tafels op.

Van hulle kyk met die verbygaan stip grond toe, ander groet vriendelik of knoop selfs met die vreemdelinge in die voorportaal ‘n geselsie aan. ‘n Skraal man met ‘n groot, ouderwetse bril stap op die blonde vrou af wat langs my in die ry sit en wag. Sy herinner hom aan iemand. Hy probeer vir haar verduidelik maar dit kom bra skeef en krom uit sy mond. Sy kommentaartjie klink amper onvleiend. Sy glimlag net ongemaklik.

Hy kom staan voor my en kyk my vierkant in die oë. “Lekker,” sệ hy. “Lekker,” antwoord ek. Toe stap hy doelgerig af op die eetsaal van waar ‘n geroesemoes van hoofsaaklik vrouestemme opklink. Jy hoor ook slaapsale en kamer radio’s speel. Die volume is hoog gestel, seker om beter te kan hoor. Uit die sitkamer klink die temalied van ‘n laataand-TV-sepie wat ter wille van vroegslapers soggens herhaal word.

Dit tref hoe inwoners, hoofsaaklik pasiënte uit die Alzheimervleuel, graag aan iemand raak; aan die elmboë of skouers van die kantoordames, verpleegsters of mede-pasiënte. Dit is asof ‘n vlugtige aanraking rustigheid, vrede en kalmte bring.

Op pad terug na haar kamer ná ete kom ‘n grys dame aan die arm van ‘n verpleegster verby. ‘n Glimlag (van “herkenning?) verhelder die gelaat. Woerts kielie sy my eers aan die linker- en toe aan die regterknie. My beurt om ongemaklik te glimlag. Nietemin, dadelik ontstaan tussen die twee wildvreemdes ‘n band.

Voor die hoofdeur by die ingang is tralies. Die deur bly gesluit. Jy moet ‘n knoppie druk as jy wil in. Die ontvangs moet weer ‘n knoppie druk om jou uit te laat. Terwyl ek sit en wag – net 15 minute of so – stap twee inwoners kort ná mekaar na die deur en tuur geruime tyd deur die tralies na buite.

Die oord lệ op ‘n hoogtetjie. Deur die hekke sien jy ‘n strepie see, ‘n blerts spierwit wolke en, oorheersend, die helderblou laatsomerlug van ‘n sjampanjedag in die Kaap. Sou daar ‘n smagting in die binneste heers om weer deel van die lewe daarbuite te wees?

Een van die twee gaan staan later voor ‘n groot muurspieël. Hy kyk lank en deurdringend na die beeld wat dit na hom terugkaats. Oor sy gewaarwordinge kan ek maar net wonder. ‘n Mens is mos maar geneig om te romantiseer.

Van hoe bevoorreg jy jouself moet ag om na die naelknip-prosedure in jou motor te klim en volkome onafhanklik van ander mense weg te ry, raak jy opnuut intens bewus. Jy is verreweg nie dankbaar genoeg nie, betig jy jouself. Sodra jy weer onvergenoegd en morrig wil raak, laat net jou toonnaels knip, boeta! Dit is die boodskap vanoggend.

Dan druk die matrone die klokkie en maak haar gedugte verskyning by die voordeur. Ons groet oor en weer. Sy weet van onlangse operasies, verneem na my welstand en merk vriendelik op: “Jy lyk goed”. Hoe troos jy immers ‘n oumens anders?

Voel goed, antwoord ek. “Maar soos jy ouer word, gee die onderdele mos maar in.” Dadelik kan ek my tong afbyt oor die simpel, voorspelbare stelling, so sprankelend soos ‘n verwelkte sonneblom. Asof sy daardie onvermydelike waarheid nie elke liewe dag rondom haar sien en beleef nie.