Jy blaai in die argief vir tarlehoet.

WATERGAT LEWE WEER

Julie 18, 2014 in Uncategorized

 

Sebras in Wildevy - weer welkome  besoekers aan ons watergat.

Sebras in Wildevy – weer welkome besoekers aan ons watergat.

Tarlehoet se drinkgat in sy nuwe gedaante is ingewy.

Die “nuwe gedaante” is natuurlik te danke/te wyte aan die rondloper-olifantbul wat in April ‘n gat in die bodem van die oue getrap het. Aanvanklik het dit gelyk of die diere draai daarom loop.

Die koedoes was die eerste wat nader gestaan het. Ons was seker hulle het by ons water rug geknak. Die gereeldste besoekers vanouds, die sebras, het weggebly. Belowende sebramis is by die gat gesien, maar geen sebras nie.

Toe was Tokkie gordyne. Toe sy die badkamer s’n ophang, bemerk sy deur die venster gestreepte lywe wat om die water saambondel. Dieselfde aand was daar ‘n herhaling – ongelukkig al net te donker vir ‘n foto.

Ons het al ‘n slag of wat weer die naguiltjie se roep gehoor na lang stilte. Op 4 Julie het Jaco, Lientjie, S.J. en Bernard van Wyk uit Pretoria kom kuier. Met die komplimente van die natuurkenner Jaco kon ons toe die stryd van ‘n mierleeu en ‘n miersoldaat aanskou. Epies.

Ses loeries het hul welkome opwagting in ‘n rooiboswilg gemaak. Twee duikertjies luister skemeraande op. Gebande muishondjies het Tokkie se brekfisworsies op die agterstoep probeer steel.

By die piekniekplek was ‘n historiese eerste twee luiperds wat op die groot rots paar. Luiperdseisoen is weer in volle gang. ‘n Waarskuwing is by die hek opgesit. Luiperds is by huise in Rooibos en Maroela gewaar. Een het glo selfs verby swembad gestap. ‘n Mannetjie het vlugtig by die piekniekplek opgeduik. Ons was op die uitkykdek maar het hom misgekyk! Ilona Fick van 230 het hulle gesien en gehoor.

‘n Leeumannetjie, buffels en olifante is binne ‘n halfuur van 281 (Awie en Sunet Greeff) se stoep gesien. Leeus brul snags vir ‘n val

In die Wiltuin sien ons redelik gereeld renosters. Op ‘n stil rit op die S3 het naby die hek skielik lewe gekom. Dertig olifante het vlakvoor ons die S3 van Sabiepark se kant af oorgesteek.

Solly het ‘n (verrassende) herverskyning by die piekniekplek gemaak – op die oog af heelwat gesonder.

Resente inskrywings in die pieknieplek se logboek.

Resente inskrywings in die pieknieplek se logboek.

SKUKUZA VERLAM

Julie 13, 2014 in Uncategorized

Nogal ‘n bisarre belewenis as Skukuza, slagaar van die Krugerwildtuin, in die hart van die wintervakansie om 14:30 op ‘n weekdag ‘n verlammende kragonderbreking beleef.

Die winkel en poskantoor is stikdonker. In die donker hool van ‘n poskantoor sit die twee toonbankklerke soos spoke agter die toonbank. Selfs nie ‘n kers is in sig nie. Hul hande is afgekap. Kon nie eens aan Tokkie n posseël verkoop nie.

In die winkel is dit sake soos gewoonlik – wel, nie heeltemal nie. Winkelpersoneel vergesel die klante met priemende flitse in die donker gange. Een help Tokkie die piesangrak opspoor en skyn bedagsaam sy flits in haar handsak toe sy in die duisternis sukkel om haar beursie vas te vat.

Uit die waskamer klink vrouestemme in strelende harmonie – dit is die ledige wasservroue wat hulleself in ‘n impromptu-koortjie georganiseer het toe die wasmasjiene en tuimeldroers tot stilstand knars en die strykysters koud word.

By die vulstasie staan al die petrolpompe. Arme drommels wat dringend brandstof nodig het vir die reis verder moet maar wag en hoop ….

In die donker toilette moet jy goed mik.

Deur die ontvangskantoor se vensters val genoeg sonlig sodat ongeduldige toue toeriste wat wag op hul rondawels se sleutels, geholpe kan raak. Maar dit is ‘n harmansdrup-proses, lyk dit, so sonder rekenaars en ander broodnodige tegnologie wat van elektrisiteit afhanklik is.

Arbeid wat sonder ‘n oomblik se verposing voortgaan, is die van die suikerbekkies wat by die ontvangsblok met hul lang snawels die nektar uit die bloedrooi aalwyne in volle blom suig. ‘n Skare fotograwe met lang lense staan gereed vir ‘n prysfoto. Party staan knielend vir die regte oomblik en wag.

Moet darem sê dat karige lig vir die kameragarde geen problem was nie. In die helder sonlig was die aalwyne bloedrooi en die suikerbekkies se kleurryke klede so skitterend as kan kom.

VAT-VAT AAN 2000 DAE

Junie 26, 2014 in Uncategorized

IMG-001

Een dag in die Wildtuin kan asemrowend wees. Dink net wat “duisend dae” nie kan oplewer nie. So het ek in “Duisend Dae Langs die Sabie” (2011) my verslag oor die van Deventers se eerste plus-minus 1 000 dae in ons boshuis in Sabieprk ingelui.

Dinsdag 1 Julie bestyg ek en Tokkie Kulula weer noordwaarts vir nog twee maande se oorwintering in die milde boswêreld –daar waar die sekelbos-kampvuurtjie se rook elke aand in ‘n reguit lyn boontoe trek. Dit sal so ongeveer ons 40ste besoek sedert 1998 wees.

Ons bou nou fluks aan ons rweede 2 000 dae in daardie wêreld, en begin al oorweeg om ereburgerskap van Mpumalanga aan te vra. (‘n Mens raak immers lief vir die plek ondanks al die slaggate, rookmis, houthakkers en kruiwaens langs die pad.)

Wat kan ons verwag buiten kortmou rondloop in die amperse somerweer? Bepaald ‘n paar verrassings aan die dierefront – soos altyd. Drie, vier, vyf stil dae gaan soms verby, Dan kom ruik n luiperd aan jou voorwiel óf ‘n olifant slenter lui-lui aan in die pad sodat jy om die dood nie kan verby nie. Of ‘n slang seil by jou voete verby.

Hoeveel olifante gaan ons by die piekniekplek sien? Dalk renosters? Dalk ‘n vangs?

Gaan dit n geil voëlseisoen wees of nie? Gaan die bloukuifloeries amper elke dag by ons watergatjie kom pitjies soek en hul rooi vlerke in die skoon water uitgelate skoon skud?

Vriende kom kuier in Julie en Augustus van oral – sommer van die eerste naweek af. Party veterane kom die soveelste keer; ander kom drink Tarlehoet se soet water die eerste keer. O, ons is oorgehaal vir die lekker geselse om die snoesige vuurtjie. Kom ons sit nog stewige ‘n stompie op.

Ons gaan ook verlang en ver-ver terugdink. Dis onvermydelik, Die tyd maal voort. Elke jaar raak meer plekke leeg. Die afskeid van dierbare vriende – dis een van die slegte Sabieparkdinge .

‘n Mens betrap jou al hoe meer dat jy oor jou eie paadjie begin wonder. Hoeveel keer ry ek, Hennie, hoerveel keer jy, Tokkie, nog by daardie sierhek 2km van die Krugerhek binne, draai regs in Maroela en dan links in Wildevy op pad na 154?

 

Mei 24, 2014 in Uncategorized

Wonder of dit dalk een van ou Mayafudi (my storieboek-olifantjie) se afstammelinge is wat sake op Wildevy 154 kom deurkyk het.

Nietemin, Mayafudi-nasaat of nie, by Tarlehoet is heelwat “spore in die bos” van ‘n nuuskierige bul se rondlopery nadat hy die drade by Carol Hughes se huis ‘n maand of wat gelede gebreek het.*

Vir Christopher (5) was daardie “spore” (gebreekte bome en ‘n omgedopte rosyntjiebos) een van die heuglike elemente van sy bosvakansie van 23 dae.  Hy het telkemale sy Ouma opgeroep vir ‘n herbesoek aan daardie stukkie veld naby die grens tussen ons en die Van Heerdens van 155 met die karnuffelde bome (veral raasblare), afgeskeurde en gestroopte takke, asook aansienlike reste van olifantmis.

Van die takke is huis toe karwei om vir Oupa te kom wys.  Oupa is ook spesiaal kom haal om te kom kyk na die jongman en sy ouma se “geheime plek” waar hulle groot geselse gesels het, sittende op ‘n stewige raasblaartak van ‘n mooi boom wat omtrent middeldeur gebreek is.

Deel van Christopher se genot was om Ouma keer op keer uit te vra na ‘n vorige olifantbesoek aan Tarlehoet in die lente van 2000,plus-minus in dieselfde wyke.  Die destydse parkhoof, David Zeller, het vir my ‘n foto Kaap toe gestuur van die olifant met ons swembadjie en watergat in die voorgrond.

Hy het gemeen dit sou nogal ‘n plesier kon wees om in die swembadjie te lê en afkoel terwyl die olifant in jou gesigsveld wei.  Vir my het die vooruitsig van skade wat deur ‘n groot olifantlyf met ‘n bedrywige slurp en yslike voete aangerig word, egter die potensiële plesier oorheers.  Ek het veral gevrees dat dakpale in die slag kon bly – wat gelukkig nie gebeur het nie.

Die besoeker van 14 jaar later het genadiglik ook die dakpale uitgelos. Skade was daar dié keer wel – en nie net in die vorm van verwoeste bome nie. Oor die stukkende watergat is my hart die seerste. ‘n Groot poot het ‘n gat in die bodem getrap.  So vinnig as wat jy water intap, loop dit onder uit – soos uit ‘n wastrog waarvan die prop uitgetrek is. ‘n Nuwe sementvoering word benodig.  Hopelik sal die sebras (en ander wild) daarna terugkeer om weer by die Van D’s ietsie vir die keel te kom geniet.

Eienaardig genoeg was dit natuurlik nie olifantskade waarop ons voorbereid was toe ons op Woensdag 30 April by Tarlehoet inswaai nie. Dit is vir die omvang van die likkewaanskade waarvoor die harte in die Honda-tjie vasgehou is.

Ta het hom mos vroeër vanjaar iewers ingewurm – waarskynlik tussen die muur en die gras van die dak – en uiteindelik skynbaar wanhopig begin raak toe hy nie sy pad na buite kon vind nie.   Eers nadat hy ‘n taamlike versameling breekware in stukkies op die vloer laat beland, ‘n paar fotorame van die muur geruk en een van die kombuisgordyne se voerings aan flarde geskeur het, is hy op heter daad betrap en taamlik onsag verwyder.

Gelukkig het die huishulp Lucy mooi kom skoon maak – ook al die likkewaanmis van sy wekelange huis-arres – en die flenters in ‘n sak vir ons gelos om deur te snuffel.   Dit het die impak heelwat minder gemaak.

Dat ‘n huis in die bos nie altyd net louter vreugde is nie, behoort uit bogenoemde duidelik te wees. Moet ek byvoeg dat die bobbejane boonop sedert ons vorige besoek die stoeplig uit die muur geruk en die vloedwaters van Februarie taamlike dongas in ons motorpad oopgespoel het?

(Carol Hughes vertel dat dit nogal ‘n aardigheid was toe die olifantbul die elektriese heining voor hul huis laat klap het.  Die skrik en die elektriese skokke het die ou woes laat trompetter. Haar kleinkinders wat op besoek was, het hulle omtrent uit hul geloof geskrik waar hulle styf teenaan ouma  die hele gedoente van hul huis aan die Sabierivier betrag het.)

* Spore in die bos – titel van my e-boekie.

WILD EN WOES OP STEMDAG

Mei 8, 2014 in Uncategorized

IMG_2109-001Op stemdag, gister 7 Mei 2014, het ek en die gade ons kruisies op Onder-Sabie vir die kleiner partytjie van ons keuse getrek – ‘n gedenkwaardige dag in vele opsigte.

Dit was ‘n japtrap-besigheid. Binne vyf minute was ons in en uit – Tokkie boonop met die komplikasie dat haar ID-boek al langerig gelede in Walvisbaai gesteel is. Ons ontdek toe by die stembus ‘n rybewys is ewe geldig. Niemand het dit vooraf vir ons gesê nie.

Dit was ook ‘n op-die-nippertjie-besigheid. Die Van D’s was die laaste twee wat op Onder-Sabie deur die worsmasjien is. Toe die pak die vriendelike OVK-spannetjie om 11:30 sy skandeerders, stembriewe, stempels en wat nog en laat vat Krokodilbrug toe vir die middagskof daar.

‘n Spesiale bonus van stemdag was die stortvloed olifante wat ons in en om die Sabie raakgeloop het – honderde dalk? Ek en Tokkie het oor die raming van getalle verskil, maar saamgestem dit was die meeste op een dag in ons ervaring. Vir die jeugdige Christopher Claassens (5), ons kuiergas vir die vakansie, was soveel Grootvoete (en klein Grootvoetjies tussenin) allesins merkwaardig. Natuurlik. Glo hy het verlede nag van olifante gedroom.
IMG_2088

 

Op een kol langs die Sabierivier, enkele kilometer suid van die laagwaterbrug, was twee troppe op ‘n hoop: die een hoofsaaklik in die water, die ander al weer beurend teen die wal op na ‘n koel verfrissing op ’n warm Meidag in die wildtuin.

IMG_2097

Net daar kry ons skeef in die pad ‘n polsiebakkie. Sy voorkant is voos geslaan. Lang sleepmerke getuig dat daar vinnig gery is. Lyk of hy teen ‘n muur vasgejaag het, waag Tokkie.

‘n Stewige polisievrou op die toneel verskaf geselserig die ontbrekende inligting. Die botsing was teen ‘n olifant.

En die olifant? Sy wys met ‘n gulle armswaai rivier se kant toe. “He’s there” – klaarblyklik dus ongedeerd tussen sy makkers!

Nadat ons klaar gestem het, is ‘n polisievragmotor by ons verby, waarskynlik om die stukkende bakkie vinnig te gaan verwyder voordat die verleentheid te groot raak.

Op die terugsit op die Onder-Sabiepad, naby die piekniekplek Nkuhlu, beleef ons ‘n ander olifant-insident waaroor ‘n mens kan bespiegel en wonder. Ons sien ‘n trop vinnig oor die pad beweeg soos kenmerkend van olifante is as hulle ‘n pad oorsteek. Toe, asof ‘n swerm bye op hulle losgelaat is, swaai hulle om en peuel weer terug op hul spore by die bosse uit.

Hulle bondel senuweeagtig in die teerpad. Die slurpe swaai in die lug. Die trompetter kom diep uit die keel. Voertuie aan weerskante skakel versigtigheidshalwe oor na trurat.

Hulle het klaarblyklik vir iets geskrik. Sou dit gewees het oor die baie kleintjies in die trop? Sou dit leeus daar in die bos gewees het? En toe hulle na ‘n rukkie op dieselfde plek weer die bos in is: het die leeus toe gewyk? Hoe sal ons ooit weet?

Nietemin, Woensdag 7 Mei sou al alleen om daardie episodetjie kon uitstaan as ‘n spesiale wildtuin-dag.

Amper vergeet so tussen die olifantstories deur. Ja, ek, Tokkie en Christopher het toe ook by die Mugg & Bean op Onder Sabie gaan eet – waarskynlik die skilderagtigste ene wat bestaan, so op die oewer van die Sabie met seekoeie wat brom, voels wat in die lug draai en olifante wat nat uit die water stap.

Ons oordeel: Vyf sterre vir die die voorkoms, diens, spyskaarte en kwaliteit van kos. Ons hamburtgers was in ‘n ander klas as wat Sanparke se eie spyseniering ooit opgetower het. Net vier sterre egter vir waarde vir geld – want de pryse is styf (R50 vir ‘n kinder-burger!).

Maar wees gerus mense, ‘n Mugg & Bean in die wildtuin tas nie die karakter aan nie. Dit bedreig niks. Dis wel ‘n lekker nuwe “afsaal” as jy honger en dors opdaag na ure se wild soek.

(Hoe dit gekom het dat ons op Onder-Sabie gestem het? Wel, dis ‘n ander storie. Skukuza se stembus was in die visier. Daar was die tou so lank – vriend het drie uur moes staan – dat dadelik besluit is om liewer later terug te kom. Toe val die Onder-Sabie-gelukkie in ons skote.)

OUPA SKRYF ‘N BOEK

April 27, 2014 in Uncategorized

omslag1-001

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Oupas en oumas is berug vir hul onblusbare entoesiasme oor hul kleinkinders. Ek en Tokkie bely dat ons daardie reputasie ywerig in stand help hou.

 Ons oudstes, die tweeling Jacob en Thomas Claassens, was gister, 26 April, tien jaar oud. Om ons entoesiasme as ‘t ware te “boekstaaf”, het Oupa, met Ouma se kranige hulp – veral aan die onthou-kant van datums en dinge – vir die twee ‘n eie boekie geskryf. Hulle was verstom toe hulle gister die geskenkpapier met wildtonele versigtig verwyder en die boekies die eerste keer in die hande hou.

 “Kampvuurtjies, karnallies en k..k..karnivore” is darem nie bedoel as ‘n romantiserende ophemeling nie. Die 143 A4-bladsye is ‘n kroniek van die lief en leed van nege spesiale kuiers saam met ons in Sabiepark. Aan elke kuier – al die soet en die suur – word ‘n hoofstuk gewy, kompleet met ‘n klomp foto’s.

 Die boek handel primêr oor hul inwyding in die bos-kultuur. Dit is sekondêr ‘n kleinkind-storie – Oupa Hennie en Ouma Tokkie se inwyding in die oupa- en ouma-kultuur. 

Die eerste keer toe Jacob en Thomas alleen saam met ons bos toe is, was hulle driejarige pokkeltjies in doeke. Hul kennismaking met Sabiepark saam met Mamma Marisa en Pappa Brent was reeds in 2005. Hulle was toe net 14 maande.

Op 18 Julie 2005 het Marisa namens die twee in die gasteboek geskryf: “Ons eerste vakansie in die bos. Dankie Oupa en Ouma vir al die nuwe ervarings en al die bederf. Die bos is nou in ons bloed. (Jammer oor al die breekgoed – hoop ons is volgende jaar ook welkom.)” Op 10 Januarie 2013 het Thomas in sy eie handskrif in die gasteboek Marisa se woorde ge-eggo: “Die bos is nou in ons bloed.”

“Kampvuurtjies, karnallies en k..k..karnivore” speel hom so plus-minus tussen Marisa en Thomas se inskrywings af, en eindig met Oupa se waarneming: Oupa kan dankbaar rapporteer dat Jacob en Thomas ware bos-seuns geword het – borrelend lief vir die leefwyse, die diere, voëls en die plante (net nie vir die slange, skerpioene en die perdebye op die stoep nie!).”

Hoe geniet die twee nie daardie anderster lewe in die bos nie! Die stadslewe, Eskomkrag, televisie en winkels is lekker ver weg. Die amper 2 000 kilometer teerpad wat Kaapstad en Sabiepark skei, maak jou vry van roetine en ongebonde aan konvensie. Jy sal sommer onder ‘n buitestort rondspring terwyl ‘n sebratjie teenaan jou aan sy mamma drink, van die stoepmuurtjie af met ‘n boog in die veld piepie en met ‘n oop deur in die buitekamer op die troon sit,

Spesiale evarings sluit in om op ‘n snikhete somermiddag ná bobbejaan-moleste ‘n swembadjie skoon te skrop; om ‘n baba-kameelperd pote eerste by sy mamma te sien uitpeuel; om ‘n koedoe te betrap waar sy goedsmoeds pitjies uit die voëls se kosbak kom gaps ….

Die tweeling se genot aan Sabiepark is ook Oupa en Ouma se genot. Ons harte klop warm oor die waarde wat hulle daar tot ons lewens toevoeg. Elke bosvakansie neem die waarde toe. Die driemankap Jacob, Thomas, Sabiepark is ‘n wenkombinasie. Dit laat ons elke keer voel dat die ondermaanse selfs ‘n nog beter plek is om op te vertoef.

Ons het belowe ons vat hulle as verjaardaggeskenk vir minstens tien dae Sabiepark toe. Maar Oupa en Ouma sal geruime tyd geduldig moet wag … skool, rugby, swem, krieket, atletiek en nog wat kom natuurlik nou eerste. Die eerste kans is die eerste twee weke van 2015. Die vliegkaartjies is net hierdie week gekoop en betaal. Hulle het dit ook gister gekry saam met hul eksemplare van hul boek.

LEES OF LOS!

Desember 13, 2013 in Uncategorized

Val amper uit die stoel toe die Litnet-skakeltjie hierby vanmiddag uit die bloute op my neerdaal.
 
Weerspieel seker ‘n taamlike gebrek aan beskeidenheid om dit aan te stuur, maar het tog maar na oorweging goedgedink om blogvriende daarmee op te saal  – om te lees of nie te lees nie, deur te blaai of nie deur te blaai nie.
 
Een ding is seker: Oor hierdie ou van Melkbos is nog nooit iets uitvoeriger  op skrif gestel nie en sal ook nooit weer nie.  Wat die plasing  vir my minder van ‘n turksvy  maak, is dat ek ook maar plek-plek taamlik geraps word.  Oordele van Cecile Cilliers,  At van Wyk en Tobie Wiese is nie oral sonder angels nie!
 
As ek liewer nie moes nie, betuig ek grondiglik my spyt.  
 

KLEIN FRANKRYK

November 16, 2013 in Uncategorized

Franschhoek6 Franschhoek4 Franschhoek5Ons paaie het met twee busvragte Franse toeriste gekruis terwyl ek en Tokkie te voet die strate van Franschhoek aandurf. Die Franse was duidelik ingenome.  Dié “klein Frankryk” aan die suidpunt van Afrika  het vir hulle iets beteken – ‘n aanvoelbare spesiale band met die verre stamland soos Hollanders nêrens hier te lande kan ervaar nie.

Kollega Johan van Wyk het Franschhoek onlangs tong in die kies “La Petaal” gedoop.  Moet met Johan saamstem van die Fransheid is aangeplak en oordrewe, en pryse in die algemeen maar rof. Maar ek, met die Hollandse bloed van emigrante uit die Over-Ijselse stadjie Deventer in my are, voel tog jaloers dat Suid-Afrika nie ‘n plek het wat die Hollandse kultuur dermate in ere hou nie.

 Die Fransheid van Franschhoek is op die keper beskou verreweg nie net geleë in name met “La”, “Le”, “Petite” en wat nog waarmee Franse besoekers hulle kan vereenselwig nie. Pretensie of nie, die plek het styl en ‘n ouwêreldse grasie wat daaraan ‘n spesiale karakter verleen. 

 Selfs  hierdie verloopte Hollander (stamvader Gerrit Jansze, gebore ‘n jaar na Jan van Riebeeck se historiese suidwaartse vaart, was een van die eerste vryburgers en het hom in 1687 by Stellenbosch gevestig) het, tesame met die tikkie jaloesie, darem ook heelwat behae gehad aan die Europese kultuurgoedere wat by Franschhoek behoue gebly het.   

 By die Hugenotemonument, en elders, staan die “Icebergs” in die blom soos lentebruide. Die oorheersende wit van die Bolandse blommeprag span saam met die oorheersende wit van die ou Kaapse argitektuur wat die diep blou van die berge en die geil groen van die wingerde beklemtoon.  Die bekoorlike winkeltjies, stegies, leivoortjies, rietdakke, rye koningsproteas en algemene atmosfeer van die dorp laat jou dink een meesterhand was hier vir ‘n holistiese bloudruk verantwoordelik.

 Dis die gevoel wat jy in van Europa se mooiste dorpies kry – ook in die dorpie Carmel aan die Kaliforniese kus, naby San Francisco (waar Clint Eastwood in ‘n stadium burgemeester was).  Dan is Franschhoek waarskynlik Suid-Afrika se netjiesste dorp waar geboue, strate, tuine en  grasperke alles bydrae tot ‘n kraakvars geheel.  My kamera se battery kon dit nie hou nie. Moes later doelbewus vuis maak om die sluitervinger se spontane sametrekkings te beheer!

 Pas inderdaad op vir die plekke met die hoë vlagpale, soos Johan van Wyk gewaarsku het.  Die meeste se teikenmarkte is ver bokant Jan Alleman se bykomplek!  Maar om ‘n paar minute in die historiese NG kerk met sy indrukwekkende houtplafon te gaan stilsit en dankbaar voel oor die skoonheid romdom jou kos niks.  Om die Franschhoekpas op te ry en oor die vallei met sy spikkels wingerd, wit geboue en damme af te kyk, kos jou niks meer as die brandstof nie.

 Lus vir ‘n bietjie selfbederf?  Geleenthede is legio. Maar La Motte (Hanlie Rupert se landgoed) met sy Pierneef-galery en –restaurant bied baie; Le Franschhoek (die ou Swiss Farm Excelsior) klou prentjiemooi aan sy “eie” berg, en Koos Bekker se Babilonstoorn is werklik die moeite werd om te verken.  Vat net gemaklike stapskoene saam vir die wandeling deur die uitgestrekte organiese groente- en kruietuine op pad na die glaskas (“Greenhouse”) vir ‘n wyntjie of ‘n koppie boeretroos.  Die paadjies is met perskepitte uitgelê – nie ideaal vir spykerhakkies nie!

SPROKIESLAND

Oktober 30, 2013 in Uncategorized

 

virboek2

Lanterns en fakkels omskep Sabiepark se stoep saans in ‘n sprokiesland.

Hiermee (uiteindelik) finis en klaar met my stoepstories.

 

HART VAN DIE STOEP

Oktober 30, 2013 in Uncategorized

 

swembadjie

In die somer is die swembadjie – met sy primitiewe hand-en-mond-gedrewe bos-kreepy-krauley – die hart van ons Sabieparkstoep.

Uit die water sien jy gedugte bome en gedurige diereverkeer. Vlakvarke is lief vir die groen grassies wat deur die oorspat-swembadwater gevoed word.

Partymaal lyk dit of veral die kameelperde lus is om saam om te kom inklim.

Bobbejane springs soms wel in … maar darem net as die mense-inwoners van Tarlehoet hul rug draai. Dan moet jy maar die water laat uitloop en is die skoonmaak en borsel ‘n rugbreek-taak.