Jy blaai in die argief vir swartmamba.

HIER’T JOU M..M..M…AMBA!

Julie 29, 2019 in Uncategorized

Roep hardop: “swartmamba” of sommer net “imamba” in een van die ander landstale. Kyk hoe skrik mense hulle oor ‘n mik.

Gewaar jy die vreesaanjaende dierasie al-op-eens hier vlakvoor jou, is die skrik dalk nog groter. Met sy hoekige kop soos ‘n doodkis, vurige kykers en pikswarte verhemelte is hy gebou om vrees in te boesem. Party mense raak yskoud as hulle hom sien, ander weer wasbleek. Party raak aan’t rittel of verstyf soos ‘n soutpilaar.

Uit die wakker kêrel se pad bly jy liewer so ver as moontlik. Slangkenner Johan Marais noem die dendroaspis polylepis nie verniet in sy gesaghebbende Volledige gids tot die slange van Suider-Afrika “ongetwyfeld Afrika se grootste giftifste slang- en die gevaarlikste” nie.

Groot is hy – tot 4,5 meter lank. Gevaarlik? Wel, van ses tot 15 uur ná die toediening van sy oorvloedige, kragtige gif in ‘n reeks blitsige pikke kan die slagoffer aan versmoring beswyk tensy hope teengif sommer gou beskikbaar is. Sy giftande kan tot borshoogte bykom.

Geen tyd is ‘n goeie tyd om deur ‘n swartmamba gekonfronteer te word, en geen plek is ‘n goeie plek om onverwags op een af te kom nie. Skemer in Sabiepark se piekniekplek is ‘n slegte tyd op ‘n slegte plek.

Die opskudding in die piekpknekplek het ek ‘n ent van my waargeneem sonder om dadelik te snap wat gebeur het. Maar ‘n groepie mense – Sabieparkers van Bethal en hul gaste – op die lang plankiebrug na die uitkykplekke tussen die takke van ‘n enorme Natalse mahonie deur is eers eendragtig in hul spore gestuit. Botstil. Toe spat armswaaiend in alle rigtings uitmekaar.

Harwar het geheers. Ná ‘n ruk was almal op die grond langs die brug. Terwyl sy gaste hul asems herwin en opgewonde boontoe beduie, het die gasheer met lang treë die deurlugtige opsigter, Organ Ongeni, by sy kwartiere gaan haal om te kom help.

Dalk was dit nie heeltemal so nie, maar soos ek verstaan. het die slang, ‘n knewel, blykbaar, op ‘n Sondagmiddag-uitstappie van sy eie, sy permanente tuiste iewers in die takke van die yslike mahonie verlaat en hom behaaglik op die bruggie gaan uitstrek. Moontlik was hy op ‘n jagtog. Swartmambas maak aktief jag op kleiner knaagdiertjies van die regte grootte vir ‘n smulhappie – asook op voëltjies en kleiner slange, waarvan dit in daardie kontrei wemel.

Nietemin, die groepie was ná ‘n rustige laatmiddag-kuiertjie in een van die gawe uitkykhokkies langs die rivier niksvermoedend met hul koelhouer en dies meer op pad na hul motor toe ‘n vrou in die voorhoede die dik olyfkleurige slanglyf voor haar raaksien.

Blitsvinnig het sy haar opsies opgesom. Terug kon sy nie, want die brug was geblokkeer deur ‘n muur mense agter haar. Van die brug spring was geen sprake nie. Dit is geen hierjy-bruggie nie. Op sy hoogste kan ‘n volgroeide olifant slurp in die lug onder hom deur hardloop sonder om kontak te maak.

Al wat die dame kon doen, was om haar bene te rek, bo-oor die gevaar te tree en te maak dat sy wegkom. Dat die aksie met ‘n geskokte uitroep of twee gepaard gegaan het, spreek amper vanself.

Die ander in die spannetjie het haar dapper voorbeeld gevolg. Slang se kind het in die opgewondenheid gelukkig vir hulle nie, soos swartmambas meesal doen, die ongewone aktiwiteit gesien as ‘n uitlokking om tot aanval oor te gaan nie. Hy het hom eerder uit die voete gemaak – as “uit die voete maak” ‘n uitdrukking is wat in verband met die beweging van slange enige geldigheid het. Daaroor wonder ek skielik.

Organ het intussen op die toneel verskyn. Weet nie of dit die lang dun kop in die vorm van ‘n ‘n doodkis, die smal bakkop, die swart verhemelte, die ronde pupil, die kleur lyf van die slang of wat was wat tot sy oombliklike identifikasie gelei het nie. “Imamba!” Met die een woord het hy dadelik enige twyfel wat by iemand kon bestaan het, uit die weg geruim.

Daarna het Organ ‘n koeldrankblikkie gaan haal. Die inhoud is langs die mamba uitgegiet. Dit was die laaste sien van die blikkantien. Slange hou nie van die reuk nie, weet Organ uit ‘n kennis van die bos wat oor jare opgedoen is.

Dalk hou hy sulke blikkies byderhand!

Wat my nogal pla, is dat die Van Deventers graag namiddae daardie brug oorsteek. Wat het van daardie swartmamba geword? Die slang is ewe tuis in bome of op die grond, skryf Johan Marais. En dit jag gewoonlik van ‘n vaste lêplek af waarheen dit gereeld terugkeer.

“Tokkie, het jy vir ons ‘n leë koeldrankblikkie – en koop vir ons ‘n bietjie van Organ se slangmedisyne?”