Jy blaai in die argief vir stop van myne.

OHOPOHO, HIER KOM “OOM”!

Desember 4, 2014 in Uncategorized

 

IMG-004

 

 

 

 

 


Altyd op die regte plek op die regte tyd omring deur die regte mense … Die Volksblad-redaksie rondom die 90’s.

 

Ek soek hom in die politiek, ek soek hom in vernuwings in die koerant. Ek soek hom in gemeenskapsbetrokkenheid en verbeeldingryke promosies.  Ek hoef hom dalk nie verder nie as in die rubriek Stop van Myne te soek.

Die “hom” is die vernaamste onderskeidende element van my jare as redakteur. Die rubriek Stop en sy skrywer Johan van Wyk was dit eweseer as die vuurwarm politiek of iets anders.  Die era van die “Oom” was ook  ‘n geldige, logiese etiket vir die era van hvd.

Stop was ‘n ikoon van die 80’s. Die “Oom” was ‘n ikoon. En moenie nou kom stry met slimstories oor die woordeboekbetekenis van “ikoon” nie.  As die woordeboek van my verskil, is die woordeboek verkeerd.  Kort en klaar. So het ek meermale in my redakteursdae beweer – tot frustrasie van kollegas wat hul redakteur uit die HAT en die falanks ander woordeboeke in ons rakke verkeerd wou bewys.  Net terloops.

Hoekom die “Oom”?  Johan het vertel: “Ek het een keer net nadat Anneline Kriel Mej. Wêreld geword het op ‘n onthaal van die Troskies met haar gedans. Daarna sê sy toe: ‘Dankie, Oom. Dit was lekker.’ Terselfdertyd het die ‘Óom’ sommer gehelp om die ‘ek’ in die rubriek te systap.”

Johan het al in 1974 begin Stop skryf.  Daarna was hy ‘n tyd lank redakteur in Suidwes waar hy o.m. gemoedere beroer het met ‘n vermaning aan boere om van hul “vet wit gatte” op te staan.  Na ‘n kort(!) loopbaan as redakteur het hy as Stopskrywer teruggekeer.  Uiteindelik het hy in meer as 20 jaar by die 6 000 Stoppe geskryf – byna 19 miljoen woorde.

So ‘n lesersvriendelike rubriekskrywer soos Johan van Wyk was ‘n vername wapen in die arsenaal van die koerant. Die kollega het my persoonlik ook heelwat genoegdoening en plesier verskaf. Ek het soms hardop gelag as ‘n knap stuk van sy unieke humor op my lessenaar beland. Maar die bokker (“nog ‘n bokker na Amerika”) het my ook op my tande laat kners.  Johan se ekspedisies in die politiek in was nie altyd met my insigte versoenbaar nie.  Dan word ons kwaad vir mekaar. Ek skeur die gewraakte Stop op. Hy slaan my kantoordeur agter hom toe dat dit in die kosyne ratel. Vandag is ons vriende.  Soek graag mekaar se geselskap op.

Hy het die redakteur ook nederig help hou. As ons saam op plekke kom, moes die uwe maar daarop voorbereid wees om die ondergeskikte posisie op die statusleer te beklee. Dis om Johan dat die mense gekloek het – veral die vroue!  Hy het ‘n sjarme aan hom, die Oom.

Johan vabn Wyk hvd en kollega Tobie Wiese by die bekendstelling van Johan se boek, So was dit.

Johan van Wyk, hvd en kollega Tobie Wiese by die bekendstelling van Johan se boek, So was dit.

Oor hom het Die Volksblad in ‘n seldsame sub-hoofartikeltjie geskryf dat dit twyfelagtig is of enige ander rubriekskrywer al ooit so gelees, so bespreek, so bemin en so gehaat is soos Johan van Wyk.  (P.W. Botha, was nie een van sy “fens” nie. Hy het hom ‘n “skarmonkel” genoem.)

Sy tuiste, die “Republiek van Kafferrivier” was nie sommer uit die duim gesuig nie. Hy was inderdaad naby die destydse Kafferrivier ‘n melkboer, en het baie tyd (ook in “kantoorure”) op sy plaas deurgebring. Hy was bitter lief vir sy beeste en die grond maar het minder liefde gehad vir die “volkies” as hulle naweke “suip” en nie in hul babelaas-kondisie in staat was om die koeie te melk nie.

Wel denkbeeldig,  was al sy reise saam met Pik Botha, Nelson Mandela en wie nog die wêreld vol. Nadat hy oor só ‘n reis kamtig saam met Pik Botha na die Verenigde Nasies toe geskryf het, keer oom Christo Groenewald, oud-burgemeester van Bloemfontein, hom voor. “Man, ek’s bly om te sien jy’s terug. Dit was seker taai gewees.”  Johan het hom nie reggehelp nie..

Van sy uitdrukkings het so vasgeslaan dat hulle dadelik uitpop as ek aan hom dink. Elana Meyer, skraal Springbokatleet, het hy as die “tinktinkie met die groen boudjies” beskryf.  Perfekte beeld.  Onthou helder hoe hy altyd “vermom as ‘n potplant” uit die binnekamers kon skryf. En natuurlik sy beroemde “ohopoho”. Nou die dag weer self “ohopoho” uitgeroep oor ‘n ligte mistykie wat ek begaan het.

In 1984 of so had die eksaminators Transvaalse matrieks aan’t skarrel oor die betekenis van dié befaamde Stop-woord. Wat suggereer dit vir hulle, was die vraag in ‘n Afrikaans-vraestel. Skreeunaakse verduidelikings is skoorvoetend gewaag.

JvW se verduideliking: Ohopoho, het ‘n blinkners administrateur van Suidwes, A.J. Werth, moedeloos uitgeroep toe sy kar die soveelste keer in ‘n slaggat beland dat sy po……(dinges) deurstamp.  Toe word sy bestemming sommer Ohopoho … of Opuwa soos dit vandag heet.

Johan se vrye sê het hom by meer as sy redakteur in warm water beland.  ‘n Keer het hy ‘n vername arts en KP-politikus aangeraai: “Hef ‘n bedpan”.  Dié het dit gelees as bedoelende dat hy ‘n liggaamsfunksie moet gaan uitvoer, en het diep beswaard by die Persraad gekla. My onbenydenswaardige taak was dit om die Engelsspreekende regter O. Galgut te oortuig dis sommer ‘n niksseggende tussenwerpsel soos “Hef a ding-dong day” of “hef ‘n siegret”.  Aikona. Regter Galgut wou nie byt nie.

Oor kollega Johan van Wyk is ek nie uitgeskryf nie. Maar die blog raak lank. In ‘n sekere sin is die langasem-buiging gelukkig ‘n beskerming om my nie te waag op die glibberige veld van name uitsonder nie.  Karakters was egter volop.  Ek onthou elkeen met behae.

Soos ek my hele span met behae onthou, Sidwell en sy spannetjies bodes inkluis. Ook Grace wat so getrou die tee gemaak het.

Vir Jan Scholtz, ons skrynwerker-joernalis,  ‘n pluimpie dat hy my kantoor so deftig gemaak het met sy stinkhout en Birmese kiaat. Kyk net die foto hieronder. Ander kollegas sal my die spesiale vermelding sekerlik vergun.

vbd1Dan, vir heel oulaas,  ‘n stukkie spog oor ons indrukwekkende galery boekskrywers van daardie era, van wie Johan een was.  Deon Meyer, Chris Karsten en Rudie van Rensburg, voorste spanningstrio in Afrikaans, was gelyktydig kollegas. Dis merkwaardig. Chris Moolman, ook uiters aktief in daardie genre, is weg net voordat ek in 1980 by die voordeur van Voortrekkerstraat 79 ingestap het. Darem nie “omdat” nie!

Iets was in die water wat die mense in Bloemfontein ingekry het, of in die drukkersink wat hulle in Voortrekkerstraat ingeadem het. Ek dink persoonlik die ink-selletjies het hul bloed binnegedring en duisendvoudig vermenigvuldig.  As daardie kollegas hulle raakskeer, moet ‘n mens koes soos die ink in alle rigtings spat!

WARM PLAASBROOD EN VYEJêM

Mei 12, 2013 in Uncategorized

Johan van Wyk, Hennie van Deventer en Tobie Wiese gister by die formele lansering van Johan se blitsverkoper “So was dit” in die Strand.  ‘n 20-stuks Volksbladmense van verskillende generasies was onder die 100 gaste – die oudste Wiets Beukes, wat later redakteur van Die Burger was.  Ek moes die woord voer – wat ek graag gedoen het. Hier is my teks – vir diegene wat die tyd,  krag en inklinasie het.

TWEE debute geskied vandag hier: JvW ná die pleeg van vyf miljoen joernalistieke woorde (aldus Tobie Wiese, gewoonlik betroubare bron) oplaas as outeur van ‘n boek, en HvD as spreker by die loodsing van ‘n boek van  betekenis, boonop ‘n blitsverkoper.  Die tradisie is mos dat net hoog aangeskrewe literatore, uitgewers, ander boek-geleerdes (soms ‘n edele of wat) by sulke deurlugtige okkasies slimmighede kwytraak.

Die begrip blitsverkoper is eintlik te konserwatief. Dis ‘n bielieboek. ‘n Onstuitbare stormram soos die Cheetah-stut Coenie Oosthuysen.  Dit word opgeraap nes vars, warm  plaasbrood en vyejêm by ‘n boerebasaar. (Vyejêm want dit is die lekkerste jêm!)

As ek so oor die gesigte hier heen heen kyk, tref dit my:  “So was dit” is boonop waarskynlik die grootste verenigende faktor sedert die Gupta-debakel.

Dit geval my werklik dat ek, sommer net koerantman, die “biezondere” eer te beurt val om hier die wierook te brand. Skrywer en spreker kom ‘n langerige  pad saam.  ‘n Halfeeu verby.  ‘n Veelbewoë halfeeu –  veral soms! Jy onthou seker ook hoe die kiaatdeur van die redakteur se kantoor soms in die kosyne gerittel het, Johan? 

Desondanks en nieteenstaande: ‘n Feesrede is ver verkieslik bo ‘n lyksrede. Van laasgenoemde het die uwe tot dusver in 2013 ietwat van ‘n oordosis had.  Margot Asquith (1864 – 1945) het op haar oudag gekla: “All I have to live on now is macaroni and memorial services.” Vandag is genadiglik geen memorial service nie.   Ek sien oral wyn, nie macaroni nie.

Niks saai, vervelig of treurig hier nie. Net plesierigheid. Hoop ek kan plesier toevoeg deur ‘n stukkie te lees uit my eie beskeie debuutboekie, “Scoops en Skandes”, wat in 1993 ook by Tafelberg gepubliseer is.  Ek lees uit die hoofstuk “Stop van Syne” – natuurlik n.a.v. die rubriek wat kollega Johan 25 jaar lank by Die Volksblad so weergaloos behartig het.   

As iemand meen ek raak te voor op die wa, het ek my verweer gereed. Oor Johan se eerste roemryke era – noem dit kortweg sy humor-era – is dié hoofstuk na my oordeel steeds ‘n geldige bron as jy die fenomeen Johan van Wyk wil probeer ontrafel.   (Lees uit  “Stop van Syne”.)  

In Scoops is ‘n tweede JvW- hoofstuk, “Hef ‘n bedpan”.  Toemaar, ek gaan nie daaruit lees nie, al is dit, na my oordeel, nogal orraaiterig.  Weens die historiese belang rapporteer ek darem net, en wel met ‘n sekere mate van pyn en onbehae, hoe ek doer in ’82 rond moes voetwerk doen om ‘n dorre, droë regter’ – baie Ingels – met hoogdrawende argumente te prober oortuig: Om vir ‘n dokter “hef ‘n bedpan” toe te voeg, beteken nie jy stuur hom om te gaan “dinges” nie. Nie noodwendig nie, altans.  

My argument was in die volgende trant: Dat “hef ‘n bedpan” in die konteks van Johan se eiesoortige interpolasies (onthou bekendes soos “hef ‘n siegret” en “hef ‘n mietpaai”) nie ongewoon of neerhalend bedoel is nie. ‘n Bedpan was bloot ‘n hospitaal-simbool. Johan kon vir dieselfde prys geskryf het: “Hef ‘n koorspen”. Of:  “hef ‘n stetoskoop.”

Huh? Vir sy edele regter Oscar Galgut, voorsitter van die Persraad, was die “Oom” van Stop se humor Grieks, en die jong redakteur se betoog totaal onindrukwekkend.  Twee maande later het die geaffronteerde dr. Pauw, in opdrag van die regter, sy apologie gekry, wat hy, by nadenke, dalk tog wel verdien het.  

Daardie jare al het kollegas begin praat van ‘n Johan van Wyk-boek. Herman le Roux het gemeen dit sou ‘n “moerse” boek wees.  “Moerse” is ‘n geliefkoosde Herman-woord wat hy selfs in ‘n hoofartikel sou wou gebruik as daar nie ‘n redakteursveto was nie.  Ek het so ‘n boek by Tafelberg aanbeveel. Danie van Niekerk was te vinde. Maar iemand moes sif. Johan self was min lus. Wat van sy melkbeeste?  Iemand anders het na vore gekom nie.  Hoekom nie ek self nie? Het nie juis ‘n waterdigte saak nie. Ek het immers nie melkbeeste gehad nie.

‘n Boek in die 80’s, 90’s sou waarskynlik sterk na die humor-genre oorgehel het. Mettertyd het in Johan se styl van skryf en vertel groter beleënheid ingetree. (“Beleënheid” is, terloops, ‘n woord wat ek neergepen het voordat ek Johan se Skrywersnota gelees het. Daarin lees ek toe hy beskou goeie skryfwerk self ook as ‘n “beleë kuns”, soos – in sy woorde –  “goeie wyn en goeie seks, geslyp deur jare se ervaring en ‘n dwingende begeerte na die onbereikbare”.)

Met die groter beleënheid, het die tintelende Van Wyk-humor (stoutheid?) nie verdof nie. ‘n Nuwe dimensie het egter sy skryfwerk verdiep en verryk.  Die meer beleë Johan van Wyk is een wat steeds met humor, ja, maar ook met deernis en meesleurende nostalgie allerlei hartsverlanges uitstort. Ons vind ‘n aansteeklike hunkering na die dae van windpompe en skuurdanse, na Calvinia en die uitgestrekte vlaktes van die Hantam, Aga-stowe, baaisiekels en boorgate … Ek leen van hierdie woorde op die agterplat. 

Hierdie “vreemde hunkering” – sy eie beskrywing van sy emosies toe hy sy baba die eerste keer vashou – het hom nog by meer lesers aanklank laat vind. Sy bydraes in Landbouweekblad, Weg en Die Burger word  gretig deur ‘n nuwe lojale gevolg verslind. Op Melkbos ruil ons dit onder mekaar uit.

Vroeg in 2011 maak Herman le Roux se indrukwekkende lys van Volksblad-skrywers sy buiging.  Hy bevind 60 Volksbladmense het saam 600 boeke geskryf.  Van hulle is hier teenwoordig.  (Noem Deon Meyer, wat teenwoordig is.  Noem ook C.M. van den Heever, Jaap Steyn,  Chris Karsten, Dot Serfontein, Wille Martin ……..  Verder: Rudie van Rensburg (debuteer  binnekort met “Slagyster”). Johan van Wyk se naam skitter in sy afwesigheid. 

“Dit is mos absurd,” het ons garde opnuut onder mekaar gesels. Ons het half verleë gevoel dat van ons name op ‘n lys is waar ons “enigmatiese” kollega (ek leen ook hierdie nommerpas-woord op die agterplat) so skreiend kortkom.  Ons het opnuut begin rondkyk na daardie ontwykende “iemand” vir die “jop”.  Tobie se naam het sterk opgeduik – ‘n jonger, flukser, skrander oud-kollega (ek wil darem nie sê skranderder nie) met ‘n reputasie van byna oordrewe deeglikheid. Ons het saamgestem: Tobie is die man. ‘n Bonus: Die twee is “biker”-bloedbroers.    In die winter van 2011, as ek reg onthou, het die boek begin spoed optel.  Hoera vir Herman se lysie!

Maar jakkals moet ook sy eie stert prys. Nog ‘n skakel in die ketting, so vlei ek graag myself, was toe ek in daardie tyd Johan se roerende Stop oor ‘n plaasbegrafnis raak-Google. Ek het daardie Stop – op bl. 126 van die boek – vir hom gestuur met die vraag: “Onthou jy dit nog?” 
Ek het dit onder kollegas rondgeblits – ook vir Tobie. My kommentaar was dat hierdie hartseer-mooi-rubriek in ‘n kompetisie vir sy mooiste skryfwerk voor sal hardloop, met in die pylvak aan sy skouer die stuk oor sy 85-jarige pa se afskeid van sy geboortgerond  Dit was in Landbouweekblad en is nou die treffende slothoofstuk op bl. 233.

Herman (of dalk Sarel Venter) onthou toe die elegante Zandra het ‘n plakboek van Stop-juwele gemaak, onder meer van briewe aan sy kinders. “Pappa” gee aan “my liefste Boetie” vaderlike advies: ‘n Deugsame vrou is die sout van die aarde …. “veral as haar pa groot grond sonder Landbankverbande het.” “Liefste Boetie” (Kedousie)  is deesdae vlieënier in Hongkong. Sy pa se nuwe bekommernis is dat hy sal vergeet om die Airbus 340 se wiele uit te te laat voordat hy die gevaarte neersit!

“Sussie” word vermaan teen te veel in kuierplekke en op dansbane rinkink, al is “Pappa” nie “danig daarteen nie, want ek het dit self gedoen”.  “Sussie” , Anna-Mart, is nou ma van twee op ‘n wynplaas by die Paarl. Die “ietwat onwillige oupa” (sy woorde) bars van die trots, o.m.   oor die babakamer wat “soos die opslagplek van die leër se kwartiermeester-generaal lyk”. 

‘n Wenk oor die plakboek se bestaan is na Tobie gestuur, wat van toe af  maar geduldig moes kennis neem van ‘n duisternis ander wenke, wense en advies – voorskrifte? – oor wat moet in en wat nie.  Tydgenote het gunstelinge opgediep en aangestuur.  Tobie is met ‘n raamwerk na Tafelberg. “So was dit” was oplaas onstuitbaar op pad –  soos die Oranje-Snel op ‘n epiese nagtelike jaagtog deur die Karoo met ‘n John Waynerige treindrywer wat die pap dik aanmaak agter die deadman’s handle.  Lees als daarvan op bl. 59. 

Van die kantlyn af had ek net ‘n vae idée hoe ontsaglik hard Johan en Tobie gewerk het aan hierdie broodnodige boek waarin soveel liefde gestort is, wat so ‘n groot leemte in Afrikaans vul, en wat soveel vreugde in die harte van soveel van Johan se ou en nuwe “fêns” bring.  
‘n Stuk loutere leesplesier. ‘n “Fantastiese, wonderlike boek”, soos Nicol Stassen van Protea Boekhuis dit noem.  ‘n “Moerse boek” in Herman le Roux se idioom. 

Geluk, Johan, geluk, Tobie (ook vader van die vaardige en waardige Voorwoord), geluk Annie Olivier van Tafelberg. Dis hartskos dié.  In die kloeke Tobie se woorde: Dis “onnabootsbaar”.  Tobie is eenvoudig te puntenerig om die woord uniek te gebruik.

KONSERTINA EN KRUISBANDE

Maart 7, 2013 in Uncategorized

 

Die woord “scoop” het in my lewe nogal ‘n rol gespeel.  By koerante waar ek betrokke was, is “scoops” ywerig gejaag.  Op my eie naam staan ‘n paar lekker “scoops”.  In die titel van my eerste boek wat Tafelberg 20 jaar gelede gepubliseer het, kom die woord “scoop” voor: “Scoops en Skandes”.

Vandag spog ek met ‘n boeke-“scoop”.  My kollega en vriend Johan van Wyk (afgetree in die Strand) se langverwagte boek is op pad – en ekke, hvd, kan hier vir julle “eksklusief” wys hoe lyk die omslag.   Ek beleef dieselfde pure lekkerkry as nog altyd om eerste wees met nuus van betekenis.

 Daardie oom met die konsertina, kruisbande en velskoene  lyk vir my na ‘n gelukkige keuse vir die gesig van  “So was dit – stories van gister en vandag”. Johan self is, by wyse van spreke, ‘n konsertina-en-kruisbande-en-velskoen-man.

 Die nostalgiese hartsverlange  waarmee hy kan skryf oor windpompe, skuurdanse, die uitgestrekte vlaktes van die Hantam, Aga-stowe, baaisiekels en boorgate (ek leen hierdie woorde op die agterplat) is meesleurend. Gooi in die tintelende humor in die man, ‘n element van stoutheid en ‘n meesterlike styl van skryf en vertel, en jy hoef nie verder te soek vir die resep wat hom soveel duisende lojale aanhangers oor die jare besorg het nie.

 By Die Volksblad (Volksblad) waar hy 25 jaar die rubriek Stop van Myne met sy eie,  unieke aanslag behartig het, het dit my altyd beskeie gehou as ek sy statuur in die gemeenskap teen die van dié redakteur opweeg.   Die arme redakteur het sleg tweede gekom!

 Later het hierdie gesoute joernalis in Landbouweekblad, Weg. By en Die Burger hom in nog meer lesers se harte ingegrawe.

 Vreemd genoeg is “So was dit” sy eerste boek.  Ek dink die groot rede is dat hy nie kon “bodder” nie. Vanmelee toe ons by DV aan hom oor ‘n boek begin karring het, was sy melkboerdery by Kafferrivier  belangriker.  Daarna het o.m. sy Honda Goldwing sy tyd in beslag geneem.   

 Ongelukkig het wonderlike rubrieke wat bundeling verdien het, op daardie manier verlore gegaan.  (Hoop  maar die plaasbegrafnis en sy pa se afskeid van sy grond duik op in die bladsye van “So was dit”. )   Maar danksy die vasbyt van mense soos Tobie Wiese  is die Oom (sy alter-ego destyds in DV)  eerlank op die rakke.

 Jacolette Kloppers, joernalis, word op die agterplat aangehaal: “‘n Pragtige boek.  By tye het ek gelê van die lag, ander kere het die trane gevloei.”

 So is dit as ‘n mens Johan van Wyk lees: jy huil en lag. Jy’s nooit verveeld nie.

 Op Melkbos kan hierdie ou nie meer wag vir karakters soos Stefaans-sonder-sokkies, die Beenpense van Draaikraal, ant Hettie Poortjies en Gert Kriedoring nie.  Enigmaties, noem die uitgewer Tafelberg hulle.  Dis waarskynlik ook die beste woord om die outeur mee te beskryf.

 Die enigmatiese Johan van Wyk …. Weet nie of die “”Oom” daarvan gaan hou nie –  hy gaan nie juis  in vir sulke “fensie” beskrywings nie.  Hierdie “fên” dink egter dis ‘n kolskoot-etiket.  

 

Kruger-kosbaarheid

Terwyl by boeke:  Dit was vir my ‘n voorreg om Salomon Joubert se enorme liefdestaak, die historiese trilogie oor die Kruger-wildtuin, “The Kruger National Park – A History”, vir die Afrikaanse dagblaaie te kon resenseer.  Resensie by: http://www.beeld.com/Boeke/OnlangsVerskyn/Grootse-werke-oor-grote-Kruger-20130303

Grootse werke oor grote Kruger

www.beeld.com

 Ek meen die treffende aanbieding van Media24 se boekeredakteur, Jo Prins, het reg laat geskied aan Salomon se gedugte boeke.  Ek was werklik ingenome toe by bladsy 9 van Die Burger kom, en is verheug oor die geleentheid om oor sulke boeke van nasionale betekenis ‘n bydrae te kon lewer.

Steeds by boeke:  Griffel was die uitgewer van twee van my laaste boeke, “Byl in my Bos” en “Praat-praat in Tamatiestraat”.  Albei is mooi uitgegee. Daar het dit opgehou.  Oor Marlene Malan se “bloedbad”-berig in Rapport kan hierdie Griffel-outeur helaas maar net byvoeg: Die waarheid oor die Griffel-gruwel is uiteindelik uit.