Jy blaai in die argief vir slange.

LUSTIGE SLANG/HITSIGE SLANG

Januarie 22, 2018 in Uncategorized

‘n Boeiende slangepisode speel hom voor ons oë af toe ek van Tarlehoet se stoep uit die hoek van my oog beweging in die wilde katjiepieringboompie naby ons stoep-swembadjie waarneem.

“Slang”, roep ek en beduie boompie se kant toe. Dadelik is ek en Tokkie albei op ons voete. Nadere inspeksie bring aanvanklik niks aan die lig nie. Toe sien ons tegelyk tussen die blare die lansvomige groenerige koppie met die kenmerkende donkerbruin, swart en pienk spikkels van die savannavoëlslang, volgens slangkenner Johan Marais in sy “Volledige gids tot die slange van Suid-Afrika.”

Tensy hulle beweeg, sien ‘n mens die slangetjies moeilik raak, want wanneer hulle bewegingloos in ‘n boom wegkruip, lyk hulle kompleet soos takke of takkies. Vandaar die Engelse name “twig snake” en “vine snake”. In Afrikaans word ook soms na hulle as “takslange” verwys.

Ons aandag maak die slang blykbaar ongemaklik. Hy kies vinnig koers in ‘n westelike rigting via die lae takke van ‘n groterige knoppiesdoringboom langs die kleiner katjiepiering. Maar soos die spreekwoordelike kat, keer die slang ook terug. Die tweede keer kom n “maat” saam. Albei is na skatting sowat ‘n meter lank en so dik soos die vinger van ‘n pianis.

Tokkie gewaar hulle eerste in dieselfde katjiepiering as vaneffe. Dit lyk of hulle die een of ander grasieuse speletjie met mekaar speel soos hulle die slanke lywe woel. Die rooi-en-swart tonge kwispel ononderbroke.

So speel-speel versit hulle saam-saam van die katjiepiering na die naburige knoppiesdoring, waar sake ernstig begin raak. Hulle rondomtalie in die doringtakke. In ‘n stadium is die twee lywe vlietend soos ‘n koesister gevleg.

Ons dag eers dis die liefde wat so maak, en dat dit die “lustigheid” van die slang is wat ons op kort afstand waarneem. Dis juis paartyd. In Johan Marais se slangboek lees ons egter dis hoe twee mannetjies baklei.

Hul kronkel hul lywe om mekaar. Die een vegter probeer dan om sy teenstander se kop na benede te druk. By nadenke, was dit waarskynlik dus nie “lustige slange” nie maar “hitsige slange” – of “bitsige slange”, ‘n teorie wat versterk word deur die feit dat die twee vir die leke-oog baie eenders gebou voorgekom het. Die wyfie is glo swaarder gebou met ‘n korter stert. Mog die beste slang gewen het!

Dit stem nogal tot nadenke dat die savannaevoëlslang as “baie gevaarlik” geklassifiseer word. Geen teengif bestaan nie. As hy jou byt is, dit “hallelujah and goodbye”, soos Organ Ongeni by die piekniekplek ons lakoniek inlig.

Die volksnaam “voëlslang” is nie eintlik nommerpas nie, want dis akkedisse en paddas eerder as voëls waarop hy teer – twee soorte kos wat juis in die somermaande uiters volop op en om Tarlehoet se stoep is.

el, nog ‘n natuurles is geleer. Vorentoe sal ons stipper vir lewe op boomtakkies kyk, dis voorwaar. Al is dit huiwerig en sku van geaardheid, en word die kans as gering geag dat ‘n mens gebyt sal word, kan die kripties gekleurde voëlslang soos die uiters gevaarlike boomslang goed sien en sal hy soms woes reageer as hy getempteer word!