Jy blaai in die argief vir sirkulasie ..

KOERANTE, QUO VADIS?

November 20, 2015 in Uncategorized

Vreugdevure brand hoog - HvD, Jean le Roux en Ebbe Dpmmisse.

Vreugdevure brand hoog – HvD, Jean le Roux en Ebbe Dommisse.

Naspers se jaarlikse bestuurskonferensie in 1996 op Swakopmund is die Woestynberaad gedoop. Woestyn of te nie, vir die Koerantesektor was 1996 seker sy mooiste blomjaar ooit.

Een kollega na die ander het vorentoe gemarsjeer om prestasiebekers te gaan haal. Uiteindelik is die uwe deur Ton Vosloo na vore geroep. Koerante het ook die heel grote ingepalm, die D.P. de Villierstrofee, vir die beste presteerder in die Pers.

Ons was numero uno. Die kampioen. Die gans wat die goue eiers lê. Ons koerantouens was uitgelate en het tot laat feesgevier.

Die Burger was ons kroonjuweel. Hy het boonop pas die Argus op sirkulasiegebied verbygesteek. Die hoofbestuurder, Jean le Roux, tot barstens in sy skik, het ‘n spesiale koffiebekertjie laat maak om die nuwe status as die Wes-Kaap se grootste dagblad te gedenk.

My bekertjie staan in my studeerkamer op Melkbos, omring deur foto’s teen die mure uit o.m. daardie skitter-era – ‘n era wat, in die woorde van Ton, “in ons formele geskiedenis later beslis aangeteken sal word as ʼn tydperk van hoogtepunte, van uitskieters op die grafiek, van ʼn groot omswaai. ”

Vandag, nie twee dekades later nie, lees ons die pynlike oordeel op Maroelamedia: Die pad graf toe vir koerante lyk geteer.

Die skrif is aan die muur … dit lyk maar donkernag. In daardie trant skryf Org Potgieter n.a.v. nog lelike insinkings op die sirkulasiegrafiek. Beeld kwalifiseer skynbaar nie eens meer nie vir die Frewinkompetisie wat hy ontelbare kere gewen het. Die Burger is net-net bo die afsnylyn. Volksblad is onder 20 000. Rapport is in ‘n skynbaar onstuitbare vryval.

Dis ‘n droewige prentjie – dalk des te meer so vir hierdie trotse borg van die woord “koerant” by die WAT. Om my lewenslange koerante-verbintenis te vier en my passie vir koerante te bevestig, het ek in 2013 met vreugde R5 000 uit my sak geskud vir daardie eer.

WAT

Sou iemand my vra oor ons suksesresep van daardie jare, sou ek vyf faktore uitsonder. Koerante se goue era was danksy soliede produkte; ‘n goeie leierskorps van redakteurs en bestuurders; die status van koerante (en redakteurs) binne die Naspersgroep; die onbeskaamde omarming van Afrikaans wat by Afrikaanse lesers sterk aanklank gevind het, asook die wil om die beste te wees. Standaarde en waardes is nagestreef wat nie ruimte gelaat het vir bv. die joernalistieke populisme wat later in die vorm van ‘n rits poniekoerante ontvou het nie.

Wat het dan verkeerd geloop? Natuurlik was daar die meedoënlose opmars van die nuwe tegnologie, die koms van die sosiale media en nuwe leserspatrone. Natuurlik is onvervangbare senioriteit by koerante prysgegee in die jag na vernuwing. Natuurlik het sekere avontuurlike aanstellings in sleutelposte geboemerang. Natuurlik was daar verkeerde bestuursbesluite. Natuurlik het die Pers het hom, in sy strewe om lesersmarkte uit te brei, laat mislei om vir die voet van die piramide te mik. Natuurlik het Naspers ‘n globale reus geword met belange waarteen die koerante en ander gedukte media maar soos ‘n blertsie voëltjiestrond afsteek.
Ja, die ou waagmoed, inisiatief en visie is steeds lewendig en gesond in die Heerengracht, maar nuut verpak en op ‘n ander terrein. Die fokus het verskuif. Die nuwe fokus bring verstommende sakesukses, maar lei ongelukkig tot verwaarlosing van die arm wat sedert die stigting van die Pers die primêre draer van ‘n idealistiese maatskappy se politiek-maatskaplike ideale was.
Om by die kernrede vir die kreeftegang te kom, sal ‘n omvattende studie verg. Ek sou begin soek by die afkoeling in gesindhede jeens koerante in die top-gestoeltes ten koste van al die digitale verleidelikhede. By die uitskuiwe van koerante tot stiefkind-gestaltes, wat toenemend aan hul eie lot oorgelaat is – met die hande boonop agter die rug vasgebind wanneer die al hoe gedugter nuwe e-mededinger met mening trotseer moes word.
Hierdie oud-stryder is jammerder vir die huidige generasie koerantmense as wat hy kwaad is oor hul gesukkel. Die stomme mense voer al lank ‘n eensame, uitmergelende en ongelyke stryd teen ‘n omvattende aanslag.
Hoe ookal en om watter redes ookal, die koerante staan vandag waar hulle (steierend) staan. Quo vadis? Doodbloei of ‘n ander opsie?
Is verkoop van Media24 nie dalk die antwoord nie, wonder sommige. En ja, ‘n besielde nuwe drywer, Afriforum dalk, ondersteun met die daadkrag, verbeeldingrykheid en kundighede wat ‘n sterk redakteur en ‘n ervare span joernaliste kan bring, kan sekerlik help keer dat Afrikaans, by al sy teenspoede en verliese, ook nog sy koerantarm moet ontbeer.
Maar is dit die eerste prys? Kan Naspers nog Naspers wees sonder ‘n mediabeen? Dan is hy mos nie meer “nas” (nasionaal) nie en ook nie “pers” nie. Uit ‘n sakehoek kan so ‘n herstrukturering dalk aantreklik lyk; vir my sal dit neerkom op ‘n finale breuk met die geskiedenis. Ook op ‘n geestelike vervlakking en verarming van die nuwe kolos. Die bestaan van Media24 met al sy kwinte en kwale gee Naspers immers ‘n unieke kleur en karakter.
Is Naspers dan nie ryk genoeg om sy koerante en beste tydskrifte uit sy agtersak te “red” nie? Natuurlik kan hy dit oor en oor bekostig. Soos die staat Telkom, Eskom of die Suid-Afrikaanse Lugdiens telkens moet inspuitings gee, kan die Pers mos ook sy “noodsaaklike dienste” bly dra. Uit ideologiese, historiese en sentimentele oorwegings. Die wins sal dalk nie dadelik in rand en sent sigbaar wees nie, maar op die langer duur wel in ‘n beter Suid-Afrika vir al sy mense – ‘n lofwaardiger bestaansdoel vir enige maatskappy kry jy nie.

SOOS MOEDERSMELK …

Mei 23, 2013 in Uncategorized

Trotse borg van die woord “koerant” by die WAT

 O droewige Donderdag!  Het pas ‘n ontleding van die die jongste sirkulasiesyfers onder oë gehad. Dit is nie opbeurende leesstof nie. Koerante (en tydskrifte) bly helaas gly.

Dagblaaie is op ‘n jaar-tot-jaar-grondslag af tot 1,541,488 van 1,672,658.

Naweekblaaie (Saterdag- en Sondagkoerante) is af tot 2,292,053 van 2,443,855. Weekblaaie is af tot 630,268 van 697,254.

Tydskrifte het geval tot 6,207,891 van  7,004,714.

Die stukkie statistieke wat hierdie waarnemer die meeste interesseer, is die vertoning van die sogenaamde digitale koerante . Van die 1,256,023 dagblaaie wat in SA verkoop word , is slegs 2,894 digtitale kopieë. Dit is skaars  ‘n druppeltjie aan die emmer.

Die uwe het op 15 Desember 1997 sy kantoordeur op die 18de verdieping van die Perssentrum aan die Heerengracht finaal agter hom toegetrek. In die gange van Naspers was al in daardie stadium ‘n onstuitbare nuwe  entoesiasme vir die digitale era, ook aan die koerantefront.

Die gees wat vaardig was, het my spottende die ou Naspers-leuse “Het daghet overal” laat herforumuleer tot “Digitaal overal”.

Helaas, niemand het eintlik geweet hoe om daardie entoesiasme, wat koerante betref,  tot ‘n realiteit om te bou nie.  Die kernvraag was: Hoe gaan jy geld maak met ‘n digitale koerant? Die skouers is opgetrek.  “Sorg julle maar dat dit gebeur!”

My afskeidsrede op 19 Februarie 1998 in die Mount Nelson het ek soos volg afgesluit:

“Oor die wêreld het opgewondenheid die laaste paar jare begin tintel oor die nuwe horisonne in kommunikasie wat die internet en verwante ontwikkelinge in die visier bring. Plek-plek het mense hulle deur dié nuwe golf laat verblind vir die krag van die gedrukte woord.

“Mag ek as laaste basuin – dalk voorbarig en waarskynlik onnodig – die wens uitspreek dat Naspers se leiers nooit dieselfde fout sal maak nie.

“Mag die Liewe Vader – die Gewer van alle goeie gawes – vir u die wysheid gee om altyd die goue ewewig te kan handhaaf tussen die uitstrek na wat nuut is en die verankerdheid aan die bekende en die vertroude.

“Ek sal nie onthou wil word as een van daardie klassieke mistasters, wat vir onder meer die telefoon, klankrolprente en televisie nie juis ʼn toekoms gesien het nie. Daarom is ek versigtig om, ondanks my eie voorbehoude, oor die internet niks kwyt te raak wat my in daardie klas plaas nie.

“Maar hoe magtig die internet ook alkanof gaan word, is daar by my min twyfel dat dit langs die koerant, en versterkend van die koerant gaan wees – nie as ondersteboloper van die koerant nie.

“Die koerant is soos moedersmelk. Daar is geen substituut nie.”

 Ons praat van 15 jaar wat verloop het.  Tog lyk daardie woorde steeds op ‘n onheilspellende manier vir die ou man relevant.  I have not always been wrong.

Die vraag bly: Hoe gaan julle met die digitale koerant geld maak?

Daaruit spruit ‘n selfs nog belangriker vraag:  Is nie hopeloos prematuur begin om die gedrukte koerant te verwaarloos om voor ‘n nuwe god te buig wat (tot dusver) ook maar voete van klei het nie?